Die Helsrivier vorm deel van die Olifantsrivier-opvangsgebied tussen Middelburg en die Loskopdam in Mpumalanga. Die omgewing bestaan uit ’n netwerk dramatiese klowe wat uitgekerf is tussen rooi sandsteenheuwels.

Die roete strek deur ongerepte klowe waar min mense kom – die soort plek waar jy hééltemal van Power Point-voorleggings en begrotings vergeet!

Die staptog begin by Loskop Adventures se kantoor op die rantjie van ’n welige kloof van een van die Helsrivier se sytakke. Jy stap vir ’n kilometer op ’n grondpad al langs dié rantjie en daal sowat 130 m tot waar die grondpad aan die bopunt van ’n abseilterrein doodloop.

Die roete strek deur ongerepte klowe waar min mense kom – die soort plek waar jy hééltemal van Power Point-voorleggings en begrotings vergeet!

Wees op pad op die uitkyk vir twee van Suid-Afrika se seldsame en kritiek bedreigde broodboomspesies: die olifantsrivierbroodboom (Encephalartos lanatus) en die middelburgbroodboom (Encephalartos middelburgensis). Na raming is van die broodbome in die kloof byna 900 jaar oud. Albei dié spesies kom net in hierdie streek voor.

Avontuurlustiges kan ook van die kantoor af met sewe kabels heen en weer oor die vallei tot hier gly – altesame sowat 1,4 km!

Besluit dus vooraf of jy die vallei te voet of uit ’n harnas wil verken. Hoe dit ook al sy, nou wag die kloof. Van die doodloop af stap jy rem-rem met ’n steil paadjie af na die Helsrivier. Binne net sowat 400 m daal jy nog 100 m. Jy word uiteindelik beloon met ’n uitsig van die kranse wat bo die rivier uittroon. Onthou hierdie riller van ’n paadjie – julle ontmoet mekaar môre weer, maar dan is dit opdraande!

Uiteindelik bereik julle die rivier. Dalk was die ou wat dié rivier benoem het baie onfiks... maar vir my voel dit beslis nie soos die hel nie. Die water is skoon en helder, die plantegroei wild en welig, diere loop vrylik rond en selfoonontvangs... wat’s dit?

Die voetpaadjie loop dood teen die rivierbedding bestrooi met rotse. Van hier af stap julle kruis en dwars oor dié rotse. Soms stap julle deur die stroom; dra dus skoene wat maar kan nat word.

Namate julle stroomaf vorder, raak die kloof ál smaller. Aalwyne en nabome klou aan die steil donker kranse vas. Ná sowat ’n uur klouter jy met ’n tou teen ’n reuse-rots af; Om die hoek wag die hoogtepunt van die kloof: ’n 2 m hoë waterval tuimel in ’n poel omring deur kranse. Die poel is skaars 5 m breed, maar jy kan nie die verste rand sien nie. Die rotswande draai effens na regs en verskans jou uitsig. Staan ’n ruk hier en neem alles in – jy wil dié uitsig onthou as jy weer in ’n lang Zoom-vergadering sit.

’n Paar dapper stappers dra ’n bootjie in die kloof af om rugsakke oor ’n groot poel te vervoer – hulle verdien ’n medalje.

Wat nou? Soos die digter Robert Frost eens geskryf het: “Die beste pad uit is altyd déúr.” ’n Klein roeibootjie dobber in die poel – dink vir ’n oomblik aan die arme drommels wat die bootjie moes dra op die pad wat jy pas gestap het.

Soos die digter Robert Frost eens geskryf het: “Die beste pad uit is altyd déúr.”

Respek! Julle kan mense en/of sakke op die bootjie vervoer. Toets net eers die bootjie se houvermoë. Ek het al gesien hoe mense die boot met sakke en al onder die watervlak moes uittrek.

Maar jy het gekom vir ’n avontuur – swem dus, Jannie, swem! Okei wag, voordat jy inspring – watter tyd van die jaar en hoe laat is dit?

Ek moes al ná sononder deur die poel swem, in Julie wanneer die winterson glad nie eens die kloof bereik nie. Dit is nie aan te bevole nie – hipotermie is g’n grap nie.

Daarteenoor is dit heerlik om in die somer stadig deur die koue water te gly. Die poel is omtrent 100 m lank en die diepte hang af van die seisoen.

In die droë seisoen waad jy deur die grootste deel van die poel in heuphoogtewater, maar ná die somerreën is hier slegs een of twee plekkies waar jy kan staan om asem te skep; gewoonlik swem jy heelpad.

Nadat jy die oorkantste oewer bereik het en jou vel nie meer soos ’n hoender s’n lyk nie, is dit nog sowat ’n uur se stap oor die rotse tot by die samevloeiing van die Hels- en Olifantsrivier en julle kampkol.

Welkom by die hemel op aarde.

Olifantsrivier
Dís die uitsig in die rigting van die kampkol van die teenoorgestelde oewer van die Olifantsrivier af.
Langs dié staproete is allerlei gediertes soos die giftige Parabuthus transvaalicus-skerpioen en die onskadelike westelike natalse groenslang (Philothamnus occidentalis).

Hier is twee groot permanente koepeltente of julle kan julle eie tente saamdra. Die kampplek is op die sand en het geen geriewe behalwe ’n puttoilet nie. Jy skep drinkwater uit die Helsrivier. (Ja, dieselfde een waardeur jy nou net geswem het!)

Knip ’n uiltjie in jou tent, verken die Olifants-rivierkloof of maak lyn nat. Entoesiastiese hengelaars kan hulle toerusting saamdra – geelvis, baars, babers en modderbek skuil in die waters. Hier is ’n paar visstokke by die kampkol, maar pak jou eie hengelgerei in.

Hierdie kampkol is net ’n paar kilometer van die Loskopdam af en lok baie inwoners van die gelyknamige natuurreservaat. Seekoeie en krokodille wandel gereeld stroomop langs die Olifantsrivier – selfs renosters kom maak dan en wan ’n draai.

Bly paraat en moenie in die groot poele swem nie. Koel af in die kleiner rotspoele en stroomversnellings.

Ontspan laatmiddag in die skadu van die kranse en kyk hoe die son sak. Venus skyn al hoe helderder terwyl sy die son berg-in volg.

Teen dié tyd sal die gids gewoonlik na die kantoor terugkeer sodat julle die aand alleen kan wees. Die volgende oggend stap julle agter julle neus uit die kloof. As jy nie van hierdie idee hou nie, kan julle reël dat die gids by julle bly.

Neem ’n flits saam as jy in die nag moet opstaan. Dit is juis wanneer tante Seekoei op die rivieroewer wei. Wees ook op die uitkyk vir ander laatnagbesoekers soos muise, paddas en skerpioene.

Die volgende oggend voel ’n mens nogal senuweeagtig, want jy weet wat voorlê: Die swem deur die koue kloof, die klouter oor die rotse, spring van klip tot klip en dan die Groot Klim... Ja, die roete is dalk dieselfde, maar vanoggend sien jy dinge uit ’n ander hoek.

Die oggendson belig die kloof van die ander kant af en jy benader die stroomversnellings en watervalle van die voorkant af. Dit voel amper asof jy hulle wil groet met die verbyklim.

Elke spier in jou lyf gaan protesteer wanneer jy uit die kloof klim (of strompel), maar daar wag ’n aangename verrassing bo by die doodloop: Thys Taljaard, die eienaar van Loskop Adventures, en sy geliefde klein windhond, Bullet, wag in ’n bakkie om julle terug te neem na die kantoor toe.

Diegene wat ’n bietjie méér gemartel wil word, kan hulle moeë lywe vir daardie laaste kilometer tot by die kantoor sleep. Jou spiere gaan soos die hel brand, maar daai yskoue koeldrank by die eindpunt gaan nóg meer verfrissend wees!

Pleks van swem kan jy oor die poel roei.
Middelburg-broodbome skiet nuwe lote ná ’n brand. Hierdie skaars broodbome kom net in die Olifantsrivier-opvangsgebied voor.

WEET VOOR JY WAAI

Afstand: Die 10 km oor twee dae klink nie juis ver nie, maar die opdraande uit die kloof uit is steil en ’n mens moet sterk enkels hê vir die klim en klouter oor die rotse. Dit neem sowat vier tot vyf uur om tot by die kampkol te stap.

Hoe kom ek daar? Loskop Adventures is sowat 220 km noordoos van Johannesburg en 175 km van Pretoria.

Water? Jy kan met ’n geruste hart die Helsrivier se water drink.

Koste: Hier is verskeie opsies. ’n Dagstap sonder ’n gids: vanaf R200 p.p. Oornagroete: vanaf R550 p.p.

Pryse wissel na gelang van die gidse se tyd en die groep se grootte (maksimum 8 mense as julle hulle tente gebruik – meer as 8 mense moet hulle eie tente saamdra). Skoolgroepe welkom. Kabelgly: vanaf R395 p.p. vir ’n groep van 10.

Kontak: 013 590 5641; 082 923 1982; loskopadventures.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook