Foto's Leon Botha
Kosibaai
Kosibaai

Vir die meeste mense roep Kosibaai onmiddellik beelde op van sand en 4x4. Tog is dit nie so afgesonder soos wat dit klink nie – jy kan selfs met ’n nutsvoertuig en gewone woonwa tot hier ry.

Hier in die verre noorde van KwaZulu-Natal lê die Mosambiekse grens net ’n paar kilometer verder, en die teerpad soontoe loop digby Kosibaai verby. Dit is dus heelpad teerpad, en as jy afdraai, wissel die pad afhangend van die kampplek waarheen jy mik, van ’n doodgewone grondpad tot ’n sandpad. Ons het by Utshwayelo naby die meermonding van Kosibaai én by die Kosibaai-oord teenaan die meer afgesaal. Die twee kampplekke is 8 km uitmekaar soos die kraai vlieg, met Utshwayelo die naaste aan die see (3,4 km). Maar jou reisavontuur begin al ’n goeie 100 km duskant Kosibaai.

Die N2 is die maklikste manier om in dié deel van die wêreld uit te kom, ongeag van watter kant af jy kom. Van Pongola se kant af (dié dorp is skaars ’n hanetree van die Golela-Swaziland-grenspos af) kry jy boonop die kans om tussen uitgestrekte suikerrietlanderye deur te ry – sonder enige grensdrade langs die pad.

Moenie te haastig wees nie, want trekkers kruip op en af in die pad met hulle vrag suikerriet. Die afdraai na Kosibaai van die N2 af is reg langs die Pongolapoortdam, wat terloops ook die jagveld van die vreeslose tiervis is op eie bodem. Die smal teerpad kronkel om die suidelike punt van die dam waarna jy gereed moet staan met jou sleepvoertuig se laer ratte om oor die kort maar steil bergpas te kom.

Die dorp Jozini lê net anderkant die berg terwyl die lieflike uitsig na links oor die waters jou asem wegslaan. Dié waters wurm naderhand voor jou deur die klowe tot by die damwal in Jozini. Jozini is ’n miernes van bedrywigheid en ’n plek waar mense hulle nie eintlik aan verkeersreëls steur nie. Ironies genoeg het ons ’n hele paar verkeersbeamptes gesien, ook by die kruising waar jy reguitaan hou Sodwanabaai toe of links draai oor die wal na Kosibaai.

Dis by dié einste kruising waar jy kan besluit watter pad jy na Kosibaai wil ry. Google Maps sê met die pad reguitaan is dit net 109 km tot by Manguzi, die groot dorp digby Kosibaai, maar jy gaan amper twee uur ry.

Links, oor die wal, is 3 km korter, maar ook 20 minute vinniger. ’n Mens mag nie stilhou op die 89 m hoë damwal nie, maar op die punt is ’n aftrekplek as jy dalk gou ’n gesinsfoto wil neem. Dis in elk geval goed om hier bene te rek, diep asem te haal en moed bymekaar te skraap vir die stuk pad wat voorlê.

Die pad is nie die beste teerpad in die land nie en jy kry allesbehalwe ’n egalige rit. Hier is dit nie suikerriettrekkers waarvoor jy moet pasop nie, maar ook bokke, hoenders en beeste wat sorgeloos heen en weer oor die pad stap.

Manguzi is ’n mini-metropool waar jy geholpe behoort te raak as jy iets by die huis vergeet het. ’n Mens kan sien die besighede is gerat vir toeriste, spesifiek die 4x4-ouens.

Ons trek by ’n Engen-motorhawe in en verlaag die banddruk vir die grond- en sandry wat voorlê. Hier het jy nie daardie kompressorpyp met sy nukkerige lugdrukmetertjie nie; jy sleutel die verlangde banddruk in op ’n toetsbord neffens die brandstofpunt en ’n rekenaar sorg vir die res. 

UTSHWAYELO-KAMP

Tot by die punt

Anna Mthetwa heet jou welkom by Utshwayelo nadat jy al die informele verkeer op pad hierheen trotseer het.

Utshwayelo is die noordelikste kampplek in KwaZulu-Natal – die afdraai soontoe is 13 km anderkant Manguzi en skaars 1 km voor die Mosambiekse grens. Die breë sinkplaatgeryde grondpad is plek-plek klipperig, maar enige stadskar sal dit baasraak, selfs al het jy ’n wa op die haak.

Utshwayelo is 4,5 km verder aan die regterkant van die pad. Voor jou is die toegangshek na die iSimangaliso-vleilandpark, met ’n bord wat wys slegs 4x4’s mag hier ingaan.

Links is ’n stalletjie waar jy die helderste lapwerk en Afrika-juwele kan aanskaf, maar ook ’n bondeltjie hout kan koop vir R20. Utshwayelo is oorkant die pad waar ’n wapperende landsvlag jou verwelkom.

Die pad van hier af is sanderig, maar dis darem goed vasgetrap.

Groot waterbessiebome staan die wêreld vol en gaan waarskynlik die son wegkeer op jou staanplek. Die kantoor is 50 m regs voor jou. In die oop kantoor staan ’n groot glashouer met yskoue water met lemoenskyfies daarin. En dan heet ’n vriendelike Anna Mthetwa, die assistentbestuurder, jou welkom. As jy gedurende jou verblyf enige vraag het, stap jy hierheen vir die oplossing.

As jy nie ’n braairooster saamgebring het, kom sy tot jou redding. Anna wys na die oorkant van die binneplein om een van die oord se badkamers uit te wys en stap voor sodat jy kan sien waar jou staanplek is.

Van die badkamers se mure het ‘n soortgelyke rietskans as die heining rondom die meeste staanplekke. Jy is dus heel privaat met ‘n aardse tema om jou. Van die geriewe is afsonderlik vir mans en vroue, en van die ander geriewe word gedeel.

Hier is 14 staanplekke waarvan die meeste soos ’n kraal uitgelê is met ’n rietheining rondom – jy het dus lekker privaatheid. Elkeen van die staanplekke het ’n blou kragsok, lig, kraan, vullisdrom en braaiplek (’n halwe lorrievelling wat jy kan rondskuif).

Die staanplekke is ruim en jy het hope parkeerplek nadat jy kamp opgeslaan het. Op party plekke is daar gras, maar ander het net vasgetrapte sand.

Die bome op sommige staanplekke is laag en jy gaan nie jou wa onder hulle inkry nie, maar staanplek nr. 17 op die verste punt is een van die wenners. Die grond is gelyk en die boom staan in die middel. Staanplek nr. 11 en 12 is regoor die kantoor, maar dis te knap vir ’n woonwa en eerder geskik vir tentkampeerders. 

Hier is drie badkamergeboue. Die een is tussen die eerste groep staanplekke, die tweede by die plein, en die heel grote net agter die plein digby die verste staanplekke. Die een by die kantoor is van hout gebou, maar binne het jy teëlwerk plus twee toilette en twee storte (mans en vroue deel). Die stortkant van jou hokkie het nie ’n dak oor nie en jy staan dus onder die blou hemel wanneer jy stort.

Die badkamers by die eerste staanplekke is ’n beskeie weergawe van die badkamers by die kantoor (ook met ’n oop stort) en het ’n opwasgedeelte aan die pad se kant.

By die groot badkamers aan die anderkant word mans en vroue wel geskei – die “Itoti”- en “Itete”-bordjies sê wie gaan waarheen. Hier is verskeie storthokkies, maar hulle is nie so ruim soos die ander nie. Die bokante is steeds oop, hoewel ’n groot grasdak oor hulle span. Die opwasplek is aan die agterkant van die gebou.

As dit by water en krag kom, is die oord selfvoorsienend. Die water kom uit ’n boorgat en die elektrisiteit van ’n sonkragstelsel en kragopwekker. Hulle het ook Eskomkrag, maar die punte is nie bedoel vir toerusting soos ketels en lugreëling wat té veel krag trek nie.

Die swembad is by die kantoor én daar’s ’n groot oop sitkamer onder die grasdak. Hier is ook ’n kroeg wat volgens die eerlikheidsbeginsel werk: Jy skryf jou naam in die boek op die toonbank met wat jy neem daarnaas. Bier kos R20-R25 per bottel, koeldrank is R20, ’n bottel wyn R150 en water R10. Jy kan ook ys, houtskool en vuuraanstekers hier kry teen onderskeidelik R30, R70 en R30.

Utshwayelo se beste bate is sy ligging. Dit is die naaste kampplek aan die plek waar die Kosi-merestelsel in die see uitmond. (Dit verklaar natuurlik ook hoekom jy oral waar jy in die kampplek kyk groot groepe buitelandse toeriste raakloop.)

Die monding is 3,4 km van die kamp af en ’n mens het ’n strandpermit nodig om die gebied te besoek. Ja, jy’t reg geraai: Jy stap na Anna toe en sy reik vir jou een uit wat geldig is vir die duur van jou besoek.

Dit kos R80 p.p., maar kom met ’n hele paar voorwaardes. Jy kan byvoorbeeld die monding net tussen 06:00 en 18:00 besoek; as jy ’n hengelpermit het, kan jy van 400 m noord van die monding (en 200 m suid van die monding) hengel, maar nie in die bewaria self nie; jy mag nie ’n sleepwa of boot hier inbring nie; en jy het ’n 4x4 nodig.

’n Mens verstaan dit, want ons praat immers van ’n Wêrelderfenisterrein. Pak sommer ’n piekniekmandjie vir die dag, die kinders se swemklere en al die snorkels en paddavoete. Hier kan jy ontspan sonder enige steurnis behalwe vir die ander handjie vol besoekers wat ook ’n draai kom maak.

Die sandpad kronkel van die hek teen die begroeide duine af tot waar jy uitkyk oor een van die mere met sy bekende vishokke. (Terloops: “utshwayelo” beteken in Tsonga “vishok”.)

Afhangend van die gety kan ’n mens deur die kniehoogte water na die oorkant stap.

Dis nie lank nie of ’n mens is reg teenaan die water, hoewel die sandpad op die laaste stuk weer van die water af die ruigtes inswenk tot by ’n klein oop stuk tussen die bosse waar jy parkeer.

Teen die oorkantse koppie regs (aan die meer se kant) is die snorkelduikplek en afhangend van die gety kan ’n mens deur die kniehoogte water na die oorkant stap.

Op jou strandpermit waarsku die owerheid teen die steenvis wat hier voorkom. Jy wil nie graag op hom trap nie, want dis die giftigste vis in die see, volgens Coastal Fishes of Southern Africa deur Phil en Elaine Heemstra.

Hy grawe hom so effens onder die sand in, en as jy op hom trap, kan een van die skerp naalde in sy rugvin in jou voet steek. Die pyn is glo onmiddellik en sake kan binne ’n uur lelik skeef loop. As jy nie ’n 4x4 het nie maar graag die mond wil besoek, is Anna weer die een waar jy kan aanklop: Dit kos R400 vir tot 10 mense. 

Kortliks | Utshwayelo Kosimonding-lodge-en-kamp

Kampplek: 14 staanplekke waarvan die meeste ’n rietheining het. Koelte is volop, maar nie alle staanplekke is ewe gelyk nie.

Ablusiegeriewe: Aards, netjies en die opelugstorte kry die eerste prys.

Prys: R220 p.p.p.n (halfprys vir kinders 6-12).

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tye nie.

Kontak:  082 909 3113;  kosibay.infoinfo@kosimouth.co.za

Naaste dorp? Manguzi, 21 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 4,5 km is ’n sinkplaatgeryde grondpad met sandpaadjies in die oord self. Dis goed vasgetrap en jy kan met ’n gewone sedan regkom sonder om vas te val.

GPS: S26.892218 E32.858621

Weg Ry & Sleep Troeteldiere is welkom mits dit buite seisoen is, maar jy moet steeds die oord in kennis stel. Onthou, troeteldiere word nie in die iSimangaliso-vleilandpark toegelaat nie.

Jakob, Magdell en Ariana (7) Iten kom van Sasolburg en kamp met hulle 2019 Toyota Fortuner 2.4 GD-6 en 2011 Jurgens CampLite.

KOSIBAAI-OORD

Nog meer by die meer

Die Kosibaai-oord is een van Ezemvelo KZN Wildlife se oorde en is geleë in die iSimangaliso-vleilandpark. Die oord lê teenaan die Nhlangemeer, die grootste van die vier Kosimere. Hoewel dit ’n oord genoem word, is hier geen waterwurms, minigholfbane of warmwaterswembaddens nie; jy kamp kniediep in ’n oerwoud.

Die staanplekke is heerlik groot en nader aan die natuur kan jy beswaarlik.

Wanneer jy jou faktuur kry nadat jy bespreek het, word jy daarop gewys dat jy weens sanderige paaie ’n 4x4 nodig het om die kamp te bereik. Dis nie regtig nodig nie, want die pad is ’n vasgetrapte sandpad, maar die verskil kom as jy iets sleep. Hier is ’n steil bult waar die grondpad sleg raak en jy moet dinge stadig vat sodat jy nie alles in die wa uitmekaar skud nie. Met ’n voorwielaangedrewe voertuig met iets op die haak gaan jy nié die pyp rook nie.

’n Sandpad loop direk van Utshwayelo na die Kosibaai-oord, maar as jy bang is jy gaan vasval, is dit beter om terug te ry teerpad toe. Draai in Manguzi se rigting en die afdraai is 11 km verder links – dis die D1846. Dan wys ’n bordjie die oord is 6 km verder. Aanvanklik lyk dit na ’n grondpad soos die een na Utshwayelo, maar dié een het heelwat meer vertakkings. Die eerste een is 800 m ná die afdraai.

Elke liewe oord of oornagplek in die omgewing het ’n bordjie wat by die vurk in die pad ingekap staan. Hou jou oog op die groen bordjie wat sê “Kosi Bay Resort” met die renoster-en-Zoeloeskild-kenteken van Ezemvelo KZN Wildlife daarop.

Die aanvanklike sinkplaatgrondpad verdwyn en word ’n mengsel van sinkplaat en sand. Die volgende vurk is 2,9 km verder, waar jy regs hou. Die pad links is die sandpad terug na Utshwayelo se kant toe. Die pad word nou sanderiger, maar niks wat ’n stadskarretjie sal stuit nie (hoewel die middelmannetjie begin lyf kry). As jy hier ’n gewone wa probeer sleep, is die kans goed die koppelstuk gaan plek-plek in die sand ploeg.

Die hek waar jy inteken, is 1,8 km verder, en daardie steil bultjie is volgende, vóór jy by die tweede hek kom. Jy moet ook deur ’n smal gang ry waar die pad ’n ent deur die duin gekalwe is en net breed genoeg vir een kar.

By die Kosibaai-oord kamp jy werklik in die bosse, maar sonder dat dit voel of ‘n gedierte jou enige oomblik gaan storm. Die staanplekke is mooi skoongemaakte kolle waar jy bloot kan ontspan en die lieflike klimaat geniet.

Op dié stuk pad is dwarspale gepak. Links voor, in ’n houtgeboutjie, is die kantoor. Hier sien jy die vele toekennings wat Kosibaai al gewen het, onder meer as die skoonste oord. In die kantoor is basiese dinge soos roomys, koeldrank en bier te koop, maar bring eerder alles saam wat jy in die kampplek nodig kan kry.

Dan teken jy 'n derde keer in, dié slag by nog ’n hek. Dis direk ná die kantoor soos jy die kampplek binnery.

’n Klein ‘kaai’ is hiernaas ingerig ingeval jy dalk ’n boot saamgebring het.

Die digte bosse troon rondom jou uit en by ’n volgende vurk in die pad (so 230 m verder) wys ’n bordjie staanplek nr. 8-15 is links af. Hier is twee badkamergeboue. Die eerste een staan ’n kort entjie verderaan met die pad links.

Die baksteengebou met sy asbesdak het al ’n paar houe gevat en die “Ladies”-bordjie lê op die vensterbank. Die wasbakke is links af teen die muur soos jy instap met spieëls voor dit. Die blad trek plek-plek los, maar ten minste is alles skoon en jy kan nie kla oor al die neersitplek by die wasbakke nie.

Die storthokkies is aan die knap kant en jy moet vrede maak met die stortgordyn wat die nat en droë kant skei. Hier is darem ’n geteëlde bankie waarop jy jou goed kan pak.

Die pad duik nou ’n goeie 50 m verder af deur die duin met ’n soortgelyke gang as die een waardeur jy net voor die kantoor is. Die meer se oewer lê 40 m voor jou – as ’n mens ’n prys kon gee vir die staanplek in die land wat die beste geleë is, haal dié handjie vol staanplekke beslis die kortlys.

Regs van die pad grens drie staanplekke teenaan die water. Dis skaars kniediep en die water is kristalhelder met skoon seesand op die bodem. Dis vir ’n goeie 60 m so vlak, voordat die water in donkerblou dieptes verander. 

’n Mens moet onthou jy kamp in ’n reservaat en deel die omgewing met wilde diere, waaronder krokodille en seekoeie. Gelukkig is die water skoon en vlak – jy gaan dus sien as iets aankom.

Die staanplek heel regs het ’n stewige blaredak en onderlangs is die sandvloer mooi gelyk. Hier is ’n gemesselde braaiplek (sonder ’n rooster), ’n kraan asook Fredlin-sokke vir krag.

Die ander twee staanplekke is meer in die oopte ook met soortgelyke geriewe. Die res van die staanplekke is links van die inrypad en weg van die water af, maar verder is hier niks om oor te kla nie. Hier staan ook ’n rondawel met ’n rietdak langs die pad. Die binnemure is een groot skildery wat onder meer ’n kaart van die merestelsel insluit.

’n Houtdekpaadjie loop regoor die rondawel die bosse in tot waar jy uiteindelik bo die water staan. Let kort ná die begin op na die gemerkte palmboom regs van die dek. Dis ’n voorbeeld van die kosipalm, wat glo die grootste blaar van alle bome het: tot 10 m. Volgens die Veldgids tot bome van Suider-Afrika deur Braam en Piet van Wyk, word die bome tot 24 m hoog en hulle blom net een keer (ná 30 jaar!) waarna hulle vrek.

Die dekpaadjie is meer as 100 m lank en op die verste punt wag ’n paar bankies. Ongelukkig kort die dek én bankies aandag.

’n Klein “kaai” is hiernaas ingerig ingeval jy dalk ’n boot saamgebring het, en staanplek nr. 6 en 7 is op die punt waar die pad weer teen die bult oploop, tussen die bome in. Dié staanplekke is meer in die oopte en dit is ook waar die ander badkamergebou staan.

Binne is die uitleg en afwerking ’n kloon van die ander gebou, maar van buite af lyk dit nuwer. Al het die badkamers mure met ’n dak oor, hou dit nie slange buite nie.

Met ons besoek het een van die kampeerders gesê ons moet na die “boomslang” in die badkamers kom kyk. Die lenige groen slang het hom bo-op een van die dakbalke tuisgemaak waar hy ’n akkedis sit en dophou. Genadiglik was dit volgens die African Snakebite-instituut die Oostelike Natalse groenslang, wat nie giftig is nie... maar dit het ons natuurlik eers agterna uitgevind!

Pasop vir groenie: Slange in die geweste is nie ‘n vreemde gesig nie, maar ‘n mens weet nie altyd wanneer jy met ‘n giftige slang te doen he nie. Laat eerder die reptiele met rus en hy sal jou nie pla nie.
Kortliks | Kosibaai-oord

Kampplek: 15 staanplekke wat wissel van eenkant en in die bos tot meer in die oopte. Staanplek nr. 1-3 digby die meer is eersteklas.

Ablusiegeriewe: Die 2 badkamergeboue is basies en skoon, maar kort ’n bietjie aandag.

Prys: Afhangend van die seisoen R560 of R660 per staanplek by die water vir tot 4 mense, plus R140 of R165 p.p. daarna. Vir die staanplekke weg van die water af kos dit R460 of R560 (en R115 of R140 p.p. ekstra). Van November af geld ’n basistarief van onderskeidelik R280 of R230 vir 2 mense, afhangend van waar jy staan.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak:  033 845 1000;  isimangaliso.com/accommodators/kosi-bay-camp-site/ ; bookings@kznwildlife.com

Naaste dorp? Manguzi, 12 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 6 km is ’n grondpad wat wissel van sinkplaatoppervlak tot sand. Dit is nie geskik vir voorwielaangedrewe voertuie as jy sleep nie.

GPS: S26.956318 E32.824675

Weg Ry & Sleep Jy mag vir ’n spesifieke staanplek vra nadat jou bespreking aanvaar is.

Duan Massyn van Witbank kamp saam met sy twee seuns, Rickus (10) en Hendrik (7), met hulle 2019 Isuzu D-Max 3.0 TDI 4x4 en 2010 Conqueror Commander.