foto’s Zigi Ekron

Wanneer ’n mens by die see gaan kamp, behels dit meer as strande vol sambrele, krieket langs die see en roomyse wat in die sand val. As jy jou tyd en kampplek reg kies, kan jy in rus en vrede gaan kamp en alles geniet wat die Suidkus bied, sonder dat dit voel jy moet gaan skrum op die strand vir ’n kolletjie om jou handdoek oop te gooi en ’n piekniek uit te pak. 

Paradise-woonwapark

Die beloofde land

As jy lus voel vir ’n seevakansie in die Suidkus naby die bekende toerismeplekke, maar darem ook eenkant genoeg om nie te voel asof jy vertrap word deur die skare nie, is Paradise die plek vir jou.

Die smal eenrigtingpaadjie kronkel van die R61 af steilerig bult-op tussen die inheemse bosse deur – hier en daar steek ’n piesangboom kop uit – tot jy uiteindelik die park se hek voor jou sien. Teen die tyd dat jy hier kom, voel Ramsgate, Margate en Southbroom soos bestemmings ver, ver van hier. G’n wonder dié stukkie van die Suidkus word Kanaän genoem nie.

By die hek moet jy die klokkie lui, sodat Belinda Kirkpatrick vir jou kan oopmaak. Wanneer jy by die ontvangskantoor met sy klein koivisdammetjie stilhou, wag sy jou klaar agter die toonbank in. Saam met jou kwitansie vir die staanplek kry jy ook ’n afstandbeheer vir die hek en Belinda beduie die pad na die staanplekke toe.

stille waters. Paradise se swembad, net anderkant die speletjieskamer, is nie groot nie, maar dis lafenis op ’n warm namiddag of om vroegoggend wawyd wakker te word. was- of wagkamer. In die waskamer, by die ontvangskantoor, is ’n bibliotekie waar jy vir jou ’n leesboek kan uitsoek
trapsgewys. Paradise se staanplekke is in reguit lane op twee terrasse uitgelê met die ablusieblok op die punt van die onderste terras. kamp kuier-kuier. Bui­ten vir die klein speelpar­kie, is hier ’n speletjiesaal, vlugbalbaan en opelug skaakbord waar kinders hulself kan vermaak, terwyl die grootmense onder die stoeptent kuier.

Welkom tuis!

Die staanplekke is in lang, reguit rye op twee terrasse uitgelê met die ablusieblok op die verste punt. Die staanplekke deel twee-twee ’n waterkraan en vullisdrom, en die baksteenbraaiplekke staan ook rug teen rug.

Die enkele woonwaens wat jy buite seisoen in die park sien staan, behoort waarskynlik aan van die klompie voltydse inwoners hier, soos Colleen Long wat nou al ’n paar jaar hier op die punt van die ry, skuins oorkant die ablusieblok, in haar Fleetline bly. Die oord se tuinier en skoonmakers groet vriendelik en knoop eers ’n geselsie aan wanneer hulle vir Colleen sien.

Die badkamers is silwerskoon en netjies en die afwerking en potplante laat dit byna huislik voel. Colleen se dogters het by haar kom kuier en in van die oord se selfsorghuisies oorgebly. Skuins langs dié huisies is die pretparkie met swaaie en ’n wipplank vir die kleingoed, en ’n entjie verder ’n speletjieskamer en saal vir gesellighede.

Agter die saal is die oord se helderblou swembad, vlugbalbaan en opelugskaakbord. Die swembad is nie só groot dat jy lengtes kan swem nie, maar darem groot genoeg sodat jy kan afkoel nadat jy jou kampplek opgeslaan het.

’n Betonpaadjie loop skuins van die staanplekke af tussen die speletjieskamer en selfsorghuisies deur na die ontvangskantoor, wat ook ’n paar winkelrakke het met noodsaaklikhede soos vuuraanstekers, koeldrank en wasgoedseep vir die wasmasjiene in die wassery langsaan. In die wassery is wasmasjiene en ’n tuimeldroër – albei werk met ruil-munte wat jy by die ontvangskantoor koop.

Wees maar geduldig met die wasmasjiene. Hulle is oud en nie gemaak om jou PT-broeke en sokkies in ’n japtrap skoon te kry nie. Gaan laai jou wasgoed in, gaan steek dan maar solank jou vuur aan of knoop ’n geselsie aan met jou kampbure, en kom loer dan so 45 minute later hoe sake vorder met jou wasgoed. As jy werklik bang is iemand gaps jou gunsteling-Meatloaf-T-hemp kan jy jou maar op ’n stoel in die wassery tuismaak. Gelukkig is hier ’n boekrak vol leesgoed om jou besig te hou terwyl jy wag. 

Colleen Long woon voltyds in die park, in haar Jurgens Fleetline.
Kortliks | Paradise-woonwapark

Kampplek 40 staanplekke met gras en skaduwee. Elke staanplek het ’n kragpunt en baksteenbraaiplek.

Ablusiegeriewe Die ablusieblok is netjies en die oord se personeel loer gereeld in om dit skoon te hou.

Prys R250-R840 p.n. per staanplek, afhangend van die seisoen en hoeveel mense kom kamp.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak 039 313 0655; paradise@megadial.com; paradiseholidayresort.co.za

Naaste strand Marinastrand, 2,5 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS S30.921171 E30.295222

Weg Ry & Sleep Honde word nie in seisoenstye toegelaat nie, maar as jy vooraf met die oordmense reël, kan jy vir Vlekkie of Pote in ander tye van die jaar saambring.

Port O’Call

Kies koers see toe

Min of meer halfpad tussen Margate en Port Edward, daar waar ’n mens net-net die dak van Mac’s Country Grocer aan jou linkerkant tussen die ruie bosse sien uitsteek, draai Trafalgarweg links af van die R61 af, see se kant toe. Langs die pad staan een van die Suidkus se alomteenwoordige toerismerigtingwysers, met naamborde onder mekaar ingeryg soos balkies op ’n baie voorbeeldige hoërskoolprefek se baadjie.

Die een vyfde van bo sê jy moet reguit aanhou na die Port O’Call-woonwapark. Dis sowat 2,5 km van hier af. By ’n kinkel in die pad, waar die eerste strate van links en regs aansluit, verander Trafalgarweg in Nelsonweg. Hou net reguitaan. Dié stuk pad is natuurlik nie genoem na ons oudpresident nie, maar na die Britse admiraal en held van die Slag van Trafalgar.

Langs die pad stap ’n groepie seehelde met branderplanke onder die arm. Dis Shange Asanda en sy maats van Bhokodisa in die Gcilima-township, sowat 11 km van hier af.

Hulle spring gretig agterop die bakkie en ry saam tot by die woonwapark se hoofhek. Dan draf hulle die laaste 350 m tot by die parkeerterrein die naaste aan die strand.

’n Rustige hawe

By Port O’Call se ingang moet jy eers regs hou na die klein ontvangskantoortjie toe waar jy vinnig die papierwerk afhandel. Onthou om kontant saam te bring, want hier is nie geriewe om met ’n bankkaart te betaal nie. In die kantoor is ’n winkeltjie waar jy vir jou ’n koeldrank en vuurhoutjies kan koop, maar nie juis veel anders nie. Wanneer jy klaar aangemeld en betaal het, moet jy om ry na die oord se ingangshek toe.

Die oord lê letterlik teen die strand, en die kampterrein loop met ’n helling af see toe. Die 87 staanplekke wissel in grootte, maar almal is gelyk en elkeen het sy eie kragpunt.

Oor vakansietye kan die oord stampvol raak. In stiller tye van die jaar vra die oordmense jou om eerder aan die bokant van die oord vir jou ’n staanplek uit te soek sodat hulle die onderste helfte dan gesluit kan hou. Die staanplekke met die beste uitsig is buitendien bo.

Die ilalapalms, wildevy-, koraal- en melkhoutbome groei welig hier. ’n Mens is feitlik verseker daarvan dat jy ’n staanplek sal kry met genoeg skaduwee én sagte gras. Die staanplekke is op só ’n manier uitgelê dat daar ’n bietjie ruimte tussen jou en jou buurman is, sodat dit darem nie voel asof julle op mekaar se grondseil gaan trap nie.

Jy kan stap tot op die 5 km lange strand wat strek van San Lameer in die noorde tot by die Mpenjati-natuurreservaat.

Wanneer jy klaar kamp opgeslaan het, kan jy in jou kampstoel agteroor sit en, afhangende van watter staanplek jy het, in die verte oor die see uitkyk. Die kinders kan hulle intussen by die swembaddens – hier is ’n groot een én ’n kleiner een vir kinders – of die pretparkie en speletjieskamer gaan besig hou.

Stap strandlangs

kyk wyd. Port O’Call se staanplekke is nie almal ewe groot nie, maar as jy reg kies, kan jy jou kamp opslaan waar jy kan uitsprei en oor die see in die verte tuur. die branders roep. Die branderplankryers van Bhokodisa bestee elke moontlike oomblik van elke naweek op Trafalgar se strand.

Twee paadjies loop van die staanplekke af tussen die bosse deur tot op die strand. Daar is hekke wat kan sluit om toegangsbeheer tot die kampplek te verseker, maar bedags is dit oop sodat jy kan stap tot op die 5 km lange strand wat strek van San Lameer in die noorde tot by die Mpenjati- natuurreservaat by die monding van die Mpenjatirivier in die suide.

Die strand vorm deel van die Trafalgar Marine-reservaat. Jy mag nie hier visskiet, kreef uithaal of aas bymekaarmaak nie, maar andersins mag jy hengel en duik.

Wanneer jy ná die tyd die dag se seesand wil gaan afwas in die kampplek, is daar drie ablusieblokke om van te kies. Dis nie nuut of byderwets nie, maar die park se personeel hou dit só netjies ’n mens voel skoon skuldig as jy ’n paar grashalms op die teëlvloer intrap.

As jy jou aandete oor die kole wil gaarmaak, moet jy jou eie braaier saambring, want buiten die gemeenskaplike braaiplek by die speletjieskamer is hier nie ander plek om jou tjops te braai nie.

Hier’s nie ’n besige hoofpad of treinspoor naby nie – saans is die kampplek stil en in die donker hoor ’n mens die branders druis. Wanneer jy die volgende oggend weer strand toe stap, sal jy hengelaars met hulle visstokke op die rotse naby die getypoele sien of mense wat sommer net met ’n handdoek oor die skouer strandlangs stap vir ’n bietjie oefening en ’n vinnige plons in die warm Indiese Oseaan.

As jy betyds is, sal jy dalk weer vir Shange Asanda en sy maats of ander lede van die Wave of Hope- en Trafalgar Saints-branderryklub daar sien waar hulle eers in ’n kringetjie staan en bid vir veiligheid en seën voor hulle die dag se branders aandurf. 

Dawn en Gideon Kriel van Meyerton kamp met ’n Jurgens Exclusive wat hulle aan ’n Mit­subishi Triton haak. Agterop die Triton is daar ook ’n AHA-kampkappie.
Kortliks | Port O’Call

Kampplek 87 staanplekke op gras met elektrisiteit en heelwat skaduwee, maar sonder braaiplek.

Ablusiegeriewe 3 ouerige ablusieblokke, maar silwerskoon en netjies.

Prys R150-R300 p.p.p.n., afhangende van die seisoen. Oor die Desembervakansie geld ’n minimumprys van R900 p.n. per staanplek en ook ’n minimum van 15 nagte.

Aankoms- en vertrektyd 10 vm. en 10 vm.

Kontak  039 313 0511; portocall.co.za; portocall@telkomsa.net

Naaste strand Trafalgar, 100 m.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die afdraai.

GPS S30.954195 E30.300211

Weg Ry & Sleep Buite seisoen gaan jy waarskynlik omtrent die enigste mens hier wees, en dan het jy die kampplek en lang strand so te sê vir jouself.

Die Ou Pont

Op die grens

As dit nie vir die Mtavunarivier was nie, het die Ou Pont-vakansieoord seker in twee provinsies geval. Die oord lê op die KwaZulu-Natalse oewer van die rivier wat die grens met die Oos-Kaap vorm. Maar die water is ook die spilpunt van die oord – selfs buite seisoen is dit oor naweke ’n bedrywige plek.

Wanneer jy by die kampplek inry, strek die rivieroewer van links na regs voor jou uit. Motorbote met skiërs op sleeptou brul oor die water, en waterponies knor blitsig heen en weer terwyl ’n toeristeboot en mense in kano’s byna geruisloos verby vaar. Stroomop, nader aan die oewer, dobber ’n opblaasbootjie met ’n visstok wat skeef oor die rand hang terwyl die eienaar ’n uiltjie knip.

Aan wal is dit ’n jolige bont mengelmoes van mense in helder swemklere, strandhanddoeke en gazebo’s op die welige groen grasperk. By die klein grasdaklapas trek die geur van braaivleis saam met die rook deur die lug en mense kuier gesellig terwyl die vleis op die kole sis.

laat spaander Oor ’n naweek sal jy feitlik alles wat dryf, hier op die water sien, van blitsige kragbote tot rustige kano’s. eet op die oewer. Die Paddlers-restaurant se á la carte-spyskaart het genoeg lekker geregte sodat jy nie elke aand hoef te braai nie.

Wees maar geduldig

Die oordreëls vra dat dagbesoekers buite die hek parkeer, maar dit lyk asof hierdie reël slegs in seisoenstyd streng toegepas word. Op ’n Sondagnamiddag is heelwat van die staanplekke beset met motors en sleepwaentjies vir bote. Jy sal dalk mooi moet vra dat iemand sy voertuig skuif as jy haastig is om kamp op te slaan, óf jy sal ’n rukkie moet wag.

Dis die moeite werd om te wag, veral as jy koelte en privaatheid soek. Daar is 41 staanplekke in die oord, en wanneer jy van die hek af inry, wys ’n bordjie teen die ringmuur om die swembad staanplek nr. 8-41 is na links en nr. 1-7 regs. Die linkerkantste staanplekke is op ’n groot oop stuk gras uitgelê en daar is net enkeles waar ’n koelteboom gaan sorg dat die son jou nie vroegoggend uit jou tent uitbraai nie.

Die sewe staanplekke aan die regterkant is die eerste prys. Hulle word met rye bome van mekaar afgeskort en jy het ’n onbelemmerderde uitsig oor die grasperk voor jou tot oor die rivier en die beboste heuwel aan die oorkant.

Dagbesoekers moet die oord teen 7 nm. verlaat – teen laatmiddag begin die manne met die bakkies en sleepwaens toustaan by die sloep om hulle vaartuie te laai. Oral pak mense piekniekmandjies en gazebo’s op en maak kinders bymekaar. Kort voor lank begin die rustigheid saam met die skemerlig oor die oord neerdaal en verander die bote se gebrul en die mense se gelag in die gesnater van kolganse en ander voëls.

In die verte hoor jy die geroep van mense aan die oorkant van die rivier. Baie van die park se personeel woon tegnies in die Oos-Kaap en pendel soggens en saans met ’n bootjie heen en weer. Die bootjie se vasmeerplek aan die oorkant van die rivier is min of meer op dieselfde plek waar die ou pont, waarna die oord genoem is, destyds vasgemeer het voordat die Umtanvunabrug in 1966 geopen is.

Duskant die rivier is ’n kennisgewingbord wat die geskiedenis van die pont vertel. So gepraat van die brug: As die opwinding op die rivier nie vir jou genoeg is nie, kan jy terugry tot op Port Edward en dan oor die brug ry tot in die Oos-Kaap en die Wild Coast Sun en die Wild Waves-waterpretpark. Dis sowat 10 km van hier af.

Dis dusketyd...

Wanneer dit tyd word vir aandete, kan jy ’n braaivuur by een van ses lapas in die oord gaan aansteek (hier is nie braaiplek by die staanplekke nie). Elke lapa het vier of ses baksteenbraaiplekke wat rug-aan-rug staan. As jy die Aromat by die huis vergeet het, kan jy in die oord se winkeltjie (by die hoofhek) gaan aanklop. Die winkel is klein en jy moet soos by ’n skoolsnoepie by die venstertjie gaan vra wat jy wil hê, maar die voorraad en verskeidenheid is verbasend groot.

Jy hoef natuurlik nie te braai nie. Min of meer in die middel van die oord, naby die rivier, is die Paddlers-restaurant-en-kroeg. Hier kan jy enigiets van ’n ontbytbroodjie met spek, kaas en eier (R30) tot 600 g ribbetjies (R125) bestel.

Probeer gerus die kerrie van die dag (R90). Die kos word geurig en keurig berei, en terwyl jy wag, kan jy sommer op die spyskaart meer lees oor die besienswaardighede in die omgewing. Die inligting is amper so goed saamgevat soos op ’n toerismebrosjure.

Aapstreke

Maak maar seker jy pak alles weg en maak jou tente en deure dig toe voor jy gaan inkruip, want van vroegoggend af hoor ’n mens hoe kerjakker die blouape in die boomtakke bo jou tent. Wanneer jy met jou badsakkie onder die arm aanstap badkamers toe, wip-wip hulle op’n veilige afstand van boomtak tot boomtak en land nou en dan op die dakke van die huise van die voltydse inwoners.

’n Mens moet so half tussen die vakansiehuisies deurstap as jy die ablusieblok die naaste aan die regterkantste staanplekke wil gebruik. Daar is nie juis aanwysings daarheen nie en dis maklik om mis te kyk as jy nie weet waar om te kyk nie.

Die ander drie ablusieblokke is verder na links van die inrypad (as ’n mens na die rivier se kant toe kyk). Die geriewe lyk asof dit onlangs opgeknap is en die warm water in die stort is kokend en die waterdruk lekker sterk.

Kortliks | Die Ou Pont- woonwapark

Kampplek 41 staanplekke op gras. Die staanplekke het ’n kragpunt en vullisdrom, maar krane word gedeel. Nie al die staanplekke het ewe veel skaduwee nie.

Ablusiegeriewe 4 netjiese, nuwerige ablusieblokke van verskillende groottes.

Prys R400-660 p.n. per staanplek afhangende van die seisoen (maksimum 7 mense).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak 039 311 2211 of 083 609 3429; oldpont.co.za; thepont@mgmholdings.co.za

Naaste strand Dassiestrand, 7 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS S31.065861 E30.180569

Weg Ry & SleepBedags, wanneer die mense op die water kerjakker, is dit ’n bedrywige plek, maar saans kan jy jou verlekker in die rustigheid van die rivier wat voor jou kampplek verby vloei.