Foto’s Leon Botha

Skaars twee uur nadat jy die Kaap verlaat het, nog voor die kinders kan vra “Pa, hoe ver is dit nog?”, kry jy 16 km voor Swellendam die Jubileeskraal-padpredikant. Hier draai jy af op ’n plaaspaadjie, en dan strek die blou Langeberg oor die hele breedte van die windskerm. Dan is dit nog net 5 km voor jy uitkom by Kam’Bati, waar jy teen die Breërivier kamp opslaan en vir ’n naweek van die res van die wêreld kan vergeet.

Hier op Jubileeskraal boer die Badenhorst-familie met koring, gars, canola, soja en mielies. Die oorspronklike eienaar was Jacobus Cornelius Badenhorst, beter bekend as oom Batie. Toe die familie dus die kampplek op die been bring, het hulle dit Kam’Batie gedoop – kort vir kamp Batie.

Nuwe gesig

Natuurspieël. Asof die natuurskoon nie genoeg is nie, kry jy sommer ’n dubbeldosis daarvan soos dit in die rivierwater weerkaats.

’n Mens mag dalk op die plaas wees, maar hier is geen sig van houtskure vol hooibale en ’n geroeste ou trekker met pap bande nie. Inteendeel.

Die ontvangskantoor is bo teen die bult gebou van waar jy afkyk rivier se kant toe. Dis ’n mooi moderne gebou wat duidelik deur ’n argitek ontwerp is.

Omdat ’n mens vooraf ’n deposito betaal om jou staanplek te verseker is dit beter om nie sommer net hier op te daag nie. Die bestuur ken ’n spesifieke staanplek aan jou toe en jy hoef nie ’n oop gaatjie te gaan soek as sake besig raak nie.

Al die staanplekke is ordentlik afgebaken en duidelik genommer. Jy kan vir ’n spesifieke staanplek vra. 

Kam’Bati het nie ’n winkel nie, maar meer van ’n snoepie in die kantoor met onder meer braaihout (R35 vir ’n sakkie wattel, R40 vir doringhout en R50 vir houtskool) en vuuraanstekers. Hier is ook lekkergoed en roomys vir die kinders, en dan kruideniersware soos kitsnoedels, geblikte ertjies en selfs sjampoe.

‘Sports’ en ontspanning

Kam’Bati se ontspanningsgebied is regoor die kantoor, ’n gebou wat amper soos die brug van ’n skip uittroon.

Ook die tuin en swembaddens is behoorlik beplan deur ’n landskapargitek: Onder die kantoor is terrasse uitgelê, en die groen grastapyt lyk skoon kunsmatig só netjies is dit gesny.

Die swem- en speelplek pas ook slim bymekaar in.

Agter die kantoor staan ’n rantjie vol aalwyne, met nog ’n paar wat tussen die swembaddens aangeplant is. Soos jy van die kantoor af afkyk, loop drie waterglyplanke links af tot in die water van die een swembad. Die middelste swembad is net groter as ’n voorstedelike huisswembad en ’n gawe plek om van die hitte te ontsnap.

Nog ’n terras laer is die kinderswembad, wat ook na die grootste van die lot lyk. Ook hier is drie glyplanke. Dit is duidelik die oordmense verstaan die behoefte van kinders: Die swembad het aan die een kant nie ’n rand nie, maar word geleidelik vlakker, amper soos ’n strand.

Kinders hoef dus nie oor ’n rand te klouter nie. Dis veral prakties vir die heel kleintjies wat net op die kant van die water wil sit en spat en plas.

Langs die middelste swembad is ’n houtklimraam, met die minigholfbaan wat anderkant dit begin. Dit kos R20 om hier ’n rondte te speel.

Op die wal en elders

Die staanplekke strek ’n goeie halwe kilometer langs die Breërivier af. ’n Muur van bloekombome staan al teen die water af, wat lekker koelte oor die meeste van die staanplekke gooi.

Die staanplekke is opgedeel in blokke (van A tot E; die D-staanplekke is tot niet gemaak). Die A-staanplekke strek na links – hier staan ’n mens twee-twee langs mekaar en ’n grondpad loop tussen jou, die bome en die water. Van die staanplekke op die punt is in die oopte, maar jy het steeds ’n mooi grasperk.

By al die staanplekke is die kragpunt (gewone huissok) óf op jou staanplek óf naby. ’n Braaidrom is ook standaard op elke staanplek – ’n middeldeurgesnyde gasbottel wat los op ’n staalraamwerk pas. Onthou net om jou eie rooster te bring.

Die krane staan meer weggesteek en van hulle is gemerk as drinkwater. Die beste staanplekke – veral as jy wil karp, baber of baars sommer van jou wa se stoeptent af wil uittrek– is die eerste paar staanplekke van die B-groep. Hulle begin waar die inrypaadjie teen die staanplekke vasloop.

Hier is meer as genoeg uitspanplek: van jou staanplek tot op die waters van die rivier.

Hierdie staanplekke is voor die bloekombome en as jy nie pasop nie, kan jy die water inry, want jy staan reg op die wal. Omtrent die helfte van die res van die B-staanplekke lê weer agter die bloekombome, met die laaste sewe of wat in gelid langs mekaar tot teen ’n badkamergebou.

Dié staanplekke lê ’n meter of drie hoër op teen ’n bank en die watervlak is heelwat laer as jou staanplek.

Wees versigtig met die ingooislag, want die bloekomtakke hang laag.

Die C-staanplekke begin anderkant die badkamers en is soortgelyk as die laaste staanplekke van die B-blok.  Nog ’n goeie 20-plus staanplekke is voor die kantoor regs teen die bult in drie terrasse uitgelê.

Hulle is soortgelyk aan die C-staanplekke, maar hier is die bome meestal nog jonk. Dié staanplekke is bedoel vir die besige tye, wanneer die res vol is. Kyk dan of jy ’n gaatjie op die boonste terras kan kry, want hier is ’n paar groter koeltebome en dis ook langs die badkamers.

Was bo, in die middel en onder

Die gesinsbadkamer is tussen die B- en C-staanplekke en vir almal bedoel.

Kam’Bati het drie badkamergeboue. Die een is op die terras bo die eerste A-staanplekke, net verby die kroeg en digby die swembaddens. Die gebou se buitekant is in dieselfde styl as die kantoor en die afwerking binne is ewe modern.

Vierkantige keramiekwasbakke staan op ’n geteëlde blad met ’n groot spieël agter dit. Hier lê selfs ’n netjies opgevoude handdoek om jou hande droog te kry.

Die storthokkies is ekstraruim en het net ’n stortgordyn wat die kante skei. Die storthokkie se vloergedeelte is wel aaneen. As jy dus jou plakkies wil droog hou, sit dit buite die hokkie of op die bankie aan die droë kant.

Die badkamers het ’n dreineerpunt vir ’n kassettoilet.

Die badkamers tussen die B- en C-blok lyk ouer as die ander geboue by Kam’Bati. By die ingang is ’n bordjie wat sê dis ’n gesinsbadkamer. Maar dis nie soos gewone gesinsbadkamers met afsonderlike hokkies en ’n stort, toilet en wasbak in elkeen nie. Dis eerder ’n alles-onder-een-dak-storie.

Die toilette staan teen die linkermuur af, die storthokkies is teen die regtermuur af, en in die middel loop ’n muur met die wasbakke rug aan rug, elk met sy eie spieël.

Almal, oud en jonk, deel die geriewe. Moet jou dus nie boeglam skrik as jy vroegoggend hier instap en een die buurvrou staan met ’n haardroër in die een hand voor ’n spieël, die ander buurman skeer by ’n volgende wasbak, ’n pa en sy twee seuns spring onder dieselfde stort in en ’n ma kom roep die jongste om te hoor of hy “regkom” nie.

Die storthokkie het net ’n nat gedeelte, maar daar is darem ’n bankie binne. ’n Paar mense kan gelyk stort, en die gasgeiser skop dadelik in as jy die warmkraan oopdraai. Al die stortkoppe is hoog genoeg en sit direk bo jou kop – soos dit hoort.

As jy ná jou stort nie jou nat voete deur jou broekspype wil steek nie, sal jy met die handdoek om die lyf voor jou hokkie moet regkom.

Die badkamers is dus effens eienaardig as jy nie daaraan gewoond is nie, maar dit is prakties en dit lyk of geen kampeerder ’n oog knip daaroor nie.

Die opwasgeriewe is direk regs by die deur, maar hier is net een wasbak. Voor jy dus jou skotteltjie nader dra, kom kyk eers of iemand nie klaar besig is nie; hier is nie neersitplek as jy moet staan en wag nie. Ook hier is plek om jou kassettoilet leeg te maak.

Die E-staanplekke se badkamers is die kleinste, maar net so netjies as die ander afgewerk; ook met soortgelyke storthokkies.

Kry ’n spaan

Die ontspanningsgebied kan nie netjieser nie, en ’n mens kan sien die bestuur doen moeite om dit in stand te hou.

Al lyk dit of die Breërivier omtrent opgedroog het, dam dit voor Kam’Bati ’n goeie 50 m breed op. Bederf die kinders en huur ’n kajak vir ’n halwe dag.

Jy betaal ’n deposito van R200 plus R100 huurgeld. Die kajakke lê langs die kantoor en ’n mens moet eers ’n bietjie sweet voor jy kan roei, want dis ’n goeie 100 m water toe (en jy moet weer die bult uit met die kajak wanneer jy klaar is).

Boonop gaan jy iemand moet kry wat help dra. Die roei op die water vergoed daarvoor.

Die opgedamde water strek tot by die laaste staanplek van die E-kamp. Die water is skoon en plek-plek vorm hiasinteilande. Al is dit ’n indringer, is die plante se pers blomme lieflik.

Jaco en Debbie Wolmarans en hulle kinders, Dian (13), Arno (11) en Kristian (5), kamp saam met André Nell en sy twee seuns, Jayden (13) en Kody (11).
/
Dis wat dit kos (2 volwassenes en 3 kinders)

Brandstof @ 8,5 l/100 km en R13,27/l en 414 km (heen en weer) R466,97

Tolhek R71 Verblyf (2 nagte) R1 260

Kos R1 742,01

Groottotaal R3 539,98

Hiermee het ons gekamp

Renault Duster 1.5 dCI Dynamique 4x4

’n Mens sal dink die Duster is beknop vir ’n gesin van vyf, veral as jy nog ’n sleepwa haak met twee koepeltente, die naweek se kruideniersware én nog twee bergfietse – om nie eens te praat van al die matrasse nie.

Maar dis glad nie die geval nie. Die Duster se dieselenjin is heeltemal sterk genoeg vir sy grootte en sukkel nie om voete te lig teen die berge nie.

Die brandstofverbruik is werklik indrukwekkend – teen 8,5 l/100 km is brandstof omtrent die goedkoopste uitgawe vir ’n kampnaweek.

Met die waentjie afgehaak, maar steeds vyf mense in die Duster, verbeter die verbruik tot 5,7 l/100 km in stadsverkeer.

Krag 80 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 240 Nm @ 1 750 r.p.m.

Prys R309 900

Kortliks | Kam’Bati-rivieroord

Kampplek 96 staanplekke op groen gras. Die meeste het koelte.

Ablusiegeriewe 3 silwerskoon badkamergeboue – die verste wat jy gaan stap, is 230 m.

Prys R180 p.p.p.n. (R135 vir pensioentrekkers; R90 vir kinders).

Aankoms- en vertrektyd 10 vm. en 10 vm. (nie oor naweke buite seisoen nie).

Kontak  079 200 9098; marketing@kambati.co.za;  kambati.co.za

Hoe lyk die pad? Die laaste 5 km is ’n skaflike grondpad. Dis hier en daar klipperig, maar dis nie te erg as jy stadig sleep nie.

GPS S34.079968 E20.284537

Weg Ry & Sleep Die visse wat jy vang, moet teruggegooi word. Jy mag ook jou eie boot saambring, maar die enjin mag nie groter as 10 Pk. wees nie.