Wanneer ek, my man, Johann, en ons seun Jeandré kamp, wil ek die tegnologie tuis los en net in die bos wees om weg te kom van die alledaagse gejaag. Dis ’n tyd vir familie en om af te skakel. Daarom is ek so mal oor Tsendze. Ons het omtrent vyf jaar gelede begin kamp nadat ons voorheen in chalets tuisgegaan het.

Ons het eers ’n gehuurde boswoonwa gebruik en toe sowat twee jaar terug vir ons ’n Tentco-tent aangeskaf. En sedertdien het ons nog nie een oomblik teruggekyk nie.

Hoekom is Tsendze vir jou so spesiaal?

Ek staan in die natuur en kosmaak terwyl ek na die voëlgeluide en jakkals- en hiënaroepe luister. Dis mos suiwer rustigheid wat elke keer vir hoendervel sorg. As ek hier is, keer ek terug na ’n kalmte en dit laat my die natuur opnuut waardeer en respekteer.

Laas Desember was ons vir ’n volle 8 dae by Tsendze en in Maart was ons terug vir ’n langnaweek. Die oomblikke met al die wild wat ons gesien het, was ’n onbeskryflike ervaring. Hier is ook ’n groot verskeidenheid voëls in die kampterrein.

Omdat Jeandré verstandelik gestrem is, probeer ons soveel as moontlik tyd saam deurbring as gesin. Hy is mal daaroor om rond te rits; as die alarm vroeg soggens afgaan, spring hy met oorgawe in ons 4x4-voertuig, slaggereed om te gaan wild kyk. Dit is vir my so lekker om sy opgewondenheid te beleef. Jeandré is ook baie lief vir water, en daarom neem ons hom smiddae na die swembad by Mopani om te gaan afkoel.

Hoe lyk die kampterrein?

Hier is nie elektrisiteit nie, en dit is vir ons fantasties. Hier is heelwat bome en jy het dus ’n goeie kans op koelte op jou staanplek. Jy kry ook ’n vullisdrom en ’n geplante staalbraaiplek. Dit is ’n boskamp; dus is hier nie veel in terme van gras nie, maar dit doen geensins afbreuk aan die heerlike atmosfeer nie.

In watter toestand is die badkamergeriewe?

In die middel van die kamp is twee identiese badkamers naby mekaar. Hier is ligte, maar hulle werk net snags. Links en regs van die deur is twee wasbakke langs mekaar, en elke twee deel ’n groot spieël. Die storthokkie het al die nodige pak- en hangplek plus ’n stortgordyn. Die warm water is net warm genoeg om lekker te stort en laat die gasgeiser nie onnodig werk nie.

Agter elke badkamer is daar badgeriewe vir mense in ’n rolstoel. Hiernaas is ’n langwerpige grasdak met rye wasbakke vir skottelgoed asook ’n klomp tweeplaatgasstowe ingeval jou stoof dalk die gees gee.

Wat van kos en brandstof?

Hier is nie ’n winkel of vulstasie by Tsendze nie, maar Mopani is om die draai en daar raak jy geholpe met alles. Onthou ook om vir jou ’n wildrit by Mopani te bespreek. Hulle kom laai jou sommer by Tsendze se hek op.

Inligting

Kontak: 013 735 6535/6; sanparks.org

GPS: S23.556463 E31.444141

Gaan kyk na hulle puik beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za