Sophia van Taak is deur St. Helena Tourism genooi om te kom kyk, en het ses redes gevind om die eiland te besoek.

Tot op hede was St. Helena vir die meeste Suid-Afrikaners ’n verlate vulkaanvratjie in die middel van nêrens, ’n plek met ’n skrapse Anglo-Boereoorlogverbintenis. Om die waarheid te sê, weet die meeste van ons seker maar danksy die destydse TV-reeks Arende ietsie oor dié eiland waar die held, Sloet Steenkamp, die Britse kaptein Kerwin se getreiter moes verduur. 

Net ’n handjie vol mense het dit as ’n potensiële vakansiebestemming oorweeg – grotendeels omdat dit bykans vyf dae ter see (en nóg vyf dae terug!) geneem het om met die RMS St. Helena soontoe te vaar. 

Maar hoekom sal ’n mens soontoe wil gaan? Wel, ná skaars ’n week op St. Helena  kan ek ’n lys redes so lank soos my voorarm uitryg. Hier’s ’n paar:

1. Jy’s in ’n japtrap daar

Vlieg vanoggend, eet vis en chips vanmiddag.

South African Airways is die enigste lugdiens wat nou op ’n Saterdag ’n vlug uit Johannesburg bied. Jy kan nou die oggend hier op ’n vliegtuig klim en teen middagete reeds in Jamestown met ’n roomys sit.

Kyk, dit is nou nie goedkoop nie (vanaf R13 577 p.p. retoer), maar waar ’n mens in die ou dae vir ’n week lange vakansie op St. Helena drié weke se verlof moes insit om met die posskip daarheen en terug te vaar, het jy nou net vyf werksdae nodig.

Daar is heelwat kritiek oor St. Helena se peperduur lughawe (dit het die Britte £285 miljoen gekos!) gelewer: Die aanloopbaan lê verkeerde kant toe; die dwarswinde gaan ’n vliegtuig in die see pluk… En ek moet erken: Almal aan boord se palms het maar ’n bietjie gesweet toe ons onder die wolke uitkom en daardie mensgemaakte platform bo-op die vulkaniese berg sien, met die landingstrook wat letterlik van krans tot krans loop.

Maar wees gerus - die landing was niks onstuimiger as een in ’n Gautengse donderstorm nie!

2. Dinge is maklik en verbasend bekend

Hoewel die dialek waarin die Saints met mekaar kommunikeer haas onverstaanbaar klink, praat hulle met besoekers Oxford-Engels.

Die ganse eiland is maar so groot soos ’n halwe Bloemfontein en die sowat 4 500 inwoners ken hom só goed dat jy met vrymoedigheid vir enigeen kan rigting vra. Verder is plekke soos die toerismekantoor en museum ook goed toegerus met trosse brosjures en kaarte – jy sal moet moeite doen om hier te verdwaal.

Hoewel St. Helena Britse grond is, het jy slegs ’n korttermyn-visum nodig en met jou Suid-Afrikaanse rybewys in jou broeksak, kan jy ’n motor huur (sowat R280 per dag, maar hier is ook taxi’s en ’n paar bussies wat sekere roetes bedien) en self die eiland verken.

Die ganse eiland is maar so groot soos ’n halwe Bloemfontein en die sowat 4 500 inwoners ken hom só goed dat jy met vrymoedigheid vir enigeen kan rigting vra.

Hier geld drie verkeersreëls: Jy mag nie vinniger as 50 km/h ry nie; hou links; en toeter om die draaie. 

Die paaie is baie smal en steil, maar die Saints is vriendelike, toeganklike mense en maak dit hul prioriteit om te sorg dat jy dié beste en mooiste van hulle tuiste ervaar. 

Net soos wat die Boere-krygsgevangenes destyds deur die plaaslike inwoners – op aandrang van goewerneur Sterndale – hartlik ontvang is, word jy met ope arms verwelkom. 

Die Boere-begraafplaas.

Dis vir niemand moeite om ’n ent terug te stoot sodat jy kan verbykom nie. Op straat word jy ook pal gegroet met ’n vrolike “Hiya!” (of in die mans se geval, “Hiya, luv!”).

Dis ’n veilige plek. Die mense traak nie om hul motors te sluit nie. Hulle los soms selfs die sleutel in die aansitter. En jy kan saans in Jamestown se straatjies ronddwaal sonder om oor jou skouer te loer. O ja, en die kruidenierswinkels verkoop meestal Suid-Afrikaanse produkte – ek het selfs Steri Stumpies gedrink!

3. Die beste vis-en-tjips… én koffie!

Die see rondom St. Helena wemel van die tuna, wahoe, paling, swaardvis, barracuda, grootoog en klipkabeljou.

Hier’s nie baie restaurante nie, maar almal bedien daagliks ’n visdis en die Saints maak ook die allerheerlikste viskoekies.

Hier’s ’n paar klein koffieplantasies op die eiland. Jy kan Bill en Jill Bolton se Rosemary Gate-plasie besoek om te kyk hoe dié boeretroos van enkel-oorsprong verbou en verwerk word.

En dan gaan sit jy by hulle koffiewinkel onder in die hawe en teug aan ’n koppie terwyl jy kyk hoe seiljagte en vissersbootjies kom en gaan.

James Bay-hawe.

4. Lekker weer, goeie tye

Hoewel ’n mens in een dag onder in Jamestown by die hawe in die son kan bak, ’n halfuur later in die berge ’n buitjie reën aantref en dan met die omry na die westekant toe sommer in digte mis verdwyn, bly dit steeds lekker T-hemp-en-plakkies-temperature. 

Dit beteken jy kan heeltyd buite speel en hier’s heelwat opsies: ’n stuk of twintig “Post Box”-dagstappe strek wyd en syd oor die eiland. (Elkeen het ’n posbussie met sy unieke inkstempel in waarmee jy die uitstappie in jou dagboek kan verewig.) St. Helena het nie wilde diere of slange nie, dus kan jy met ’n geruste hart die voetpad vat. 

Neem 'n selfie saam met die walvishaaie. FOTO: Beth Taylor.

Jy kan ook aanmeld vir ’n see-ekskursie en saam met walvishaaie swem, saam met plaaslike hengelaars lyn natmaak of by die agt skeepswrakke aan die westekant gaan snorkel. Onthou, die plek is subtropies, so die water is warm en die berghange ruig en skaduryk.

Plantation House.

5. G’n tekort aan besienswaardighede nie

Iemand het groot geld belê om Longwood House, waar Napoleon die laaste maar jaar van sy lewe in aanhouding deurgebring het, te bewaar.

Die versameling oorspronklike meubels, dokumente en persoonlike items hier te sien laat jou regtig voel of die groot man homself nog hier teenwoordig is en nou-nou vir jou ’n glasie soet Constantia gaan aanbied. 

Fort Knoll.
Ontmoet vir Jonathan.

Dis egter nie die enigste plek wat ’n besoek werd is nie. Die goewerneurswoning, Plantation House, laat ook besoekers toe én jy kan die troppie reuse Aldabra-skilpaaie ontmoet.

Dan is daar nog die Knoll-fort, die Boere-begraafplaas, die kasteel, die museum, Jacob’s Ladder met sy 699 trappe, talle ou kerkies…  Jy gaan nooit verveeld wees nie. 

Jacob's Ladder
Dis 'n stapparadys.

6. Jy voel gedurig soos ’n ontdekkingsreisiger

Toe ek die eiland die eerste keer vanuit die vliegtuig gewaar, kon ek my nie indink hoe die eerste matrose wat hier voet aan wal waag sit het, moes voel nie. Van ver af sien jy slegs die nors, onherbergsame kranse.

Maar stap van sy soom af in die klowe op, en St. Helena raak een van die mooiste plekke wat ek nog ooit gesien het. Die plantegroei is só groen! Die lug is só blou!

Ek sweer, my oë het skoon getraan daarvan. 

Groot dele van die eiland is nog ongerep en jy snak keer op keer na jou asem wanneer jy oor ’n hoogtetjie kom en ’n nuwe uitsig die eerste keer aantref.

Die landskappe is dramaties, die teksture oorweldigend: onder in Jamestown die verbrokkelende klipgeboue en ou hortjies; diep in die woude bamboesbosse en fyntjiese vlinders… Ek wou álles afneem!

Ek het eendag, nadat ek eers seker gemaak het daar is niemand naby nie, soos Julie Andrews in ’n grasveld tussen ’n klomp koeie in die rondte getol en gejubel: “The hills are alive, with the sound of music!” Dalk was dit maar net die oormaat suurstof van al die vet chorofilselle om my. 

Roads Ladder Hill

Maar dis juis die afsondering in hierdie gesonde natuurskoon – jy ry ’n hele middag rond sonder om ’n ander siel aan te tref – wat ’n mens laat voel jy’s dalk die eerste regoploper wat hierlangs verken.

Dis net jy, die boomvarings en die gekik van onsigbare paddatjies.

’n Week is eintlik te kort om alles van St. Helena te ervaar. ’n Plek het my lanklaas sintuiglik só oorrompel, die aand terug in Johannesburg het ek selfs ’n bietjie gehuil. Dis nou al weke later, en steeds sit my hart 3 000 km noordwes van hier teen ’n berghang ’n nimmereindigende uitsig en bewonder.

* Sophia het as gas van St. Helena Toerisme (sthelenatourism.com) gereis. Lees in die volgende paar uitgawes meer oor haar avonture op die eiland.