Hoewel die meeste joernaliste in die motorbedryf graag wil glo dat hulle iewers op ’n glyskaal tussen Jan Alleman en Jody Scheckter lê as dit kom by bestuursvernuf, moet ek ’n moersleutel in die speke gooi deur te bieg dat die oorgrote meerderheid van ons nie ryklik geseën is met bestuurstalent nie – veral as dit kom by onvoorspelbare oppervlakke soos grondpad.

Ja, heelparty motorskrywers probeer die voorbeeld van hulle helde navolg, groot name soos Michael Schumacher of Sarel van der Merwe, maar die waan bring jou net só ver, want die meeste motorskrywers het eintlik ook ’n beperkte talent op die renbaan.

Tien jaar gelede het ek niksvermoedend geglo motorjoernalistiek is ’n droomberoep. Watter tiener met 98-oktaan in sy are sou nié daarvan hou om esse te kap met die jongste voertuie op die mark nie... en boonop daarvoor betaal te word!

Goed, gereelde blootstelling aan 700 Pk.-supermotors en warmgemaakte luikruggies beteken jy beskik oor ’n bogemiddelde weerstand teen swaartekrag.

En in die strewe daarna om elke motor tot sy uiterste te druk leer jy ’n waardevolle paar lesse: Soos dat ’n motor terugbyt as jy hom mishandel.

Ek het dit ontdek toe ek en ’n klompie kollegas (in ’n vorige beroep by ’n ander motortydskrif) na die Atlantisduine gereis het vir ’n fotosessie.

Vier motorskrywers en twee fotograwe was van ’n sluimerende Kaapse woonbuurt af onderweg na die prentjiemooi wit sandduine van die Weskus in ’n donkerblou Audi Q5 en ’n sjampanjekleurige Jeep Patriot. Ons was nie seker hoe die stadskar in die duine sou vaar nie, maar ons was oortuig die foto’s sou pragtig uitkom.

Voor ons deur die bewarea se hek ry, verlaag ons eers gou die banddruk na 1,4 bar – op die oor klink dit na ’n goeie syfer, maar die besluit was nie ingelig en op ervaring gegrond nie. Ons het nie gegaan om te speel nie – ons wou net ’n paar lekker foto’s kry en dan weer terugkeer kantoor toe.

Ons ry dapper deur die duine op soek na ’n mooi agtergrond vir ’n dubbelbladsyfoto waarop albei voertuie kop-aan-kop kon staan. Maar die Jeep begin onverwags momentum verloor en die bestuurder besluit verkeerdelik om voet in die hoek te sit. Sy denke was dat die Jeep se 50:50-verdeelde allewielaandrywing hom uit die penarie sou loswikkel, maar helaas.

G’n Jeep lyk parmantig as hy plat op sy pens in die sand lê nie. Een of ander slimkop in ons groep het onthou om ’n staalsleepkabel saam te bring en in ons gesamentlike “wysheid” besluit ons die Audi se befaamde Quattro-allewielaandrywing gaan die Jeep in ’n japtrap uittrek.

Maar die gewig van die Jeep en die warmgebakte sand het, soos jy seker kan raai, bloot die Audi ook laat vasval. Ná ’n paar vrugtelose probeerslae begin ’n spul liggies op die Audi se instrumentepaneel ons waarsku dat die olie in die ratkas besig is om te kook.

“Ons is in die sop, ouens,” erken ons eens moedige spankaptein kop onderstebo. “Dalk moet ons iemand op kantoor bel en vra dat hulle die Isuzu KB (in daardie stadium ons langtermyntoetsvoertuig) bring om ons uit te sleep.”

Maar die gewig van die Jeep en die warmgebakte sand het, soos jy seker kan raai, bloot die Audi ook laat vasval.

Ons besluit egter om ons ouer kollegas die moeite te spaar om al die pad uit die Kaap na Atlantis toe te ry om ’n spul jong en onnosele joernaliste uit ’n verknorsing te kom red. Kaalvoet en met T-hemde om ons heupe geknoop begin ons verbete in die sand grawe. Ná sowat 20 minute se sweet en swets het ons genoeg sand agter die Q5 uitgegrawe sodat ons hom kan uitkry.

Die kêrel agter die Audi se stuur is oortuig hy gaan dié slag – mét ’n lang aanloop – die Jeep uitpluk. As ek nou terugkyk, sidder ek om te dink ons wou ’n staalkabel inspan as ’n kinetiese tou. Ja, die kabel het inderdaad gebreek en soos ’n sweep deur die lug getrek. Ons kon betyds uit die pad duik, maar die Audi was nie so gelukkig nie. Hoewel niemand ’n ledemaat verloor het nie, het die Q5 ’n lelike hou op sy buffer gekry.

Uiteindelik kon ons daarin slaag om albei voertuie uit te grawe, en die fotograwe het boonop pragtige foto’s geneem (ons moes wel die Audi op so ’n manier parkeer dat die skade nie sigbaar sou wees op die foto nie).

Ons redakteur was glad nie beïndruk met ons manewales nie, want hý moes vir Audi bel en verduidelik wat gebeur het. Die ander groot les wat ek daardie dag geleer het, is dat nie alle sportnutse ewe bekwaam is nie.

Dit was maar die begin van my 4x4-opvoeding. Dit was ’n onaangename les, maar namate ek gevorder het in my beroep, het ek veldry begin geniet. Ek was ywerig om aan méér 4x4-aktiwiteite deel te neem, en daarom het ek die kans aangegryp om ’n been van die Spirit of Africa in ’n Mitsubishi Triton te kan meemaak.

Ek het die nuwe Amarok in die duine van Namibië getoets en ’n Jeep Wrangler oor die Hell’s Revenge-roete in Moab, Utah, in Amerika bestuur. My kollegas by my vorige werk het nie in “vervelige veldry” belang gestel nie. Hulle wou eerder jaag en het die soort voertuigbekendstellings verkies waar jy met plat karre op agterpaaie kon jaag – ver buite die oë van die verkeerspolisie.

Op ’n volgende uitstappie na die Atlantisduine het ek seker gemaak ék is dié slag agter die stuur van die Suzuki Jimny. Ons het op en af teen die duine gejaag… totdat ’n kollega sy Toyota FJ Cruiser teen ’n skuinste laat vasval het. Dit was nie ’n probleem nie; hy kon terugstoot en weer probeer. Maar ongelukkig was daar ’n aap in ons groep wat die sand wat die FJ Cruiser losgetrap het, wou vermy deur eerder ’n ander lyn oor die duin te kies.

Hulle wou eerder jaag en het die soort voertuigbekendstellings verkies waar jy met plat karre op agterpaaie kon jaag – ver buite die oë van die verkeerspolisie.

Waarmee hy nié in rekening gehou het nie, was dat die duin skuinser uit die sandvloer uitsteek as wat sy Subaru se grondvryhoogte kon baasraak, en hy het neus eerste in die duin vasgejaag, asof dit ’n muur is. Die Subaru se buffer was heeltemal verwoes en die verkoeler volkome in sy peetjie.

Moenie my verkeerd verstaan nie: Ek hou steeds daarvan om in ’n sportmotor op ’n renbaan te ry, maar ek het geweldig baie respek ontwikkel vir veldry. Toe ek ’n jaar gelede by Weg Ry & Sleep aangesluit het, was een van my eerste opdragte om saam met ’n groep instrukteurs teen die Bobbejaanpas in Lesotho uit te ry.

Ek het ’n pynlike gesukkel verwag, maar die ouens was kalm en bekwaam en ons is teen die pas uit sonder enige drama. Niemand het iets onnosels aangevang nie. Tot vandag toe is sand vir my die interessantste oppervlak om op te ry, bloot oor wat ek al gesien gebeur het. As ek deesdae diep sand aantref, maak ek staat op die bietjie kennis wat ek het óf vra ’n kenner om die stokke oor te neem. Ek weet ek is g’n Giniel de Villiers nie en ek wil niemand ook daarvan oortuig nie. Ek bly in my baan.

Maar soos jy weet (omdat jy hierdie tydskrif lees), is daar wel plekke wat jy met jou eie oë móét sien. Want soos ons almal weet, vertel ’n foto nooit die hele verhaal nie. Vir sommige van ons is ’n sagte sportnuts met goeie grondvryhoogte oorgenoeg, terwyl ander ouens graag op plekke wil uitkom waar slegs ’n beer van ’n veldryer met ewenaarslotte en laestrekratte jou kan neem.

Die beste is maar om in jou baan te bly. Dis nou tensy jy gereed is om op jou hande en knieë te gaan om jou trokkie uit te grawe