foto’s Cyril Klopper

Hierdie roete van vyf dae begin in die Mosambiekse hoofstad, Maputo.

Die eerste skof is 70 km lank en behoort jou sowat 3 uur te neem. Dit gee jou die geleentheid om ’n bietjie tyd in die stad deur te bring vóór jy bande moet afblaas om die 4x4-gedeelte te takel.

Besienswaardighede soos Maputo se ou fort (Fortaleza da Nossa Senhora de Conceicao) aan die onderpunt van Samora Machel-rylaan is interessant, asook die ou stasiegebou langs die Werkersplein (Praça dos Trabalhadores) met sy enorme beeld van ’n vrou om die Eerste Wêreldoorlog te gedenk.

As jy nie een is vir kuns en kultuur nie, kan jy eerder die seekosmark (Marcado de Peixe) in Marginal-rylaan besoek. Los jou voertuig oorkant die pad in die Parque Marginal-restaurant se parkeerplek (S25.93369 E32.62900) waar ’n sekerheidswag ’n ogie sal hou.

Draf oor die straat en kies jou eie vars vis en ooskuskreef vir vanaand se braai.

Rond jou dag in Maputo af met ’n drankie en diepgebraaide garnale in die Parque Marginal se opelugrestaurant vóór jy noord mik... 4x4-wêreld toe!

Eers ry jy met Marginal-rylaan, ’n goeie teerpad, 24 km noord tot waar jy by die EN1-deurpad aansluit. Die eerste dorp wat jy aantref, skaars 1 km nadat jy op die EN1 geklim het, is Marracuene – trek hier af.

As jy nie in Maputo al volgemaak het nie, kan jy hier brandstof kry – die volgende vulstasie is 100 km hiervandaan in die gewilde vakansiedorp Praia do Bilene.

Dié hotel het ’n tragiese geskiedenis waarvan die besonderhede ietwat duister is.

Ry dieper in Marracuene in, ooswaarts in die rigting van die Komatirivier, tot jy by ’n treinspoor kom. Volg die spoor noordwaarts en steek hom dan aan die buitewyke van die dorp (S25.73438 E32.67718) oor.

Nou neem jy ’n brug óór die Komatirivier en volg ’n goeie grondpad vir 5 km oor ’n moeras tot jy by ’n vurk kom aan die buiterand van die Macaneta-gemeenskap. Draai hier links (S25.73949 E32.72907) en volg ’n sandpad noordwaarts.

Oor die volgende 6 km sien jy die Komatirivier se moerasvlakte aan jou linkerkant en Macaneta se bestaansboerderye regs. Waar die moeras teenaan ’n bosgebied eindig, is ’n afdraai na regs wat na die El Paso Ranch lei.

Dié cowboydorpie is ’n aardigheid hier teen die tropiese kus en lyk soos ’n filmstel van ’n Clint Eastwood-fliek. Daar is perdekampe, ’n poskantoor en ystersmid – en natuurlik ’n kroeg met swaaideure, wawielkandelare en balkonne waarop vroue in buustelyfies vir jou oogknip (toemaar, oor laasgenoemde terg ons net).

By El Paso kan jy perdry op die strand en konserte deur musikante soos Ghapi en A Touch of Class bywoon – vind vooraf uit wie wanneer optree. Hier is egter nie slaapplek by El Paso nie, en as jy graag aan dié aktiwiteite wil deelneem, moet jy by die nabye Jays Beach Lodge of die Tan ’n Biki-strandoord oornag.

Ons stel egter voor jy bly net ’n uur of twee vir ’n koeldrank en lyfnatmaak in die swembad vóór jy verder noord aanstryk. Daar is sprake van ’n enorme gholflandgoed wat deur Ernie Els en ander bekende gholfspelers hier ontwikkel gaan word, maar die planne vorder teen ’n slakkepas en dit gaan dalk selfs nooit gebeur nie.

Die tweespoorpaadjie is erg sanderig en kronkel herhaaldelik teen 20 m hoë duine uit – jy gaan moontlik op ’n plaaslike inwoner se bakkie afkom wat vasgeval het. En jy sal hom moet uitsleep, want daar is min plek om verby te steek.

owat 24 km ná El Paso kom jy op ’n groot trekkerband by ’n T-aansluiting af: Draai hier regs na jou kampplek vir die aand: die Machubo-strandoord. Hier is ’n lekker boskamp met braaigeriewe en jy kan paõ koop by die oord se eienaars – dit is ’n tradisionele Portugese broodrolletjie, en die soort wat jy hiér koop, bevat kassawe-wortel en knoffel. Dit smaak vorentoe.

Die volgende oggend kan jy rustig kamp afslaan vóór jy verder noord reis. Daar lê vandag slegs 60 km vir jou voor,  maar dit gaan minstens 4 uur neem.

By die groot trekkerband waar jy gister afgedraai het na die Machubo-strandoord, draai jy nou regs. Links van die pad is Illovo se uitgestrekte suikerrietlande en regs beboste duineveld.

Wanneer die suikerrietlande ’n ent verder ophou, ry jy met ’n smal stegie deur ’n andersins ondeurdringbare bos. Hier en daar sien jy ruïnes wat deur die oerwoud verswelg word. Van die geboue is in die tyd van die ou Portugese bewind opgerig, maar hulle is in 1977 ontruim toe ’n burgeroorlog tussen Renamo en Frelimo uitgebreek het, en sedertdien maak niemand daarvan gebruik nie.

Die pad bars skielik deur die ruigtes en jy ry nou oor ’n wye grasvlakte. Dit is opvallend dat hier geen beeste wei nie – blykbaar is al die beeste gedurende die oorlog deur die strydende vegters opgeëet.

Ná die burgeroorlog het ’n paar boere wéér beeste aangekoop, maar ’n pes het onder hulle uitgebreek wat feitlik almal laat vrek het.

Bestaansboere hou deesdae eerder boerbokke en hoenders aan.

Sowat 15 km noordoos van Machubo sal jy op die eerste van ’n reeks mere afkom. Vissermanne stoot hulle mokoro’s met lang pale oor die mere op soek na ’n vangs.

Die tweespoorpad loop teenaan die mere verby en plek-plek moet jy deur die water ry. In die droër maande is die water nooit hoër as jou knieë nie, maar in die reënseisoen is die pad heeltemal onder die water en dit gaan moeilik tot onmoontlik wees om deur te ry.

Dan sal jy moet omdraai en óf deur die binneland ry met die EN1-deurpad óf die eienaar van Machubo-strandoord, Bertie Stander, vra om jou strandlangs te neem tot op Praia do Bilene. Jy mag nie sonder ’n permit op die strand ry nie en daarom sal jy in Bertie se spoor moet volg aangesien hy wel toestemming het.

Aan die einde van die mere is nog ’n grasvlakte en nog digte bosse. Namate jy nader aan Bilene kom, begin jy weer bestaansboerderye teëkom wat kassawe-wortels en kool aanplant.

Daar is ’n smal bruggie (S25.31594 E33.17460) wat uit boomstompe gebou is; jou bosbakkie se wiele gaan net-net op die stompe pas en dis raadsaam om ’n reismaat vooruit te stuur om te wys hoe na jy is aan afval.

Kort ná die bruggie sal jy by die Uembjemeer en Praia do Bilene uitkom. Soos jy Bilene binnery, word jy oorval deur mans wat sakke vol kasjoeneute smous. ’n Goeie riglyn is om ’n derde van die openingsaanbod te betaal, maar selfs al word jy ’n gat in die kop gepraat om die volle bedrag te betaal, sal dit steeds goedkoper wees as in Suid-Afrika.

Hier is ’n ooraanbod oorde met kampplekke en chalets, en jy sal nie sukkel om blyplek te kry nie. Twee oorde met lekker kampplek is Complexo Palmeiras in die middedorp en Boa Vista, 10 km verder noord van die dorp.

Vat dit kalm op die derde skof van die roete. Vandag se skof is 90 km lank, maar die pad is betreklik mak vergeleke met die vorige twee dae en jy behoort binne minder as 5 uur daarmee af te reken.

Ignoreer die R408-streekpad noord uit Bilene en volg eerder ’n grondpad kuslangs uit die dorp in die rigting van Coconutbaai, waar die Boa Vista-oord geleë is.

Trek af by die Coconut-strandkroeg (S25.24836 E33.33951) en bestel eg Mosambiekse peri-peri-hoender. Dit neem ’n ewigheid voor jou bestelling by jou uitkom, maar dit smaak hemels en is beslis die wag werd.

Terwyl jy tande tel, sal die Mosambiekse personeel 2M-biere aandra en jou vergas op gebroke Afrikaanse kwinkslae wat hulle by ander Afrikaanssprekendes geleer het. Met ons besoek het die personeel ook pas ’n Jack Parow-CD in die hande gekry. Hulle was vreeslik ingenome met dié kletsrymer en het sy liedjies vol vloekwoorde kliphard deur die kroeg se luidsprekers uitgesaai... totdat ’n gesin met jong kinders hulle gevra het of hulle nie eerder Elandré of Bobby van Jaarsveld het nie...

Mosambiek se mense is vriendelik en hulle hou van helderkleurige kleredrag. Die land se gunstelingbier is 2M (dosh-em) en jy sal een van hierdie skuimkoppe in enige nedersetting kan koop.

Wees verantwoordelik met die bier, want jy’t nog 80 km om te ry waarvan ’n deel die EN1-snelweg is wat streng gepolisieer word.

Wanneer jy laatmiddag by Praia do Xai-Xai aankom, het jy weer eens ’n verskeidenheid oorde om van te kies – soos die Montego-oord wat beskutte staanplekke bied.

Die paõ wat in Praia do Xai-Xai gebak word, is heel gaaf, maar nie naastenby so lekker as dié van Maragra se bakkery naby die Machubo-strandoord nie.

Hier is wel vrugtestalletjies langs die pad wat kleinerige mango’s verkoop – maar hulle is besonder soet en verspotgoedkoop.

Vanoggend moet jy vroeg uit die vere kom, want jy’t ’n lang pad wat vir jou voorlê – amper 300 km, waarvan ’n deel rampsalig is.

Van Xai-Xai se oordgemeenskap af volg jy die kus verder noordoos tot by die ruïne van die Chongoene-hotel. Dié hotel het ’n tragiese geskiedenis waarvan die besonderhede ietwat duister is.

Die verhaal wat algemeen as die waarheid aanvaar word, is soos volg: Met die onafhanklikwording van Mosambiek op 25 Junie 1964 is landwyd aangekondig dat Portugese burgers 24 uur het om die land met niks meer nie as 20 kg bagasie te verlaat – die sogenaamde 24/20-uitvaardiging.

’n Groepie Portugese toeriste wat by die Chongoene-hotel vakansie gehou het, het die bevel verontagsaam en is in die hotel se binnehof deur Frelimo-soldate tereggestel.

Daar is ook ’n aangrypende weergawe van ’n gesin wie se gehuurde motor onklaar geraak het en hulle nie betyds kon vlug nie. Én daar is ’n weergawe wat aanvoer dat ’n groep lakse Portugese die bevel afgelag en partytjie gehou het totdat soldate hulle hier betrap het.

Hoe ook al, die hotel is nooit weer daarna bewoon nie en het dekades lank leeg gestaan. Destydse hotelpersoneel wat die burgeroorlog oorleef het, het later die hotel probeer bewaar deur die deure te grendel en onkruid uit te trek, en die gebou was tot betreklik onlangs in ’n gangbare toestand.

Met die aanbreek van die millenium was daar selfs planne om die hotel te restoureer en te heropen. Ongelukkig het ’n groep besope Suid-Afrikaners een naweek al die vensters met klippe bestook. Gure weer het toegang tot die ongeskonde leefgedeeltes gekry en die hotel is vandag onherstelbaar beskadig.

Die sandpad wat teenaan die Chongoene-hotel verby loop, is deur sandstropers met laaigrawe uitgedelg en jy moet vetgee om hier deur te kom, veral as jy ’n boswa sleep.

As jy hier vasval, sal jy jou wa moet afhaak en hom met ’n wenas herwin, óf by een van die nabye oorde aanklop om hulp. Dit het inderdaad met ons gebeur, en Moné Wauts, bestuurder van die Montego-oord skaars 4 km hiervandaan, het ons te hulp gesnel.

Met haar Land Rover Discovery wat met ’n dik skeepstou aan ons Isuzu D-Max vasgemaak is, kon ons saam die boswoonwa uitsleep.

Anderkant die sandgat word die grond hard, en dan sal jy vir die res van die roete nie weer met sulke diep sand hoef te sukkel nie. Die harde grondpad loop nou direk noord tot by die EN1-deurpad.

Jy ry egter slegs 1,6 km op die snelweg tot jy links draai (S25.01967 E33.79639) in die rigting van Chibuto waar jy kan bande pomp. Dis ’n breë, seepgladde teerpad wat jou oor grasveld en met ’n ellelange brug oor die Limpoporivier neem tot op Chokwé.

Hierdie bedrywige dorp het vulstasies, winkels en banke waar jy kontant kan trek. Ry verder noord met die R208-streekpad tot op die dorpie Manjangue. Hier kan jy kies of jy links wil afdraai en vanaand by die Massingirdam wil kamp (en dan die volgende dag oor die Giriyondo-grenspos die Krugerwildtuin wil binnery) en of jy die R208 verder noord gaan volg.

Ons het verder noord gereis. Hier is ’n verkeersirkel wat óm die wrak van ’n Russiese helikopter gebou is. Ná die wrak ry jy met ’n damwal weer oor die Limpopo en mik verder noord.

Die R208-streekpad is vir die volgende 37 km heel gaaf, maar dan raak hy skielik grondpad (S24.10964 E32.77145). ’n Paar meter verder raak dit dan weer teer en uiteindelik ’n mengsel van albei.

Dit is ’n afgesonderde kampplek wat nie van die pad af sigbaar is nie en boonop ver van enige nedersetting is.

Die pad is in ’n onsettende slegte toestand en jou voertuig dreig om uitmekaar te skud. As jy enigsins omgee vir jou ryding, sal jy nie vinniger as 40 km/h ry nie – dit is die gemiddelde spoed wat vragmotors wat hierlangs houtskool vervoer, ook handhaaf.

Hier is nie oorde of gastehuise op hierdie been nie en jy gaan vanaand langs die pad moet slaap.

Mosambiek se laaste landmyn is in September 2015 vernietig en die land daarna amptelik landmynvry verklaar. Ondanks dié gerusstelling bly dit sorgwekkend om die hoofpad te verlaat en die bosse in te ry om ’n beskutte kampplek te soek. Maar troos jou: Daar is verskeie nie-amptelike kampplekke waar reisigers soos jy oor die jare heen gekamp het sonder om opgeblaas te word.

Die eerste een is 68 km van Manjangue af en heet die Maventane-boskamp (S23.97869 E32.58129). Dit is sowat 600 m van die Limpoporivier se oewer af en ’n hele ent weg van die naaste nedersetting.

Die volgende kampplek is die Mabalane-boskamp (S23.72041 E32.61146), sowat 90 km noord van Manjanque. Dis slegs 400 m van die hoofpad af en ’n mens voel effens ontbloot hier, maar jy behoort nie deur iemand gehinder te word nie.

Ons het laatmiddag by ’n gesin op ’n donkiekar stilgehou om te hoor of daar iewers hier naby slaapplek is. Ons kon mekaar uiteraard nie verstaan nie, maar met gebaretaal het die gesin se oudste seun gesnap wat ons wou weet en voor ons voertuig deur die bosse uitgedraf tot op ’n droë pan (S23.46004 E32.56189).

Hy het beduie ons kan hier afsaal, en te oordeel na ’n paar leë bierbottels en tekens van vuurmaak was ons duidelik nie die eerste mense wat hier sou kamp nie. Dit is ’n afgesonderde kampplek wat nie van die pad af sigbaar is nie en boonop ver van enige nedersetting is.

’n Skaars saalbekooievaar het teen skemer kom inloer, maar andersins het g’n haan gekraai nie. Die volgende oggend kan jy rustig ontbyt eet, want dit is net 200 km tot by die Pafuri-grenspos en die pad is nie sleg nie.

Daar is wel een hindernis waaroor jy jou moet bekommer: Die rivierkruising deur die Limpoporivier by Mapai.

Baie naby aan die plek waar ons gekamp het, raak die aaklige pad aansienlik beter (S23.25352 E32.52440) en jy kan nou verlore tyd inhaal, maar hou by die land se spoedgrens.

’n Paar meter voor jy die dorp Mapai binnery, is daar ’n afdraai by ’n vulstasie na links (S22.74987 E32.07049). Dié sanderige R423-streekpad loop 16 km weswaarts tot op die oewer van die Limpopo. Dit is raadsaam om nie in die reënseisoen hier deur die vloed te waad nie; gebruik dan eerder die pont om die oorkantste wal te haal. Dit gaan jou sowat R500 per voertuig uit die sak jaag, maar eerder bang Jan as dooie Jan.

Bygesê, heelparty dapper mense het al gewaag om deur die Limpoporivier se vloedwater te ry én daarin geslaag. Met ons besoek in Junie was die rivier bloot ’n 2 m breë stroompie wat geen gevaar ingehou het nie. Ons moes egter steeds tolgeld van R100 betaal.

Anderkant die tolhek is jy in die Limpopo- nasionale park. Skaars 2 km later sluit jy by die R423-streekpad deur die park aan. Na links is die Shingwedzi-ekoroete, maar jy mag hom slegs met ’n toergroep ry.

Na regs is ’n goeie grondpad wat jou by die Krugerwildtuin se Pafurihek uitbring. Hierdie roete is besaai met piepklein nedersettings, en as jy beplan om binne die park op die oewer te kamp sal ons jou afraai, want daar is té veel nuuskieriges wat geselsies wil aankoop en kinders wat om lekkergoed bedel.

Boonop veroorsaak die groot klomp mense wat langs die R423 woon, dat jy geen wild gaan sien nie. Hou verby en waardeer eerder die kremetartbome wat soos (groot) bossies langs die pad groei.

Sowat 90 km (en twee uur) nadat jy die Limpoporivier oorgesteek het, kom jy uiteindelik by die Pafurihek aan. Anders as met die bedrywige Lebombo-grenspos by Komatipoort is dit ’n plesier om by Pafuri oor die grens te gaan.

Hier is geen smouse of sogenaamde “runners” nie en die doeanebeamptes is behulpsaam en vriendelik. Dit behoort vroegmiddag te wees as jy hier deur die grens ry.

WENK. Jy betaal ’n heffing om deur die Limpoporivier te ry: R100 of 300MT. Laasgenoemde bedrag is gelykstaande aan R63; betaal dus eerder met die plaaslike geldeenheid.

Sanparke vereis nie dat jy in die Krugerwildtuin oorbly as jy enige van sy Mosambiekse grense wil gebruik nie. As jy egter laatmiddag by ’n hek aan die Suid-Afrikaanse kant van die park inry en voor sononder deur die Mosambiekse grens wil ry, gaan Sanparke wel vra dat jy eerder in die wildtuin slaap – dit is omdat hulle wil keer dat mense deur die park jaag om betyds by ’n grenspos aan te kom.

Hierdie vereiste het daartoe gelei dat motoriste verkeerdelik glo dat hulle in die park móét slaap as hulle na Mosambiek reis. Dit staan jou uiteraard vry om wel jou tentpenne by enige van die park se noordelike kampplekke in te kap.

As jy om die een of ander rede eerder hunker na selfoonontvangs en groot winkels, is daar oorgenoeg tyd om Tshipise of selfs Louis Trichardt vóór skemer te haal.

Ons hoop jy’t onthou om ’n sakkie kasjoeneute opsy te sit vir jou mense by die huis.

WAT JY MOET WEET

Kan ek die roete op my eie ry? Ja, beslis.

Hoe lank? Die roete duur 5 dae, maar ons stel voor jy rek dit uit tot minstens 14 sodat jy langer langs die see kan uitspan.

Waarmee moet ek ry? Jy móét ’n volwaardige viertrekryding met laestrekratte en ’n ewenaarslot bring. Jy gaan die laestrekratte en ewenaarslot waarskynlik nooit gebruik nie, maar as jy vasval, gaan jy lang trane huil.

Hoeveel brandstof het ek nodig? Jy gaan nooit verder as 230 km van een vulstasie na die volgende hoef te ry nie (Chokwé na Mapai). Die afstande tussen vulstasies is dus kort genoeg dat jou trokkie se standaardtenk voldoende is.

Watter toerusting moet ek pak? Bring ’n banddrukmeter, kompressor en bandherstelstel. Daar is werktuigkundiges en basiese onderdele op die meeste groot dorpe, maar die mense gaan dalk nie Engels kan praat nie.

Mag ek sleep? Ja, maar onthou dat die sand plek-plek vreeslik los en diep is, soos by die Chongoene-hotel by Xai-Xai – en moet eerder nie ’n padwa na Mapai sleep nie, want die slegte pad gaan hom breek.

KONTAKBESONDERHEDE

El Paso, Macaneta: 00 258 84 430 8710 (Messenger en WhatsApp); elpasomoz@gmail.com

Jays Beach Lodge, Macaneta: 00 258 84 863 0714; reservations@jaysbeachlodge.com; jaysbeachlodge.com

Tan ’n Biki-oord, Macaneta: 082 852 8389; tanbiki@tanbiki.co.za; tanbiki.co.za

Machubo-oord, Manica: 00 258 86 937 9037 (SMS); stander.bertie@gmail.com

Complexo Palmeiras, Praia do Bilene: 00 25 82 825 9019; palmeirasbilene@gmail.com; complexopalmeiras.blogspot.com

Boa Vista-oord, Praia do Bilene: 082 311 3518; info@boavista.co.za; boavista.co.za

Montego-oord, Praia do Xai-Xai: 00 25 84 207 1650; bookings@montegoresort.co.za; montegomoz.co.za

Suid-Afrikaanse hoë kommissaris, Maputo: 00 258 21 24 3000