Jack Parow en David Kramer se duet “Biscuits en biltong” het my onlangs lus gemaak om weer bietjie deur die Weskus te ry. Hier is ’n paar dinge wat Weskus Toerisme vir besoekers aan dié streek uitgesonder het.

1. Klink ’n glasie op Klawer

Skaars 300 km anderkant Kaapstad (3 uur se ry op die N7) kry jy Klawer, die tuiste van die Klawer-wynkelder. Die kelder is die poort tot die Olifantsriviervallei en bekend vir sy Chenin Blanc, Shiraz, Sauvignon Blanc en Pinotage. Moenie drink en bestuur nie – jy kan maklik op Klawer oorslaap en van daar af Vanrhynsdorp besoek!

www.klawerwine.co.za


2. Lanterfanter op Vanrhynsdorp

Dis een van daardie Weskusdorpies waar jy uit jou motor moet klim en die dorp te voet moet verken. Dalk loop jy jou vas in die Latsky-radiomuseum (Kerkstraat 4), waar George Latsky se versameling radio- en ander uitsaaitoerusting uitgestal word.

Die Red Ox Steakhouse is ’n lekker plek vir aandete of koffie, en die Letsatsi Lodge is ’n goeie keuse as jy  wil oorslaap. Terwyl jy by Letsatsi oorbly, besoek ook die Mission of the Little Flower, ’n Katolieke kerkie op die terrein. Dis die enigste Katolieke kerk in die wêreld waar die muurskilderye  Afrikaans bevat. 

3. Beleef die Sederberge (in die winter)

Hierdie bergformasie is een van die bestemmings waaroor Weg al die meeste geskryf het deur die jare. Jy kan die streek herhaaldelik besoek, en dis lekker in die winter en die somer. Die gebied is ’n paradys vir rotsklimmers en stappers.

As jy minder aktief is, kom kyk na die !Xam-rotstekeninge (wat vir langer as 500 000 jaar in die omgewing gewoon het), of verken die Stadsaalgrotte. Gaan drink warm sjokolade op Kromrivier.

Wenk:
CapeNature gee tot 31 Augustus spesiale winterafslag van 40% op al sy verblyf. Jy kan dus vir baie bekostigbare pryse in een van daardie lekker huisies met ’n kaggel by Algeria bly. Dan kyk jy ver oor die valley uit. Bespreek hier
 


Die uitsig naby die Stadsaalgrotte.
Die Stadsaalgrotte.
Algeria
Grotkuns.
Die rotskuns by Truitjieskraal.
Die ingang na Truitjieskraal.
Kromrivierpas.
Lot se vrou

4. Gly-gly by Piekenierskloof

Net anderkant die Sederberge is die Piekenierskloof Mountain Resort, wat viersterverblyf bied.  Maar moenie haastig wees nie! Piekenierskloof het ook glykabels, en ’n 4x4-, stap-, en bergfietsroetes. Oorkant die ingang na Piekenierskloof Resort kry jy Hebron , waar jy ook rooibosteeproesessies kan bywoon.

www.piekenierskloof.co.za

5. Drink ’n koppie rooibostee op Clanwilliam

Die Clanwilliam-kontrei is die enigste streek ter wêreld waar rooibostee natuurlik groei, en dié drinkie het een van Suid-Afrika se bekendste uitvoerprodukte geword. Gebruik die geleentheid om várs bossietee te proe. Hou onderweg na Clanwilliam by die Elandsberg Eco-plaas stil om te sien hoe dié kosbaarheid op die lande lyk. 

By die Rooibos-fabriek (Rooibos Ltd) op die dorp kan jy sien hoe dit vervaardig word, en by die Rooibos-teehuis kan jy ’n teeproesessie bywoon. Hmmm. 

Kontak: www.rooibos-route.co.za

Tee is darem nie die enigste struik in die omgewing nie. By die Ramskop-natuurreservaat  sal jy heelwat van die inheemse plantegroei sien. 

Ramskop op Clanwilliam
Tee op die land
Tee op die rak.

6. Dans, dans, dans

Jy kan darem nie wegry uit die streek as jy nog nie die rieldansers gesien het nie. Jy kan hierdie eg Suid-Afrikaanse tradisie geniet terwyl jy aan ’n smaaklike ete by Floris weglê.

Clanwilliam is die tuiste van die riel
Bitterfontein se rieldansers

 7. Wees in die mode – met ’n paar vellies

Ek het al gesien hoe ’n hoiti-toity modewinkel in New York $200 vir ’n paar vellies vra wat van Suid-Afrika af ingevoer is! By Strassbergers, wat sedert 1834 vellies maak, sal jy “Suid-Afrikaanse pryse” betaal. Strassbergers is veral bekend vir die rooi vellies wat David Kramer destyds gedra het.

Die eerste Strassberger-fabriek (op Wuppertal) is deur Leipoldt geopen omdat die inwoners ekstra taai skoene vir die ruwe omgewing nodig gehad het. Meer as 180 jaar later word die skoene hier steeds met die hand gemaak.

Die meeste skoene word by die fabriek buite Clanwilliam gemaak, maar daar is ’n klein fabriek op Wuppertal wat steeds oop is vir die publiek. Nie dat jy ’n verskoning nodig het om Wuppertal toe te ry nie! 

www.strassberger.co.za

By Strassberger word die vellies met die hand gemaak.
Rooi vellies.
Soos bokkoms ingery.


8. Geniet die gasvryheid op Goedverwacht

As jy Piketberg via die N7 bereik het, draai af op die Velddrifpad om Goedverwacht op te spoor. Hier kan jy nog by die locals oorbly en ’n historiese staptog deur die gemeenskappie neem om die Morawiese kerk, die meulmuseum, die plaaslike skool en die slawegrafte te besoek.

www.travelbergrivier.co.za/goedverwacht

9. Soek die juwele van die Swartberg- en Bergrivierstreke

Moenie haastig wees nie! Hierdie streek is vol lekker aftrekplekkies waar jy tyd nodig het vir snuffel. Indie Ale  is ’n mikrobrouery op Porterville, wat tans drie biere vervaardig: die River Blonde Ale, die Cochoqua Red Ale en die Porterville Porter.

Kom vir die bier, bly vir die pizza! (Bespreek liefs vooraf.) Moorreesburg is omtrent ’n uur se ry vanaf Indie Ale, en as jy hier kom, sal jy verstaan hoekom die dorp as die broodmandjie van die land beskou word.

Besoek die Graanmuseum op die dorp (een van net twee graanmuseums ter wêreld). Hier word die geskiedenis van graan vér gaan haal … by Farao in die ou Egipte. 

Soek die juwele op Porterville

10. Geniet die wyn en olywe van Riebeekvallei

As jy lus het om die aand te ontspan, skiet deur na die Riebeekvallei, waar daar ’n paar topverblyfplekke is. Die Royal Hotel is een van die oudstes in die Wes-Kaap, en dateer uit die koloniale era. Die kroeg is reeds 150 jaar oud en in die somermaande is dit heerlik om op die stoep te sit.

Ander lekker blyplekke is die Riebeek Valley Hotel, De Langenhof Guest House, Barthlomeus Klip en Merindol Manor.

Sit tyd opsy vir ’n wynproe. Hierdie is een van die mees onderskatte wynstreke in die land. 

11. Beleef die erfenisroete op Malmesbury

Moenie net kuier op Malmesbury nie. Beleef die geskiedkundige kern van die dorp deur die oë van ’n 19de-eeuse besoeker. Klik hier om ’n PDF van die roete af te laai.