Vir rotskuns en koel klowe...

Die Gifberg-vakansieplaas lê in die berge naby Vanrhynsdorp en het ’n netwerk van stappaadjies waarop ’n mens die natuurlike landskap, ongewone plantegroei en rotskuns van hierdie suidelike hoekie van Namakwaland kan sien. Die plaas het 30 rotskunskolle, waarvan gaste 7 kan besoek. Die langste en interessantste is die Boesmanroete – ’n 19,2 km-sirkelroete waarlangs jy drie rotskunskolle kan sien op pad na die Doringrivier.

Die paadjie begin by die koffiewinkel en loop verby ’n dam wat toe is onder waterlelies, en dan ’n sanderige paadjie langs die Gifbergrivier word. Ná ’n paar kilometer wys ’n bordjie op die rivieroewer jou watter kant toe jy moet gaan vir die First Cave, waar dowwe tekeninge van elande is. Keer terug na die paadjie en soek die bordjie na die beskutte Sleepers Cave ’n paar honderd meter verder.

Foto: Shaen Adey
Vir ’n groot deel van die roete stap ’n mens ín die sandsteenrivierloop. Foto: Shaen Adey

Sleepers Cave is ’n oorhangrots met ’n paar treffende prente wat goed behoue gebly het. Dit word geskat op 400 jaar oud, insluitend ’n paneel slapende figure. Baie van die figure is onder karosse wat in ’n ryk geel klei geverf is, met pyle, boë en kokers bo hulle koppe.

Die terrein word moeiliker soos jy die Klein-Valletjie (2,7 km van die beginpunt af) nader, maar dan is dit weer makliker langs die rivierbedding tot by die Gifberg-waterval, 400 m verder. Hier was nie veel water in die val in April 2018 nie, maar die diep maalgate wys dat die rivier stérk kan afkom.

Verken die maalgate en tuur af in die toegegroeide ravyn onder die waterval voordat jy weer stroomop terugloop totdat jy klein wit voetspore sien wat aan jou regterkant teen die krans op loop. ’n Steil klim vat jou tot bo-op die plato en die paadjies volg dan die rand van die krans sodat jy ’n mooi uitsig oor die rivier en die waterval het. Hou jou oë oop vir ’n tekenbord op die rand, wat wys waar die paadjie by ’n kort maar ongemaklike gangetjie afdaal. (As jy jou afstand meet of die kaart dophou, sal jy sien jy is nou net 4 km van die beginpunt af. Moenie dat dit jou verwar nie! Dis die regte plek om af te gaan.)

Foto: Shaen Adey
Bereken genoeg tyd om die maalgate op die staproete te bekyk. Foto: Shaen Adey
Foto: Shaen Adey
Hoewel die Namakwaland bekend is vir sy blomme in die lente, wys mooi kandelare gesig in laatsomer of herfs. Foto: Shaen Adey

Net anderkant die gangetjie is Fertility Cave, ’n yslike skuiling wat blykbaar gebruik is vir inwydingsrituele. Die aantal en verskeidenheid prente is indrukwekkend – al is dit ouer en nie so goed bewaar soos dié in Sleepers Cave nie. Daar is verskeie handafdrukke en skilderye van olifante – ’n heilige dier vir die Boesmans.

’n Lang afdraande op losserige terrein vat jou terug rivier toe, waar ’n poel verwelkomend wag. Vir die volgende paar kilometer volg die paadjie die rivier se loop, waar jy soms ’n bietjie moet koes vir takke en buk onderdeur bome wat omgeval het. Jy moet ook plek-plek van klip tot klip spring in die rivierbedding, en maklike klouterwerk om groot poele doen.

Ondanks die onherbergsame terrein is hier ’n verrassende verskeidenheid plantegroei langs die paadjie. In April het die kandelare geblom, en ook helder gousblomme, pienk en pers watsonias en malvas, vygies en klein disas en surings.

Net ná die 6 km-merk is ’n rivierkruising. Die paadjie klim dan weer om ’n digbegroeide deel van die ravyn te systap en loop verder op die kontoer langs om tot in Bobbejaantjieskloof, waar jy waarskynlik die kloof se naamgenote sal hoor (en dalk sien).

Ná ’n entjie mik jy af tot by die Doringriver. Hier is selfs in die droë seisoen diep poele waar julle kan swem en waterbottels volmaak, met doringbome wat lekker skaduwee bied.

Foto: Shaen Adey
Die Doringrivier is rofweg die middelpunt van die roete en dus ’n goeie plek vir lyf natmaak en middagete. Foto: Shaen Adey

Met jou terugkeer na die beginpunt stap jy aan die ander kant van die vallei. Die pad begin met ’n volgehoue klim uit die rivier, deur papieragtige botterbome en melkbosse. Hou jou oë oop vir klipspringers en bobbejane op die kranse namate jy van die rivier wegswaai. Die volgende deel is taai, want jy klim in en uit klein klowe tot op die plato, maar jy word beloon met mooi uitsigte oor die ravyn. Die plantegroei verander weer wanneer jy afdaal: Doublomme en vygies groei tussen kwartsklippe op rotstrappe, en jy stap deur klein kolle woud in verweerde sandsteengangetjies. Vat plek-plek ’n ruskans by dié skadukolle.

Uiteindelik bring die sanderige paadjie jou by die 15,8 km-merk op ’n plaaspad waarlangs rooibos groei, en wat terug tot by die koffiewinkel loop.

Weet voor jy waai

Waar? Die Gifberg-vakansieplaas is net suid van Vanrhynsdorp. As jy deur Klawer is, kan jy die bordjies na die plaas van die N7 af volg.

Afstand: 19,2 km. Begroot 7-9 uur. Korter paadjies sluit in die 7,4 km- Gifboomroete (’n goeie opsie in die lente wanneer jy gousblomme, viooltjies, pypies, tjienkerientjees en malvas in blom sien); die 3,7 km-Hamerkoproete; en die 1,8 km-Maalgatroete. Daar’s ’n “tweede” bloeiseisoen in April, wanneer verskeie bolspesies, insluitend kandelare (Brunsvigia bosmaniae) en rooi misryblomme (Haemanthus coccineus) blom.

Water? Dra minstens twee liter per persoon, veral in die somer wanneer hier nie veel skaduwee is nie. Hier is heelwat water op pad af na die Doringrivier (die halfpadmerk), maar niks langs die tweede helfte van die roete nie.

Toegangstarief en kaarte: Dagbesoekers R40 per volwassene; R20 per kind. Gaste wat op die plaas bly, kan gratis stap. Jy kry ’n gedetailleerde kaart saam met jou permit.

Kontak: 027 219 1555; info@gifberg.co.za; gifberg.co.za. Gifberg is ’n hondvriendelike plaas – hier is ook kampplek, selfsorghuisies, ’n koffiewinkel, bergfietsroetes en ’n 4x4-roete.