Ek kan nie onthou wanneer ek die eerste keer gaan kamp het nie. Ek kom nie uit ’n familie van kampeerders nie en ons het altyd vakansie gaan hou in die een of ander huurhuis op Kleinmond of Struisbaai, so na as moontlik aan die see.

My pa was egter nog altyd ’n stapper, en so nou en dan het hy my, my broer en ’n pêl of twee gevat na ’n oornagroete in die Sederberg. Ek onthou die pakkery: Styf opgerolde klere, ’n piepklein kookstel en gasstofie, die A-raam-tentjie met sy muwwe reuk (as gevolg van baie jare op ’n rak in die motorhuis) en die varkpanne en pikstelle wat my pa om die een of ander rede 20 jaar ná sy weermagdae nog het. Alles moes klein en kompak wees. Ons het met die rugsakke in die gang op en af gestap om die gewig te toets. In die berg was die rugsakke nogtans te swaar, die tentjie koud en die tuna-en-pasta-aandete ’n aardigheid in die varkpanne.

Op hoërskool het ek gereeld saam met my beste vriend, Jacobus, iewers langs die see in die Weskus gaan kamp. Die Müllers het ’n Volkswagen Kombi gehad wat swaar gelaai kon word met dinge soos grondseile, kampstoele, tafels en gazebo’s – dinge wat die kampeerdery heelwat gemakliker gemaak het as in die Sederberg.

Ons het selfs ’n keer of wat in ’n skoolvakansie gaan laer trek met ’n woonwa en ’n peleton tente by die Stywe Lyne- woonwapark op Velddrif. Hier is teerstraatjies tussen die staanplekke en mense kom jaar ná jaar terug om op húlle plekkie te kom kamp opslaan. ’n Luidspreker het soggens die dag se program aangekondig, verjaardae in die kamp is uitgelees en so nou en dan het ’n blikkerige musiektreffer gespeel.

Op Oujaarsdag het almal langs die swembad saamgedrom vir die uitkloprondes van Mnr. en Mej. Stywe Lyne, ’n effens ongemaklike modeparade van tieners in hulle swempakkies rondom die swembad.

Daar was ’n soortgelyke kompetisie onder die oumas in die kamp. Vir hulle was swemklere nie ’n vereiste nie, maar dit het ’n sekere tannie nie verhinder om met swaaiende heupe in ’n lemmetjiegroen nommertjie te paradeer nie. Jacobus se ouma was een jaar redelik ontsteld omdat ’n inkommer uit die Kaap haar kroon afgevat het.

Ná skool het ek en Jacobus hoeveel keer op ’n Vrydagmiddag ná werk sy studentekar, ’n vaalgroen Uno, gepak en vir die naaste kampplek by die see gemik. In die bagasiebak en op die agtersitplek was daar gewoonlik ’n deurmekaar hoop voorraad: ’n Pick n Pay-plastieksak met braaivleis, tjips en knoffelbrood, ’n krat hout (gesteel van sy pa se voorraad), ’n braairooster, ’n koelboks met bier, ’n tent en slaapsakke. Om die een of ander rede het ons nooit stoele of ’n tafel saamgevat nie; die koelboks het mos ’n deksel, en daai jare kon ons nog heelaand kruisbeen op die grond of op ’n onderstebo krat sit. Daar was ook nooit ’n driepoot vir die rooster nie, onthou ek, ons het dit bloot gebalanseer op ’n effens lendelam konstruksie van klippe langs die kole.

Die volgende fase in my kampopvoeding, as jy dit so kan noem, was musiekfeeste. Buiten dat jy in ’n tent slaap, kan ’n mens dit beswaarlik kampering noem, maar ek het nogtans ’n paar lesse geleer: Eerstens dat ’n waterdigte tent noodsaaklik is en dat jou kar se sleutels altyd op ’n veilige plek moet wees (een wat jy later kan onthou). In dié fase het ek ook die nut daarvan besef om jou modderskoene uit te trek vóór jy in die tent klim én ek het tot die slotsom gekom dat opblaasmatrasse nie tot dag drie hou nie. Maar ek het ook geleer as jy genoeg vog in jou lyf het, maak niks van die bogenoemde saak nie: Uiteindelik kom jy én jou kampgereedskap by die huis aan. Vuisvoos, maar darem.

Ek was in die twintig toe ek saam met overlanders begin toer en ’n heel nuwe wêreld van kamp ontdek het. Dié lotjie toer met ’n kombuis, klerekas, stort en yskas in hulle bakkie se laaibak en sonpanele en ’n tent op die dak. Hulle is die soort kampeerders wat so ver as moontlik van die samelewing af gaan kamp op plekke wat gewoonlik nie met ’n teerpad bereikbaar is nie. Om by sulke plekke uit te kom moet jou ryding ’n rits bybehore hê – sommige daarvan is noodsaaklik en ander net vir ingeval. Iewers agterin die bakkie se kap of op die dakrak is daar gereedskap met industriële name soos hoogligdomkragte, jerrykanne, wenasse, kompressors en omskakelaars. Ek het nog nooit ’n kampeerder ontmoet wat liewer is vir ’n katoeter as ’n overlander nie.

Lank gelede kamp ek saam met ’n ou wat sy aartappels direk op die kole braai – sonder om dit in foelie toe te draai. “Ek neuk nie met fensie goed as ek kamp nie,” sê hy terwyl hy die swartgebrande kluite met ’n stok uit die vuur krap. “Ek hou van ’n bietjie sukkel!”

Ek verstaan steeds nie sy teësin in foelie nie, maar hy het ’n punt beet oor sukkel. Trouens, ek skat sukkel is ’n ingeboude deel van kampering. Jy kan immers nie jouself ’n kampeerder noem as daar nie ’n graad van sukkel betrokke is nie.

Wat onderskei een soort kampeerder van ’n ander?

Hoeveel jy bereid is om te sukkel, natuurlik. Die stapper sukkel met ’n swaar rugsak, ’n beknopte tentjie en gedehidreerde kossies. Die woonwakampeerder moet deur die uitgerekte proses gaan om ’n sleeprybewys te kry, dan ’n ganse woonstel-op-wiele versigtig saam sleep én dan nog die ding noukeurig waterpas staanmaak oral waar hy wil slaap. Die 4x4-ou moet sy bakkie vooraf met ’n spul ekstras toerus, lang stofpaaie ry en waarskynlik iewers in die boendoes ’n gebreekte ding regmaak. En die musiekfees-kampeerder? Wel, babbelas en gehoorverlies is seker genoeg straf.

Die vet weet, ek het al my deel van sukkel gehad op elke soort kampreis. Seer skouers van swaar rugsakke, blase op my voete weens nat sokkies, en yskoud bad in bergriviere. Daai vaalgroen Uno van Jacobus was geneig om te oorverhit, oral waar ons gaan, en het eendag ook op die strand gaan vassit. Op 4x4-toere het ek al verdwaal, vasgesit, pap wiele omgeruil, pyne gehad met gebreekte onderdele en op verskriklike ongemaklike plekke kamp opgeslaan. Etlike kere.

Die wonderlike ding van kamp – ondanks geskroeide aartappels – is dat al die gesukkel die moeite werd is. Ek kamp nie net omdat ek wil nie, maar omdat ek ’n buitelugverslawing het, en daarvoor is die kool altyd die sous werd.

Solank ek nog jonk genoeg is, sal ek ’n swaar rugsak dra om die Melkweg diep in die Sederberg te ervaar. Ek sê nie sommer nee vir die stof en sweet van ’n 4x4-toer nie. En hoe ouer ek raak, hoe aanlokliker begin die gerief van ’n woonwa lyk, veral wanneer ek saam met my ander helfte gaan kamp.

In ’n oorvol munisipale woonwapark kry jy my egter nie sommer weer nie, want die dinge wat ek daar by Stywe Lyne se swembad gesien het, spook vandag nog by my.