Foto's: Jonathan Invernizzi

Dagsê ou grote, groet ek die Titanic Rock, ’n enorme sandsteenkrans wat bo hierdie hoekie van die Oos-Vrystaat uittoring. Ek is op pad na die St. Fort Country House ’n klipgooi suid van Clarens af.

Clarens is ’n mooi dorpie en nie ver se ry van Johannesburg, Pretoria, Bloemfontein óf Durban af nie. Hier’s heelwat kunsgalerye, handwerkwinkels, kroegies en restaurante. Maar ek’s nie hier vir kurio’s en pannekoek nie; ek het die nuwe Clarens San-Traverse kom stap.

Dié staproete was die idee van Julia Invernizzi van Spekboom Tours. Dit strek van St. Fort af oor 41 km deur die Rooiberg en weer terug dorp toe. “Ek was nog altyd gaande oor hierdie deel van die Vrystaat,” vertel Julia die aand om die braaivuur. “Golden Gate se gewilde Ribbokstaproete is net om die draai. Maar daar het stappers nie ’n gids nie, en jy oornag in ’n basiese hut.

“Ek het ’n gaping in die mark gesien: Clarens het ’n magdom lieflike gastehuise, maar geen begeleide slenterstaproete nie. Ek en Adrian Clarke van Alien Adventures het koppe bymekaargesit, en uiteindelik het ons op hierdie roete van drie dae lank besluit. Op die San-Traverse kan stappers met redelike min moeite by rotskunspanele en ander kulturele trekpleisters uitkom.”

Ons paar stappers gaan saam met Julia en Adrian ’n recce van dié voorgestelde roete stap. Die groepie is verskillende ouderdomme en het verskillende agtergronde: Julia se opgeruimde 72-jarige pa, Paul Colvin – een van ons land se slenterstappioniers en ook die stigter van SA Adventure Trails sowel as Wild Coast Walks. Julia se suster, Sarah Drew, is net soos hulle pa ’n stap- en avontuurgids. Dié familie is gewaarsku dat hulle eers kritiek mag lewer wanneer die res van ons verkas het!

“Ek het ’n gaping in die mark gesien: Clarens het ’n magdom lieflike gastehuise, maar geen begeleide slenterstaproete nie."

Anne Price is ook in die sewentig, maar nog wonderbaarlik hups vir iemand wat al ’n dubbele heup- én knieoperasies ondergaan het. Anne het in haar sestigs 11 500 km te fiets tussen Kaïro en Kaapstad kafgedraf en onlangs van Lusaka, Zambië, deur Zimbabwe tot in Mosambiek getrap.

Maar Anne se tweewielprestasies word oortref deur Bridget Ringdahl s’n. Dié omgewingskundige werk deeltyds saam met Julia en haar boek Blonde on a Bike vertel hoe sy deur Suid-Amerika, Indië, Suidoos-Asië, China en Tibet getoer het. Ook teenwoordig is Errol en Jo Douwes van die eThekwini-munisipaliteit se omgewingsdepartement wat kom saamstap ter voorbereiding vir ’n reis na Berg Kenia.

St. Fort Country House is ’n gerestoureerde plaashuis met ’n klomp slaapkamers wat jou laat terugdink aan die dae toe ’n gesin nog ’n hele string kinders gehad het.

Die grond waarop die huis staan, was – soos bykans die hele Oos-Vrystaat – eens deel van die ryk van koning Mosjesj, leier van die Basotho-nasie. Hy word daarvoor onthou dat hy nooit deur Boer óf Brit verslaan is nie.

Maar dit was ’n losse koninkryk en in gebiede aan die buitewyke soos dié het ’n ander Basotho-hoofman genaamd Mahlomi glo geheers. Die storie loop dat hy die leier was van ’n bende kannibale wat soms Boere-vroue gevang en vetgevoer het om, wel, jy weet… Genadiglik is daar nog geen oorblyfsels van Mahlomi se mense gevind nie.

DAG 1: 17 KM

Wat die sjamaan gesien het

Bridget Ringdahl staan op een van die talle sandsteenkoepels wat ’n mens op die Clarens San-Traverse teëkom.

Ná ontbyt kry ons koers tot bo-op ’n sandsteenkoepel met ’n uitsig oor die grasvelde en die diep skeure wat deur hulle sny.

Adrian wys merke teen die omliggende kranse uit – dis ’n uitgebreide grotnetwerk, glo vol rotstekeninge.

Die gesprek strek egter verder terug; verby Boesman, Basotho en Boer, tot sowat 200 miljoen jaar gelede toe hierdie spesifieke Molteno-sandsteen se onderste lae gevorm het.

Die rooierige moddersteen het later sy lê gekry, en daarna die geel Clarens-sandsteen. Sowat 160 miljoen jaar gelede het ’n bolaag van vulkaniese swart basalt ’n mussie oor alles kom trek en ’n mens kan sien waar dié gesteente weer weggeslyt het. Net die hoogste spitse is onaangeraak.

Met dié geologiekennis in die agterkop stap ons verder. Die netjiese voetpad lei jou verby groot rotskoepels, deur tonnels immergroen ouhoutbos en oor klein stroompies. Teen middagete bereik ons die eerste grot. Dié groot rotsskuiling heet St. Fort 1 en Adrian begin entoesiasties vertel waarna ons kyk.

St. Fort 2-grot
Die gids Adrian Clarke verduidelik die betekenis van Boesmantekeninge in die St. Fort 2-grot.

Die opvallendste tekening is dié van ’n elandbul, maar die paneel bevat ook verskeie mensfigure, versier met strepe en spikkels – dit verteenwoordig die geesteswêreld wat sjamane tydens ’n beswyming betree het.

Prof. David Lewis-Williams se artikels in die 1980’s het nuwe lig gewerp op die betekenis van Boesman- en ander Laatsteentydperkrotskuns die wêreld oor: Waar vroeër aanvaar is dat die tekeninge meestal die daaglikse lewe uitbeeld, met slegs hier en daar ’n mitiese element, het Lewis-Williams besef dat dit eerder andersom geïnterpreteer behoort te word: Die kunswerke ís die sjamane se visioene soos ervaar in verskeie stadiums van vervoering.

Die tekeninge verteenwoordig dus die Boesmans se godsdiens, net soos Europese kuns tot ’n paar eeue gelede grootliks die Christen-geloof uitgebeeld het.

In die St. Fort 1-paneel is heelwat lang mensfigure bewapen met kieries en pylkokers. ’n Wit lyn wat bo hulle getrek is, kan dalk ’n komeet wees.

Adrian daag ons groepie se verbeelding omtrent uit toe hy suggereer dat van die figuurtjies wat lyk asof hulle fisieke pyn het, dalk eerder psigiese pyn simboliseer. Ons bedink die stelling terwyl ons smul aan hoenderwraps en couscousslaai. Hy borduur selfs verder en stel voor dat ons nou hier staan en kyk wat gebeur wanneer ’n mens déúr sielkundige swaarkry leef en by ’n nuwe vlak van bewuswording uitkom.

Aan die einde van dag 1 het die stappers hierdie mooi vuurpyle teëgekom.

Dis ’n kort entjie se stap tot by St. Fort 2, ’n oorhang waar ’n magdom losstaande figuurtjies sowel as groepies pryk. Wat dit uitbeeld, kan ons maar net raai. Maar Adrian het ’n verklaring: Die een figuur het ’n lang snoet – glo ’n masker – sowel as ’n paar pote. Weer eens het ons hier met ’n hallusinasie te make. Langsnoet en ’n paar ander figuurtjies word verbloem deur die tekening van ’n eland wat in ’n later stadium aangebring is.

Julia vertel ’n mens kan vandag nog eland en ander wildsbokke in dié omgewing sien, sowel as jakkalse, ystervarke, tierboskatte, dassies en dwergmuishonde. Haar entoesiasme oor die fauna en flora komplementeer Adrian se kleurryke geselsies en kennis van psigedeliese dinge.

Net toe ons onder die oorhang uitstap, sweef ’n witkruisarend verby. Dis een van die spesies wat kainisme toepas, vertel Julia. Kain-wat? Dit beteken indien die kuiken wat eerste uitbroei sterk en gesond is, hy en sy ma die jonger kuiken sal doodpik. Kuikenmoord in sy oorspronklike gedaante.

Gestreepte perde op die Schaapplaats-plaas hou stappers dop op pad na die eerste oornagslaapplek, die Four Seasons Country House.

Laatmiddag groet ons die sandsteenkoepels en stryk aan deur ’n vallei na die Schaapplaats-plaas. ’n Spannetjie sebras en blesbokke skrik hulle half disnis toe hulle ons gewaar.

Van die eienaar se opstal af is dit nog sowat 1,5 km se stap met ’n plaaspad langs waarteen vuurpyle en kosmos staan tot by ons oornagplek – die Four Seasons Country House. Anders as die primitiewe grotwonings waar ons vandag gaan draai het, is die gastehuis se kamers gerieflik ingerig.

Wanneer almal nesgeskop het, vertel Adrian ons van die nabygeleë plat Surrender Hill (voorheen bekend as Slaapkrans), waar talle Boere-kommando’s (4 314 manskappe in totaal) op 31 Julie 1900 oorgegee het aan die Britte.

Ná tee en beskuit gaan die meeste van ons ’n rukkie skuinslê. Dit bly een van die vreugdes van ’n slenterroete: Daar’s elke aand ’n heerlike bed om na uit te sien en iemand anders maak aandete! En wat ’n ete was dit nie – skaapboud, groente en broodpoeding, gevolg deur ’n slaaptydskeutjie onder die sterre.

DAG 2: 14 KM

’n Goeie dag en goue lig

Vandag se voetpaaie loop net hier op die plaas en ons slaap weer vanaand by die Four Seasons.

Ná sowat ’n uur en ’n half se stap deur ’n vallei en verby ’n ou wilgerboom met verknotte stamme bereik ons die Schaapplaats-grot.

’n Doringdraad is voor die rotskuns gespan. “Dis ’n jammerte,” sê Adrian, wat gesien het hoe die tekeninge gedurende sy 20 jaar op Clarens agteruitgegaan het, “duisende jare lank het dit níks oorgekom nie, en nou kom verniel mense dit.”

’n Heining is voor die Schaapplaats-grot gespan om die rotstekeninge te beskerm.
St. Fort 1-grot
Van die tekeninge in die St. Fort 1-grot is lang figure met kokers en pyle.
Op pad na die Schaapplaats-grot moet stappers oor ’n stroom loop.

Die tekeninge by Schaapplaats is in twee groeperings en merkbaar kleiner en donkerder as dié wat ons gister gesien het. Hier’s heelwat figure met die kop van ’n dier – glo ’n aanduiding van die sjamane se vermoë om deur ’n metamorfose tot iets anders te omvorm. Adrian wys ook twee bolvormige kreature uit – dis reëndiere; die Boesmans het geglo hulle woon in donderwolke.

Van die grot af klim ons sowat drie uur teen die steiltes van ’n rant langs tot by George’s Pimple (2 500 m), ’n kenmerkende spits in die boonste basaltlaag. Dit lyk vir my nes ’n Basotho-hoed! En dit is eintlik heel gepas, dink ek terwyl ons op pad boontoe vir middagete stop. Van hier af kyk ons immers uit oor Lesotho en die Caledonrivier – alles koning Mosjesj se wêreld.

Die afstap is makliker as die op, en ’n bussie kom laai ons aan die voet van die piek op en neem ons terug na die Four Seasons toe. Dis nóg ’n onvergeetlike skemeraand in die vars lug met geen geluide behalwe die voëlgesang nie. Ons sit diép met skemerkelkies byderhand en kyk hoe die omliggende heuwels in ’n goue gloed baai. G’n wonder so baie skilders het ’n spesiale plekkie in hulle hart vir die Oos-Vrystaat nie!

kothuis
Julia Invernizzi vat ’n blaaskans op ’n aanwysingsbord naby die Four Seasons Country House. Rock Bottom is ’n kothuis langs die Clarens San-Traverse-staproete.
Die hoogtepunt op dag 2 is die uitsig oor Lesotho en die Caledonrivier van George’s Pimple af.

DAG 3: 10 KM

Geskiedenis net waar jy kyk

Vanoggend gaan los ons eers die motors op Clarens sodat dié wat haastig is, dadelik na afloop van die stap kan vertrek.

Clarens is in 1912 gestig en genoem na die dorpie in Switserland waar Paul Kruger in die ouderdom van 78 as banneling gesterf het. Dié voormalige president van die Zuid-Afrikaanse Republiek het in Oktober 1900 met De Gelderland Europa toe gevaar met die hoop om simpatie en ondersteuning vir sy mense se stryd om onafhanklikheid in te win.

Maar teen daardie tyd het die Britte reeds die oorhand gehad en toe hulle die laaste Boerekommando die knie laat buig, het Kruger verseg om terug te keer na ’n land onder Britse bevind. Hy het op 14 Julie 1904 in Switserland met ’n uitsig oor die Meer van Genève gesterf.

Die laaste skof van die Clarens San-Traverse: af met die Clarens-bergstaproete na die dorp.

Adrian en Julia wys ’n gedenkteken op die dorpsplein wat opgerig is ter nagedagtenis aan die vyf Boeremanskappe wat in ’n skermutseling in Naauwpoortnek gesneuwel het. Dié gebeurtenis het gelei tot die derde Boere-Basotho-oorlog in 1867. Mosjesj was toe al ’n ou man.

Ons drentel verby van die dorp se bes-bewaarde sandsteengeboue, insluitend die NG kerk wat in 1940 gebou is, en kry dan koers na die Clarens-natuurreservaat waar die maklike Spruitroete ons al in die skadu van populiere, sederbome en ouhoute langs tot by die Kloofdam lei.

Terwyl Julia onder meer vuurpyle, geel sewejaartjies, klipblomme, blousuurkanolle, lobelias en blouklokkies uitwys, soek Adrian rustig Boletus-sampioene (die res van ons ken dit as porcini-sampioene!) vir sy aandete.

Die Spruitroete sluit uiteindelik by die Clarens-bergpad aan en nog sowat ’n halfuur se stap verder staan ons op ’n hoogte van waar ’n mens die dorp, Titanic Rock, Naauwpoortnek en Berg Horeb kan sien. (Laasgenoemde kry sy naam van die Bybelse berg in die Sinaïwoestyn waar Moses volgens Eksodus die Tien Gebooie ontvang het.)

Die dag se 10 km lange sirkelroete is gans te gou verby, maar almal sien daarna uit om Clarens se ánder lekkertes te verken.

Ons les ons dors met Red Stone-boetiek-jenewer by die Clarens Brewery. Tjeers! Almal stem saam: Die recce was ’n sukses.

Ek dink vir oulaas aan die berge en valleie waardeur ons gestap het. En sê dankie vir diegene wat die pad vooruit geloop en hulle stories vir ons nagelaat het.

Sarah Drew stap die blaarryke Spruitroete op die laaste dag van die roete.

WEET VOOR JY WAAI

Waar? Clarens is sowat 300 km van Johannesburg en 380 km van Durban af. Die stap begin by die St. Fort Country House. Dié is 6 km suid van Clarens langs die R711.

Koste: R5 000 p.p. vir ’n groep van 4. Dit sluit verblyf, alle maaltye, die vervoer van jou bagasie, permitte en ’n gids in.

Hoe taai is dit? ’n Mens stap 41 km oor 3 dae. Die terrein is nie uitdagend nie en volg meestal plaaspaaie en duidelik gemerkte voetslaanpaadjies. Plek-plek is ’n steilte of helling, maar niks wat ’n gemiddelde stapper nie kan baasraak nie.

Beste tyd om te gaan? Die roete is van September tot Mei oop (wintermaande is te koud).

Die ander seisoene het elkeen sy eie aantrekkingskrag, maar die veldblomme staan veral lentetyd swierig in dié gebied. In die herfs sal jy die veld vol kosmosblomme aantref, tesame met die aardse skakerings van die bladwisselende populierbome.

Kontak: 076 819 0615; julia@spekboomtours.co.za; spekboomtours.co.za. Fiona en Teigue was gaste van Spekboom Tours. 


Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook