Foto's: Helenus Kruger

Secunda is nie juis ’n dorpie wat ’n mens met ’n waterfront sou vereenselwig nie. Hoëveldse vlaktes en steenkoolmyne ja, maar ’n waterfront? Nie maklik nie. Die inwoners sal egter vir jou ’n ander storie vertel.

Hier aan die buitewyke van die dorp, aangrensend aan huise, motorhandelaars en myntorings op die horison, lê die dorp se gewildste uithangplek vir oud en jonk. Die Lake Umuzi-ontwikkeling is langs twee damme in die Trichardtspruit.

Aan die noordekant is die Lake Umuzi-waterfront op die oewer van wat bekend staan as die “boonste dam” en aangrensend daaraan die Lake Umuzi-lodge en Merchant-hotel. Die kombinasie van restaurante, verblyf, geselligheidslokale en veral die gesinsvermaakplekke is immergewild.

Buiten die waterfront se voltydse vermaak word hier ook deur die jaar bier-, wyn- en musiekfeeste, ’n bergfietswedren én ’n sportfees aangebied. En sedert Oktober verlede jaar kan kampeerders sommer neffens al die pret hulle tent kom opslaan. Lake Umuzi-kampoase is splinternuut en lê aan die suidekant van die spruit, langs die “onderste dam”.

Die kombinasie van restaurante, verblyf, geselligheidslokale en veral die gesinsvermaakplekke is immergewild.

Kyk, jy kom nie hiernatoe vir ’n stil wegbreeknaweek om van die stad se rumoer te vlug nie; hier is eenvoudig net te veel aktiwiteite in en rondom die kampterrein. Die troue in die onthaalsaal oorkant die spruit gaan heelaand agtergrondmusiek vir die kamp verskaf, terwyl die gesuis van die kragstasie se skoorstene jou later aan die slaap gaan sus.

SPLINTERNUUT. Die kampterrein is tussen wilgerbome uitgelê, die minigholfbaan is naby en in die dam kan jy lyn natmaak en probeer om ’n karp aan jou hoek te kry. Hier is iets vir almal.

Kampplek

Vóór jy jou wa op die kampterrein se groen gras kan staanmaak, moet jy eers by die Merchant-hotel – waar die kampplek se besprekings hanteer word – gaan inboek. Hier kry jy ’n toegangspermit wat soos jou kar se lisensieskyfie lyk en wat jy teen jou ryding se voorruit moet plak.

Hulle stuur ook ’n SMS na jou foon toe met ’n selfoonnommer waarheen jy moet bel sodra jy by die kamphek kom. Die hek maak dan outomaties oop. As jy sleep, moet jy nie by die hotel se terrein inry nie maar eerder buite langs die straat parkeer. Die hotel se ingangshek is te smal vir ’n woonwa en selfs al maak jy dit tot binne, is daar nie omdraaiplek nie.

Die kampplek is vyf minute se stap van die hotel af, aan die oorkant van die spruit. Daar is ’n voetgangerbruggie oor die spruit en jy kan die kinders solank kampterrein toe stuur om ’n staanplek te deps.

Jy gaan egter óm die Lake Umuzi-ontwikkeling moet ry om by die kamp uit te kom. Sodra jy deur die hoofhek by die administrasiegebou is, lê die Lake Umuzi-kamp-oase onder jou. Die hek is op hoër grond en jy kyk af op die kampterrein.

Daar is ’n voetgangerbruggie oor die spruit en jy kan die kinders solank kampterrein toe stuur om ’n staanplek te deps.

In die somer lyk dit voorwaar soos ’n oase met die dam, grasgroen kikoejoegras en wilgerbome met hulle lang, slap takke wat in die wind waai soos arms wat beduie. Met ons besoek was die kamp nog splinternuut – hier en daar was hulle nog besig met die finale afronding.

Die gebou by die hek gaan as ’n ontvangskantoor en blyplek vir die kampbestuurder ingerig word. Die kouewaterswembad kry ’n warmwaterboetie en die badkamers kort nog enkele hakies en seepbakkies. Die bestuur het belowe alles sal teen einde Februarie voltooi wees.

Die 72 staanplekke is nie genommer of uitgemerk nie, maar die plasing van die braaiers en kragpunte maak dit maklik om jou staanplek se grenslyne te bepaal. Elke geboude braaier het twee braaiplekke, een vir jou en een vir jou buurman.

Die meeste staanplekke is 10 x 10 m, met ’n klompie teen die kante van die terrein wat effens groter is. Al die staanplekke is gelyk met ’n dik mat kikoejoegras. Sowat die helfte van die plekke kry koelte van die groot wilgerbome, terwyl die res in volson staan. Staanplekke word nie vooraf toegeken nie; dus sal jy vroeg moet opdaag as jy verkies om jou kamp in die koelte op te slaan.

BLYPLEK, SPEELPLEK, BRAAIPLEK. Op die meeste staanplekke is gras en koelte en by elkeen kry jy ’n betonbraai wat jy met jou buurman deel. Die waterwurm by Aqua Zone is vir oud en jonk om te geniet.

Die geboude braaiers het roosters, ’n werkoppervlak, ’n lig, ’n kraan en ’n vullisdrom. Die kragbokse is nooit verder as 10 treë weg nie (onthou om jou blou woonwasok in te pak). Pak ook jou braaier in as jy eerder voor jou tent wil braai.

Hier is drie ronde bomatipe braaiers met betonbankies tussen die staanplekke nader aan die dam se kant. Dit is nie soseer ’n gemeenskaplike boma vir alle kampeerders nie, maar eerder vir twee of drie pêlle wat daar naby kamp. Aan die westekant van die kampterrein, heel links soos jy ingegry het, is die Wilgerlapa op die dam se oewer. Jy kan die saal huur vir enigiets van ’n troue tot ’n kantoorpartytjie.

Met ons besoek was die kamp nog splinternuut – hier en daar was hulle nog besig met die finale afronding.

Langs die saal is ’n hoë betonblad met ’n staalraamstruktuur wat tydens musiekfeeste as ’n verhoog gebruik word. Hier word tot vroegoggend gedans, met groot name soos Francois van Coke, Just Jinger en Watershed wat die visse al hier wakker gehou het.

Wanneer die grasperk voor die verhoog nie volgepak is met feesgangers nie, kan woonwaklubs en groot groepe hier kom kamp. Dié stuk gelyk aarde is net groter as ’n rugbyveld en het 18 kragboksies met vier kragpunte en ’n lig by elk.

WAAR’S DIE KINDERS? Hier is ’n meneer van ’n klimraam in die kampterrein waar die kleintjies na hartelus kan klim en klouter. Gooi ’n kombers op die groen gras, bring jou boek en raak rustig.

Wasplek

Om te gaan was moet jy na die hoofgebou by die hek opstap. Die mans- en vrouebadkamers is onder die gebou, links en regs van die skottelgoedopwasplek. As ’n mens na die ruimte en uitleg van die badkamers kyk, kan heelwat kampplekke by Umuzi kom leer.

Die gemeenskaplike gebied tussen die storthokkies en wasbakke is ruim genoeg dat daar selfs in spitstyd genoeg beweegruimte sal wees. Nog ’n slim plan is die muur wat die toilet- en wasgedeelte in die ablusieblok van mekaar skei. Hier is wasbakke aan elke kant.

Die uitleg van die mans- en vrouebadkamers verskil, maar dit is steeds met dieselfde geriewe toegerus. Die grootte van die storthokkies is ook dieselfde. By die vrouekant is daar vier storte waarvan die nat en droë deel met ’n muur van mekaar geskei is. Die stort- en aantrekdeel is nie beknop nie.

Jy kan jou klere op die bankie neersit en jou handdoek aan die hakie agter die deur hang. Hier is ook twee badkamers met ’n bad en wasbak én dan ’n bababadkamer.

Die ses wasbakke word verdeel tussen die was- en toiletgedeelte (drie aan elke kant) en is in marmerblaaie met genoeg pakplek tussen die wasbakke.

Daar’s ’n spieël bo elkeen en jy hoef nie elke keer jou seep saam te dra nie, want handewasseep en papierhanddoek word verskaf. Die mans het sewe storte.

Die sewe wasbakke is soos by die vroue ook in marmerblaaie. Die baddens en wasbakke het nie proppe nie; dus moet jy onthou om jou eie in te pak. Die skottelgoedopwasplek is onderdak, by die ingang van die badkamers. Die ses dubbelwasbakke is ook in marmerblaaie met baie pakspasie langsaan.

Hier is ’n tweede klein ablusiegebou aan die kant van die kampterrein naby aan die dam. Jy kan nie hier bad of stort nie, maar daar’s ’n toilet en wasbak aan elke kant plus twee urinale by die mans. Jy kan lyf natmaak in die kouewaterswembad by die hoofgebou langs die badkamers se ingang. Die ronde swembad is 1,3 m diep.

’n Onderdakwarmwaterswembad is langs die kouewaterswembad in aanbou en sal eersdaags klaar wees.

Gaan speel by die waterfront

VIR DIE HELE GESIN. Jou staanplek is groot, hier is genoeg vir die kinders om te doen en jy is naby aan alles. Dit is al die bestanddele vir ’n heerlike wegbreeknaweek saam met jou geliefdes– en jy hoef nie ver te ry nie.

Die waterfront is die plek waar die dinge gebeur. As die kinders eers dié speelplek ontdek het, gaan jy hulle vir die res van die naweek nie sien nie. Sorg net dat hulle ’n paar rand in die sak het. Die roete soontoe begin aan die noordekant van die kamp en dit gaan jou ’n volle sewe minute tot daar neem.

Volg net die paadjie oor die spruit en deur die hotel se parkeerterrein tot jy deur die hotel se ingangshek is. Net buite die hek is ’n hekkie regs wat jou na die waterfront se terrein neem.

By Rocky Waters kan die jongspan hulle lyf Louis Oosthuizen hou op die 18 putjie-minigholfbaan. Die baan is op verskillende hoogtes uitgelê en daar is selfs ’n klompie watergate (R35 p.p.). By die Bowling Centre kan Pa en Ma hulle by die kinders aansluit en gaan balle rol, gooi en slaan.

By Rocky Waters kan die jongspan hulle lyf Louis Oosthuizen hou op die 18 putjie-minigholfbaan.

Die gesin kan kegelbal speel (R40 p.p.; R30 vir leerlinge; R20 vir die kleintjies), of, as jy ’n groep bymekaar kan kry, kan julle aksiekrieket of aksienetbal speel (vanaf R350 per groep).

Carnival Square, skynbaar die grootste klouterraam in Afrika, is hemel op aarde vir die jongspan (R50 per uur). Die speelplek is soortgelyk aan dié wat jy by gesinsrestaurante kry, net baie groter. Hier is meters en meters tonnels om deur te kruip, ’n groot put met balle en ’n mallemeule.

Skielik lyk die klimraam in die kampplek – wat self nie te versmaai is nie – sommer vaal. As jy op hoërskool is (of langer as 1,35 m), mag jy nie hier kom speel nie. En Pa of Ma moet ’n ogie hou oor kleintjies wat jonger as 2 jaar is.

Die waterspeelplek Aqua Zone is loshande die gewildste van al die waterfront se vermaak. As die deure teen 10 vm. oopmaak, staan hier reeds ’n lang ry opgewonde kinders en wag, en as jy eers teen middagete opdaag, moet jy jou maar regmaak vir ’n lang wag.

Die wag is egter die moeite werd, en as die kinders eers binne is, gaan jy hulle moeilik weer by die tent kry. Die babaglybaan sal die kleuters besig hou terwyl die ouer kinders die vinnige “Fast River Tube”-glybaan of Blou Mamba kan aandurf.

Die groot binnenshuise warmwaterswembad is baie gewild. Terwyl die kinders baljaar, kan die ouers solank op die grasperk die piekniekmandjies uithaal en ’n vuurtjie aansteek in die braaiers. As julle nie lus voel vir piekniek nie, is daar verskeie restaurante langs die dam waar julle iets te ete en drinke kan kry terwyl julle vir die kinders wag.

Die oopmaak- en sluitingstye van die verskillende plekke wissel na gelang van die tyd in die week en seisoen. Gaan loer by lakeumuzi.co.za vir oopmaaktye en telefoonnommers.

Dís wat dit kos (2 volwassenes)

Brandstof (95 oktaan-petrol) @ 10 l/100 km en R13,49/l en 360 km (heen en weer): R485,64

Tolhekke (heen en weer): R87

Verblyf (2 nagte): R400

Kos: R785

Groottotaal: R1 757,64

Kortliks: Lake Umuzi

Kampplek: 72 staanplekke, almal met gras, ’n braaier en krag. Sowat die helfte van die staanplekke is in die koelte.

Ablusiegeriewe: Ruim en nuut.

Prys: R100 p.n. per staanplek en R50 p.p. (maksimum 6 mense). Voorskoolse kinders kamp gratis en ’n ekstra voertuig op die staanplek is R50. Troeteldiere is R50 per dier.

Kontak: 017 631 3452/2441 of 087 233 5082; lakeumuzi.co.zawelcome@lakeumuzi.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm., tensy anders gereël.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die hek. Grondpaadjies tussen die kampplekke. GPS S26.515365 E29.176806 (Merchant-hotel se hek) S26.518393 E29.174848 (Lake Umuzi-kampoase se hoofhek)

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan in al twee Lake Umuzi se damme hengel en kyk of jy ’n swartbaars, karp of barber aan jou hoek kan kry. Jy moet egter die vis weer vrylaat nadat jy jou foto geneem het.