Ons het die beste van twee wêrelde beleef,” sug my man, Mike, tevrede. Ons het pas ’n drie dae lange slenterstap van Hermanus tot by Bettysbaai voltooi. Maar moenie dat die woord “stap” jou pla nie – ons is op die hande gedra op die Biosphere Breaker Way.

Dis báie meer as net ’n staptog. Ja, ons dae was vol mooi uitsigte terwyl ons langs fynbosbedekte berghange en die kus stap. Maar ons het ook geleer oor die geskiedenis en fauna en flora van die streek by gidse wat vrygewig is met hulle kennis. Dit was ’n soort verkenningstog van die Kogelberg, maar stylvol!

Ons ontmoet ons gidse en die ander stappers op ’n Sondagaand by die Auberge Burgundy, ’n luukse gastehuis in Hermanus, waar ons twee bederfnagte deurbring. ’n Staphut kan maar gaan slaap.

"Dit was ’n soort verkenningstog van die Kogelberg, maar stylvol!"

Die roete behels nie stap van een punt tot by ’n ander nie. Daar is ’n begin- en eindpunt, maar stappers word met ’n pendelbus vervoer na verskeie plekke van belang. Jy hoef net matig fiks te wees om die roete geniet – ideaal vir iemand soos Mike, wat nog van ’n rugoperasie herstel.

Die eerste uitstappie is deur die Fernkloof-natuurreservaat agter Hermanus. Ons skep asem en eet iets op Olifantsberg, en tuur oor Walkerbaai wat blou onder ons lê.

Die stap na die bopunt van die Fernkloof-natuurreservaat deur fynbos is mooi, maar die uitsig oor Walkerbaai is eerste prys.

Daarna kry ons vir Conrad Wegelin – een van die stigters van die Biosphere Breaker Way – in die wingerde by die Bouchard Finlayson-wynplaas in die Hemel-en-Aarde-vallei, sowat 5 km van Fernkloof af. Conrad verduidelik hoe die wingerdstokke gekweek word deur ’n stingel van ’n spesifieke kultivar op moeilike wortelstukke te ent.

Die Bolandse dorp Wellington is belangrik in dié bedryf. Die werk word hoofsaaklik met die hand gedoen en dit verg baie werkers om elke jaar duisende wingerdstokke te kweek.

Jare gelede is kinders in die spitsgroeiseisoen ingespan om te help – hulle moes die ente stewig met tou vasbind. Dié kinders het dan skool gemis en moes met die terugkeer hulle afwesigheid aan die onderwysers verduidelik... Dis waar die woord “stokkiesdraai” vandaan kom.

’n Mens kan natuurlik nie op ’n bekende wynplaas in so ’n mooi vallei wees en nié wynproe nie! Die eienaar van die landgoed, Peter Finlayson, was een van die pioniers van die pinot noir-variëteit in Suid-Afrika, en ná ’n proesessie is ons dit eens: sy wyne verdien elke soort ster!

Volgens oorlewering was die vallei eens die tuiste van ’n kolonie melaatses. Mense wat van Caledon af kus toe gereis het, was senuagtig as gevolg van die gevare van dié siekte, en hulle het glo onder mekaar gepraat van die “onrus” wat hulle ervaar het... Dis glo hoe die Onrusrivier, wat deur die vallei vloei, sy naam gekry het (en later die kusdorpie ook). Die ander storie is dat dit kom van die branders wat onrustig teen die rotse slaan.

Ná ons wynproesessie ry ons terug Hermanus toe, trek ’n paar rubberstewels aan en stap deur die Heart of Abalone-plaas by die nuwe hawe.

Die eienaar van die landgoed, Peter Finlayson, was een van die pioniers van die pinot noir-variëteit in Suid-Afrika, en ná ’n proesessie is ons dit eens: sy wyne verdien elke soort ster!

Johan Hugo van die Heart of Abalone wys hoe perlemoen gekweek word.

Meer as 500 mense werk by die plaas wat tonne perlemoen verskaf aan meestal Oosterse marke. Ons stap deur honderde tenks wat voortdurend met soutwater uitgespoel word. Dis fassinerend om te sien hoe ’n klein perlemoensaad deur die loop van jare ’n volgroeide perlemoen word.

“Dertig jaar gelede het perlemoenboerdery anders gewerk,” vertel Johan Hugo, die stigter en ons toerleier.

“Die saad is in tenks grootgemaak en dan teruggesit in die see om verder te groei. Maar dit het veroorsaak dat siektes deur die voorraad versprei en die proses is aangepas tot hoe dit vandag werk.”

’n Perlemoen kan tot agt jaar oud word en tot 20 cm in deursnee wees! Maar by die plaas word hulle vroeër geoes om in allerlei resepte gebruik te word: vars, gedroog, in blikkies...

My kleintydherinnering aan perlemoen is grootliks van lam arms… Ons moes die vleis met ’n hamer sagmaak, dan fynmaak en met broodkrummels meng, en la-a-ank in wyn kook. Ná ons toer proe ons allerlei geregte – die hoogtepunt is twee jaar oue perlemoen so groot soos 50c-stukke, gaargemaak in ’n Oosterse sous. Heerlik! 

Van see na berg

Dag twee is weer propvol avontuur. Ons stap kuslangs van die Kleinmond-strandmeer af in die rigting van Bettysbaai. Langs die pad vertel ons toergids, John Boyce, stories van skeepswrakke en oorlewing.

Die gids John Boyce is vol stories oor verskillende skeepswrakke langs die Walviskus.

Ons rus by die Kleinmondhawe, drink koffie en eet iets. Van hier af stap ons met ’n plankiespad tot by die monding van die Palmietrivier, en dan stroomop tot by Oudebosch in die Kogelberg-natuurreservaat.

Hier staan vyf ekovriendelike selfsorghuisies. Dis nóg ’n les wat ons op dié stap leer: Ekovriendelik hoef nie ten koste van gemak en styl te wees nie. So te sê elke kamer het ’n uitsig – selfs van die waterslim “kompos”- toilette af sien jy die berge. Ontspan, dis ver verwyder van ’n tradisionele puttoilet!

Op die Biosphere Breaker Way-slenterroete is talle lekker plekke vir middagete, soos hier in die Kogelberg-natuurreservaat.

Die groter Kogelberg-gebied is bekend as ’n biosfeer, ’n gebied waar gepoog word om bewaring en ontwikkeling te verenig. Ja, dit is moontlik om natuurlike hulpbronne te bewaar terwyl mense steeds in die gebied bly.

Hierdie biosfeer sluit berg- en seegebiede rondom Pringlebaai, Bettysbaai en Kleinmond in en is die eerste biosfeerreservaat in Suid-Afrika wat internasionale erkenning gekry het. Dis in Desember 1998 onder Unesco se Man and Biosphere-program geregistreer.

Ná ’n buitelug-middagete by Oudebosch ontmoet ons nog ’n gids vol stories – die sogenaamde flower power lady. Amida Johns bly al dekades lank by Oudebosch – sy is getroud met Mark Johns, ’n bewaringsbestuurder by Kaapse Natuurbewaring. Dit lyk asof Amida elke fynbosplant persoonlik ken. Ons stap saam met haar langs die Palmietrivier en leer meer oor die plante wat net hier voorkom.

Hierdie biosfeer sluit berg- en seegebiede rondom Pringlebaai, Bettysbaai en Kleinmond in en is die eerste biosfeerreservaat in Suid-Afrika wat internasionale erkenning gekry het.

“Die saad van sekere proteas het een keer elke 16 jaar vuur nodig om te ontkiem,” vertel Amida. “As daar nie vuur is nie, of as dit te vroeg of te laat brand, moet die saad nog 16 jaar wag!”

Ná ’n smaaklike aandete kruip ons vroeg in. Ek slaap ’n diep slaap in die donker vallei in die Kogelberg.

’n Blomtuin langs die berg

Die leliepoel by die Harold Porter- nasionale botaniese tuin.

Ná ontbyt mik ons vir die nabygeleë Harold Porter- nasionale botaniese tuin. Die tuin is ’n Kirstenbosch in die kleine, met ’n groot verskeidenheid plante (proteas, heide, disas!). Hier is ook 100 voëlspesies, verskeie slangspesies en ander klein diere – wees op die uitkyk vir bobbejane wat soms op die gras uitspan.

Harold Porter was ’n argitek van Johannesburg wat dié grond in 1939 bekom het. Hy wou ’n wilde fynbosreservaat vestig en dit Shangri-la noem, wat paradys beteken. Ná sy dood in 1958 is die reservaat aan Suid-Afrika se Nasionale Botaniese Tuine (deesdae SANBI) geskenk.

Hier is heelwat stappaadjies in die tuin (vir alle fiksheidsvlakke), insluitend ’n rolstoelvriendelike paadjie. Te gou is dit tyd vir middagete by die Red Disa-restaurant in die reservaat.

Stony Point was eens ’n walvisstasie en oorblyfsels van die ou hawe is nog sigbaar.

Ná middagete stap ons af na Stony Point om by die kolonie bedreigde brilpikkewyne te kuier. Dit is heel vermaaklik om hulle streke van die plankiespaadjie af dop te hou. Maar bewaring was nie altyd ’n prioriteit by Stony Point nie. In die vroeë 20ste eeu was hier ’n walvisjagstasie op die skiereiland en die restaurant het ’n muur vol stories en foto’s van dié bloedige tydperk.

Baie min Suid-Afrikaners het deelgeneem aan die walvisslagting; dit was meestal Noorweërs wat bekend was met dié praktyk. Die stuk geskiedenis is ontstellend, veral vir ons wat uitsien na die walvisse se jaarlikse besoek aan die Kaapse kus. Maar dis ook goed om daaraan herinner te word, om te keer dat sulke tragedies weer gebeur.

Ná drie heerlike dae groet ons ons gidse en medestappers. Die wat van ver af gekom het, word lughawe toe vervoer en die res van ons na ons eie voertuie.

Ons het die natuurlike skoonheid van die kuslyn, rivier en berge eerstehands ervaar, ons het nuwe vriende gemaak en nuwe goed geleer. Mike kon sy woorde eintlik beter gekies het: Ons het met dié wegbreek die beste van alle wêrelde beleef.

Weet voor jy waai

Hoe werk dit? Die Biosphere Breaker Way het plek vir ’n minimum van 8 mense en ’n maksimum van 12. Daar’s ’n drie- of vierdagopsie. Verblyf is in netjiese gastehuise en selfsorghuisies en alle etes word voorsien. Die koste sluit vervoer in en al die staptogte word deur ingeligte gidse gelei. Jy hoef net ’n dagsak te dra; jou ander bagasie word na jou volgende oornagbestemming vervoer.

Hoe fiks moet ek wees? ’n Matige fiksheidsvlak is nodig. ’n Mens stap meestal op gelyk grond op seevlak. Die meeste wat jy op ’n dag sal stap, is ongeveer 16 km.

Wat kos dit? Drie dae: R7 200 p.p.; vier dae: R9 450 p.p.

Nog inligting breakerway.com; 084 458 7701 (Freddie Steytler); 083 532 5622 (Conrad Wegelin)

Of verken dit self... Al die plekke waar Shirley-hulle gaan draai het, is oop vir die publiek: Fernkloof-natuurreservaat (fernkloof.org.za); Heart of Abalone (heartofabalone.com); Kogelberg-natuurreservaat (capenature.co.za); Harold Porter- nasionale botaniese tuin (sanbi.org); Stony Point-natuurreservaat (capenature.co.za