Foto’s Kyle Kock

Die vooruitsig van ’n kampnaweek by nie een nie, nie twee nie, maar twee-en-twintig watervalle is uiters aanloklik wanneer jy van die verlammende Kaapstadse waterkrisis wil ontsnap.

“Ja, Meneer... hier by ons loop die water 13 maande van die jaar,” spot Joey Schoonraad in die ontvangskantoor met ’n kampeerder wat inboek.

Al is Joey ’n joviale vrou, is die besprekingstelsel ’n effense kopseer. Jy kan byvoorbeeld nie op die webwerf bespreek nie; jy moet eers bel om te hoor of hier plek is. Sodra jy al die nodige inligting aan die oordbestuur verskaf het, moet jy die volle bedrag van jou kampgeld elektronies oorbetaal. Óf jy kan die helfte as ’n deposito betaal, maar dan moet die balans met jou aankoms betaal word.

Boonop is die staanplek wat ons bespreek het, aan iemand anders gegee. Daarom moet ons nou op ’n ander een gaan kamp opslaan. Dit het met minstens twee ander groepe gebeur wat dieselfde tyd as ons hier gekamp het.

Die res van ons kampnaweek by 22 Watervalle vergoed egter dubbel en dwars vir die probleempie in die ontvangskantoor.

Joey verduidelik hier is ’n baie streng “geen musiek”-beleid, geen troeteldiere word toegelaat nie, en die hek word Vrydagaande om 9 nm. gesluit.

Die res van ons kampnaweek by 22 Watervalle vergoed egter dubbel en dwars vir die probleempie in die ontvangskantoor.

Sy beveel aan jy hou die nooddienste se foonnommers byderhand as jy enige van die staproetes gaan aandurf, want hulle is aan die gevaarlike kant.

Só ry jy

Porterville is nét kort van 160 km uit die Kaapse middestad.

Jy ry noord met die N7 tot op Piketberg waar jy by die groot verkeersirkel die derde uitgang vat en met die R44 in Porterville se rigting ry. Jy volg die pad tot by ’n T-aansluiting waar jy regs draai op die R365. Dié pad neem jou tot op Porterville, maar nét voor die dorp is daar ’n grondpad na links met ’n padpredikant wat jou in die rigting van die Waterval-kampterrein en die Laatson-buurplaas beduie.

Die pad is nie in ’n watwonderse toestand nie – ry maar stadig, veral as jy met ’n gewone kar ry.

Jy ry deur die Kaaps-Hollandse hek en volg die pad tot by ’n T-aansluiting waar jy links draai. Vóór jy die ontvangskantoor kry, ry jy eers verby die plaas se twee opgaardamme aan jou regterkant. As jy jou visgerei saamgebring het, kan jy hier kom probeer om ’n baars wal toe te lok.

Onthou om julle bergfietse in te pak, want hier kan jy na hartelus die speke laat sing.

Anderkant die damme is die perdestalle, en ná dit kry jy die ontvangskantoor tussen die plaashuis en skuur aan jou regterkant. Jy handel hier al die papierwerk af en kry jou elektroniese skyfie vir die valhek waardeur jy moet ry om by die kampterrein uit te kom.

Terwyl jy by die ontvangskantoor is, kan jy net sowel jou voorraad ys en hout opvul. Die ys kos R16 per sak, terwyl jy die rooikrans (R40 per sak) by die skuur gaan laai.

Kies jou kolletjie

Ná die valhek vurk die pad, en van hier af is dit sowat 100 m se stap tot by die naaste chalets aan albei kante van die pad. Die eerste kampstaanplekke lê ’n entjie verder. Die staanplekke is in ses dele verdeel en hulle almal lê parallel met die stroom wat van die rotspoele ’n entjie hoër af vloei.

OULIK. Die staanplekke in die hoofkamp is op terrasse, met ’n stroompie aan die voet daarvan. Die tweede ablusieblok is eenvouding en skoon, maar daar is net een wasbak – jy moet vroeg opstaan om dit te kan gebruik.

Die 4x4- en Stomp-kamp lê die verste van die ontvangskantoor af en is aan jou linkerkant soos jy deur die valhek ry.

Op pad hierheen ry jy verby van die plaasdiere soos boerbokke, hoenders en perde, en plek-plek deur vlak water. Hier was voorheen ’n hindernisbaan vir 4x4-geesdriftiges wat hulle rygoed se staal wou kom toets, maar Joey sê mense het opgehou om hier te ry en die baan is nou effens afgeleef en toegegroei. Dit word nou hoofsaaklik deur mense op hulle bergfietse benut.

Tussen die 4x4- en Stomp-kamp en die hoofkampterrein is die Lêbos-kamp.

Hier is hope heeldagkoelte. Die staanplekke in die hoofkampterrein is genommer van 16 tot 34 en elkeen van hulle is groot genoeg om ’n ordentlike kamp op te slaan. Dit is ook die enigste kampterrein by 22 Watervalle met kragpunte. Oorkant die grasperk, aan die ander kant van die gruispad, is chalets en sinkhuisies vir jou vriende of familie wat (nog) nie kamp nie.

Die staanplekke in die hoofkampterrein is genommer van 16 tot 34 en elkeen van hulle is groot genoeg om ’n ordentlike kamp op te slaan.

Die Eiland en Die Sirkel is ’n entjie verder, en as jy verkies om so naby as moontlik aan die watervalle en rotspoel te kamp, is dit die plekke om te wees. Hier is heelwat koelte, maar die staanplekke is nie so groot nie. Hier is ook nie krag nie, en omdat die staanplekke hoofsaaklik in die koelte is, is hier ook nie gras om van te praat nie.

Hier is net-net genoeg plek vir ’n kar en twee tweemantente per staanplek, en jy het nie veel privaatheid nie. Buiten dat jy naby jou kampbure is, is hier ook heelwat verkeer, omdat die pad na die staproetes voor jou staanplek verbyloop.

Jy kamp op ferm grond en jou staanplek het ’n betonbraaiplek en vullisdrom.

In die hoofkamp deel jy ’n kragpunt (gewone huissok) met jou buurman. Elke staanplek word netjies gehark, en die braaier en drom voor jou aankoms mooi skoongemaak.

Die sinkplaatkamphuisies is ’n gawe opsie vir paartjies wat ’n dak oor hulle kop soek.

Badkamer toe…

Hier is vier ablusieblokke by 22 Watervalle, met die een die naaste aan die watervalstaproete die grootste van die lot.

Die gebou is met rotse uit die omgewing gebou, en tussen die mans- en vrouegeriewe is die skottelgoedopwasplek. Die mans het drie storte en drie toilette, en ook drie wasbakke met spieëls. Die spieëls is nie die grootste wat ons al teëgekom het nie, maar jy kan darem sien wat jy doen as jy jou kuif kam.

Daar is ook genoeg plek tussen die wasbakke vir jou skeersakkie. Die storte is ruim en het ’n droë deel met ’n bankie waarop jy kan sit wanneer jy jou stapskoene se veters vasmaak. Jy kan enige tyd van die dag kom stort, want die water word deur gasgeisers verhit, en dié is heeldag aangeskakel.

In die skottelgoedopwasplek is twee sinkwasbakke met oorgenoeg plek langsaan om die vuil én skoon skottelgoed neer te sit. Jy kom tap ook jou drinkwater hier, want daar is nie krane by die staanplekke nie.

Die volgende ablusieblok is kleiner, maar met ’n soortgelyke bou en uitleg. Hier is een toilet en stort minder en daar is nie ’n afdroogdeel in die storthokkie nie. Jy staan dus in die oopte in die badkamer en afdroog en aantrek – dus ten aanskoue van die ou wat by die wasbak staan en tande borsel.

Die ander twee ablusieblokke – by Lêbos en die 4x4-kamp – is heelwat meer spartaans. Dit is sinkgeboue en die geriewe (drie storte en drie toilette) is vir mans én vroue se gebruik. Weerskante van die sinkgeboue is twee wasbakke vir skottelgoed.

Al vier ablusieblokke word soggens net ná tienuur skoongemaak.

Die buitelug roep

BERGE EN DALE. Die uitsig raak beter hoe hoër jy teen die berg uit klim. Jy sal die groter watervalle en dieper poele hier bo aantref.

Sommige van die staanplekke is só naby aan die water dat ’n mens op ’n warm dag sommer met jou kampstoel in die stroom kan gaan sit om af te koel. Die water is nêrens dieper as kniehoogte nie.

Diegene wat op soek is na ’n bietjie meer avontuur, kan die pad volg tot by die groot attraksie hier: die watervalle. Die staproete begin langs die groot ablusieblok, maar wees gewaarsku: jy gaan swéét vir jou beloning. Die meeste van jou medekampeerders gaan jy by die eerste drie watervalle en hulle rotspoele aantref. As jy verder wil gaan, moet jy verkieslik taamlik fiks en ’n bietjie dapper wees.

Daar is dele waar jy teen ou houtplanke moet opklim, jou op ou riwwe moet balanseer en met jou vingers en tone vashouplek moet soek op die rotslys. Jou beloning vir dié stukkie bloedsweet is egter van die meer afgeleë plekkies met rotspoele waar jy heelwat meer privaatheid het.

Dit duur sowat vier uur tot bo en terug – onthou om genoeg water saam te vat, want Joey raai jou af om die stroomwater te drink. Dit staan jou natuurlik vry om in die rotspoele af te koel wanneer dit te warm raak.

Moet ook nie te laat begin met jou staptog nie. Die grootste deel van die staproete is onder ’n blaredak, en as dit donker raak, kan jy maklik verby die geel rigtingwysers stap. Jy wil nie in dié wêreld verdwaal as dit donker word nie. Hoe verder jy van die water af is, hoe groter is die kans dat jy in die moeilikheid kan beland. En hou jou oë oop vir bobbejane wat ’n mens langs die staproete kan teëkom.

GEEN WATERSKAARSTE. Die dam wat vir hengel gebruik word, is groot, nes ’n mens verwag. Jy moet die kampterrein verlaat om daarheen te gaan. Daar is ’n kleiner opgaardam nader aan die kampplek, agter die ablusiegeriewe.

Onthou om julle bergfietse in te pak, want hier kan jy na hartelus die speke laat sing. Jy kan een van drie roetes aandurf wat met onderskeidelik groen, oranje en rooi rigtingwysers uitgemerk is. Die beginpunt is net buite die kampterrein aan die ander kant van die skuur. Die groen roete is taamlik gelyk en neem jou in Porterville se rigting voor jy weer terugdraai. Die oranje roete is effens meer uitdagend, en die rooi roete is die grootmeneer. Jy moet ’n ernstige bergfietsryer met heelwat vernuf wees om hom baas te raak. Hy het tegniese afdelings, vinnige afdraandes en neem jou selfs verby ’n waterval.

As jy nie lus het vir ’n klomp mense nie, kan jy in die opgaardam gaan swem wat op die kampterrein uitkyk. Of vat jou visgerei, iets om te ete en drinke, en gaan terg die baars in die dam langs die perdestalle.


Hulle sê

Die Christians, Johnstons, Bresendales en Van Wyks van Strandfontein het die kinders vir ’n paar dae gebring:

"Ons het baie daarvan gehou om die heeldag met ons kampstoele in die stroom te sit. Hier is ook baie te doen en ons het dit geniet. Hulle kan wel darem die plek ’n bietjie beter bemark."

Johan van Niekerk en Deon Pieterse van Durbanville het vir die eerste keer hier kom kamp nadat hulle voorheen by ’n ander plek in die omgewing uitgespan het:

"Ons hou van die geriewe hier. Dis netjies en skoon en alles werk. Ons hou ook van die ligging en dis lekker om so naby aan die water te wees. En hoewel hier heelwat besoekers is, voel ons nie ingeprop op ons staanplek nie. Die besprekingsproses was egter ’n effense nagmerrie."

Dís wat dit kos (3 volwassenes)

Brandstof:

50 ppm-diesel @10,8 l/100 km en R13,80/l en 340 km (heen en weer) – R506,74

Verblyf: 

(2 nagte) R560

Kos:

R431

Totaal    

R1 497.74

Kortliks | 22 Watervalle

Kamplekke 56 gelyk staanplekke op ferm grond met heeldagkoelte. Net 16 van hulle het elektrisiteit.

Ablusiegeriewe Eenvoudig en netjies met gasgeisers.

Prys R280 p.n. per staanplek met krag (vir 4 mense). Die staanplekke sonder elektrisiteit kos R240.

Kontak 082 878 1358; bookings@22watervalle.co.za

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Hoe lyk die pad? Die laaste 4 km grondpad stamp by tye erg. Ry stadig.

Naaste dorp Porterville 4 km.

GPS S32.985516 E19.025589

Weg Ry & Sleep Probeer wanneer jy bespreek, staanplek nr. 18-33 in die hoofkampterrein kry – hulle is die grootste en het ook kragpunte, én hulle is die naaste aan twee ablusieblokke en drinkwater.