’n Mens sou dink dat jy geen stil strand in Desember sal vind nie. Tog is daar ’n hele paar strande waar jy gaan sukkel om genoeg mense bymekaar te kry vir ’n ronde strandkrieket. Dink maar aan die Weskus – het jy byvoorbeeld al van Trekoskraal gehoor. Of geweet dat die Rocherpan-natuurreservaat teen die see grens en jy hier in vrede kan baai saam met net ’n paar kormorante as geselskap?

Die Wildekus het ook hope strande wat heeljaar stil is. Hierdie foto’s is geneem op ’n staproete tussen Port St. Johns en Koffiebaai in die middel van die feesseisoen. Let op die tekort aan mense. 

Op pad na Mpande-strand. Foto: Dawie Verwey
Silaka-natuurreservaat, Port St. Johns. Foto: Dawie Verwey.
Mpande-strand. Foto: Dawie Verwey

Natuurlik kan jy nie sommer met jou Ford Fiesta uitkom by dié soort strand nie – waarskynlik die rede vir die stilte. Jy gaan ’n bietjie moet werk met jou voete vir die afsondering – ons het gestap saam met Jimmy Selani van Wild Tours (www.wildcoasthikes.com)

Mdumbi-strand, naby Koffiebaai. Foto: Dawie Verwey

Maar dis die moeite werd, want behalwe vir pret en plesierigheid moet ’n mens ook tydens ’n Desembervakansie ’n bietjie dinkwerk doen. Alleen, met net die branders, en ’n koei of twee om jou.

Ander strande vir afsondering: Koringkorrelbaai, Rocherpan-natuurreservaat, Smitswinkelbaai, Noetzie, Koppie-Alleen (De Hoop-natuurreservaat), Shelleybaai (Kenton-on-Sea), Hluleka-natuurreservaat, Tugelariviermond, Amatikulu-natuurreservaat

Laat weet ons van nog stil strande by esma.marnewick@weg.co.za