KAAP COLUMBINE

Dié 15 m hoë toring word sedert 1936 al gebruik. Kaap Columbine, net wes van Paternoster aan die Weskus, is genoem na ’n driemasseilskip, die Columbine, wat in 1829 hier gesink het. 

Die toring (hy laat jou nogal dink aan ’n kasteelstuk in skaak) is ontwerp en gebou deur H.C. Cooper, wat in daardie jare die vuurtoringingenieur vir die Spoorweë was. Slegs 13 van die vuurtorings het nog permanente personeel, die ligte is deesdae geoutomatiseer. Die huidige vuurtoringwagters by Kaap Columbine is Japie Greeff en Wayne Brown. 

Verblyf? Hier is drie selfsorghuisies, elk met ’n toegeruste kombuis en braaiplek. Forget Me Not (slaapplek vir 2) kos buite seisoen R650 p.n. en in seisoentyd R800 p.n., Tumbleweed en Blue Bells kos buite seisoen vir 4 mense R900 p.n. en in seisoentyd R1 400 p.n. Laasgenoemde twee huise kan elke 2 ekstra gaste akkommodeer teen 200 p.p.p.n. (afhangend van die seisoen). 

GPS E17.855496 S32.827725

Kontak  021 449 2400 (verblyf); e-pos: lighthouse.tourism@transnet.net; * 022 752 2705 (vuurtoring)

DANGER POINT

Die naam spreek vanself: Die rotsbanke wat hier by Gansbaai en Franskraal onder die branders skuil was al nagenoeg 140 skepe se ondergang, waarvan die mees bekende sekerlik die HMS Birkenhead is. Dié Britse stoomfregat het op 26 Febraurie 1852 hier gesink en is volgens oorlewering die eerst skip waarop die “vroue en kinders eerste”-beginsel toegepas is. Hulle is in die reddingsbote gelaai, terwyl die meeste van die troepe, offisiere en perde aan boord verdrink het. 

’n Vuurtoring was duidelik nodig. Hierdie een is in 1895 gebou; dit is agthoekig en staan 18,3 m hoog. Die wagter wat toesien dat dinge klopdisselboom loop, is Colin Olivier en sy assistent Hubert Visser.

Verblyf? Die Misty Waves-selfsorghuis kos buite seisoen vir 4 mense R900 p.n. en in seisoentyd R1 400 p.n. Dit kan twee ekstra gaste akkommodeer teen R168-R220 p.p.p.n. (afhangend van die seisoen). 

GPS S34.63017 E19.30210

Kontak 021 449 2400 (verblyf); e-pos: lighthouse.tourism@transnet.net; 028 384 0530 (vuurtoring)

KAAP AGULHAS

Ek was al gelukkig genoeg om die Kaap Agulhas-vuurtoring se ligstraal van die see se kant af te sien – ná ’n vyf dae lange vaart van Marion-eiland ver suid daarvandaan.

Glo my, om só ’n liggie in die nag van ’n skip af te sien gee nuwe betekenis aan die woord “verligting”. Vir my was dit ’n teken van tuiskoms, maar vir gereelde seevaarders is dit ’n teken van veiligheid: Doer anderkant lê die land, en ek moet my afstand hou.

Dié vuurtoring met sy breë skouers is 27 m hoog en is in 1849 in gebruik geneem – dis op twee na die oudste vuurtoring in die land (die een in Groenpunt, Kaapstad, is die oudste).

Op die perseel is daar ’n museum waar jy op ’n triestige dag koffie en iets te ete kan geniet. En as jy vir Robert Arendse – die mees suidelike vuurtoringwagter in Afrika – daar raakloop, knoop ’n geselsie aan.

Verblyf? Nie by die vuurtoring self nie, maar in L’Agulhas en Struisbaai is daar verskeie gastehuise. Die Agulhas- nasionale park (10 km van die vuurtoring af) se selfsorgchalets (2 enkelbeddens en ’n uitvoubank vir 2 kinders) kos vanaf R1 180 p.n. vir 2 volwassenes, plus R130 vir elke bykomende kind. ’n Gesinchalet (4 enkelbeddens) kos vanaf R2 100 p.n., plus R130 vir elke bykomende kind. Die Lagoon House R3 375 p.n. vir 6 mense, maar het slaapplek vir 8 (R290 p.p.p.n. vir elke ekstra gas). Jy betaal ook ’n daaglikse bewaringsfooi van R40 p.p. (R20 per kind). 

GPS S34.829376 E20.008984

Kontak 028 435 6078 (vuurtoring en verblyf); www.sanparks.org/parks/agulhas 

KAAP ST. BLAIZE

Dié kordate wit toring van 20,5 m staan hoog op teen Kaap St. Blaize, met ’n wye uitsig oor Mosselbaai – die baai én die dorp self. Bartholomeus Dias het dié kaap op 3 Februarie 1488 sy naam gegee: Bahia de São Bras (die baai van St. Blaize.) 

Gaan maak ook ’n draai in die Kaap St. Blaize-grot in die krans reg onder die vuurtoring. ’n Voetpaadjie neem jou van die parkeerterrein af tot binne-in dié voormalige blyplek van dié streek se Khoi-mense. Sit ’n bietjie hier binne en probeer jou voorstel hoe gesellig dit moet gewees het om saans hier om ’n kampvuurtjie te sit en mossels eet terwyl die branders doer onder teen Die Punt se rotse breek.

Gepraat van mossels... Die vuurtoring het nie sy eie restaurant of koffiewinkel nie, maar net onderaan die voet van die krans is daar ’n paar eetplekke waaruit jy kan kies – almal met ’n uitsig oor die see.

Verblyf? Die Whale’s Way-selfsorghuis (slaapplek vir 4, plus 2 ekstra) kos buite seisoen vir 4 mense R900 p.n. en in seisoentyd R1 400 p.n. Dit kan twee ekstra gaste akkommodeer teen R165-R220 p.p.p.n. (afhangend van die seisoen). 

GPS S34.63017 E19.30210

Kontak 021 449 2400 (verblyf); e-pos: lighthouse.tourism@transnet.net; * 044 690 3015 (vuurtoring) 

KAAP RECIFE

Hierdie 24 m hoë swart-en-wit toring is al sedert 1851 in gebruik waar die kaal, windverwaaide Kaap Recife die suidelike grens van Algoabaai aandui.

Die verraderlike Thunderbolt-rif wat onder die oppervlak van die see van die kaap af uitloop, het al baie skepe bodem toe gestuur. Die vuurtoring (bouwerk het in 1849 begin) was dus nodig om skeepsvaart na die Port Elizabethse hawe veiliger te maak.

Die vuurtoring is nie meer oop vir die publiek nie, maar hier’s ander goed te sien: Net voordat jy by dié vuurtoring naby Somerstrand aankom, ry jy verby die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (SANCCOB). Die St. Croix-eiland in Algoabaai huisves die wêreld se grootste brilpikkewynbroeikolonie en SANCCOB sien om na jong pikkewyne wat naby Port Elizabeth op die strande uitspoel. Hulle staan ook te alle tye gereed om voëls te red indien daar byvoorbeeld ’n olieramp sou wees. 

SANCCOB is elke dag (behalwe Kers- en Nuwejaarsdag) oop van 9 vm.-4. nm. Toere (R40 p.p., R25 vir pensioentrekkers en kinders jonger as 12) word heeldag aangebied, maar voertyd vir die pikkewyne is slegs om 2.45 nm. Buiten pikkewyne is daar ook gereeld duikers en malgasse by die rehabilitasiesentrum.

Twee staproetes – die baie kort Libby’s Loop (10 minute) en die 4 uur lange Rooiborssterretjieroete – begin en eindig by die sentrum.

Verblyf? Nie by die vuurtoring nie, maar die Pine Lodge (* 041 583 4004; * www.pinelodge.co.za) se houthutte (2 enkelbeddens en ’n uitvoubank vir 2 kinders, vanaf R2 150 p.n.), luukse chalets (slaapplek vir 2, braaidek, borrelbad... vanaf R3 430 p.n.) en kampeerterrein (vier-ster, vanaf R580 p.n.) is ’n hanetree weg

Prys? Toegang tot die Kaap Recife-natuurreservaat kos R68 p.p. vir ’n weekpas, maar as jy net SANCCOB toe gaan, sê net so by die hek, dan laat hulle jou deur. (Jy betaal dan jou SANCCOB-toegangsgeld by die sentrum en moet jy strokie wys wanneer jy weer uitry).
As jy die vuurtoring wil besoek, moet jy vooraf bespreek.

GPS E25.700640 S34.028955

Kontak 041 583 1830 (SANCCOB); www.sanccob.co.za

GROOT-VISPUNT

By die Groot-Vispunt het jy een van die Oos-Kaap se mooiste uitsigte. Omdat die vuurtoring bo-op ’n hoë duinrand gebou is – hy staan 76 m bo seespieël – sien jy ver teen die kus af: na regs is wit strande in die rigting van Port Alfred, en na links sien jy waar die Groot-Visrivier in die Indiese Oseaan uitmond. Die bruin water van die Vis stoot ’n paar kilometer die see in en is duidelik sigbaar.

Om daar te kom vat jy die R72 noord uit Port Alfred vir sowat 25 km. Van die teerpad af lyk dit eers na niks, maar vat met vertroue die (nie te wafferse nie) grondpaadjie see se kant toe. Dis eers wanneer jy teenaan die 9 m hoë vuurtoring uitklim dat jy sien wat hierdie plek so spesiaal maak. 

Die Groot-Vispuntvuurtoring is gebou in die jare toe die Kowie-riviermonding by Port Alfred nog as hawe gebruik is. Gevaarlike riwwe by Riet- en Stalwartpunt (net noord van Grootvispunt) het ook ’n gevaar vir skeepvaart ingehou: die Waterloo (1848), SS Kilbrennan (1907) en die SS Cariboo (1928) het hier gesink. 

Meer onlangs – in 2005 – het die Griekse Kiperousa hier naby gesink. Die vrag aan boord was 8 000 houtstompe wat elk 3 ton geweeg het!

Verblyf? Ja, hier is 2 selfsorghuise (Evening Star en Dawn Breeze) reg langs die vuurtoring met ’n uitsig wat jy nêrens elders gaan kry nie. Hier’s ook ’n swembad en klimraam vir kinders). Dit kos vir 4 mense R900 p.n. buite seisoen en in seisoentyd R1 400 p.n. Die huise kan elke 2 ekstra gaste akkommodeer teen R165-R220 p.p.p.n. (afhangend van die seisoen). 

GPS E27.105427 S33.519708

Kontak 021 449 2400 (verblyf); e-pos: lighthouse.tourism@transnet.net; * 046 675 1067 (vuurtoring)

UMHLANGA ROCKS

Vuurtoringtoerisme is ongelukkig maar yl in Kwa-Zulu Natal, want geen van hulle torings is tans oop vir besoekers nie.

Jy sal maar oor die heining moet leun en ’n foto neem net om te sê “jy was daar”. Gaan kyk gerus na die North Sand Bluff-toring by Port Edward, die skaakbord-agtige een by Port Shepstone (wat uitkyk oor die Umzimkuluriviermond) en die Cooper-vuurtoring op die Bluff by Durban.

Een van die bekendse torings is die een by Umhlanga Rocks – dis operasioneel sedert 1954 en die kontroles sit in die Oyster Box Hotel direk agter die vuurtoring.

Verblyf? Die Oyster Box Hotel (www.oysterboxhotel.com) is duur – jy sal jou boswa moet verkoop vir ’n paar nagte. Besoek www.umhlanga-rocks.com vir ander opsies.

Kontak: Umhlanga Tourism by 031 561 4257; e-pos: info@umhlangatourism.co.za; www.umhlanga-rocks.com 

GPS: S29.728542 E31.088090

Besoek ook...

Groenpunt, Kaapstad * 021 449 5171
Slangkoppunt, Kommetjie * 021 783 1717
Hoodpunt, Oos-Londen * 021 449 2400

Weet voor jy waai

Besoektyd? Vuurtorings is van Maandag tot Vrydag van 10 vm. tot 3 nm. oop vir dagbesoekers (Hoekom vuurtorings nie oor naweke oop is nie, weet nugter...)  

Prys? Toegang is ’n spotgoedkoop R16 p.p. (R8 vir kinders jonger as 12; R10 vir studente en pensioentrekkers). 

Verblyfseisoene Seisoentyd strek van September tot April. Buite seisoen – van Mei tot Augustus – is die verblyf goedkoper.

Die sakpas-opsie: Heelwat van die vuurtorings bied backpacker-verblyf. Jy moet jou eie beddegoed en handdoeke bring.

Bespreek verblyf by  021 449 2400 (verblyf); e-pos: lighthouse.tourism@transnet.net