In Upington se wêreld het vroeër jare ’n oom gewoon wat gereeld ’n uitdrukking gebruik het wat vir ons familie só snaaks was dat dit nou nog gereeld gesê word wanneer iets nie heeltemal volgens plan verloop nie. As die oom – hy het intussen die tydelike met die ewige verwissel – gesukkel het om iets reg te kry het hy altyd gesê “dis tergend”.

Maar wanneer iets sommer net heeltemal verkeerd geloop het, het hy altyd swaar gesug en dan laat hoor: “Ag ja, so it bloody well goes!”

Min het ek geweet dié einste uitdrukking sou baie goed te pas kom op ’n onlangse vakansie by Stormsriviermond.

Stormsriviermond is vir my een van die mooiste plekke in Suid-Afrika. Die woonwapark is op pragtige groen gras geleë, so te sê teen die Indiese Oseaan. Die uitsig oor die see is onbelemmerd en dis nooit stil hier nie, want die see druis sonder ophou in jou ore. Met hoogwater klap die branders dikwels so hard soos kanonskote teen die rotse met wit skuim wat meters die lug in spat. Skouspelagtig.

Agter die woonwapark, in die digte, lowergroen Tsitsikammawoud, is daar wandelpaaie te kus en keur teen die steil hellings. Die Loerie- en Blouduiker-wandelpad kronkel deur die natuur en jy kan jou verlustig in die pragtige plante en bome én die ryk voëllewe.

Dis altyd ’n bonus om die skugter Knysnaloerie te siene te kry. Die ikoniese Otter-wandelpad begin ook ’n hanetree van die kampterrein af.

Dié staptog is oor vyf dae, maar vir ’n daguitstappie is dit lekker om die eerste deel van dag 1 se roete tot by die mooi waterval en die groot waterpoel te stap. Hier is dit net die dapperes en die jongetjies wat die koue water trotseer om af te koel.

Die Mond-wandelpad, wat by die restaurant begin, is verreweg die gewildste staproete hier. Honderde besoekers word daagliks met busse aangery en feitlik almal durf dié staproete aan – al op die netjiese houtpaadjie deur die pragtige digte woud met die diepblou waters van die riviermonding en die see aan die regterkant.

My sakdoek is al papnat soos ek loop en die sweet van my voorkop afvee. Maar uiteindelik sien ons doer bo ’n bankie by ’n uitkykpunt...

Uiteindelik kom die paadjie by die drie hangbrûe uit. Langs die pad neem mense honderde foto’s, maar op die brug wat oor die rivier hang, moet dit duisende wees. ’n Mens hoor dikwels hoe iemand gil wanneer een van die stappers moedswillig die brug laat swaai en wieg, want dan is dit omtrent onmoontlik om foto’s te neem.

Die meeste van die stappers – of sal ons eerder sê wandelaars – draai by dié punt om en stap oor die ander twee bruggies terug restaurant toe vir ’n welverdiende lafenis en iets te ete.

Min mense wat vir ’n luilekker vakansie by Stormsriviermond uitspan, is lus om die lang en steil Misty Mountain aan die ander kant van die brug oor die riviermonding die stryd aan te sê. Die kruin van die kop is ver doer bo, en as ’n mens van onder af ’n stapper daar gewaar, lyk dié in die verte piepklein.

Ons was alyd maar deel van die groep omdraaiers, maar dié slag was ons vasbeslote om die paadjie teen die kop uit baas te raak, kom wat wil.

Vroegdag, voor dit te warm word, durf ons die steilte aan gewapen met water en energiedrankies in ’n rugsakkie, breërandhoede vir beskerming teen die genadelose son, en kameras om die nek.

Dis ’n lieflike roete, want met elke tree is ’n mens ’n bietjie hoër en word die uitsig oor die see en die omgewing al hoe mooier. As die asem begin kort raak, roep ons halt, en die verskoning is gewoonlik dat ons ’n foto moet neem of een of ander soort fynbos van nader moet bekyk.

Namate ons boontoe vorder, volg dié “fotosessies” al hoe korter op mekaar. Dis harde werk. My sakdoek is al papnat soos ek loop en die sweet van my voorkop afvee. Maar uiteindelik sien ons doer bo ’n bankie by ’n uitkykpunt. Toe ons uiteindelik daar aankom, voel dit soos ’n oorwinning. Ons plak ons op die bankie neer, geniet nog ’n paar slukke van die energiedrankies, neem nog foto’s en prys onsself omdat ons tot bo geklim het.

Maar dan kry ons die skok: Ons is nog nie heel bo nie! Skuins agter die bankie is ’n bordjie wat aandui die eintlike uitkykpunt is nog 50 m verder.

Maar, dis mos nie ’n probleem nie! Wat is 50 m nou vir manne wat pas lekker gesit en ontspan het? Ons is nou vol moed en pak sommer dadelik die laaste stuk teen die kop uit.

Ek wil nie eens ’n ruskans neem nie, want die bestemming is mos net hier bo iewers. Aanvanklik tel ek die treë soos ons vorder. Op vyftig treë is daar nog geen teken van die uitkykpunt nie. Maar ek is nie bekommerd nie, want ek besef met die klim en klouter oor klippe en rotse is ’n tree korter as 1 m.

Maar nóg sowat 50 treë verder is daar steeds niks nie.

Hoe is dit moontlik? Ons het sekerlik al meer as 50 m gestap? Ons beur voort. Ál verder en hoër op.

By 300 treë hou ek op tel. Op so min of meer 300 treë begin ek mor oor die vermetelheid om ’n bordjie op te sit wat duidelik sê dis nog net 50 m, maar dan is dit allesbehalwe die geval. Uiteindelik sien ons doer in die verte ’n houtdek wat op die see uitkyk. Dít is in der waarheid ons mikpunt.

Ons het dit gemaak!

Ons geniet nog ’n koeldrank en neem ’n magdom foto’s van die pragtige uitsig. Die ergenis oor hierdie lang 50 m agter ons is byna vergete.

Ná ’n kort ruskans begin ons terugstap. Die afgaanslag is sommer lekker maklik en glad nie veeleisend nie. Terug by die bankie en die gewraakte bordjie gaan staan ons weer vir ’n rukkie. Ek bekyk die bordjie mooi en sien ander stappers het duidelik dieselfde frustrasie oor die lang 50 m gehad: Iemand het agter die nul nóg een ingekrap. Ja, 500 m voel vir my nader aan die waarheid. Maar dan sien ek iemand het voor die eerste vyf nog ’n vyf geteken – nou lees dit 5 500 m! Wel, ek is eerlik as ek sê dit het inderdaad so gevoel.

En kan jy glo, iemand het voor die eerste vyf ’n nege geskryf. Duidelik het daardie 50 m vir een van ons voorgangers meer na byna 100 km gevoel.

Skielik is die hele petalje vir my baie snaaks. Ek lag sommer lekker uit my maag uit vir die ellelange 50 m wat vir ’n bietjie frustrasie, maar groot pret gesorg het.

En so tussen die lagbuie deur prewel ek maar net: “Ag ja, so it bloody well goes!”