foto’s Schalk Jonker
Suidkus toe!
Suidkus toe!

Dis heerlike lente, en stadig maar seker raak die dae weer langer en die nagte korter. Wanneer die inperkingsmaatreëls in só ’n mate verslap dat ons weer provinsiale grense mag oorsteek – én mag kamp – is ’n bederfnaweek in die KwaZulu-Natalse Suidkus nét die doepa om van die ysige winter en sommer ook die sieldodende grendeltyd te vergeet.

Nie dat ’n mens veel oortuiging nodig het om Suidkus toe te sleep nie. Die heerlike klimaat, die warm Mosambiekse seestroom wat hier verbyloop, en die magdom doendinge in die gebied maak daarvan ’n puik vakansiebestemming – vir enigiemand van gesinne wat op soek is na pret en plesier tot pensioentrekkers wat rus en vrede verkies.

Die ATKV-Natalia in Winklespruit se omgewing is uitstekend geleë. Dit is heerlik sentraal – Durban is skaars 40 km weg – en ook nie te ver om te ry vir mense uit die binneland nie.

Wat meer wil jy hê? Die staanplekke is groot, met plaveiblaaie, gras en oorwegend koelte. Van die meeste staan­plekke op die boonste terras af het jy ’n uitsig oor die Indiese Oseaan.
Die ablusiegeriewe is modern, skoon en netjies, en hier is selfs herwinningsdromme sodat jy jou deel vir die aarde kan doen.

Natalia is ’n meneer van ’n gesinsoord en een van daardie kampplekke waar jy inry en alles voel van die begin af sommer net reg.

Dit is netjies, hier is baie plek, dit is so veilig soos kan kom, en hier is meer as genoeg om jou en jou mense besig te hou gedurende julle welverdiende blaaskans by die see. Hier is selfs wifi op jou staanplek en jy kry 30 minute se gratis internettoegang per dag. As jou tienerseun sy halfuur opgebruik het, gaan hy sy roomys moet prysgee en sy sakgeld gebruik om vir hom nog toegang te koop.

Natalia lê langs Illovostrand, en in dié warm waters kan jy heeljaar baljaar en tussenin op die skoon, uitgestrekte strand lê en sonbaai. Die meeste dae van die jaar is hier ook menseredders aan diens. As die weer die dag nie saamspeel nie, kan julle in die groot verhitte swembad gaan swem of op die leunstoele langsaan ontspan.

Natalia se ontspanningsgedeelte is so volledig soos kan kom, en buiten die swembad (hier’s een vir die kleintjies ook), is hier minigholf, ’n vlugbalbaan, trampoliens, ’n groot klimraam en een van daardie lewensgroot skaakborde. In die speletjieskamer is videospeletjies en ’n pool-tafel.

Die oordwinkel sal ’n paar kleindorpse supermarkte in die skande steek. Jy kan kom aanklop vir enigiets van brood, tydskrifte en visnette vir die kleintjies tot braairoosters, T-hemde, hout, koeldrank, roomys en ys. Langs die winkel is die Koswerf-restaurant waar jy kan aansit vir ontbyt, ligte middagetes of sommer net koek en tee.

Soos by alle ATKV-oorde is hier in die vakansietyd vermaak by die swembad, én dan kosstalletjies waar jy lekkernye soos ’n aartappel op ’n stokkie kan koop.

Die hekkie na die treinbrug wat oor die spoor loop strand toe, word deur ’n sekerheidswag beman. Wanneer jy uitstap, gee hy vir jou ’n rekkie met ’n skyfie op wat jy om jou arm moet sit. Die dag van die week is op dié skyfie geskryf, en dís hoe hulle beheer wie van die strand af terugkom. Langs die sekerheidshuisie is ’n buitestort om die soutwater en seesand van jou af te spoel.

Selfs al staan jy op die voorste staanplekke, is dit ’n stewige stappie tot op die strand. Maar ’n bietjie oefening is seker nie ’n slegte ding nie, veral as jy daardie ekstra kilogramme wat die meeste van ons gedurende die inperking aangesit het, in ag neem.

Die woonwapark is in twee dele verdeel. Die eerste, met amper 80 staanplekke, is naby die hek op die onderste terras. Van hier af het jy nie ’n uitsig oor die see nie, maar jy is meer beskut teen die wind. Die tweede deel het 28 staanplekke, en dié lê ’n paar meter hoër op die boonste terras. Van dié staanplekke af het jy ’n onbelemmerde uitsig op die water, veral as jy heel voor staan. Jy kamp egter in die tande van die wind as dié die dag opsteek.

As jy vir die boonste terras mik, hoor by die persoon wat jou help met jou bespreking of staanplek nr. 114 of 117 nog beskikbaar is. Dit is die twee beste staanplekke in hierdie deel van die woonwapark, want jy staan onder groot bome wat heeldag koelte gooi – veral in die bedompige hitte van die somermaande is dít ’n welkome lafenis. Jy staan ook so te sê heel voor in die kampterrein, wat beteken niemand gaan voor jou kom opslaan en jou uitsig bederf nie.

Hier is nóg groot bome op die boonste terras, maar hulle staan deur die kampterrein versprei en jy is nie gewaarborg van koelte nie. Pak dus jou silwer seil en gazebo in om veilig te wees. Onthou ook jou stormtoue en -penne.

As jy op een van die onderste staanplekke gaan kamp, moet jy probeer om jou naam langs nr. 31-41 te kry. Hulle is op die middelste eiland aan die verste punt van hierdie deel van die kampterrein, en ook heeltemal in die koelte. As die hele familie vir Kersfees kom saam kamp, is staanplek nr. 47-51 net reg vir ’n groepbespreking. Dié vyf staanplekke is heel in die hoek, op die verste punt van die onderste kampterrein, en jy is hier meer afgesonder van die res van die kampeerders. Dis lekker privaat en hier is boonop ’n blaredak bo jou kop. Jy is ook langs die trappies na die boonste terras en dus nader aan die strand.

’n Tien stuks van die onderste staanplekke het elkeen ’n groot skadunet oor. Bel vooraf en hoor of jy een van hulle kan kry. As die geluk nie aan jou kant is nie, moet jou silwer seil sonder twyfel op jou paklysie wees.

Hier is meer as genoeg om almal gelukkig te hou wanneer jy en jou mense by Natalia kom kamp. Tussen die see en strand, en groot swembad – en dan nog die klimrame, speletjieskamer en trampoliens – sal veral die kleintjies heel geholpe wees.

Die staanplekke is deur die bank amper so groot soos ’n muurbalbaan, en die meeste van hulle het ’n reghoekige stuk plaveisel met gras rondom. Die kragpunte het blou sokke – onthou om jou woonwaprop saam te bring. Die kragpunte staan naby genoeg aan jou plaveiblad en dis nie regtig nodig om jou verlengkoord saam te bring nie. Langs die kragpunt is inpropplek vir jou wa se satellietskottel.

Elke staanplek het ook sy eie kraan én vullisdrom wat daagliks skoongemaak word. Maar by Natalia is ’n groot fokus op herwinning en jy word versoek om jou glas, blikkies, plastiek en papier apart te hou en in die gekleurde dromme by die twee ablusieblokke te gaan weggooi.

Onthou om jou eie braaigoed saam te bring, want jy kry nie ’n braaier by jou staanplek nie. As jy nie een gebring het nie, kan jy by die gemeenskaplike braaiplek langs die swembad jou tjops gaan gaar skroei.

Of jy nou op die onderste of boonste staanplekke staan, jy kamp hier nêrens verder as 100 m van die ablusiegeriewe af nie. Die ablusieblok by die staanplekke die naaste aan die see is ’n moderne gebou met aparte geriewe vir mans en vroue – en met ons besoek is dit opgeknap. By die mans is vier storte, vier wasbakke met spieëls, en drie urinale. Hier is ook twee gesinsbadkamers met ’n dubbele stort en ’n wasbak in jou eie vertrek.

Die onderste blok is ewe modern, netjies en skoon, maar hier is agt urinale, drie toilette, vier storte, ’n bad en agt wasbakke met spieëls. Een van hulle is laag vir wanneer dit tyd is dat die kinders tande borsel.

Die storte het glasdeure en is ruim. Die droë deel is egter effens beknop en die afslaanbankie het ’n gewigsbeperking van 100 kg. As jy dus in jou skooldae in die tweede span se vaste vyf gesak het, moet jy liefs nie hier gaan sit om veters vas te maak nie. Hier is wel genoeg hake vir jou handdoek en skoon klere.

By albei ablusieblokke is ’n wasmasjien en tuimeldroër wat met ruilmunte werk (jy kry dit by die snoepie). Hier is ook opwasplek vir jou skottelgoed en diep wasbakke vir jou wasgoed.

Kortliks | ATKV-Natalia

Kampplek: 108 staanplekke op 2 terrasse, die meeste met plaveiblaaie en gras, en sommige met koeltebome of skadunet.

Ablusiegeriewe: 2 moderne ablusieblokke wat skoon en netjies gehou word.

Prys: R290-R1 375 per staanplek vir 6 mense, afhangende van waar jy staan en wanneer jy kamp.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 031 916 4545; natalia@atkv.org.za; natalia.co.za

Naaste dorp: Winklespruit 3 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS: S30.121831 E30.845729

Ry & SleepAs jy jou blou prop per ongeluk by die huis vergeet het, kan jy by die oordwinkel een koop.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook