Skets Fred Mouton

Ek het met kamp grootgeword – elke jaar het ons gesin van Sasolburg af die pad Sodwana toe aangepak. Die laaste 100 km of wat was grondpad, en male sonder tal het Pa met die Opel Rekord en die opslaanwoonwa vasgeval, want die laaste stuk was die ene los sand oor lae duine.

Soos ek dit onthou, het ons gesin nooit regtig alleen gekamp nie. As dit nie Pa se (toe) ongetroude broer, oom Peet, was nie, dan was dit oom Evan Corbett-hulle – ’n werksvriend van my pa, wat saamgekom het.

Selfs Ma se swaer, ’n lang maer Hongaarse sakeman wat ek altyd net in ’n swart pak en ’n dun das gesien het, het by ons aangesluit. Dié slag het ons effens verder suid gery en by Zinkwazi kamp opgeslaan.

Die rede hiervoor was oom Mike se vaalgroen Jeep Wagoneer. Met dié 4x4-ryding kon ons op die strand gaan speel en met sy boot op die strandmeer rondrits.

Toe vang Pa ’n eienaardige ding aan. Elkeen van ons – Ma, Pa, ek en my twee broers, Hugo en Paul, kry ’n staprugsak.

Ons was opgewonde oor die nuwe avontuur en het al wat ’n staproete in die land aangedurf: van Swellendam en die Tsitsikamma tot die Fanie Botha by Graskop en die moeilike Soutpansberg.

Jy kla nie, want ’n mens sien die land, maar ek is eerlik as ek sê dit was nie so lekker soos kamp nie. Almal kry swaar, want jy stap ver. En as die bergpaadjie nie op loop nie, is dit af. Alles wat jy vir die volgende paar dae eet, dra jy self, en 20 kg op jou rug voel later soos ’n ton.

Genadiglik dra Pa sy lomp kassetspeler self, want hy en The Shadows is in dié stadium onafskeidbaar. Ek kan hier net byvoeg die speler was net één keer saam – die eerste keer.

By die dag se halfpadmerk maak ’n mens jou waterbottel by ’n bergstroompie vol en skielik is ’n blokkie verwerkte kaas op ’n Provita-beskuitjie ’n luukse. En dan praat ek nie eens van die Toppers en Smash vir aandete nie.

Later, wanneer jy op ’n dun, harde matras sonder ’n kussing probeer slaap, moet jy hard probeer om nié aan die volgende dag se ontbering te dink nie.

Boonop is jou welverdiende nagrus op ’n stapelbed, in ’n vertrek wat jy ook met ander stappers deel terwyl die reuk van Deap Heat swaar in die lug hang.

Jy kla nie, want ’n mens sien die land, maar ek is eerlik as ek sê dit was nie so lekker soos kamp nie.

Dit was net nie dieselfde as kamp nie. Niks son, sand of seewater nie. Net swaarkry.

Al die jare nog ry Pa motorfiets, en ek sien nou nog voor my geestesoog daardie swart-en-wit foto waar hy by sy Lambretta-bromponie staan met ’n lang sigaret in die mondhoek, ’n geoliede Elvis-kuif en ’n breë glimlag.

Dit was op ’n grondpad iewers naby Rustenburg. Dis die einste motorfiets waarop Pa sy aanstaande skoonpa ’n geleentheid sou gee dorp toe – en toe met sy pak klere en al neerslaan.

’n Motorfiets is ’n gevaarlike ding en vandag sal ’n mens twee keer dink voor jy dit vir jou skoolgaande kinders koop, maar destyds was motorfietse “veiliger”. Pa koop dus vir elkeen – maar nie vir Ma nie – ’n veldmotorfiets.

Min weet ons dat die tweewiele ’n terugkeer na kamp beteken, maar ook ’n angswekkende kampnag in Lesotho.

Ons gaan vir ’n paar dae in die buurland met die motorfietse toer en in tente oornag soos ons vorder.

Weer pak ons dit nie alleen aan nie, en Pa reël met die skool dat ons dit as ’n “skooltoer” benader.

Só verdubbel die geselskap en twee van die skoolhoof se seuns, Jean-Pierre en Sam Pellissier, asook die LO-onnie, mnr. Smit, gaan saam. Mnr. Smit is korter as baie seuns in die skool, wat verklaar waar sy bynaam, Smurfie, vandaan kom.

Smurfie het die nuutste motorfiets van ons almal: ’n Yamaha XT500. Hierdie motorfietse is bekend daarvoor dat hulle omtrent jou been afruk as jy nie weet hoe om hom aan die brand te skop nie.

As jy die kickstarter nie ordentlik deurtrap en ’n leeuskop gee nie, praat die einste starter terug. En as jy dan nie pasop nie, kry jy ’n blou knie as die handvatsels verkeerd staan.

Smurfie is uiteraard klaar met sy diensplig en skop vir die toer die XT met sy weermagstewels aan die brand. Min weet ons hierdie stewels sou die lont vir die moeilikheid in Lesotho wees.

Ons los die karre met die motorfietssleepwaens op Fouriesburg by ’n pastorie, en daarvandaan is dit net ’n paar kilometer tot in Lesotho.

Die skoolhoof het gewaarsku Lesotho is een groot erosiesloot. Dis deels waar, maar vir elke sloot is daar ook ’n ordentlike berg.

Sam navigeer en ry ’n gedetailleerde topografiese kaart saam sodat ons nie verdwaal tussen die berge nie.

Trek aan julle stewels, want as ons moet hardloop, wil jy dit nie kaalvoet doen nie.

Ek weet nie hoe presies die toer beplan was nie, maar ons ry – net soos in die stapdae, berg op en berg af, alles op voetpaadjies.

Vandag weet ’n mens jy moet jou reistyd minstens verdubbel wanneer jy in Lesotho ry, want weens die onherbergsame terrein gaan dinge net soveel stadiger.

Ek reken Sam het dit nie heeltemal in ag geneem nie, en wanneer die son op die eerste dag begin water trek, is ons nog nie naby ons bestemming nie.

Dis een ding om bergvoetpaadjies met ’n motorfiets te ry, maar as jy dit in die donker langs afgronde en deur informele mielielande moet waag, is dit nie meer snaaks nie.

Skielik trek Sam van die paadjie af en beduie na die skuinste links: Dis waar ons vir die nag tente sal opslaan. Ná ’n groot gesukkel staan die tent wat ek, Pa en Hugo deel. Dis stikdonker, jou alie is deurgery en ’n mens se honger is weg.

Ons kruip net so met die stoflywe in die slaapsakke in.

Ek weet nie hoe lank ons geslaap het nie, maar die volgende oomblik is daar ’n rumoer buite die tent. Iemand – dalk Smurfie, dalk Sam – is besig om met vreemdelinge te redekawel. Ons hoor nie mooi nie, maar dit klink vyandig.

Pa draai na my en Hugo toe en sê: “Trek aan julle stewels, want as ons moet hardloop, wil jy dit nie kaalvoet doen nie.” Pa trek die tent se ritssluiter oop om te kyk wat aangaan.

Dis net hier waar ons besef dinge kan nou vinnig skeef loop. Soldate, tot die tande toe gewapen met lang masjiengewere en patroongordels oor die skouers, staan om ons en skyn flitsligte in ons oë. As ’n mens na hulle aggressiewe houding kyk, moet jy eerder net doen wat hulle sê.

Sam en nog iemand kry met die soldate gepraat en wys hy gaan saam met hulle sodat hy die situasie kan probeer beredder.

Ons is verlig toe Sam terugkeer – ons kry die gevoel hy het sy lyf diplomaat gehou.

Hy verduidelik iemand langs die pad het Smurfie met sy weermagstewels gesien, toe reken hulle ons is ’n groep Suid-Afrikaanse soldate wat Lesotho wil infiltreer.

Sam kon mooi verduidelik ons is net toeriste wat die natuurskoon kom geniet, en ons het nie van Lesotho se “eerste gebod” geweet nie: ’n Mens mag nie sonder toestemming op enige lappie grond tent opslaan nie.

Deel van Sam se onderhandelinge was om toestemming by die spesifieke hoofman te vra om op sy grond te mag kamp. Die volgende paar dae haal ons ons bestemmings voor sononder, en nog voor enige tent staan, is dit reguit hoofman toe.

’n Paar jaar gelede was ek in die skoolsaal, en daar hang die foto van ons groepie in Lesotho. Dis ’n foto sonder soldate en hoofmanne, net die toneel van motorfietstoeriste in ’n pragtige buurland.