foto’s Evan Naudé
4x4-bestemming
4x4-bestemming

Die Kunenemonding, heel aan die bopunt van Namibië se berugte Skedelkus, is gewoonlik iewers op die elke veldryer se Top 10-lysie. Dit het al die kenmerke van ’n behoorlike 4x4-bestemming: Dis bitterlik ver van die samelewing af; die pad soontoe is uitdagend; en die natuurskoon is iets wat ’n mens sukkel om te beskryf.

Die Kunene is die noordelike grens van Namibië én die Skedelkus- nasionale park, en hoewel jy die suidelike deel van die park op enige gewone dag kan besoek, is die noordelike stuk kuslyn tot by die riviermonding gesluit vir Jan Publiek. Jy het egter steeds ’n kans om dié bestemming op jou lysie af te merk, want ’n handjie vol mense mag elke jaar saam met ’n goedgekeurde toeroperateur in dié konsessiegebied van 350 km toer. Ons het gaan kyk presies hoe jy moet ry.

DIE SKEDELKUSPARK SE suidelike in- gangshek naby die Ugabriviermonding (die ander een is Springbokwasser op die C39) is sowat 190 km noord van Swakopmund. Jy kan dus dié stukkie pad, deels teer en deels soutpad, redelik gou kafdraf en binne ’n dag aanstoot tot by Terracebaai. Daar is egter ’n paar besienswaardighede op hierdie deel van die kuslyn wat die moeite werd is om te besoek as jy nog nie hier was nie.

Ry ’n draai verby die kleurryke huise van Wlotzkasbaken, ’n vakansiedorpie sowat 30 km noord van Swakopmund wat rondom ’n gewilde visvangplek ontstaan het. Kort anderkant die dorpie kan jy aftrek vir ’n foto van die Zeila-skeepswrak voor jy gaan loer hoe lyk Hentiesbaai, Namibië se gunstelingvisvangdorpie. As die hengelgogga jou hier skielik byt – of as jy iets by die huis vergeet het – is Hentiesbaai die beste plek om voorraad te koop voor jy verder noord ry.

Anderkant Hentiesbaai tref jy verskeie bordjies met interessante name aan: Trappies, Sarah se Gat, Tolla se Gat, Predikantsgat, Bakleigat... Dié plekke is gewilde visvangplekke wat jou dalk gaan lusmaak om lyn nat te maak en vir ’n kabeljou te soek.

En as die vis eers begin byt, steek jy dalk vir ’n dag of twee vas – hou dit dus in gedagte as jy jou reisbeplanning doen.

Kaap Kruis, 60 km van Hentiesbaai af, is die plek waar die Portugese skeepsvaarder Diogo Cão in 1485 sy kruis geplant het terwyl hy op ’n verkenningstog langs Afrika se kuslyn was. Vandag is die gebied ’n bewarea vir ’n hengse Kaapse pelsrobkolonie wat by die duisende in die son lê en bak. Bring ’n wasgoedpennetjie vir jou neus, want die robbe het nog nie gehoor van iets soos deodorant nie...

Hoe verder noord jy vorder, hoe groter raak dié sandduine wat uiteindelik tot by die Kunenerivier strek.

VAN KAAP KRUIS AF af is dit ’n vinnige 75 km tot by die Ugabrivier waar jy die hekke van die Skedelkus- nasionale park kry. Jy kan hulle nie mis nie: Op elkeen van die hekke pryk ’n groot kopbeen. Nadat jy jou parktariewe betaal het (R60 p.p. en R10 per voertuig), ry jy deur die hekke.

Jy ry nou ’n gebied binne wat die destydse Portugese seevaarders die “Poorte tot die Hel” genoem het.

Dis sowat 160 km van die hek af tot by Terracebaai. Dit is ’n grondpad wat taamlik goed onderhou word, maar jou agterstewe sal nogtans hier en daar, veral naby Torrabaai, lekker stamp.

Maak ’n draai by die Huab-strandmeer en kyk of daar flaminke in die omtrek is voor jy die rivierloop oorsteek waar gemsbokke en volstruise kom suip. Net anderkant die Huab lê die geroeste geraamte van ’n olieboor, die oorblyfsels van ’n mislukte poging om die sogenaamde “swart goud” hier op te spoor.

Kort voor Torrabaai (10 km) is ’n afdraai binneland toe. Dit is die C39 wat na die park se oostelike hek, Springbokwasser, lei – as jy met dié pad aanhou, kom jy uit by die Palmwag-Khorixaspad. Net ná die pad sien jy duine aan jou regterkant.

Hoe verder noord jy vorder, hoe groter raak dié sandduine wat uiteindelik tot by die Kunenerivier, byna 350 km verder, strek. Moenie nou al stres dat jy die pret misloop nie. Later is daar nog baie kans om die duine aan te durf.

Terracebaai is 50 km anderkant Torrabaai. Hier is ’n basiese vakansieoord met ’n restaurant, kiosk en vulstasie. Laasgenoemde is die belangrikste, want dit is die laaste plek waar jy kan volmaak vir die res van die reis tot by die Kunene en weer terug.

Reg vir die langpad. Maak seker jy het alles ingepak en styf vasgemaak, want sodra jy die laaste kampplekke buite die Skedelkuspark verlaat en deur die kopbeenhekke ry, is dit ’n lang pad wat soms strandlangs noordwaarts loop.

DIE LAASTE BUITEPOS van die park is by Möwebaai, ’n veldwagterstasie en navorsingspos 80 km noord van Terracebaai. Möwebaai is nie oop vir die publiek nie (gewone besoekers mag net tot by Terracebaai ry). Om tot hier en verder te reis moet jy deel wees van ’n goedgekeurde toergroep. Terwyl jou gids die papierwerk afhandel, kan jy solank wiele afblaas en 4x4 haak, want anderkant Möwebaai is daar g’n grondpad meer nie.

Skaars 2 km verder lê die wrak van die Suiderkruis, vandag net ’n hoop verfrommelde yster, op die strand. Dié vissersboot is in 1976 op sy heel eerste seevaart deur die rowwe branders op die rotse gespoel.

Jou gids sal die konvooi sover as moontlik strandlangs lei, maar die gety gaan jou dalk dwing om ’n tweespoor bo die hoogwatermerk te volg óf selfs ’n spoor deur die duine te sny.

Daar is honderde skeepswrakke op die Skedelkus, maar die bekendste een is sekerlik die Dunedin Star. Dié vragskip het op 29 November 1942 sowat 80 km suid van die Kunenemonding gestrand, en die reddingspoging om die 106 passasiers te red het uiteindelik bykans ’n maand geduur. Verskeie reddingsbote is ingespan, ’n konvooi 4x4’s het van die binneland af die skipbreukelinge probeer bereik, en selfs ’n Lockheed Ventura Bomber uit Kaapstad is ingespan om proviand af te gooi. Dié vliegtuig het in ’n stadium naby die skipbreukelinge geland en toe in die sand vasgeval.

Daar is honderde skeepswrakke op die Skedelkus, maar die bekendste een is sekerlik die Dunedin Star.

Later, ná die suksesvolle reddingspoging van die Dunedin Star én die vliegtuig se bemanning, is ’n konvooi opgestuur om die vliegtuig te gaan uitgrawe. Die vliegtuig kon uiteindelik weer opstyg, maar skaars 45 minute later gee die linkerenjin die gees en die vliegtuig stort neer in die see naby Rocky Point, sowat 50 km noord van Möwebaai.

Vandag kan jy nog ’n paar skerwe metaal van die vliegtuig sien waar dit 10 km voor die Hoarusibmonding uitgespoel het.

Anderkant die rivier bereik jy Rocky Point, en van daar af is dit 15 km tot by die Khumib, die laaste van die groot Kaokolandriviere wat in die see uitmond. Tussen hier en die volgende rivierwaters, die magtige Kunene, is dit net 200 km se verlate strande.

Enigste inwoners. Aan die oorblyfsels van ’n mislukte myn, die skeepswrak van die Suiderkruis en ’n verfrommelde vliegtuig kan jy sien die mensdom aard nie goed in die Skedelkus nie. Dis net geharde diere soos robbe, seeskilpaaie en rooijakkalse wat hier oorleef.

DIE VOLGENDE MIKPUNT is Angra Fria, 90 km noord van die Khumib. Net anderkant Angra Fria is die plek waar die Dunedin Star se skipbreukelinge gestrand was. Teen dié tyd behoort jy ’n goeie idee te hê van die absolute ongenaakbaarheid van hierdie kuslyn, veral as die weer omgekrap is.

En wanneer ’n mens staan waar daardie mense – een van hulle boonop ’n baba – moes oorleef, kan jy maar net wonder hoe hulle dit reggekry het. Langs die vrot planke van die destydse skuiling staan ’n gedenkbordjie: “In memory of Mathias Koraseb and Angus McIntyre,” ter nagedagtenis aan twee bemanningslede van die reddingspan wat hulle lewe verloor het. Dit is in 2017 opgerig deur Sidney Palmer, 75 jaar nadat hy as piepklein baba op hierdie strand oorleef het.

Noordwaarts bly jou voorland vir nog 110 km. Strandlangs, daar waar die koue branders jou ’n stukkie harde sand toelaat, of heen en weer tussen die geraamtes van robbe, walvisse en jakkalse bo die hoogwatermerk.

Waar die vis byt. ’n Gedenkplaat merk die plek waar die Dunedin Star gestrand het terwyl flaminke oor die Skedelkus se branders vlieg. Op pad noord gaan jy in die duine moet oorslaap, voor jy naby die Kunene kan lyn natmaak.

Kormorante, seevoëls en groepies flaminke patrolleer die golwe, terwyl vlae stinkende robbe op die sand in die son lê en bak. Al op die buitewyke trippel slinkse rooijakkalse wat ’n welpie in die kaak wil kry. Hier en daar sien jy die spore van ’n bruinhiëna, ook bekend as die strandwolf of strandjut, maar dis selde dat ’n mens hulle in lewende lywe te sien kry.

Dan, skielik, is jy by die einde van die strand. ’n Breë strook water vloei met mening uit die binneland en stoot ’n bruin vlek diep die seewater in. Met die panoramafunksie op jou slimfoon kan jy die Kunene aan die regterkant en die Atlantiese Oseaan aan die linkerkant op dieselfde foto vasvang en vir jou familie by die huis gaan wys: Kyk, dít is waar Namibië ophou!

ONGEVEER 15 KM SUID van die riviermonding is ’n netjiese kamp wat deur die konsessiehouers opgerig is vir toergroepe wat die gebied besoek. Afhangende van die soort toer waarop jy gaan, bring jy tot drie nagte hier deur. Daar is dus oorgenoeg tyd om die riviermonding op verskillende tye van die dag te besoek en te kyk hoeveel van die 72 verskillende voëlspesies jy kan sien wat hier voorkom.

Dikwels gewaar jy groot swerms pelikane en flaminke, maar moenie té naby aan die water wandel nie, want die krokodille lê ook graag op die wal. As jy gelukkig is, sien jy dalk selfs groen seeskilpaaie in die riviermonding. Gepraat van diere: Maak seker jy los nie enige kosgoed in die kamp nie, want jakkals se kind sal beslis ’n draai kom maak sodra jy ’n ent gaan ry.

Jy sou reeds die hengse duineveld rondom die kamp raakgesien het… nou is dit jou kans om kennis te maak met ’n slipface. Dié skerp hellings van meer as 30° is soms so laag as heuphoogte, maar kan ook so enorm soos ’n vyfverdiepinggebou wees.

’n Relatiewe nuwe vergunning vir toergroepe in dié geweste is dat jy ’n lyn kan gooi by die riviermonding en ’n beperkte stuk kuslyn. Die kabeljou byt mooi, maar jy trek dalk ook ’n kolstert, knorhaan, stompneus of baber uit.

Ná jou tyd by die Kunenemonding moet jy weer die pad suidwaarts aanpak. Jou roete hang af van die soort toer of die toeroperateur saam met wie jy reis. Sommiges sny vir ’n dag of wat ’n kronkelspoor deur die duineveld, tot die konvooi in die Hartmannsvallei uitdop. Van daar af is dit Purros toe waar jy die droë rivierlope van die Kaokoland verken voor jy op Sesriem klaarmaak.

Ander toere mik suid tot by Angra Fria, draai dan binneland toe en swaai net voor Orupembe suid Purros toe.

En as jy net gekom het om vis te vang, skiet jou konvooi weer suid na die Skedelkuspark se Ugabhek, maar dit beteken nie noodwendig jy ry net weer terug in nou die dag se spore nie.

Al moet jy rekening hou met getye en weersomstandighede, het die Skedelkus nog heelwat besienswaardighede wat jou met ’n alternatiewe roete suidwaarts neem. Daar is die klipsirkels van die Strandlopers naby Angra Fria; effens verder suid uitgestrekte gruisvlaktes; die oases van die Monutum- en Nadasrivier; die verlate Sarusas-kristalmyn; en dan is daar nog die Hoarusib- en Khumibrivier wat net al hoe meer skouspelagtig raak hoe hoër jy in die lope opry.

Twee dinge is seker aan die Skedelkus: Jy gaan nie sommer verveeld raak nie, en jy gaan beslis nie alles kan sien in een besoek nie. Jy sal maar weer moet kom.

Die wet van visvang

As jy wil visvang, moet jy ’n permit kry van die Namibiese departement van seevisserye en mariene hulpbronne. Dit kos R14 p.p. (bring ’n ID of paspoort vir elkeen) en is geldig vir ’n maand – jy kan dit op Swakopmund (Strandstraat) of Hentiesbaai (Hanganeni Fishing Centre) uitneem. ’n Mens het hierdie permit nodig om by enige wettige plek langs die kus te hengel, ook die Skedelkuspark, én as jy die Kunenemonding saam met ’n toergroep besoek. Die konsessiehouers vir dié deel van die park, Skeleton Coast Adventure Tours/OIG, het spesiale vergunning om toergoepe te laat hengel by die Kunene. Daar is streng maatreëls oor visvangsones, en ’n beleid van vang en vrylaat geld hier.

Ek wil ook gaan!

Kan ek op my eie hier ry? ’n Gewone besoeker kan net tot op Terracebaai in die Skedelkuspark reis. As jy tot by die Kunenemonding (’n konsessiegebied) wil ry, moet jy saam met ’n toeroperateur reis wat ’n geldige permit het.

Saam met wie het julle gery? Ons het saam met Bhejane 4x4 Adventures getoer, in samewerking met die konsessiehouers Skeleton Coast Adventure Tours/OIG. Bhejane bied drie Skedelkustoere aan: Een van 9 dae wat op Swakopmund begin en op Purros eindig; ’n toer van 12 dae met ekstra dae in die Kaokoveld; en ’n sesdagtoer met ekstra dae by die Kunenemonding. Laasgenoemde eindig ook by Purros, maar sluit nie die noordelike Kaokoveld in nie.

Wat is ingesluit? Bhejane bring tente vir elke voertuig en slaan ook elke keer kamp op en af. Hulle maak ook drie etes per dag en sorg vir eetgerei. Park-, gids- en konsessietariewe, tweerigtingradio’s, ’n gemeenskaplike kampkombuis, kampstort en toilet is ingesluit.

Wat moet ek bring? Jou eie beddegoed (matras of kampbed), peuselkos, drankies, verkyker, kamera, hengelgereedskap en aas. As jy ’n kampyskas het, bring hom met ’n goeie voorraad ys.

Waarmee moet ek ry? ’n Volwaardige 4x4 met ’n goeie grondvryhoogte, laestrek en ten minste ’n agterste ewenaarslot.

Kan ek my woon- of boswa saamsleep? Nee, net veldryers word toegelaat.

Hoeveel brandstof? Petrolvoertuie het minstens 260 l nodig en dieselvoertuie 220 l.

Kan ek my gesin bring? Ja, beslis.

Kontak: 044 535 9033;  bhejane.com

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook