Foto's Leon Botha
Roete
Roete

Nelspruit het ’n byna tropiese klimaat waar dit in die winter omtrent altyd voel of dit ’n koel somersdag is. Daarom groei enigiets van lemoene, mango’s en piesangs tot avokadopere en neute sonder sukkel in dié wêreld – g’n wonder dit word die vrugtemandjie van Suid-Afrika genoem nie.

Dit beteken natuurlik ook ’n mens kan heeljaar tussen die welige plantegroei kom kamp. Omdat die wildtuin net ’n hanetree weg is, is hier heelwat bekende en gewilde kampplekke, maar daar is ook ’n paar minder bekende oorde waar jy in stilte en rustigheid in die natuur kan kamp. Die Hippo Water Front-lodge is só ’n oord. 

As jy met die N4 van Pretoria se kant af ry, draai ’n grondpad sowat 10 km voor Nelspruit links af na die lodge. Jy ry oor ’n treinspoor, waarna die netjiese grondpad by die enkelbrug oor die Krokodilrivier vernou. ’n Steil bultjie lê voor, en enkele kilometers verder staan jy voor die oord se elektriese hek. Jy bel die kantoor en die oordmense gee vir jou die kode wat jy inpons.

Anderkant die hek is ’n goedversorgde tuin met ’n lieflike grastapyt onder doringbome. Tussen die groenigheid deur loop ’n geteerde tweespoorpad effens bultaf, verby ’n bordjie wat teen seekoeie waarsku, tot by die kantoor.

Wanneer jy stilhou, kom groet die oordmense en stap dan sowat 50 m vooruit om die staanplekke vir jou te wys. Die kampkolle is nie afgebaken nie en jy kan vir jou ’n afsaalplek uitsoek naby een van die twee kragbokse, wat omtrent 30 m uitmekaar staan. Die bokse het blou woonwa- en driepuntsokke, en oorkant jou staanplek is ’n vierkantige gebou met jou eie badkamer.

Jy gaan ver soek om ’n groter koeltedak te kry as by Hippo Water Front. Die bome staan 2-3 verdiepings hoog, en al kamp jy ook waar, gaan die son jou nie bykom nie.

Waar daar baie koelte is, kry jy gewoonlik min gras, maar hier is dit allermins die geval. Omtrent 80% van die ooptes waar jy kan staan, is toegegroei. Dis ook nie nodig om die hoekstutte myle uit te draai nie, want die grond is mooi gelyk.

Hier en daar staan ’n vullisdrom en daar’s ook ’n heuphoogte kraan of twee wat teen ’n houtpaal geanker is. Hier is ook staalbraaiers wat kampeerders kan gebruik en wat soggens skoongemaak word – en selfs al bring jy jou eie braaier, word dié ook sommer onder hande geneem: Jy neem omtrent jou braaier skoner huis toe as wat hy was toe jy gekom het.

Die badkamergebou het ’n deur aan drie kante, en op die punt die naaste aan die kantoor is plek om jou vuil skottelgoed te was. Hier is ook ’n verskeidenheid potte en panne plus koppies en pierings én ’n ketel, elektriese tweeplaatstoof en yskas wat kampeerders kan gebruik.

In jou badkamer is ’n wasbak, hangplek vir jou handdoek, ’n stort met ’n gordyn voor en ’n toilet. Voor die stort lê ’n skoon handdoek sodat jy nie ná jou warm stortbad op die koue teëlvloer hoef te trap nie. Om jou eie badkamer te hê is gaaf, maar ’n mens kan doen met meer pakplek. Langs die wasbak is ’n hoekrakkie waarop niks meer as ’n badkamersakkie pas nie.

Hippo Water Front lê langs 300 m van die Krokodilrivier se oewer, en op die grasperk langs die water is piekniekplek vir ’n hele skool.

Oorkant die kantoor, in die rigting van die water, is ’n onderdakkroeg waar jy soggens ook vir jou koffie kan skink. Van die kroeg se dek af kan jy die seekoeie in die rivier dophou. 

Hier is ook ’n restaurant waar jy vir ontbyt en aandete kan aansit.

Saans hoor jy die seekoeie se genurk in die water, en hulle loop glo soms tot reg by die woonwaens. Ons het ses van hulle gesien wat skaars 30 m van die oewer af in ’n groepie gedryf het. Die oordmense het ons egter die versekering gegee dat hier nog nooit moeilikheid met ’n seekoei was nie.

Hier was glo vroeër jare ’n krokodil wat soms in die middel van die rivier op ’n klip gelê en bak het, maar ook hy het niemand gepla nie. ’n Buurman het ander dag weer ’n krokodil gesien, maar anders as met die seekoeie sien jy hulle nie maklik nie.

Langs die staanplekke is ’n omheinde swembad waarin jy kan afkoel as die Laeveldse hitte begin druk.

Doendinge is volop. Onthou jou hengelgerei en kom kyk of jy ’n baber, karp, paling of geelvis oewer toe kan lok. Pak ook jou stapskoene en verkyker in en durf die staproete langs die rivier aan om voëls en seekoeie van nader te bekyk.

Die oordmense kan begeleide toere reël na van die omgewing se bekendste besienswaardighede soos God’s Window, die Blyderiviercanyon, Sabie, die Sudwalagrotte, Pelgrimsrus en, natuurlik, die Krugerwildtuin.

Kortliks | Hippo Water Front-lodge

Kampplek: 6 gelyk staanplekke (onafgebaken) met hope koelte.

Ablusiegeriewe: Netjies en jou eie.

Prys: R350 p.n. per staanplek (vir tot 6 mense).

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tye nie.

Kontak: 082 825 1105; hippowaterfront.comhippowaterfront@absamail.co.za

Naaste dorp: Nelspruit 14 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 3,6 km is ’n grondpad met ’n steil gedeelte wat op een plek klipperig is, maar dit is goed genoeg om ’n gewone woonwa op te sleep.

GPS: S25.435911 E30.868657

Ry & Sleep Die N4 loop ongeveer 1 km van die kampplek af verby. Jy hoor snags die verkeer, maar dit is darem nie steurend nie.