SKETS FRED MOUTON 

Ek stam uit die Weskus-Engelbrêe. Dié wat ons ken, weet dat ons dikwels en dringend by die see móét uitkom. Ons het blykbaar ’n bietjie seewater in die bloed.

Ons ou Engelbrecht-voorvader het uit ’n kusdorp uit die verre noorde van Duitsland seelangs gekom tot aan die suidpunt van Afrika en aan die Weskus naby Lambertsbaai kom nes skop.

Die Duitse kusdorp bestaan nog: Ons neef Joos het daar besoek gaan aflê ’n paar jaar terug. Daar tref hy waarlik die burgemeester aan, ene Herr Engelbrecht, en ontdek die dorp spog ook met ’n bierbrouery en inrigting vir geestesongesteldes.

Aangetroude familie, skoonfamilie, eks-skoonfamilie, kennisse en vyande sal sê laasgenoemde is betekenisvolle inligting, maar al wat jy hoef te weet is dat ons ’n innige verbintenis met die see het.

Dus, wanneer ons wil see toe, dan gaan ons. Meestal sonder veel beplanning, wat nog te sê fênsie toerusting. Soos eenkeer in ’n skoolvakansie ’n halwe eeu terug, toe ek nog ’n kind was.

Dit was enkele jare ná ons ouma Leentjie se dood en ons gesin en my pa se jongste suster, Anna, en haar gesin het by oupa Jôhnnie op die plaas Witwater gekuier, sowat twaalf kilo’s van die see af. Een môre vroeg oorval die seelus vir Oupa en Pa.

Gewoonlik sou hulle sommer die perdekarretjie agter die trekker haak en só die tweespoorsandpad aanpak, maar vir hierdie uitstappie was ou Karretjie Wipgat te klein. Daar moes voorsiening gemaak word vir ses volwassenes (twee pa’s, twee ma’s, een oupa en Mietjie de Klerk, Oupa se huishulp) en ook ses kinders waarvan twee nog suigelinge was en, baie belangrik, die slagding vir al die monde.

Gelukkig was ons gesin se ryding daai jare ’n ou bruin DKW-kombi. Dié word sonder seremonie agter die Lanz Bulldog-trekker met ’n osketting vasgewoel. Daarmee vind niemand fout nie.

Dié word sonder seremonie agter die Lanz Bulldog-trekker met ’n osketting vasgewoel...

Al die kombi se sitplekke behalwe die voorste twee is reeds uitgehaal; dus is daar genoeg sit- en pakplek. (Die DKW se sitplekke is verwyder omdat Pa kort tevore vir Oupa ’n melkkoei moes saambring Witwater toe van die Olifantsrivierplaas af. Vir die rit Witwater toe het ons kinders sommer op beskuitblikke met ’n kombers oor tussen die voorsitplekke, op Ma en Pa se skote en langs die koei gesit. Sy was ’n dierbare mak ou Dextertjie genaamd Jana – geen bedreiging vir haar medepassasiers nie. ’n Mens moes natuurlik net haar agterkant vermy.)

Die Lanz Bulldog was sterk genoeg om ’n oorlogstenk deur die Sandveldsand te sleep en sy drywer, Pieter Abrahams, het so te sê op daai trekker grootgeword. Die enigste effense probleem was die bestuurder van die kombi.

Dit sou Pa se swaer oom Bertie Mellet moet wees, want Pa moes vooruit veld toe met ’n perd om die slagding – ’n lekker vet bokkapater – te gaan aankeer. Die bok sou dan later saamry in die kombi, rustig gehou in ’n groot streepsak.

As drywer was oom Bertie op die oog af geskik. Hy was groot en fris en sterk, ’n boorling en boer van Ladismith en goed bekend met klipperige bergpaaie. Sy tekort aan ervaring op sandpaaie sou eers later aan die lig kom.

Toe die voertuie, drywers en slagding uitgesorteer is, word die kombi gelaai. Tannie Anna, haar papsagte suigeling en kinders op die voorsitplek en die beskuitblik langs oom Bert. Agter, plat op die kombivloer op krapperige reisdekens, is my ma, Anita, met haar suigelinkie en die res van haar kroos, ek inkluis.

En om orde te help handhaaf: Mietjie de Klerk. Mietjie was ’n formidabele Boesmanlander wat vir g’n duiwel gestuit het nie. Daarby het sy beskik oor ’n woordeskat wat die duiwel kon laat bloos.

Oupa, baie netjies met sy kenmerkende breërandhoed en toegeknoopte onderbaadjie, sit waardig op sy riempie-opvoustoeltjie.

Toerusting en voorraad bestaan uit rottangmandjies met piekniekkos: wors, ribbetjie, boerbrood, plaasbotter en ’n bottel gekookte melk toegedraai in ’n klam afdroogdoek. Daarby ’n groot fles swart koffie (suiker klaar ingeroer) ’n bottel beetslaai, ’n houertjie met growwesout (daar gaan mos visgevang word), blikborde en -bekers, asook die ankervaatjie met vars drinkwater.

Laaste en die heel belangrikste: Oupa se selfgemaakte bamboesvisstokke en die swart driebeenpot vir die kook van alikreukels, Oupa se lieflingkos.

Oupa se veldstoeltjie klap netjies toe en gooi die oumens af. Sy hoed trek dáár en hy en die watervaatjie stoei met mekaar. Die kindertjies skree en ou Mietjie vloek vlot.

Sommer met die wegtrekslag is daar moeilikheid. Oom Bertie agter die kombi se stuur en Pieter op die trekker is nie die geoefende span wat onse pa en Pieter is nie. Die trekker pluk die kombi so vinnig weg dat almal op sitplekke én die koekblik aftuimel. Oupa se veldstoeltjie klap netjies toe en gooi die oumens af.

Sy hoed trek dáár en hy en die watervaatjie stoei met mekaar. Die kindertjies skree en ou Mietjie vloek vlot. Oupa sê niks. Vou net sy stoeltjie reg en neem weer sy plek in.

Met die tweede wegtrek gaan dit effe beter. Nie al die kinders skree nie en oupa en ant Anna bly bo. Mietjie vloek net gedemp.

By die eerste hek is die wisselwerking tussen drywers met die stop en die wegtrek weer nie na wense nie. Almal en als wat kan val, val; daar word gegil en geswets en getjank.

Ons is uiters dankbaar dat ons nie Pieter se kommentaar kan hoor nie – sy woordeskat was nog meer gekruie as sy nig Mieta s’n. Dié keer sê Oupa met ’n kwaai stem: “Mellet!” Ons sien sommer hoe oom Bertie sy rug hol maak. Dit gaan genadiglik voorspoedig tot waar Pa ons inwag met ’n groot omgekrapte bokkapater.

Ten spyte van die ma’s, kinders én bok se protes word die bok agterin gelaai. Sy pote word darem vasgebind, maar hy verseg om saam te werk met die streepsak oor sy kop wat hom kwansuis “kalm” moet hou.

Hy blêr soos net ’n bok kan blêr. Mietjie vat niks nonsies van die bok se gespartel nie. Die tweede keer toe sy horings haar skene raps, voeg sy hom ’n paar gepaste woorde toe, gryp hom om sy nek en druk sy kop binne-in die swart rondepenspotjie.

Daar lê hy toe doodstil en stom, maar vir wat hy in swye prysgee, vergoed hy voor in stank. Hy stink soos net ’n bok kan stink. Ons is skoon doof van die kabaal en duiselig van heeltyd asem ophou.

Soos die rit vorder, is daar een voorval ná die ander en Oupa se “Mellet” raak al driftiger elke keer as hy moet opsukkel van die kombivloer af.

Uiteindelik raak Pieter se geduld op. Hy stop botstil en order Pa bo van die perd af tot agter die kombi se stuurwiel in. Oom Bert moet agter tussen ons kinders en die bok kom sit.

Eers probeer hy die watervaatjie, maar enige mens wat al op ’n vat moes sit, sal weet daardie boonste hoepel se skerp rand sny jou bobene ongenadig. ’n Klein vaatjie met ’n groot man op sy deksel is ook uiters onstabiel.

Die eerste keer toe die vaatjie en oom Bert na Oupa se kant toe kantel, gee Oupa hom net een kyk en wyslik besluit oom Bertie dat die sitplekkie langs Mietjie en die onwelriekende bok ’n beter opsie is.

By die see aangekom, trek Pieter ons netjies tot by die bakkrans onder teen die baai. Eerste af is Mietjie en die bok – steeds met sy kop in die pot. Mietjie trek en draai en ruk en pluk en praat tale, maar die bok sít.

Eerste af is Mietjie en die bok – steeds met sy kop in die pot.

Oupa roep vir Pieter. Dis dieselfde storie, net Pieter se tale verskil ietwat van Mietjie s’n. Oupa se geduld raak net daar op. Hy het kom visvang en die tyd raak min en hy wil die pot hê om alikreukel te eet vir voorgereg by die braaivleisie.

Hy pluk sy knipmes uit en sny die halsstarrige bok net daar kopaf.

Sonder enige verdere gesukkel kom die kop uit die pot. Pieter slag die bok en die vleis word netjies in die koelte van die bakkrans geberg.

Daardie middag vang Oupa ’n bos yslike hottentotvis met sy tuisgemaakte bamboesstokke en ons kinders maak ’n pot vol alikreukels in die poele bymekaar.

Ons pluis Ma se bolla skoon uit om genoeg haarnaalde te kry om die alikreukels uit hulle doppies te woel. Eers teen sterk skemer, rooigebrand en vol sand, vat ons die pad terug.

Die oorskietbok is in stukke gesny en netjies in die vel toegedraai, en met Pa en Pieter in beheer van die voertuie verloop die terugtog heelwat rustiger.

Almal is diep tevrede, wel ten minste die Engelbrêe is vol vrede: Ons seetoegaanlus is bevredig.