Die winter was amper verby en dit was tyd dat die Kleinhanse se woonwa weer oefening kry. Hoewel hulle ’n rukkie vantevore vyf dae lank by die ATKV-Klein-Kariba afgesaal het, is Theo en Ester nie wat hulle noem “staantoeriste” nie. Nee, hulle verkies dit om te reis en raak kriewelrig as hulle te lank op een plek is.

Hulle is mense wat al meer as 60 keer hulle wa gehaak en in die pad geval het, en op die oomblik sleep hulle ’n Sprite Sprint met hulle Nissan X-Trail. Theo vertel dis ’n gemaklike sleepkombinasie waarmee hulle al reg oor Suid-Afrika én Namibië gery het. Die tyd was ryp om weer die pad te vat.

Mik na Mokala

Vir ons volgende avontuur besluit ons op ’n sirkelroete in die middel van Suid-Afrika waar ons ses van die nasionale parke besoek. Ons wil drie nagte elk in die Mokala-, Karoo-, Kamdeboo-, Addo-, Bergkwagga- en Golden Gate- nasionale park deurbring.

Weens die lang afstande en ons kampvoorkeure besluit ons om die eerste nag by Bloemfontein oor te staan en vir die besoek aan Mokala eerder buite die park te bly. Ons soek ook ’n halfwegstasie vir die skof tussen Bergkwagga en Golden Gate.

Ons bespreek vir drie nagte per park, maar by Addo het hulle vir ons net twee. In Bloemfontein kry ons plek by River of Joy, en wanneer ons in Mokala se rigting mik, gaan ons by die Riverside-lodge by Richie afpak.

Ons bespreek ook ’n plek by The Nest buite Aliwal-Noord vir wanneer ons tussen Bergkwagga en Golden Gate moet ry. River of Joy is by Glen, 25 km voor Bloemfontein. Dis naby die N1, maar die verkeer pla nie. Die ablusiegeriewe is oud dog skoon. Dis effens beperk met net twee storte en twee toilette in elkeen van die aparte geriewe, en ’n mens wonder of die geriewe die mas gaan opkom as die plek volbespreek is.

Hier is agt staanplekke met krag en heelwat plekke daarsonder. Dit is waarskynlik meer geskik vir mense wat in tente kamp. Hier is ook nie enige noemenswaardige veiligheidsheining of ander sekerheidsmaatreëls nie, iets wat vir ons Gautengers altyd maar ’n probleem sal wees.

Wanneer ons kan, swenk ons van die hoofpaaie af, en die volgende dag mik ons oor Petrusburg en Jacobsdal na Mokala. ’n Mens voel jammer om dit te sê, maar Petrusburg is ’n versinnebeelding van die verval op die platteland, maar gelukkig blyk Jacobsdal ’n besige, vooruitstrewende gemeenskap te wees. Die energie van die dorp het waarskynlik te doen met die bespoeiingskema uit die Rietrivier en die teenwoordigheid van die landbouskool.

Die Riverside-lodge is netjies en word goed bestuur. Dit is ’n gawe staanplek vir ’n besoek aan Mokala, veral as jy met ’n gewone padwa toer. Die twee toegangshekke na Mokala is Mosu en Lilydale. Die ingang na Lilydale is op ’n 15 km-grondpad van Richie af en die ingang na Mosu eers 22 km suid van Richie op die N12-teerpad. Van hier af volg jy ’n grondpad van 22 km tussen die N12 en die Mosu-hek.

Nie een van dié toegangspaaie is geskik vir padwaens nie en die interne paaie in die park is ook plek-plek grof en sanderig. ’n Boswa of -woonwa sal egter nie hier sukkel nie en ons kom van hulle teë by die Motswedi-kampterrein. 

Ons ry die meeste van die park se paaie op een dag en sien ’n verskeidenheid vlaktewild. Dit is ’n heerlike oorblyplek vir ’n paar dae van rus en stilte, weg van die bedrywige toeristeroetes.

Dit is ons eerste besoek aan hierdie park en ons is bly om dit van die lysie af te tik.

Die volgende dag ry ons die 34 km na Kimberley vir die dag – ons wil ’n draai gaan maak by ’n paar museums en ander besienswaardighede. Ons komplimente aan die bestuur van The Big Hole-monumentdorpie. Dit word puik in stand gehou. Ons gaan loer ook gou in by die Big Hole-woonwapark, maar dit is ongelukkig verlate en vervalle.

Karoo toe!

Van Richie af is ons volgende bestemming die Karoo -nasionale park. Ongelukkig is daar net een pad tot daar, en ons vorder stadig tot by Hopetown omdat daar kort-kort padwerk is. Dit kan nogal frustrerend wees, maar ten minste kan ons sien ons belastinggeld word vir paaie gebruik. Dankie daarvoor.

Die Karoo- nasionale park is, soos altyd, ’n plesier. Die lug is pragtig skoon, hier heers ’n heerlike stilte en die geriewe is uitstekend. Dit is ook ’n gawe plek vir mense wat met hulle veldryvoertuie wil kom speel, want agt van die tien roetes in die park is vir 4x4-voertuie.

Die wild is maar skaars, maar die veld lyk goed. ’n Mens moet minstens drie nagte hier oorbly om dit voluit te geniet. Ek glo te veel mense oornag net hier op pad na elders. Daardie haastige mense weet dit nie, maar hulle maak ’n groot fout.

Die Kamdeboo wag

Nadat ons van Gauteng af deur die Vrystaat na die Noord-Kaap koers gekies het, druk ons die X-Trail se neus in die rigting van die Oos-Kaap.

Van Beaufort-Wes af ry ons met die R61 na Aberdeen en Graaff-Reinet. Hier trap die GPS lelik klei in die soeke na die Kamdeboo-kampterrein. Hy lei ons na die Kroonvale-hek aan die oostekant van die dorp, maar hier is slegs 4x4-roetes. Dit is nie ’n plek waar ons met ons sleepkombinasie kan inry nie. Uiteindelik spoor ons die ontvangskantoor op. Dit is op die N9 buite die dorp.

Ons kamp by Nqweba en hier is 15 netjiese staanplekke met krag. Die park bestaan uit drie dele – aan die oostekant van die dorp met sy ingang by die Lakeview-hek is net 4x4-roetes. Die deel waar die kamp geleë is, is by die Nqwebadam (voorheen die Van Reyneveldpasdam) en die derde deel lê suid van die R63 waar die roete teen Spandaukop uitgaan.

Hier is ook ander stap- en 4x4-roetes in die park. Hier is geen roofdiere in die park nie en buffels is die enigste lid van die Groot Vyf wat jy hier sal aantref.

Ons gaan ry ongeveer 20 km om die Nqwebadam en sien die meeste van die wild in die brosjure – rooihartbees, eland, steenbok, volstruis, swartwildebees en springbok.

Die topografie is tipies van die Karoo – golwende vlaktes en koppies hier en daar. Die volgende dag besoek ons Spandaukop en beleef die pragtige uitsig oor die Vallei van Verlatenheid. By die stilhouplek is ook ’n gemaklike voetslaanroete – die Kransakkedisroete van 1,5 km. Oral langs die roete is inligtingsbordjies wat die plante bekend stel, maar ongelukkig is heelwat van dié plante in ’n onlangse veldbrand vernietig.

Ons gaan besoek ook ’n klomp besienswaardighede op die dorp. Met meer as 200 monumente en nasionale gedenkwaardighede in en om die dorp is daar oorgenoeg om te sien. Ons gaan loer in by die Reinethuis-museum en kan dit ten sterkste aanbeveel.

Saligheid
Saligheid

Groet die grootvoete

Die volgende dag vertrek ons na die Addo- nasionale park en ry met die R75 tot by Kirkwood en Addo se hoofkamp. Omdat ons net twee nagte hier staan, het ons net ’n dag en ’n half om die gebied te verken.

Die agtermiddag neem ons die toeristeroete na die Domkrag-, Hapoor- en Rooidam. Ons sien ’n groot leeumannetjie en koedoes, vlakvarke en ander vlaktewild. Maar geen olifante nie! Hier is geen aanduidings dat daar in die laaste ruk olifante in dié deel van die park was nie – die mis by die damme is oud en droog.

Die volgende dag toer ons na die suidekant van die park. In die Colchester-deel sien ons sommer ’n klomp olifante, met groepe van tot sestig op ’n slag – van baie groot tot baie klein. Dit wil voorkom of die olifante suid gemigreer het.

Hallo, Kwagga!

Ons mik na Bergkwagga, die vyfde park op ons toer.

Naby Cradock draai ons eers op die R63 af om by Somerset-Oos aan te gaan. Dit is ’n besige en mooi dorpie met ’n groot hospitaal en die bekende Gill-Kollege. Die lewendige ekonomie kan waarskynlik, net soos by Jacobsdal en Cradock, toegeskryf word aan die groot besproeiingskema uit die Visrivier.

Van Cradock af vat ons die R61 – met nog stop-en-ry-padwerk – na die Bergkwagga- nasionale park buite die dorp. Die meeste van die kamp se staanplekke is geplavei en gemerk “T” vir tente en “C” vir woonwaens. Ons verstaan dié reëling nie lekker nie, want die staanplekke lyk almal ewe groot. Die mense by die ontvangskantoor vra ook nie vir ons waarmee ons kamp nie en ons word aangesê om enige staanplek te kies.

Ons ry twee dae in dié pragtige bergagtige park rond. Alles word op die paneelbord se kamera afgeneem en oorgedra na ’n aparte hardeskyf – vir ons oudag. Volgens die kaart is hier meer as 70 km se paaie in die park. Ons sien onder meer bergkwaggas, buffels, rooijakkalse, springbokke en rooihartbeeste.

Die paaie is in ’n goeie toestand en waar die hellings teen die berge te steil raak, is die pad geteer.

Goud in die mond

Op pad na ons sesde en laaste park – Golden Gate – stop ons eers vir middagete by familie op Burgersdorp.

Daarna oornag ons by The Nest naby Aliwal-Noord. Hierdie plaasverblyf is reg langs die N9, sowat 5 km noord van die dorp. Dit het kragpunte vir drie woonwaens of tente, maar baie ander plekke vir kampeerders wat nie krag nodig het nie. Hier is egter net enkelbadkamers, en as die kampplek vol is, voorspel ek dit gaan ’n gelol afgee. Dit is egter die enigste kampplek in ’n baie wye deel van die Oos-Kaap sedert die warmbronne by Aliwal in onbruik geraak het. Ons gaan loer daar in en is teleurgesteld om te sien hoe alles – van die swembaddens en kampplek tot die eetplekke – gesluit is en agteruitgegaan het.

Hiervandaan ry ons al met die Vrystaat- Lesothogrens tot by Golden Gate. Die grensdorpe Ladybrand, Ficksburg en Fouriesburg is hoofsaaklik afhanklik van die koopkrag van die besoekers uit Lesotho en plaaslike werkloses se staatstoelaes.

Die strate in die dorpe is meestal in ’n bedenklike toestand. Die byna 400 km tussen Aliwal-Noord en Golden Gate het geen padwerk nie, maar dit sal binnekort nodig wees, want die pad is oortrek met teer-“lappe” wat oor die gate gegooi is.

By Golden Gate kry ons ’n goeie staanplek op een van ’n aantal betonblaaie in die kampterein. Die Vrystaat het goeie reën gehad en alles is skoon en afgekoel.

In die park is twee kort roetes om te ry, maar die groot attraksie is die ongelooflike berge en natuurskoon. Ongelukkig het ’n trop bobbejane hier geleer hoe om tente – en die kantseile van woonwaens se opwipdak – oop te skeur wanneer hulle kos ruik.

Ons gebruik Golden Gate as basis vir besoeke aan die bekende Witsieshoek Mountain Inn anderkant Phutaditjaba. Dit is seker die hoogste hotel in Suid-Afrika. Van hier af kan jy afkyk in die skouspelagtige Tugelavallei én op die Koninklike- nasionale park in KwaZulu-Natal.

Ons maak ook ’n draai by die Sterkfonteindam en besoek die kunsdorpie Clarens se galerye en eetplekke.

Ná drie nagte by Golden Gate neem ons die N3 terug huis toe. Die Johannesburgse verkeer op ’n Vrydagmiddag is amper genoeg motivering om dadelik ons volgende wegbreek te beplan.

Dít sal ons onthou
  • Die GPS is nie altyd reg nie.  
  • Sanparke se staanplekke en ablusiegeriewe is altyd op ’n goeie standaard.  
  • Hoewel ons dikwels padwerk teëgekom het en dit vir heelwat frustrasie gesorg het, verkies ons om dit eerder in ’n positiewe lig te sien: Daar word iets gedoen aan die toestand van die paaie.
  • Op die meeste klein dorpies waar ons ’n draai gemaak het, was die bedelaars knaend – sommige het selfs aggressief geraak. Ons raad is om nié onnodig stil te hou nie en eerder jou eie tee en toebroodjies langs die pad tussen dorpe te geniet.  
  • Ons het 20 dae gereis, ’n afstand van 3 860 km gery, 392 l brandstof gebruik (wat ons R5 338 gekos het) en R3 664 aan kamptariewe betaal.