Ons het die idee om middernag by ’n effe aangeklamde monster gekry. Dit was Allerheiligeaand en die man in die kostuum het ons vasgenael gehou met sy stories van pieknieks wat afgewissel word deur stapsessies. Net die volgende dag het ek plek op die Wellington Wine Walk bespreek.

’n Paar maande later, op ’n koue Sondag in Mei, meld ek en my vriende Wendy Serfontein en Bronwyn Bruce aan by die Diemersfontein-wynlandgoed. Ons drink skemerkelkies terwyl ons wag dat die ander stappers opdaag.

Ons is ’n gemengde stapgroep uit Durban, Johannesburg, Kaapstad, Engeland en Nederland. Maar ons het almal iets gemeen: Ons is lief vir kos, wyn en stap.

Die staproete wat ons gaan volg, loop deur fynbos, wingerde, olyfboorde, boegoe- en vrugteboorde. Die organiseerders vertel ons van oornagplekke op geskiedkundige Hugenote-plase; Engelse ontbyte, pieknieks, hartlike plattelandse aandetes en proesessies met wyn, olyfolie en konfytsoorte.

Ná ons ontmoeting sit ons aan by Diemersfontein se kroeg, waar die sommelier wegspring met die Sweet Temptations-wynproe. Ons eet romerige toffies en donkersjokoladetruffels en proe heerlike rooiwyn.

Ek gaan slaap kort ná aandete. Buite sous dit saggies en ek kruip in tussen wit katoenlakens.

Die groep versnel die pas op die plaas Druk My Niet. | Foto: Bronwyn Bruce

DAG 1: Fynbos-en-olyfroete (15 km)

Halfsewe is ek wakker. Dis koud en nat. ’n Warm ontbyt verdryf die koue en daarna vat die gidse Elaine Wegelin en Linda McDermott ons in ’n bussie tot aan die voet van die Du Toitskloofpas.

Ons spring in motreën weg met ’n maklikrige 45 minute lange klim teen die Kleinbosch-koppie uit. Elaine ken die plaaslike ekologie en geskiedenis goed en vertel ons meer oor die fynbos. Sy bestuur die staproete saam met Carol-Ann Jeffrey, Jeanetta Ingwersen en Katrin Steytler. Hulle het die roete in 2004 ontwikkel, en in Januarie 2017 moes hulle dit aanpas nadat ’n brand deur die vallei geswiep het. Meer as ’n jaar later is verskroeide boomstompe en roetbedekte proteakarkasse steeds te sien.

Die gids Elaine Wegelin deel haar kennis oor die omgewing. | Foto: Bronwyn Bruce
Wellington
Die skade van ’n onlangse veldbrand is steeds oral te sien op die roete. | Foto: Bronwyn Bruce

Ons stap met die koppie se kontoerpaadjie langs en trap bo-oor bome wat omgeval het. Die aarde drink die reën in en die reuk van nuwe groei hang in die lug.

Ons skep asem om die uitsig oor die Paarlvallei te geniet, wat uitstrek in die rigting van Stellenbosch en die Franschhoekberg.

Met die afklim pak die wolke saam bo ons koppe. Ons tel spoed op om ’n draai en verby die wingerde van die plaas Druk My Niet. Dit begin reën net toe Francois du Toit die hek van die geskiedkundige Augusta Kleinbosch-landgoed vir ons oopsluit. Hy wys ons rond op die landgoed. Die Georgiaanse herehuis is in 1792 gebou en in 2017 is dit onverwags deur ’n brand verswelg. “Dit het so vinnig gekom,” sê Francois. “Ons klere het gebrand. Ek het in my pajamas rondgehardloop.”

Die landgoed huisves Suid-Afrika se eerste amptelike skool, die Hugenote-gedenkskool, wat nou ’n Afrikaanse taalmuseum is.

Francois vat ons uit die reën na binne. In die warmte van die klein ontvangskamer vertel hy ons oor die oorsprong van die taal. Wie sou kon raai dat van die eerste Afrikaanse boeke in die 1880’s hier gedruk is en dat die eerste Afrikaanse tekste foneties in Arabies deur die Moslemgemeenskap geskryf is?

Buite reën dit steeds. Ons trek reënjasse aan, slaan sambrele oop en hardloop oor die pad na Druk My Niet. Dis ’n boetiekwynlandgoed en in die proelokaal lê ons weg aan ’n piekniekmiddagete.

Die wynmaker gee ons ’n kort oorsig van die plaas en gou is ons glase vol. Ek koop sommer ’n paar van die bottels rooiwyn om huis toe te vat.

Wellington
Die staproete kronkel oor plase waar lede van die publiek gewoonlik nie kan uitkom nie. | Foto: Dino Tserkezis

Die reën kelder die res van die dag se stap. Ons word by ons oornagplek afgelaai – die Cascade Country Manor. Binne wag kaneelgegeurde glühwein langs ’n knetterende vuur.

Toe die reën padgee, stap ek deur ’n olyfboord na ’n nabygeleë waterval om van die verlore kilometers in te haal. Onder my voete sjloep olywe. Ek proe enetjie van ’n boom af, maar besef te laat ’n onverwerkte olyf is maar skewebekbitter…

Die stappers kom weer met aandete bymekaar vir ’n olyfolie-proesessie aangebied deur Volker Goetze, eienaar van die Cascade Country Manor. Volker verduidelik dat olywe maande lank in pekelwater geweek word om van die bitterheid ontslae te raak. Hy wys ook hoe ’n mens olyfolie proe: Jy slurp dit op en laat dit in jou keel afgly sodat jy die peperagtige geure kan proe.

Volker het nie sy eie olyfpars nie; hy gebruik sy buurman s’n. “Ek is Italië toe om een te koop, maar toe koop my vrou gordyne vir die hotel en die geld is daarmee heen,” vertel hy laggend. “Dis oukei. Dis mooi gordyne.”

’n Rivierkruising neem die groep binne-in ’n woud met klam grond. | Foto: Dino Tserkezis

DAG 2: Kuier-roete (17 km)

Vandag gaan ons doen wat die roete belowe: kuier. Ná ’n buffetontbyt stap ons opdraande deur die wingerde en al met die oprit van die plaas Uitkyk.

Elsabe du Plessis, die eienaar, wag op haar stoep. Sy het klein sopieglasies reggesit vir brandewyn wat met boegoe gegeur is. Boegoe word een keer per jaar geoes en dan gestoom om die olie uit die blare te kry. Dis nou eers 9 vm., maar dis blykbaar nooit te vroeg vir ’n sopie nie…

“Boegoe het baie gesondheidsvoordele. As ’n mens dit só in die brandewyn drink, is dit goed vir spysvertering. Ek drink dit reeds teen 10 vm. en my dogters kyk my almal skeef aan,” sê Elsabe grappenderwys.

Nadat ons haar pinotage-druiwekonfyt proe, klim ons teen ’n heuwel uit. Dis ’n lang stap, waarskynlik die moeilikste van al drie dae. Aan die bopunt rus ons in die koel skadu van ’n paar bloekombome en stap dan vinnig afdraande tot by ’n teerpad waar ons asem skep onder ’n knoets olienhoutbome.

Elsabe du Plessis van die plaas Uitkyk wag die groep in. | Foto: Bronwyn Bruce

Die res van die dag tot by die Hildenbrand-landgoed is plat en maklik. Ons sit in die plaas se knus restaurant aan vir ’n ligte middagete: wortel-en-gemmersop met tuisgebakte brood, gevolg deur ’n peuselbord met vrugte en kaas – piesangs met ’n klapperlagie, wortelpoffertjies, sappige frikkadelle…

Die wynproe lewer ’n onverwagte juweel: ’n pruimagtige, ongefiltreerde port van druiwe wat deur die plukkers oorgeslaan is met oestyd. Die druiwe is ’n week later gepluk en was toe reeds te soet vir wyn. Daar was net genoeg om ’n vat van dié eenmalige port te maak.

Met gelukkige mae stap ons verder deur die wingerde van Kleinevalleij. By ’n sterk stroompie maak ons beurte om dit oor te steek.

’n Uitsig van die Bainskloofpas af. Foto: Dino Tserkezis

Van hier af stap ons opdraande deur vol koejawelboorde. Die reuk van die oorryp vrugte hang in die lug. Blykbaar is die koejawelprys nou so laag dat dit nie die moeite werd is om te oes nie.

Ons het vandag ver gestap en my voete pyn soos ons nader aan die Hawequa- en Limietberg kom. By ons oornagplek, Dunstone Country House, wag tee en twéé varsgebakte koeke. En natuurlik móét ’n mens proe…

Ek bly in die Guava Cottage saam met Wendy en Bronwyn. Ná ’n rukkie se leeglê voor die kaggel stap ons versigtig tussen vrot koejawels deur na die landgoed se restaurant, Stone Kitchen, vir ’n wynproesessie. Ons bestel van Dunstone se vierster-Platter-rooiwyn vir aandete.

ALLES IN EEN. Die Wellington Wine Walk het toeganklike paaie, goeie kos en wyn, én mooi uitsigte oor die Hawequa- en Limietberg. Foto: Bronwyn Bruce

DAG 3: Bovlei-wynroete (9 km)

Vanoggend is dit mistig, maar dit lyk asof die reën vir eers gewyk het. Ons gidse vir vandag is Carol-Ann Jeffrey en Naomi Horne. Die bussie vat ons halfpad teen die Bainskloofpas uit en ons geniet die uitsig terwyl die gidse ons van die pas vertel.

Dan begin ons in die vallei af stap, en dit verg fyn trap op die ongelyke, sanderige paadjie. Namate die helling meer gelyk word, vorder ons vinniger deur fynbos en wingerde totdat ons by die Doolhof-landgoed uitkom.

In die 18de eeu het setlaars dié landgoed sy naam gegee na aanleiding van die baie heuwels en dale. Dis nog nie eens 10 vm. nie en ons sit al in Doolhof se proelokaal. Maar teen dié tyd is ons al gewoond daaraan om iets te proe voordat die Boeing oor is!

Op pad uit stap ons langs Doolhof se rivierwandelpad deur ’n klam woud met gladde grond. Die woud maak oop en die paadjie volg ’n effense afdraande tot by Welvanpas, waar die Voortrekker Piet Retief as kind gewoon het.

Leanne Krieger van die plaas Welvanpas verwelkom die groep met tuisgebakte brood. | Foto: Bronwyn Bruce

Ons wynproesessie by Welvanpas word aangebied deur Dan Retief, een van Piet se afstammelinge. Ons sit in hulle koffiewinkel, Die Ou Meul, en lê weg aan heerlike bobotie terwyl Dan sy familiegeskiedenis deel.

Sy tannie Helene Retief Lombard het ’n boek oor die Retiefs gepubliseer en Dan raai ons aan om ons eie geskiedenis neer te skryf. “My kinders stel nie belang in geskiedenis nie,” sê hy. “Net in hulle toekoms. Maar ek is nou op daai ouderdom waar die jare agter my meer is as dié voor my. Begin om oor jou verlede te skryf – jou kinders sal wel eendag belang stel.”

Ná middagete stap ons met die Bovlei-vallei af deur lemoenboorde en stokkiesboerderye. Ons bussie laai ons by ons laaste bestemming af – die opgeknapte wynkelder by Bosman Family Vineyards.

TJEERS. Charlene Ferreira wag die groep in met vonkelwyn by Bosman Family Vineyards. | Foto: Robyn Powell

Die gasvrou, Charlene Ferreira, ontmoet ons by die ou skuurdeur met ’n skinkbord vonkelwyn. Teen 4.30 nm. vat die bussie ons terug na Diemersfontein waar dit ’n geskarrel is om ons sakke te kry en afskeid te neem. En sommer so is die staptog verby.

Op pad na die lughawe besef ons dat dié stap nie net oor die mooi omgewing of die luukse slenterstap gaan nie. Dit gaan oor die mense wat ons langs die pad ontmoet het, en die ryk geskiedenis van dié hoekie van ons land.

Ek is net spyt oor een ding: Dat ek nie méér wyn geproe het nie.I

VOETSLAAN. Die stappers het gekom van Durban, Johannesburg, Kaapstad en selfs Engeland en Nederland. Foto: Dino Tserkezis
Weet voor jy waai

Hoe werk dit?

’n Mens kan die stap oor drie of vier dae doen. Jy los jou motor by die eerste aand se blplek en word weer soontoe gevat ná die stap.

Hoe fiks moet ek wees?

Redelik. Jy gaan elke dag tussen 10 km en 14 km stap. Die terrein is maklik, met ’n paar op- en afdraandes, maar dit kan wárm word.

Wat moet ek inpak?

Insekweermiddel, stapstewels of veldloopskoene, ’n ligte winddigte of reënbaadjie, ’n dagrugsak, sonbrandroom, ’n kamera, kontant en ’n hoed. Jy dra net jou dagsak; die res van jou bagasie word na jou volgende oornagplek vervoer.

Wanneer kan ek stap?

Die roete is oop in die herfs en lente omdat die somer te warm is en daar ’n baie goeie kans is dat dit in die winter sal reën. (Einde Maart tot middel Junie en einde Augustus tot die einde November.)

Hoe groot is die groep?

10 tot 14 mense. Vorm jou eie groep of val in by ’n ander groep as julle minder as 10 is.

Koste

Vanaf R8 440 p.p. Dit sluit in: drie nagte gastehuisverblyf; drie etes per dag; gebottelde water; alle wynproesessies; pendeldiens en vervoer van bagasie.

Nog inligting

Elaine Wegelin: 083 235 5570; Katrin Steytler: 082 335 8132; info@winewalk.co.za; winewalk.co.za