Foto's: Ronel Steyn

Teken in op ons YouTube-kanaal om ons nuutste video's eerste te sien.

Stap is goed vir die mens. Dis nóg beter as jy in die natuur stap. En hoe meer ongerep die omgewing – van berg en bosveld tot woud en woestyn – hoe beter. Maar ’n staptog langs die strand, deur kusfynbos, is my hart se punt.

Dis ’n buffetete vir die sintuie. Jy ruik sout op die bries, ryp bamboes en fynboskruie soos die heuninggeur van blombos. Onder jou voete knars sand en skulpe, bo jou krys die meeue tussen die geklots van die branders.

As jy jou weer kom kry, is jy ver agter jou stapmaats, want jy móés eers foto’s neem van die mooi rondom jou.

Alikreukelstaproete
Die Alikreukelstaproete kronkel op die eerste dag al met die kuspaadjies en kranslangs tot op Jongensfontein. Jy stap waar die eerste moderne mense meer as 70 000 jaar gelede gestap het.

Mettertyd vergeet jy van jou kamera soos die seelug jou kop skoonmaal. Die Duitse filosoof en digter Friedrich Nietzsche het gesê alle grootse gedagtes word op ’n staptog gebore.

En dis juis op die kuspaadjies van die vier dae lange Alikreukelstaproete waar die mens 70 000 jaar gelede sy eerste werklik groot gedagte gehad het.

Stilte voor die storm

Ons groepie van 11 stappers trek op ’n Vrydagmiddag in Maart uit verskillende windrigtings saam by die Seesig Chalets op Jongensfontein.

Die gesprekke draai (soos voor enige groot tog waar stappers mekaar leer ken) om staptoerusting, kos en die weervoorspelling.

Derek Odendaal, ons gids en die man aan die stuur van die Alikreukelstaproete, verseker ons môre gaan ’n perfekte dag wees. ’n Bietjie reën word vir Sondag voorspel, sê hy. Maar wie skrik vir ’n paar druppels? Onderlangs onderskep ek wel ’n paar bekommerde uitdrukkings. Kom ons hou duim vas dit spoeg eerder as wat dit spat Sondag!

Derek verduidelik hoe dinge werk: Môre-oggend kom haal hy en Clifton Donald, die ander gids, die groep met ’n bussie en laai ons af by die Blomboschfontein-privaatnatuurreservaat, sowat ’n halfuur se ry wes van Jongensfontein.

Ons stap dan kuslangs terug na Jongensfontein, en oornag weer by die Seesig Chalets.

Op dag 2 stap ons van Jongensfontein na Stilbaai en oornag twee aande in die Still Life-gastehuis. Op dag 3 roei ons op die Goukourivier, en op die laaste dag stap ons oos van Stilbaai verby Geelkrans. Hulle voorsien alle etes (ook ’n middagetepakkie vir ons dagrugsakke) en jou bagasie word aangery. Dis ’n agtermekaar staptog dié. Ons sê nag en is dankbaar ons hoef nie soos ons voorouers in ’n grot te slaap nie.

Op pad sal jy die Blombosboog oorsteek en verby die wêreldbekende Blombos-grot stap waar paleontoloë vandag nog rondgrawe.

Blombosch na Jongensfontein (17 km)

Derek kén die streek se weer (of sy slimfoon se weer-app is baie akkuraat). Die oggend is windstil en kraakvars toe ons by Blombosch uitklim.

Ons neem vinnig groepfoto’s, en stap vir 500 m geleidelik afdraande met ’n tweespoorpad deur digte bosse see se kant toe. Die opwinding in die groep is tasbaar en ons stap gesels-gesels. Introspeksie en sy stilte kom altyd later op ’n staptog. Voor ons vou die kuslyn sy arms oop, ’n lang wit strand lê regs Witsand se kant toe, maar ons hou links op ’n paadjie wat tussen die rotse voor ’n paar vakansiehuise verbyloop.

Pletsenbaai is ’n lekker plek vir middagete: Hier trek jy stapstewels uit, jou baaibroek aan en koel jy af in die water van die beskutte baaitjie.

Dis die laaste tekens van die beskawing wat ons ’n ruk gaan sien, want nou kronkel en klim die paadjie kranslangs en oor rotse vir die volgende 3 km tot by die Blombosboog, dié streek se “Hole in the Wall”.

Dis nie ’n moeilike stap tot by die versteende duin en sy sierlike boog nie, maar jy moet jou trap ken hoog teen die kranspaadjies.

Ná ’n broodjie en slukke water in die skadu van die boog is ons reg vir die volgende skof. Ná skaars 300 m roep Derek hokaai. Hy mik met sy stapstok halfpad op teen die krans wat hoog bo ons koppe uittoring. “Daar’s Blombosgrot,” sê hy. Dit moet nogal ’n geklouter wees om daar uit te kom, dink ek. Hier van onder af kan jy die groen hekke sien wat die erfenisterrein se ingang versper. Besoekers is nie welkom nie.

Derek vertel dat die wêreld se eerste moderne mense tussen 70 000 en 100 000 jaar gelede in dié grot gewoon het. Die duine wat dit mettertyd bedek en later weggewaai het, het gehelp om die inhoud van die grot uitstekend te bewaar. Noorweegse paleontoloë is al maande besig om hierdie geskiedkundige skatkis laag vir laag oop te grawe.

Vlymskerp rotslemme (die bekende Stilbaai-punte), die mens se eerste juweliersware (skulpies wat in halssnoere gevleg is) en die eerste abstrakte kunswerk (geometriese tekeninge gemaak met oker kruit) is hier opgegrawe. Afbeeldings hiervan word in die Blombos-museum op Stilbaai uitgestal (kyk by hesva.org.za as jy meer wil uitvind).

Ons luister aandagtig wanneer Derek vertel van hierdie fassinerende tyd in ons voorsate se geskiedenis. Die omgewing was toe grootliks ’n grasvlakte wat die mense met kameelperde, olifante en elande gedeel het. Die gematigde klimaat, ryk seelewe en oorvloedige wild het die ideale omstandighede geskep vir ons voorouers om hulle voete te vind.

Derek Odendaal het ’n diep kennis van die streek en sy mense, en is dus ’n uitstekende gids.
Die roete is genoem na die alikreukel, en dié se skulpe is volop in die rotspoele en op die strand.

Ons stap op en af met kranspaadjies en deur stroke groen kusfynbos waar klein rooi-bandsuikerbekkies van heideblommetjie tot -blommetjie flits.

Om en by die 7 km-merk daal ons van die kranse af tot op die sandstrand van Pletsenbaai. Dis tyd vir skoene uittrek, swembroeke aantrek, middagete eet en afkoel in die water van die beskutte baaitjie. Dis die soort kol waar jy heelmiddag onder ’n sambreel ’n boek wil lees totdat jou oë toeval, maar 10 km se stap lê nog voor. Die moeilikste geklouter en die meeste van die fyntrap is verby, stel Clifton ons gerus.

Op 9 km nader ons ’n spruit. Nes ons nader kom om ons waterbottels vol te maak vlie’ ’n reuse-swartkopreier skielik uit die bosse!

My hart!

Donker wolke begin oor die see saampak. Dis Derek se “paar druppels” wat op pad is. Ons stap om ’n skiereilandjie en daar lê Jongensfontein se strandhuise in die verte. Die groep se pas versnel soos perde wat stal ruik. Oftewel die vars vis-en-tjips wat ons vanaand by die dorp se Drie Pikkewyne Restaurant eet.

Jongensfontein na Stilbaai (13 km)

Die reën het gisteraand op die Seesig Chalets se dak neergekletter, en dit drup-drup steeds net voor 8 vm. toe ek en my vrou, Ronel, met ons rugsakke afstap see toe.

Ons ontmoet die res van die groep by die Drie Pikkewyne vir ontbyt.

Derek is “versigtig optimisties” dat dit uitstekende stapweer gaan wees, maar pak reënbaadjies in. Ons stap ooswaarts, verby Jongensfontein se woonwapark wat tjokvol is (dis naweek), verby die mooi huise op die seefront en die oranjekleurige rotse van waar dassies ons beloer.

Dan strandlangs verby hengelaars en mense wat met hulle honde stap tot in die Jongensgat-privaatnatuurreservaat.

Ek kyk op my slimhorlosie en besef ons het reeds ’n kwart van vandag se 13 km afgelê. Ons stap vinnig en gemaklik, weer kuslangs, maar vandag is daar geen kranse en rotse wat ons spoed breek nie. Die reën bly weg. Dit is inderdaad uitstekende stapweer!

Ons sien van ver af die Jongensgat, ’n enorme venster in ’n rotsmuur wat parallel in ons pad lê. Vandag stap ek wyd óm hom, want die poort huisves ’n klomp byneste. Ek is skrikkerig (en allergies) vir bye, maar die res van die groep klouter tot in die gat om die neste van naby te bekyk.

Op die tweede dag het hy tevergeefs by Jongensgat se rotspoele na ’n seekat gesoek.

Af en toe stap Derek af na die rotspoele om seekatte te soek. Hy brand om vir ons een van die merkwaardige seediere te wys, maar die geluk is nie aan ons kant nie.

Ná 7 km saal ons af by ’n eenvoudige wit enkelvertrekhuisie wat stoksielalleen langs die kus staan. Volgens Derek het die mense van die omgewing dekades gelede die huisie gebou vir ene Jurish, ’n landmeter, wat lief was vir hengel.

Die luukse rietdakwonings by Bosbokduin skaars 3 km verder, is veel meer imposant, maar Jurish het ongekende privaatheid geniet. Bosbokduin, en Skulpiesbaai wat onder hom lê, is wêreldbekend vir die uitgebreide netwerk viskrale wat in die vlak water uitgepak lê.

Die streek se oorspronklike inwoners, die Khoisan, het meer as 2 000 jaar gelede die visvywers gepak. Die vywers het tydens laagwater visse in die krale vasgekeer. Met die koms van die eerste Europese koloniste in die 17de en 18de eeu, is die netwerk oorgeneem en uitgebrei.

Tot so onlangs soos die 1960’s is groot hoeveelhede kabeljou en elf steeds hier “geoes” en die getalle het afgeneem.

Vandag is hierdie visvywers ’n nasionale gedenkwaardigheid. Ons stap verby die viskrale, teen ’n duin op en die Skulpiesbaai-natuurreservaat binne.

Dis nie lank nie of ons is midde-in ’n melkhoutwoud, iets heeltemal anders as wat ons die afgelope twee dae ervaar het. Dis duidelik die mense van Stilbaai is lief vir die plek: Die kronkelpaadjies word mooi onderhou en die afdraaie is netjies gemerk.

Ons hou vir oulaas piekniek by ’n tafel onder ’n groot melkhout voordat ons Stilbaai se strate binnestap.

Op die derde dag van die Alikreukel-staproete verander ’n mens van pas, want jy gaan verder roei as wat jy stap.

Af met die Goukourivier (3 km stap, 4 km roei)

Vandag is nie ’n stapdag nie, maar ons gaan beslis nie rondlê en niks doen nie! Ná ontbyt stap ons van die hawe af strandlangs tot by die oewer van die Goukourivier en dan tot by die De Jager-opstal, die oudste huis op die dorp. Die geskiedkundige huis is in 1814 gebou, en huisves vandag Stilbaai-toerisme en die Blombos-argeologiemuseum. Die dorp se bekende palinggat is ook hier, waar groot varswaterpalings die afgelope 125 jaar in ’n fontein op die perseel hou.

Kom kyk gerus om 11 vm. hoe die museum se personeel die palings hoenderlewertjies voer. Isak Venter, ’n lid van die Hessequa-argeologievereniging, is ons toerleier. Ons sien van die pyl- en spiespunte wat in die Blombosgrot gemaak is, skulpiehalssnoere en afbeeldings van die kuns wat die wêreld se paleontoloë só opgewonde gemaak het.

Hierna is dit Clifton, ’n ywerige roeier, se beurt om die leiding te neem. Ons ry in ’n bussie ’n ent langs die Goukourivier tot aan die buitewyke van die dorp waar ses goudgeel dubbelkajakke wag.

Clifton praat ons groep stappers moed in; ons gaan stapskoene vir roeispane verruil. “Die kajakke is stabiel. Die wind is van agter en die gety is in julle guns. Julle gaan skaars hoef te roei.”

Op die water is Clifton in sy element. Hy vertel dat ’n mens 13 km stroomop kan roei, en dat die Goukou se monding na die oseaan altyd oop is. Die naam is afgelei van die Khoi-woorde “gou” wat verwys na die Gouritsrivier, die grootste rivier in die streek, en “kou” wat “voor” beteken. Dus is die Goukou die laaste van ’n netwerk riviere voor die Gourits.

Die landskap waardeur ons dryf (ons stuur meer as wat ons hoef te roei), raak ál meer heuwelagtig en ná sowat ’n halfuur op die water staan die hange oortrek met olyfboorde.

Ons mikpunt is juis die Kransfontein-olyflandgoed waar ons aan wal gaan.

Drie van die vier plase wat in 2000 saamgesmelt het om Kransfontein te vorm het eens aan die skrywer Wilbur Smith behoort. Vandag is dit ’n lushof wat olyfolie en -produkte vervaardig. Ná die 4 km op die water is ons behoorlik honger, en Jacinda Steyn het ’n feesmaal voorberei.

Natuurlik is die fokus op die olyf in al sy glorie – olie, gebottel, smere, marmelades, groenes, swartes. En daarby varsgebakte brood, kase en nog meer. Heerlik!

Versadig lê ons onder ’n pekanneutboom en wag vir die bussie. Vandag is daar tyd vir ’n middagslapie.

argeologiemuseum
Die dag begin met ’n kort wandeling op die oewer van die Goukourivier tot by die De Jager-opstal vir ’n besoek aan die Blombos-argeologiemuseum
Die beloning is egter groot, want dit sluit in ’n besoek aan die Kransfontein-olyflandgoed en ’n feesmaal van olyfprodukte, brood en kaas in.

Geelkrans (12 km)

Ons ry vroegoggend oor die brug van Stilbaai-Wes na Stilbaai-Oos na die Preekstoelrots.

Van hier af kan jy die Geelkransroete deur die Stilbaai-Oos-natuurreservaat stap. Die eerste paar kilometer van die roete loop deur kusfynbos in die binneland voordat dit koers kies see toe, maar ons verkies om heelpad strandlangs te stap.

Aanvanklik doem spookagtige sandformasies en rotse voor ons op, versteek in die seemis totdat jy omtrent by hulle is. Maar ná ’n halfuur brand die son die mis weg en word ons beloon met uitsigte tot die einders oor die blou oseaan.

Dis nie lank nie of Carel en Charlotte van Wyk van Langebaan trek hulle stapskoene uit sodat hulle die sand onder hulle tone kan voel. Dit voel meer soos ’n wandeling langs die see as ’n staptog!

Ons het tyd om groen seepampoentjies en mooi alikreukelskulpe te bekyk. Swarttobies skarrel weg uit die vlak water namate ons aangestap kom, maar die witborsduikers wat nes in die kranse maak, lyk min gepla.

Hoe verder ons stap, hoe steiler, hoër en meer indrukwekkend raak die geel kranse. Dit herinner my aan die sandsteenkranse van die Algarve aan die suidkus van Portugal.

Die verskillende lae van die versteende duine word deur geoloë en paleontoloë soos die blaaie van ’n geskiedenisboek gelees, vertel Derek.

Dit vertel stories oor klimaatsverandering, die uitsterf van spesies en die ontwikkeling van die mens.

Ná 6 km – by Geelkrans se punt – roep ons halt vir middagete. ’n Mens kan nóg 2 km verder stap na Rooikrans, en daarna nog verder in Gouritsmond se rigting.

Die versoeking is groot om net aan te hou stap en stap – soos ons voorsate moet gedoen het toe hulle die omgewing verken het. Maar nes hulle moet ons ook nou huiskry.

WEET VOOR JY WAAI

Koste: R5 900 p.p. (R5 400 p.p. wat deel). Dit sluit gidse, vier aande se verblyf, alle etes, vervoer en die vervoer van jou bagasie in.

Wanneer kan ek stap? Die roete is gesluit tussen Junie en middel September. Die volgende staptog is van 19 tot 22 September 2020, met ’n stap wat daarna elke tweede week in Oktober en November tot aan die begin van Desember plaasvind.

Daarna hervat dit weer middel Februarie 2021. ’n Minimum van ses stappers en ’n maksimum van 14 kan geakkommodeer word, maar gesels met Derek indien jy spesiale behoeftes het.

Wat pak ek in? ’n Dagrugsak vir jou waterbottel en peuselgoed, goeie stapskoene, stapsokkies en ou tekkies of waterskoene vir die roei. ’n Ligte reënbaadjie, swembroek, kamera, verkyker, handdoek, sonroom, sonhoed en donkerbril. Gemaklike klere wat jy saans kan dra. Al jou persoonlike besittings moet in ’n 110 liter-krat kan pas.

Kontak: Derek Odendaal by info@alikreukeltrail.co.za of 076 292 2866 en www.alikreukeltrail.co.za


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook