Skets: Fred Mouton

Dié nagmerrie klink na ’n lang liegstorie, maar dis ’n ware verhaal. Eendag het ’n familievriend, Oubaas, ’n kameelperd gekoop. Oubaas boer op die plaas Bakenkop in die Outjo-distrik in die noorde van Namibië met boerbok, bees en wild.

Eendag, op pad terug plaas toe, sien hy dat die kameelperd kort-kort sy lang nek afbuig en na die vragmotorwiele loer. Ná ’n ruk stop hy nuuskierig en sien tot sy verbasing dat dié intelligente dier toe nooit bandinspeksie doen nie, maar elke keer koes vir die telefoondrade wat oor die pad loop.

’n Ruk later is dit vakansie en ek en my twee susters gaan kuier op Bakenkop. Een oggend besluit ons oor ’n bord pap en biltong om daai aand in die wildkamp se boomhuis te oornag. Die modderbruin Willys se gestotter – en die feit dat hy aan die brand gestoot moes word – is met die voortvarenheid van studente geïgnoreer.

Ons het selfs ’n foto van dié vrolike wegtrek uit die werf: Laggend, in jool-T-hemde en bont broeke. Soos my pa altyd sê: “Oopbek en los handles!” Alles het mooi verloop.

Nie eens toe die jeep ’n héle ent van die boomhuis af doodruk, was ons geesdrif gedemp nie. Ons het alles tot in die boomhuis gedra en besluit om gou voor sononder ’n draai te ry – die lam battery reeds vergete.

Ons het dieselfde slim kameelperdbul en ’n jong koei reeds die vorige dag daar naby gesien wei. Dalk het die dame haar lang lip vir die outoppie opgetrek, want hy het nou ’n ent weg alleen aan ’n mopanieblaar staan en herkou. Ons het die grasieuse dier bewonder en aangestryk.

Soos my pa altyd sê: “Oopbek en los handles!” Alles het mooi verloop.

Ons drie stap nog so, toe Annelie benoud opmerk ons word “agtervolg” . Met die omkyk sien ons die bul doelgerig aangestryk kom. Hy versnel en ons versnel, en toe ek in die hardloop om- en ópkyk, sien ek net kolle en bene en borsspiere wat oor die aarde aanrol...

Van die volgende paar sekondes kon niemand ná die tyd rekenskap gee nie. Ek en my jongste sus, Nerina, is links die ghabbabosse in en toe ons vol skrape en skrik tussen die kalkklippe tot verhaal kom, is Annelie skoonveld. Ons het na haar begin roep en uiteindelik hoor ons haar iewers benoud antwoord gee.

Eers toe ons soos meerkatte bo die vaal bosse uitmik, sien ons hoe die bul, skaars 50 m van ons af, woedend langs ’n boom rondtrap. En daar sit Sussie: Bo in die mopanie in ’n omhelsing met die enigste dik tak – net-net buite ou Langnek se bereik.

Dis net genade dat hy haar gekies het, want hy sou ons twee daar op die vlak tot mishopies getrap het. Ons moes vinnig dink en die onbetroubare Willys was ons beste (en enigste) plan. In die sterk skemer het ons tot by die jeep ge-leopard crawl. Die Willys het ons plan met drie bokspringe en ’n onheilspellende stilte finaal gekelder.

Ná beraadslaging besluit ons om die sowat 100 m boomhuis toe in ’n halwe sirkel al met die digte bosse langs terug te kruip, die flits te gaan haal en weer terug te kom.

Plan B is ingelui met ’n gesig wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n fotogeleentheid wat toeriste na hulle kameras sou laat gryp. Die son het bloedrooi en yslik groot in die weste gesak. In ’n perfekte Afrika-poskaart verskyn die swart silhoeët van die kameelperd en die mopanieboom met die donker knoets van ons sus binne-in, teen die dramatiese son afgeëts.

Namibië op sy beste. Annelie het soos ’n bobbejaan in ’n mik gelyk en ons het uitgebars van die lag. Dit was nie vir haar snaaks nie. Annelie is ons fyn, sagte sussie. Sy is die een wat koek bak vir die ouetehuis en nooit hard praat nie, maar daardie dag het sy ’n kragwoord gebruik wat selfs die kameelperd verstaan het – hy het omgedraai en vir óns gekom!

Ons het die giggel vinnig gesluk, onder die Willys ingeduik en bly lê totdat hy uiteindelik weer sy gekose prooi gaan oppas het. Ná ’n gesukkel tot in die boomhuis is ons met die flits, nuwe moed en ’n McGyver-plan of twee al die pad terug, want die jeep was ons enigste “draagbare” skuilplek. Die ou bul was nou buite homself en het die boom met sy nek begin slaan dat die blare en takke spat.

Die grond was snuifgetrap. Annelie het om haar lewe geklou.

Die volgende terugslag was daai einste flits. Die dofgeel straal het vir ’n minuut of twee probeer koers hou en toe verlep tot net hier by die voorste bos. Jy kon nie eens ’n koringkriek verblind nie. Dit was goed donker.

‘In die sterk skemer het ons tot by die jeep ge-"leopard crawl". Die Willys het ons plan met drie bokspringe en ’n onheilspellende stilte finaal gekelder.’

Ek weet tot vandag toe nie hoe twee studente so ’n helse swaar 4x4 in ’n tweespoorplaaspad gestoot gekry het nie – maar ons moes ons suster red. Sy het intussen innoverend geraak. Dit was nie juis hoërgraadplanne nie, maar sy was in ’n stadium uit haar hemp en die kameelperd hét effens verward gelyk!

Ons het bitterstadig nader gesukkel en toe ons binne trefafstand kom, verloor hy sy humeur. Hy het gestorm en ons moes vinnig onder die Willys skuiling soek. So het dit vir lank gegaan – ’n meter of twee stoot, onder die pens inseil, uitkruip, stoot...

Uiteindelik was ons naby genoeg. Die bloeddorstige kameelperd se aandag was nou verdeel tussen ons en die boom. Hy het om die jeep getrap en ons kon hier van onder aan sy pote vat, só naby was hy. ’n Mens raak mos wintie as jy veilig voel.

Die maan het opgekom en die sterre het helder geskyn; ons eie liggies was baie dof. Annelie was doodstil en vir seker aan die bid. Dit moet gehelp het, want die kameel se konsentrasie het begin taan.

Hy het in ál groter sirkels om die boom begin stap en as hy op sy verste was, het ons Annelie luidkeels aangemoedig om af te klim, maar elke keer as sy daar tussen die blare roer, het ou Kolle soos ’n tronkbewaarder nader getree. (Ons het selfs in ’n stadium soos jakkalse getjank en soos leeus gesteun, maar ek wei liewers nie daaroor uit nie...)

Later het hy tog tou opgegooi en moerig die nag in verdwyn. Hoe die arme Annelie in die eerste plek tot bo in die boom gekom het, kan net aan suiwer adrenalien toegeskryf word, want daar was geen takke waarmee sy kon op of af nie. Ons moes haar oortuig om te spring.

Die 100 m terug tot by die boomhuis het ons omkyk-omkyk gestoot aan ou Willys. By die boomhuis is ons soos seerotte teen die touleer op.

Ná vier uur was ons weer veilig. Ons was vol bloedskrape, snye en stof, ons hare en klere deur klitse en steekgras in bondels gekoek. Ek dink verligting en uitputting het ons aan die lag laat gaan.

Honger en gedaan het ons die blikkie baked beans oopgesny en aangestuur terwyl ons van ons gehawende klere ontslae geraak het. Dis toe ek weer die blikkie aangee dat ek die wit etiket op my sus se klitsbedekte onderklere sien uitsteek: Triumph, Small.

Dit was, ja.