Ek en my vrou, Annatjie, is lede van die Suid-Afrikaanse Woonwavereniging en het al baie met saamtrekke by Onrus gekamp. Ons sleep ’n Jurgens Penta met ons BMW X5, en Spyker, ons miniatuurdobermann, kom kamp ook altyd saam. Hy het selfs sy eie Sawa-kleure.

’n Mens is deesdae maar lugtig vir munisipale oorde. Hoe lyk dit by Onrus?

Hier is regtig nie baie om oor te kla nie. Buiten Sawa-saamtrekke het ons ook al baie op ons eie hier kom kamp en selfs in ’n stadium ’n semi-voltydse woonwa hier gehad. Die groot kommer met munisipale oorde is veiligheid, maar hier het hulle die nodige maatreëls ingestel. Hulle het ’n hoë heining opgerig en aan die see se kant is ’n hek by Davies’ Pool wat snags gesluit word.

’n Mens voel dus veiliger, maar dit is nie te sê jy hoef nie na jou besittings om te sien nie. Goed soos fietse moenie snags buite rondlê nie. Ho

Hoe lyk die kampterrein?

Dit is ’n groot oord met digby 240 staanplekke, waarvan ’n goeie 50 of 60 teen die see is. Jy kan egter nie van al dié staanplekke af die see sien nie, want die melkhoutbome groei dig.

’n Mens soek gewoonlik vir jou ’n plek waar jy ’n bietjie koelte kan kry, maar hier soek jy ’n plekkie waar jy ’n bietjie son kan kry. Soos wat ’n mens verwag, groei geen gras in die koelte nie, maar in die res van die kampplek is ’n heerlike groen tapyt.

Die ander voordeel is dat die wind jou hier omtrent nooit pla nie. Ek steek my vuur saans aan en dan trek die rook reguit die lug in op. Jy braai op ’n halwe drom wat jy kan skuif tot waar jy hom wil hê, maar jy moet onthou om jou eie rooster saam te bring.

Ons het al reg oor die land gekamp, maar hierdie is een van die beter munisipale kampe wat netheid en instandhouding betref.

Is julle tevrede met die ablusiegeriewe?

Hier is vier ablusieblokke met aparte badkamers vir mans en vroue. Dit is meer as genoeg geriewe vir die staanplekke en ’n mens hoef nie te wag vir ’n stortkans nie. Ek sou reken die ablusiegeriewe verdien minstens drie, selfs vier sterre.

Watter aktiwiteite is daar om jou besig te hou?

Hier is heelwat restaurante en besienswaardighede in die omgewing, en ’n mens kan vir jou ’n heerlike dagreis beplan om al die plekke soos Hawston en Gansbaai te sien. In die oord self is daar nie ’n swembad nie, maar buite die hek is die geboude Davies’ Pool met gras en bankies waar jy kan uitspan. Hier is ook ’n speelplek met ’n klimraam vir die kinders.

Is hier ’n oordwinkel?

Net buite die hek is ’n hele paar winkels waarheen jy sommer kan stap as jy iets nodig het.

Kontak:  028 313 8000;  enquiries@overstrand.gov.zaoverstrand.gov.za/en/onrus-caravan-park

GPS: S34.4145 E19.1717

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook