"Ek deel graag dié foto van ’n gesinsvakansie uit 1932. Ek was toe maar vier jaar oud en ons was van ons tuisdorp, Calvinia, af op pad Kleinmond toe vir ons jaarlikse tien dae lange uittog oor Kersfees en Nuwejaar.

"Toe ons by die Tankwarivier kom, was dit oorstroom en moes ons twee nagte oorbly en wag dat die watervlak daal. Ons kon nie met ons pakkasie (een lorrie en een mouterkar, vol kamptoerusting en kos en ’n hond en ’n kat) deur die rivier nie.

"Dit was vir my tog te lekker – ek het daarvan gehou om in die veld te stap, klippe van alle kleure en soorte op te tel en klip-klip te speel. Dit was koud daardie Desember – kyk net ons warm klere. My ma, Bella Lombard, was ’n gebore Villiersdorper en het gelukkig voorsien dat dit daai tyd koud mag wees – slim vrou!

"Ons het lekker by die see gekuier en met die omdraaislag was alles weer kurkdroog. Toe is dit voet-in-die-hoek Calvinia toe!

"Dit voel sommer soos nou die dag!"

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com