Foto's: Schalk Jonker

Niemand het veel oortuiging nodig om Suidkus toe te sleep nie. Die heerlike klimaat, die warm Mosambiekse seestroom wat hier verbyloop, en die magdom doendinge in die gebied maak daarvan ’n puik vakansiebestemming – vir enigiemand van gesinne wat op soek is na pret en plesier tot pensioentrekkers wat rus en vrede verkies.

Die omgewing by Winklespruit is uitstekend geleë. Jy is nie net heerlik sentraal nie – Durban is skaars 40 km weg – maar die Suidkus is ook nie te ver om te ry vir mense uit die binneland wat wil vakansie hou nie. En dan kry jy hier ook ’n paar ordentlike woonwaparke wat aan alle voorkeure voldoen.

As jy vroeg uit Gauteng uit wegtrek, kan jou kamp voor sononder al staan en jy kan vanaand rustig langs jou kampvuur sit en na die gedruis van die Indiese Oseaan se branders luister.

Niemand het veel oortuiging nodig om Suidkus toe te sleep nie. Die heerlike klimaat, die warm Mosambiekse seestroom wat hier verbyloop, en die magdom doendinge in die gebied maak daarvan ’n puik vakansiebestemming.

ATKV-NATALIA

’n Meneer van ’n oord

Jy kry gesinsoorde en dan kry jy supergesinsoorde. Natalia staan stewig in laasgenoemde kategorie. Soms ry jy by ’n kampplek in en alles voel van die begin af sommer net reg. Hier is dit dubbel en dwars die geval.

Die plek is netjies, hier is baie plek, dit is so veilig soos kan kom, en hier is meer as genoeg om jou en jou mense geholpe te hou gedurende julle welverdiende blaaskans by die see. Hier is selfs wi-fi op jou staanplek en jy kry 30 minute se gratis internettoegang per dag. As jou tienerseun sy halfuur opgebruik het, gaan hy sy roomys moet prysgee en sy sakgeld gebruik om vir hom nog toegang te koop.

Natalia lê langs Illovostrand, en in dié warm waters kan jy heeljaar baljaar en tussenin op die skoon, uitgestrekte strand lê en sonbaai. Die meeste dae van die jaar is hier ook menseredders aan diens.

As die weer nie saamspeel nie, kan julle in die verhitte swembad gaan swem of op die leunstoele langsaan ontspan.

HEELJAAR SOMER. Tussen die warm see, die lang strand, die verhitte swembad, die klimrame en trampoliens gaan jy nie sukkel om jou kinders besig te hou wanneer julle by Natalia kom kamp nie.

Natalia se ontspanningsgedeelte is so volledig soos kan kom, en afgesien van die swembad (hier’s een vir die kleintjies ook), is hier minigholf, ’n vlugbalbaan, trampoliens, ’n groot klimraam en een van daardie lewensgroot skaakborde.  In die speletjieskamer is videospeletjies en ’n pool-tafel.

Die oordwinkel sal ’n paar kleindorpse supermarkte in die skande steek. Jy kan kom aanklop vir enigiets van brood, tydskrifte en visnette vir die kleintjies tot braairoosters, T-hemde, hout, koeldrank, roomys en ys. Langs die winkel is die Koswerf-restaurant waar jy kan aansit vir ontbyt, ligte middagetes of sommer net koek en tee. ’n “Koswerf”-ontbyt kos R39 en jy kry spek, eiers, tamatie, roosterbrood, konfyt en kaas. ’n Pizza jaag jou tussen R80 en R96 uit die sak en die tuisgemaakte quiche kos R48.

Soos by alle ATKV-oorde is hier in die vakansietyd vermaak by die swembad, én dan kosstalletjies waar jy lekkernye soos ’n aartappel op ’n stokkie kan koop.

Die hekkie na die treinbrug wat oor die spoor loop strand toe, word deur die sekerheidsman Robert Wenya beman. Wanneer jy uitstap, kry jy ’n rekkie met ’n skyfie op wat jy om jou arm moet sit. Die dag van die week is op dié skyfie geskryf, en dís hoe hulle beheer wie van die strand af terugkom. Langs Robert se sekerheidshuisie is ’n buitestort om die soutwater en seesand van jou af spoel.

Selfs al staan jy op die voorste staanplekke, is dit ’n stewige stappie tot op die strand. Maar ’n bietjie oefening is seker nie ’n slegte ding nie, veral as jy dink aan daai skaaptjops wat jy saamgery het...

Kies jou kol

Die woonwapark is in twee dele verdeel. Die eerste een is naby die hek op die onderste terras met amper 80 staanplekke. Van hier af het jy nie ’n uitsig oor die see nie, maar jy is meer beskut teen die wind.

Die tweede deel het 28 staanplekke, en dié lê ’n paar meter hoër op die boonste terras. Van dié staanplekke af het jy ’n onbelemmerde uitsig op die water, veral as jy heel voor staan. Jy kamp egter in die tande van die wind as dié die dag opsteek.

As jy vir die boonste terras mik, hoor by die persoon wat jou help met jou bespreking of staanplek nr. 114 of 117 nog beskikbaar is. Dis die twee beste staanplekke in dié deel van die woonwapark, want jy staan onder groot bome wat heeldag koelte gooi – veral in die bedompige hitte van die somermaande is dít ’n welkome lafenis. Jy staan ook so te sê heel voor in die kampterrein, wat beteken niemand gaan jou uitsig bederf nie.

Hier is nóg groot bome op die boonste terras, maar hulle staan deur die kampterrein versprei en jy is nie gewaarborg van koelte nie. Pak dus maar jou silwerseil en gazebo in, net om veilig te wees. Onthou natuurlik ook jou stormtoue en -penne.

As jy op die onderste staanplekke gaan kamp, moet jy probeer om jou naam langs nr. 31-41 te kry. Hulle is op die middelste eiland aan die verste punt van dié deel van die kampterrein, en ook heeltemal in die koelte. As die hele familie vir Kersfees saam kom kamp, is staanplek nr. 47-51 net reg vir ’n groepbespreking. Dié vyf staanplekke is heel in die hoek, op die verste punt van die onderste kampterrein, en jy is hier meer afgesonder van die res van die kampeerders. Dis lekker privaat en hier is boonop ’n blaredak bo jou kop. Jy is ook langs die trappies na die boonste terras en dus nader aan die strand.

’n Tien stuks van die onderste staanplekke het elkeen ’n groot skadunet oor. Bel vooraf en hoor of jy een van hulle kan kry. As die geluk nie aan jou kant is nie, moet jou silwerseil saamkom.

Slaan jou kamp op

Die staanplekke is deur die bank amper so groot soos ’n muurbalbaan, en die meeste van hulle het ’n reghoekige stuk plaveisel met gras rondom. Die kragpunte het blou sokke – onthou om jou woonwaprop saam te bring. Die kragpunte staan naby genoeg aan jou plaveiblad en dis nie regtig nodig om ’n verlengkoord saam te bring nie. Langs die kragpunt is inpropplek vir jou wa se satellietskottel.

Elke staanplek het sy eie vullisdrom wat daagliks skoongemaak word. Maar by Natalia is ’n sterk fokus op herwinning en jy word versoek om jou glas, blikkies, plastiek en papier apart te hou en in die gekleurde dromme by die twee ablusieblokke te gaan weggooi. Jy het ook jou eie kraan.

Onthou om jou eie braaigoed saam te bring, want jy kry nie ’n braaier by jou staanplek nie. As jy nie een gebring het nie, kan jy by die gemeenskaplike braaiplekke langs die swembad jou tjops gaan gaar kry.

Of jy nou op die onderste of boonste staanplekke staan, jy kamp hier nêrens verder as 100 m van die ablusiegeriewe af nie. Die ablusieblok by die staanplekke die naaste aan die see is ’n moderne gebou met aparte geriewe vir mans en vroue – en met ons besoek is dit opgeknap. By die mans is vier storte, vier wasbakke met spieëls en drie urinale. Hier is ook twee gesinsbadkamers. Die onderste blok is ewe modern, netjies en skoon, maar hier is agt urinale, drie toilette, vier storte, ’n bad en agt wasbakke met spieëls.

Wilna en Cloete Odendaal van Vrede kamp saam met hulle kinders, Reyne (8 maande), Willem (5) en Jana (2), in hulle Jurgens Penta wat hulle met ’n Toyota Hilux sleep. Hulle sê: Natalia is ’n wonderlike vakansiebestemming, veral vir mense soos ons met kinders. Hulle swem en speel in ’n veilige, rustige en stil omgewing tot hulle pootuit is. Hier is nie veel om oor te kla nie, maar dit ís effens ver om see toe te stap. Maar dis seker goed so, want dit sorg darem vir ’n bietjie oefening.

Die storte het glasdeure en is ruim genoeg vir daai swaer van jou wat op sy dag in die Cravenweekvoorry gesak het. Die droë deel is egter effens beknop en die afslaanbankie het ’n gewigsbeperking van 100 kg, wat beteken Swaerrie moet liefs nie hier gaan sit om veters vas te maak nie. Hier is genoeg hake vir jou handdoek en skoon klere.

By albei ablusieblokke is ’n wasmasjien en tuimeldroër wat met ruilmunte werk. Dit kos R12 om ’n bondel te was of droog te kry en jy koop die ruilmunte by die snoepie. Hier is ook opwasplek vir jou skottelgoed en diep wasbakke vir wanneer jy klere wil uitspoel.

Gemoedsrus. Robert Wenya beman die hek tussen die strand en kampterrein; die ablusieblokke is modern en skoon; en by die Kos­werf-restaurant kan jy vir koek en tee aansit.

VILLA SPA

Raak rustig

So ’n klompie maande terug het ’n leser vir ons geskryf en gesê by Villa Spa in die Suidkus kom jy as ’n vreemdeling aan, maar jy vertrek as ’n vriend. Ons het besluit om self te gaan kyk.

Dié oord is in dieselfde straat – Elizabethlaan – as Natalia en die ingang sowat 400 m verder. Die twee kan nie méér verskil wat atmosfeer betref nie. Waar jy by Natalia van die een doending na die ander gaan, kom haak jy in dié plek met sy tuingevoel af om rus en vrede te kry.

Maar dis glad nie te sê daar’s niks te doen vir die kinders nie. Jy is net so naby aan die strand en hier is ook ’n mooi groot, verhitte swembad, trampoliens, ’n vlugbalbaan en klimrame. Hier is selfs ’n sauna as die KwaZulu-Natalse bedompige hitte vir jou nie warm genoeg is nie.

TUIS IN DIE TUIN. By Villa Spa kamp jy in ’n rustige atmosfeer onder groot koeltebome op ’n groen grasperk. Rus en vrede is hier die wagwoord, maar hier is wel ’n klompie doendinge vir die kinders.

Hier is digby 40 genommerde en afgebakende staanplekke, almal met gras en die meeste met koelte. Die groot bome en struike stuit die wind en jy is nie so erg aan die elemente oorgelewer nie. Die staanplekke is groot genoeg vir die grootste waens, en wanneer jy aankom, staan die oordpersoneel flink nader om te help met die tentopslanery.

Jy kamp op gras, en as jy in die reëntyn hier kom staan, moet jy voorsiening maak vir jou hoekstutte en neuswiel wat dalk in die grond kan wegsak. Die personeel is ook hierop bedag en hou ’n baksteen of plankie gereed wat jy onder jou hoekstutte kan sit.

Die vriendelikheid van die mense is noemenswaardig: Sommer uit die staanspoor weet jy hulle is bly om jou hier te hê.

Jy kry ’n kragpunt (gewone huissok) en ’n satellietskottelkoppelpunt op jou staanplek, maar jy moet ’n verlengkoord van minstens 20 m saambring. Krane en vullisdromme staan deur die kampterrein versprei, maar is nie verder as 30 m se stap van jou staanplek af nie. Hier moet jy ook jou eie braaier saambring, en jy mag nét met houtskool vuurmaak. Los dus maar die hardekool by die huis. As jou braaier om een of ander duistere rede tuis gebly het, kan jy een huur.

Die vriendelikheid van die mense is noemenswaardig: Sommer uit die staanspoor weet jy hulle is bly om jou hier te hê.

Ontspan, man!

Die swembad is die groot attraksie by Villa Spa. Rondom dié verhitte water staan ’n klomp leunstoele waarop jy jou met > jou boek kan tuismaak. Langsaan is die speletjieskamer, snoepie en ’n televisiekamer waar jy darem kan bybly met die doen en late van die Binnelanders.

Die speelparkie is aan die regterkant van die kampterrein, en hier is ook ’n gemeenskaplike braai as jy daar jou vuurtjie wil gaan maak terwyl die kinders op die trampoliens spring. Jy kan ook langs die swembad gaan braai.

Jy kan nie die see sien nie (jy kan hom wel hoor) en die stappie daarheen is effens verder as by Natalia – en nie regtig iets vir die oog nie. Die treinbrug loop langs ’n vervalle treinstasie verby en met ons besoek was daar baie rommel op die brug. Jy kry ’n kode vir die veiligheidshek aan die strand se kant wanneer jy inboek. Vat jou visgerei saam en gaan kyk of jy elwe of steenbras aan jou hoek kan kry. Die mense wat weet, sê jy kan hier ook, afhangende van die seisoen, groter vis soos leervis, snappersalm en gryshaai uittrek.

Joan en Dave West van Vanderbijlpark sleep hulle Sprite Sprint met ’n Ford Ranger 2.2. Hulle sê: “Ons kom kamp gereeld hier. ’n Mens voel tuis en die vriendelike personeel wek die indruk dat niks vir hulle te veel moeite is nie. Ons waardeer ook hulle bereidwilligheid om met die tentopslanery te help. Die ablusiegeriewe is skoon en netjies, net soos by die huis.”

Gerieflikheidshalwe

Hier is twee ablusieblokke in die kampterrein, maar die een was met ons besoek gesluit. Die een wat oop was, is aan die bopunt van die kampterrein, agter die ontvangskantoor. Die gebou is modern, van die vloer tot die dak geteël, en het aparte geriewe vir mans en vroue. Hier is drie toilette, by die manskant drie urinale, en drie wasbakke met spieëls en handeseep by elkeen. Agter die wasbakke is ’n tafel met ’n spieël waar jy jou skeersakkie en handdoek kan neersit terwyl jy jou kuif kam.

Langsaan is een van daai masjiene waarmee jy jou hande droogblaas.

In die gang af is vier storte waar jy jou skoonskrop ná ’n dag langs die viswaters. Die storthokkies is groot en die gordyn pla nie te veel nie. Die stortkop sit in die hoek van die hokkie; dus het jy lekker baie plek om te was. Die droë deel is groot en hier is ’n bankie om op te sit met drie hake bo en een langs die stort vir jou handdoek.

Aan die buitekant van die ablusieblok is plek om jou kassettoilet uit te spoel, en om die draai van dié is ’n gesinsbadkamer met ’n stort, bad en wasbak. Die opwasplek, met drie dubbelwasbakke – mét proppe en selfs ’n afdroograk – is aan die agterkant van die ablusieblok.

'n Netjiese affêre. Villa Spa is 'n intieme kampterrein met netjiese geriewe. Alles van die klimrame en trampoliens tot die ablusieblokke en braaigeriewe by die verhitte swembad kan 'n mens deur 'n ring trek. Die oordpersoneel kom loer ook daagliks in om te hoor of alles reg is.
’n Netjiese affÊre. Villa Spa is ’n intieme kampterrein met netjiese geriewe. Alles van die klimrame en trampoliens tot die ablusieblokke en braaigeriewe by die verhitte swembad kan ’n mens deur ’n ring trek. Die oordpersoneel kom loer ook daagliks in om te hoor of alles reg is.

Kortliks : Villa Spa

Kampplek 40 staanplekke, almal met gras en die meeste met koelte. Ablusiegeriewe Modern en skoon.

Prys R160-320 p.p.p.n. afhangende van die seisoen (R85-R200 vir kinders 2-18 jaar). ’n Minimumtarief van R320-R960 word toegepas.

Aankoms- en vertrektyd 11 vm. en 10 vm., tensy anders gereël.

Kontak 031 916 4939 villaspa.co.za

Naaste dorp Winklespruit, 3 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot hier.

GPS S30.117947 E30.848121

Weg Ry & Sleep sê Jy kry ’n skyfie om die ingangshek na-ure oop te maak – jy betaal ’n R100-deposito daarvoor.

Hiermee het ons gesleep Nissan Navara 2.3D LE 4x4-dubbelkajuit (outomaties)

Prys Vanaf R587 900

Enjin en ratkas 2,3 l-dieselenjin met ’n sewespoed- outomatiese ratkas.

Maksimumkraglewering 140 kW @ 3 750 r.p.m.

Maksimumwringkrag 450 Nm @ 1 500-2 500 r.p.m.

Brandstoftenk 80 l

Netto gewig 1 881 kg

BVM 2 910 kg

Wat het ons gesleep? Sprite Tourer SP

Tarragewig 1 081 kg

BVM 1 370 kg

Sleepspoed 105 km/h

Brandstofverbruik 12,5 l/100 km

Plus  

  • Die gesinchroniseerde turboaanjaers onder die enjinkap sorg dat die Navara nie skrik vir sleep nie. Jy voel sy krag van die wegtrek af.  
  • Die outomatiese ratkas verwissel seepglad, en as die spoedbeheer aan is, weet jy nie eens wanneer hy tussen die ratte speel nie.  
  • Die koppelprop het sy eie lig.  
  • Met sy krulvere agter ry hy – selfs met ’n wa op die haak – sagter as wat jy verwag.

Minus  

  • ’n Trukamera is altyd welkom vir ’n sleper, maar die beeld op dié een is nie die helderste wat ons al teëgekom het nie.  
  • As ’n mens meer as ’n halfmiljoen rand vir ’n ryding opdok, is dit seker nie te erg om vir parkeersensors aan die voorkant te vra nie.

Lees ons volledige sleeptoets met die Nissan Navara 2.3D 4x4 LE (handrat) op bl. 80. Weg Ry & Sleep het die Navara by Nissan Suid-Afrika geleen.