Foto's (tensy anders vermeld): Zigi Ekron

Daar’s ’n goeie rede waarom Kapenaars nie elke somer op KwaZulu-Natal se Drakensberg of strande toesak nie. Dis nie nét omdat hulle hulle eie strande en ’n berg op hulle agterstoep het nie. Dis ook vrekver.

As ’n mens met die N2 van Kaapstad af tot by Margate wil ry, is dit meer as 1 500 km en 18½ uur agter die stuur. (Selfs Windhoek en Gaborone is nader.) Die groot gesukkel kom by daai 400 km tussen Oos-Londen en Kokstad deur die ou Transkei. Met slegte paaie langs is dit ’n minimum van ses uur se ry. Sou ’n mens egter die agterpaaie vat oor Graaff-Reinet, Cradock, Queenstown en dorpies soos Lady Frere, Cala, Elliot, Ugie, Maclear, Mount Fletcher en Matatiele, ry jy meestal óm die voormalige tuisland en sny jy net ’n raps meer as 100 km uit jou roete, maar die rytyd raak sommer twee uur korter.

Oos van Queenstown neem die R410 jou oor die Nonesisnekpas in Lady Frere se rigting. Dis nie duidelik waar die pas sy naam vandaan kry nie, maar party reken dis ’n verwysing na ’n non of “nursie” wat jare gelede gewerk het by die Rooms-Katolieke kerk aan die voet van die volgende pas, die Mackaysnekpas. Die kerk is ’n versameling mooi geboutjies.

Die Mackaysnekpas is nie lank nie, maar vol skerp draaie. ’n Mens moet versigtig ry, veral wanneer die mis oor die berg trek. Aan die bopunt van die pas blink die Xonxadam in die verte. Dis in die 1970’s gebou as ’n besproeiingsdam vir landbou, maar dié plan het skynbaar nie veel vrugte afgewerp nie en nou dien dit as ’n waterbron vir Queenstown.

Die padoppervlak in hierdie geweste is meestal baie goed, danksy ’n projek van meer as R5 miljard van die nasionale padagentskap (Sanral) om 13 paaie in die Oos-Kaap op te knap. Nes ’n mens egter by die Glen Grey-hospitaal verbyry, sowat 3 km voor Lady Frere, maak die teerblad plek vir ’n sementpad. Hierdie sementpad is ouer as enige teerpad in die omgewing en is glo in die Anglo-Boereoorlog gebou om Lady Frere met dié sendinghospitaal te verbind.

Totsiens, ou Vicky

Wanneer jy Queenstown op Google soek, kan jy nou “Komani” intik. Die Kaapse goewerneur sir George Cathcart het die dorp in 1853 gestig op die oewer van die Komanirivier, deel van die Groot-Keirivier-netwerk, en dit na koningin Victoria genoem.

In 2016 het die departement van kuns en kultuur toestemming gegee om die dorp se naam na Komani te verander. Die nuwe naam is al op party padtekens, maar die meeste verwys ’n mens steeds na Queenstown.

Die volgende pas, die KwaGoniwe Tyaliti-pas, volg sowat 30 km anderkant Lady Frere. Dis nie baie steil nie en ten spyte daarvan dat dit bykans 13 km lank is, ry baie mense hieroor sonder om eens te besef dis ’n pas.

Hierdie stuk van die R410 tussen Queenstown en Elliot loop deur die ou Temboeland wat deel was van die voormalige Transkei.

Langs hierdie pad strek die suurveld heldergroen ná die somerreën oor heuwels, vlaktes en valleie, en die kleurryke huisies en nedersettings staan uit soos Smarties teen ’n groen doek.

Die meeste huise is deesdae reghoekig met sinkdakke en metaalvensterrame, maar hier en daar sien jy steeds tradisionele rondaweltjies met strooidakke en klein vensteropeninge sonder ruite.

Cala is, soos die meeste van die klein dorpies hierlangs, nie baie aanskoulik nie, maar hou jou oë oop vir die ou tronk wanneer jy deur die dorp ry. Dis ’n stewige witgekalkte sandsteengebou wat lyk soos ’n fort uit ’n cowboyfliek, met net een klein deurtjie en geen vensters nie.

Die Calapas is die laaste van die passe tussen Queenstown en Elliot. Dit was voordat dit geteer was, ’n berugte pas wat reisigers liefs vermy het, maar deesdae kan jy dit met gemak ry en jou verkyk aan die kranse en uitsigte langs die pad.

Net voordat ’n mens Elliot van Cala se kant af binnery, by die aansluiting met die R56, kry jy die eerste van sewe stop-en-ry-punte oor die volgende 80 km. Hier en daar sien jy mense tydsaam langs die pad stap. Dis mense soos Makhosi Lawrence Futshane wat na twee van sy beeste soek. Die ligbruin verskalfie wat ongeërg oor die pad huppel, skeel hom nie. “Nee, dis nie myne nie. Ek sal maar daar in daai kamp loop soek,” beduie hy in ’n heel ander rigting as waarheen hy aanvanklik op pad was.

Elliot se NG kerk met die kleiner replika langsaan.

By Elliot is dit die indrukwekkende kranse en die rotsformasies, soos die regop “Guardians” ten noorde van die dorp, wat besoekers laat opkyk.

Op die dorp self het die NG kerk in Dampierstraat (een blok bo die hoofstraat) nie dieselfde Gotiese boustyl as op baie ander plattelandse dorpies nie. Dis ’n agthoekige sandsteengebou, die kerktoring het nie ’n spitsdak nie en sit asimmetries na links van die hoofingang – soos wat ’n kleuter ’n huisie met ’n skoorsteen sou teken. Daar is ook ’n kleinskaalreplika van die gebou links van die kerk wat as ’n muur van herinnering dien.

Die bordjies by die stop-en-ry-punte anderkant die dorp sê ’n mens kan tot ’n halfuur wag, maar meestal neem dit nie langer as 10 minute nie. Dis ’n klein prys om te betaal vir ’n verbetering van die pad.

Die meeste van die boere hou nog skape en beeste, maar hulle plant gewasse soos aartappels, soja en mielies aan; en die kans is goed dat ’n vrou by ’n stop-en-ry teen jou ruit klop en ’n gebraaide groenmielie te koop aanbied.

Vra die opsigter by die Tsitsawaterval om jou op die paadjie te neem tot by die krans agter die waterval.

Ugie voel deesdae meer na ’n bosboudorp as ’n boerderygemeenskap. Kleinboere het in die laat 1980’s en vroeë 1990’s hulle plase hier aan Mondi verkoop en rye en rye dennebome strek nou al met die pad langs. Sowat tien jaar gelede het PG Bison die plantasies gekoop en meer as R1,3 miljard bestee om ’n saagmeul en fabriek op die dorp te vestig. Dis effens hartseer om die eens golwende grasveld nou onder plantasies te sien, maar PG Bison doen heelwat om die vleiland hier te bewaar.

Tussen Ugie en Maclear beslaan padwerk feitlik die helfte van die afstand tussen die twee dorpe. (Volgens Sanral se webwerf behoort dit darem teen Augustus vanjaar voltooi te wees.) Wag maar weer eens geduldig by die stop-en-ry – jy gaan nou-nou afdraai vir iets moois...

Sowat 20 km anderkant Maclear staan die afdraaibord na die Tsitsawaterval. As jy ’n uur of twee kan afknyp, volg die aanwysings tot by Tsitsa Falls Backpackers en vra daar vir die opsigter, Richman Mphomane, om jou die waterval te gaan wys. (Dit kos R20 p.p.)

Hierdie een staan bekend as die boonste Tsitsawaterval – daar is nóg een verder stroomaf, sowat 50 km noord van Mthatha. ’n Mens kan ’n voetpaadjie tot ágter die val van die water volg – mooi trap, want die klippe is seepglad! – en die dapperes kan ook met ’n 150 m lange foefieslaaid dwarsoor die rivier gly.

Matatiele | Foto: Toast Coetzer

Van Maclear tot Matatiele ry jy weer deur die ou Transkei – die Malutistreek. Hier geld ander padreëls, party amptelik en ander nie. Die een amptelike reël waarop jy kan staatmaak, is dat die spoedgrens nêrens bo 100 km/h klim nie.

Dit het waarskynlik daarmee te make dat busse, vragmotors, taxi’s, skedonke, beeste, perde, bokke, skape en voetgangers hulle almal as regmatige padgebruikers beskou. Elke vierde kilometer is ’n padbordjie om jou te waarsku oor vee wat vir die volgende vyf kilometer oor die pad mag slenter. Hier en daar het ’n ondernemende entrepreneur sommer ’n bushalte ingespan as ’n kiosk met handgeverfde pryse teen die muur vir peuselgoed soos gebraaide mielies, aartappelskyfies en koeldrank.

Dié stuk pad voel asof ’n mens aan die buitewyke van die volgende dorp is, al is Mount Fletcher 50 km weg. Die strate daar is ’n warboel van verkeer, voetgangers en vee wat selfs vir Daantjie Kat sal verwar.

Van hier af tot by Matatiele sien ’n mens steeds bordjies wat waarsku teen slaggate, maar die pad is goed. Dit het ook voordeel getrek uit die opknappingsprojek. Hier is jy ook weer buite die ou Transkei en kan jy begin spoed optel tot by Kokstad, waar jy die grens na KwaZulu-Natal oorsteek en die N2 op jou wag om jou see of berg toe te neem. 

Totsiens, ou Vicky

Wanneer jy Queenstown op Google soek, kan jy nou “Komani” intik.

Die Kaapse goewerneur sir George Cathcart het die dorp in 1853 gestig op die oewer van die Komanirivier, deel van die Groot-Keirivier-netwerk, en dit na koningin Victoria genoem.

In 2016 het die departement van kuns en kultuur toestemming gegee om die dorp se naam na Komani te verander. Die nuwe naam is al op party padtekens, maar die meeste verwys ’n mens steeds na Queenstown.