Moenie dat die Skurweberg jou ontmoedig nie. Hierdie deel van Mpumalanga, tussen eManzana (Badplaas) en eNtokozweni (Machadodorp), kan hoogstens as heuwelagtig beskryf word.

Daar is twee sirkelroetes op die Wathaba-plaas – die 4 km lange Bosbok- en die Lynx-roete (10 km). Jy hoef nie vir een van die twee juis topfiks te wees nie. ’n Naweekstap genaamd die Bloutrein loop ook oor ’n aangrensde plaas en kan aan die die Wathaba-roetes gelas word. Stappers kan kies tussen drie basiese stapkampe aan die Schoonspruit of twee selfsorghuisies met effe meer luukshede ’n entjie hoër op teen die berg.

Daar is baie stroompies en fonteine in die omgewing wat die 480 km lange Komatirivier voed. Dié waters eindig in die Vygeboomdam, waarvandaan dit verder oos loop en uiteindelik in Maputobaai in die Indiese Oseaan uitmond.

“Hier is sewe watervalle op die plaas en die meeste bergstrome loop heeljaar, selfs regdeur die droër wintermaande,” sê Wathaba se bestuurder en natuurbewaarder, Christia Newbery.

Die staplegende en roete-ontwikkelaar Albert Bossert het Bosbok en Lynx in 2007 uitgelê. Net ’n handjie vol van die manne wat die taak saam met hom aangepak het, het dit enduit deurgesien. “Albert-hulle was net twee dae aan die gang toe van die ouens begin wegglip – kwansuis om ’n bietjie te rus. Ons het hulle nooit weer gesien nie,” sê Christia. “Om die voetpaaie skoon te maak en rotse uit die pad te skuif was hárde werk!”

Die enigste roetebouer wat saam met Albert vasgebyt het, is Sijila Msitini. Hy werk vandag nog op Wathaba. “Sijila snoei gereeld die plantegroei langs die staproetes,” vertel Christia, “en dit neem hom omtrent vyf dae om die Lynx-sirkel skoon te maak.”

Dankie, Sijila en Albert, dat julle hierdie berge so toeganklik gemaak het. Hark ’n paar vriende bymekaar en mik vir ’n naweek Wathaba toe – vir vars lug, veld en vreugde!

Naby Wimpie’s View drink stappers gewoonlik koffie en tuur uit oor die Skurwebergpas (R541) wat na Vygeboomdam loop. Foto: Hancu Louw

DAG 1 : 10 KM, SOWAT 5 UUR

’n Stel sigsagleertjies bring stappers by die onderpunt van Varingval

Lynx-sirkelroete

Die roete loop antikloksgewys en volg aanvanklik die Schoonspruit voordat dit in ’n klofie uit die rivier wegdraai en stappers tot bo-op ’n plato lei. Ná sowat 1 km se taamlike gelykte, klouter ’n mens in ’n ánder kloof af en oorkant dit weer teen die volgende heuwel uit voordat die paadjie begin terugkrul na die beginpunt. Die roete is duidelik gemerk – volg net die geverfde rooikatspoortjies.

Dis strelend om met die gekabbel van water neffens jou te stap... Dis nie lank nie of ons kry die eerste van vele bakens langs die Lynx-roete – Stefan se Brug. Anderkant dié houtbrug volg ’n stukkie woud en dan nog twee brûe – die een kruis die Fertility Falls, die ander een lei jou tot by ’n uitkykpunt waar die water hier voor jou stewelpunte oor rotstrappe na benede stort. Kyk om jou rond – oral teen die hange staan aalwyne wag.

Heelwat van die bome op die roete is gemerk: kranskwar, bloughwarrie, kershout en kiepersol is volop. Daar’s ook baie swartwattelbome op die plaas – Christia voer ’n nimmereindigende stryd teen hierdie indringer en kap die bome af en verkoop dit as vuurmaakhout. Hoewel dié bome kosbare water opslurp, verskaf hulle darem plek-plek mooi skadukolle – veral wanneer hulle vol donserige geel blommetjies sit.

Knap verby die 1 km-merk steek ’n mens die Cabbage Tree Bridge oor en kort daarna volg nog rotsterrasse waaroor die spruit stroom. Ons skarrel deur ’n wattelbos op, wriemel deur ’n gaping tussen ’n paar rotsblokke en ’n hoë ysterhoutboom en volg dan ’n stel sigsagleertjies tot aan die onderpunt van ’n waterval. Dis asof die leertjies die kliptrappe in die ravyn probeer naboots.

’n Bordjie dui ’n kortpad na die Bloubos Retreat-selfsorghuis aan, maar ons hou verby en klim deur die Lynx-vallei teen die berg uit. Hier lê wraggies kuttels van die ontwykende rooikatte na wie die roete genoem is!

Nes ek wil begin warm kry, swenk die voetpad weer onder bome in en veral ’n massiewe witpeer naby ’n fonteintjie val my op. Ons hou steeds aan, kloofop tot by Laaste Water waar ’n mens (om en by die 3 km-merk) waterbottels moet volmaak.

Met dié swaarder vraggie in ons dagsakke mouter ons vir die volgende halfuur teen die suidoostelike hang van die berg uit. Daarna is dit ’n kort maar steil stukkie klouter tussen groot rotspilare deur tot bo-op die plato. Daarsy! Ons is halfpad. Hier’s heelwat gawe rusplekke om van te kies en ons besluit om by Wimpie’s View (ook bekend as Miep’s View)die koffie en beskuit uit te haal.

Ná die blaaskans stryk ons verfris aan, daal af in ’n klofie en klim dan nóg ’n hoogte uit terug bo-op die plato. Maar die pad bly nie lank bo nie: By Barry’s Cliff neem ’n stywe afdraande ’n mens terug tot onder in die Schoonspruit se vallei.

Nóg mooi dinge volg – ’n geelhoutbos en dan twee watervalle. Die Cascades Waterfall is nie danig hoog nie, maar pragtig: Die val begin in ’n smal baan en sprei dan al hoe wyer oop namate dit tot in ’n breë poel afloop. As dit net effe warmer was, sou ek dalk inspring!

’n Lang leer help jou teen die Feetjieval uitklim en kort voor lank staan ons weer bokant die kloof.

Van hier af is dit ’n gemaklike afdraande deur grasveld terug beginpunt toe. En dan: ’n warm stort by die Waterbessie-hut!

Wees op die uitkyk vir die tamaai bome langs die roete, soos die berghardepeer, witpeer, ysterhout en kiepersol.

DAG 2 : 4 KM, SOWAT 2 ½ UUR

Op warm dae bied die bergpoel by Bald Ibis Gorge ’n welverdiende lafenis.

Bosbok-roete

Die Bosbok begin op dieselfde plek as die Lynx. Dis heelwat korter, maar ’n kuitbytklim teen die Schoonspruitvallei se helling uit. ’n Mens volg die stroom heelpad in ’n kloof op, en keer met dieselfde kloof langs terug. Die roete is met geverfde bokkloutjies gemerk.

Ons het die spruit skaars oorgesteek toe die klimmery begin. Maar voor ek nog kan dink aan myself bejammer, lewer die dag sy eerste verrassing op: slegs ’n kwartier van die beginpunt af staan ons aan die bopunt van die Wathaba Rainbow Falls en vergaap ons weer eens aan hierdie waterryke landskap.

Van bo af moet ons met ’n lang leer tot onder in die kloof klim waar ’n plankiespad bos-in lei. By Jakkalsdraai trap ek byna op die oorblyfsels van ’n duif – waarskynlik die werk van daai einste jakkals.

Lere en nóg lere laat ons al hoe verder die bebosde berghang uitklim voordat ’n deel van die roete genaamd Zig Zag ons terugvat water toe. Dan is dit wéér teen die helling uit tot in die Feetjiewoud.

Dis vandag se halfpadmerk en ons vertoef ’n rukkie onder ’n withoutboom voordat ons weer die vallei invaar – hierdie keer deur die Bald Ibis Gorge.

In die lentetyd broei die bedreigde kalkoenibis teen hierdie kranse. Onder in die ravyn wag ’n lekker swempoel, en hierdie keer is ek dapper genoeg!

Op die 2 km terug beginpunt toe kruis ons die stroom nog ses keer oor stewige bruggies en net verby Laaste Brug steek ek vir oulaas vol ontsag in my spore vas – dié keer om ’n enorme kiepersol te bewonder en die Wathaba Rainbow Falls uit ’n ánder hoek te bekyk.

Dankie Wathaba, wat ’n vreugde om jou te leer ken.

Die Bosbok-roete loop langs die Schoonspruit, maar soms kronkel die pad deur die woud.
By die Waterbessie-hut hou flonkerende sterre jou geselskap pleks van stadsliggies.

Bloutrein-roete

Dié tweedagroete verbind die Bloubos Retreat met ’n kamp genaamd Pongola Express op ’n plaas langs Wathaba. Pongola Express is deel van die High Five-staproetenetwerk (voorheen bekend as die Noem-Noem-roete) en stappers oornag en kuier in gerestoureerde treinwaens (met gemeenskaplike kombuis en ablusiegeriewe). “

’n Maksimum van tien mense kan by Bloubos begin, ons Lynx-roete in die teenoorgestelde rigting stap en dan aanhou tot by die trein. Dis ’n stap van sowat 10 km,” verduidelik Christia. “Die volgende dag stap ’n mens die 7 km lange Kokoboom-sirkelroete van Pongola af.”

Die Bloutrein-roete kos R500 p.p. vir die naweek indien jy van die slenterstapopsie gebruik maak of R440 p.p. as jy alles op jou rug saamdra (Bespreek by Wathaba of Escarp Adventures 082 950 2417; hikehighfive@gmail.com).

“Dis ’n goeie oefenlopie vir stappers wat voorberei vir ’n meerdagstap soos die Otter of Visriviercanyon,” reken Christia.

’n Koppie boeretroos by die Waterbessie-hut om die dag te groet.
WEET VOOR JY WAAI

Waar? Wathaba is sowat 20 km van eNtokozweni (Machadodorp) af langs die R541, soos wat ’n mens eManzana (Badplaas) toe ry. Dit is omtrent drie uur van Johannesburg of Pretoria af.

Terrein: Nie van die moeilikste nie. Die paadjies is goed uitgelê, maar ’n mens klim wel op en af in ravyne en kruis gereeld ’n stroom.

Blyplek: Die drie kampe teen die Schoonspruit het hidrokrag vir die ligte en ’n donkie vir warm water. Elke kamp het ’n buitebraai en ’n gemeenskaplike ablusieblok. Bottlebrush Haven staan eenkant. Dit het drie slaapkamers (met slaapplek vir 16) en die ablusie is nabygeleë (by die ander twee kampe is dit ’n entjie se stap weg van die kamers).

Waterbessie is ’n groot houthut (met slaapplek vir 12) met seilvensters en ’n binnebraai. Dis die enigste kamp met ’n toegeruste kombuis; by die ander twee is slegs gietysterpotte om oor die vuur kos te maak. Kiepersol staan die verste stroomaf en het vier kamers (met slaapplek vir 24).

Die twee selfsorgeenhede is hoër op teen ’n hang. Mountain Creek Cabin het een kamer met slaapplek vir twee volwassenes en twee kinders; Bloubos Retreat het drie kamers met slaapplek vir maksimum tien mense.

Koste: Hierdie is die pryse per persoon. Maar onthou, elke blyplek het ’n minumum bedrag per aand, byvoorbeeld Waterbessie: minimum 6 mense; dus R1 500 p.n. En alle blyplek moet vir ten minste twee nagte bespreek word.

Bottlebrush (minimum 6 mense) en Kiepersol (minimum 12 mense): R240 p.p. (R180 per kind).

Waterbessie: R250 p.p. (R190 per kind). Bloubos Retreat (minimum 4 mense): vanaf R300 p.p. (R200 per kind) sonder beddegoed. Mountain Creek Cabin (minimum 2 mense): R390 p.p. (R200 per kind). R100 p.p. vir dagbesoekers. Die blyplekpryse sluit die stappermit in.

Beste tyd: Wathaba is veral gewild in die somer. Die staphutte kan in die winter koud wees omdat die son net vir ’n kort tydjie heel onder in die kloof skyn. Jy hoef niks behalwe water en peuselgoed op die staproetes saam te dra nie – laai dus maar net genoeg slaapsakke en komberse in die kattebak!

Wat nog? Christia voorsien ’n lywige vrag hout, maar jy kan nog ’n kruiwavrag teen R40 aanskaf.

Kontak: 079 877 6909; wathaba.co.za

O, die donkie is ‘n wonderlike ding! Die een maak water warm en die ander drie kom groet die stappers.
Ontmoet vir Christia

“Hier by Wathaba boer ons met vuurmaakhout en stappers,” skerts Christia Newbery. En sy hou haar hand op al twee bene van die “boerdery”.

Christia se ma, Wimpie Rauch, het in 1984 hier kom woon. Haar pa, Frits, het as narkotiseur in Pretoria gewerk. Maar die stad was vir Wimpie te benoud. “Sy wou ’n plaas hê, toe koop my pa vir haar hierdie plek met sy sewe watervalle in die berge.” Christia het drie susters en ’n broer. “My ma het die jongste drie saamgebring Wathaba toe en hulle was op kosskool op Belfast. Ek was teen daardie tyd al op pad universiteit toe om natuurbewaring te studeer.”

Sy het 21 jaar in dié veld gewerk voordat sy 13 jaar gelede plaas toe geskuif het om met die swartwattelprobleem te kom help. Sy werk steeds as ’n konsultant, en stel ook soogdierspesielyste saam vir reservate.

Van soogdiere gepraat... Op Wathaba loop onder meer rooikat, jakkals, duiker, vaalribbok, bosbok, bosvark, blouaap en bobbejaan. En Christia se sewe mak donkies. “Die donkies is net hier vir die stappers. Party mense het nog nooit ’n donkie gesien of aan een gevat nie.”

Wimpie is laasjaar in die ouderdom van 78 oorlede.

“Die mense kon my ma nie uitpluis toe sy in die 1980’s hier aangeland het nie. Dié vrou wat stoksielalleen in die berge woon en haarself saans in ’n sinkbad onder die sterre was. My ma het lang slooprokke gedra en seker na ’n hippie gelyk!

“In die week was sy so alleen soos haar vinger op die plaas – die kinders het slegs naweke huis toe gekom. Maar sy was nooit verveeld nie.

Sy het haar eie koeie gemelk en ’n indrukwekkende groentetuin aangelê.”

Langs die staproetes sal jy die familie en ook van hulle vriende beter leer ken. Buiten Wimpie’s View is daar oor Guise se Swemgat, André se Kruising, Christia se Uitsig en nog wat.

“Ons het spesiale plekke in die klowe en op die berg na my sibbe en ouers genoem. Hier en daar is ’n kêrel se naam ook ingespan – van hulle is nou al lankal ekskêrels!” sê Christia laggend.

Sy geniet die staproetes, maar haar gunstelingterrein is plat veld. “Ek het die Tankwa-Camino al sewe keer gestap. Dis die roeterekord tot op hede. ’n Mens stap 250 km oor 10 dae. Dís my soort staproete!”

Christia Newbery, Wathaba se bestuurder, is ’n bewaringskundige en diereliefhebber. Op die plaas woon onder meer sewe mak donkies.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook