Foto's: Ronel Steyn 

Mense is soms skaam vir hulle agterplaas, maar dis nie die geval met Stellenbossers nie. Stellenbossers se agterplaas is immers die Jonkershoeknatuurreservaat. Die locals ry elk naweek bergfiets teen die berge se hellings, stap diep die klowe in en swem in die Eersterivier se poele voordat hulle in die middedorp brekfis eet...

Dié speelplek lê aan die einde van die Jonkershoekpad wat verby wynplase en kampterreine kronkel deur die gelyknamige vallei. Talle stap- en bergfietspaadjies loop kruis en dwars deur die reservaat. As jy heeldag het en taamlik fiks is, takel die amptelike Panorama- (17 km) of Swartboskloof-staproete (18 km). Die korter roete na Eerste en Tweede Waterval bied waarskynlik die minste inspanning en meeste beloning. Jy kan die roete heen en weer stap in minder as twee uur (drie as jy by die watervalle piekniek hou) sonder dat die jongspan kla.

Tweede Waterval is op sy mooiste op ’n windstil en sonnige wintersdag ná goeie reën wanneer die baardsuikerbos vol in die blom staan.

Kry ’n permit by die ingangshek. Ry sowat 5 km van die 10 km lange sirkelpad in die reservaat tot voor die laagwaterbruggie oor die Eersterivier. Parkeer by een van die inhamme. Die beginpunt van die Eerste en Tweede Watervalroete is aan jou regterkant.

Binne die eerste kilometer se effense opdraande besef jy hoekom hierdie Wêrelderfenisterrein so gewild is onder die dorpenaars. Links van jou kabbel die koue, skoon water van die Eersterivier oor gladgespoelde bruin klippe. Regs van jou lê velde vol baardsuikerbos teen die hange, tot waar hulle die loodregte klipkranse van die Jonkershoekberg tref.

En waar jy plate vol proteas het, is jy byna gewaarborg om Kaapse suikervoëls te sien en hoor. Wees op die uitkyk vir die voëls met hulle lang sterte wat flap-flap wanneer hulle van een protea na die volgende wip.

Trek jou skoene by die poele onder die watervalle uit en week jou voete in die koel water. Dit klop enige spabehandeling, en dis goedkoper!

Ná 1 km is hier ’n smal paadjie na regs. Dis die afdraai na Eerste Waterval. Toe ons die roete in Julie gestap het, was dit nie gemerk nie. Toemaar, jy sien die waterval sommer van die hoofroete af, en dis skaars 400 m se stap deur ’n veld vol restio’s en erikas soontoe – jy gaan nie verdwaal nie.

Die paadjie eindig by ’n skaduryke poel aan die onderpunt van die waterval. Bergvarings groei tussen die klam rotswande en rooiels- en wilde-amandelbome bied skuiling teen die son. Skep asem, eet ’n vrugtestafie en tap jou waterbottel vol bergwater.

Stap terug op dieselfde paadjie na die hoofroete en draai regs. Skaars 100 m verder kabbel die stroom van Eerste Waterval verby op pad na die Eersterivier toe. Trap versigtig oor die klippe.

Ná die stroompie klim die pad geleidelik. Jy voel hoe die kloof om jou skouers toetrek en die spitse al hoe hoër weerskante van jou uittroon.

Op pad terug na jou motor vou die Jonkershoekvallei voor jou oop.

Op die 2,5 km-merk swenk die paadjie na regs. Die volgende 500 m – waarin jy byna 100 m styg – is die moeilikste deel van die roete. Hier is trappe uitgekap wat deur houtbalke gestut word, en plek-plek is ’n ysterreling aan jou linkerkant om aan vas te hou. Klim rustig en moenie vergeet om die natuurskoon om jou te waardeer nie. Maar trap versigtig – dis ’n entjie se rol tot in die Eersterivier!

As jy vorentoe en op kyk, sien jy die wit streep van die Tweede Waterval hoog bo jou aftuimel tot in ’n inheemse bos. Hou moed, want jy dink nog jy moet ver klim, dan is jy in die bos en by die poele.

Trek jou skoene uit en lawe jou voete in die water, en haal jou ham-kaas-en-tamatietoebroodjie uit jou rugsak. Hier kan jy ’n kwartier, ’n uur of heeldag sit en kuier voordat jy dieselfde pad terug aanpak.

Baardsuikerbos

Die eerste deel is nou skerp afdraande, takel dit stadig, veral as die rotse nat is, maar hierna tel jy spoed op soos die pad na jou motor toe daal.

Moenie haastig wees nie. Die son sit hoër, jy sien die vallei uit ’n ander perspektief en bo jou kop sweef die jakkalsvoëls op die lugstrome...

Weet voor jy waai

Koste R40 p.p. en R20 per kind (gratis met ’n Wild Card).

Kaart Vra vir ’n gratis kaart by Kaapse Natuurbewaring se kiosk as jy die dagpermit koop.

Afstand Stap of ry die 5 km van die ingangshek tot by die beginpunt (jou VW Polo sal dit maak, maar iets met ’n hoë grondvryhoogte is beter). Die staproete is 6,4 km heen en weer (dit sluit die ongeveer 800 m na en van Eerste Waterval in).

Water? Jy stap heeltyd langs die Eersterivier. Skoner water kry jy nie sommer nie.

Waar? Die natuurreservaat is sowat 9 km suidoos van Stellenbosch. Parkeer buite die hek of by die beginpunt van die roete in die reservaat. Kom maar vroeg oor naweke – die reservaat is baie gewild.

Oop Elke dag van 7.30 vm. tot 6 nm. van 1 April tot 31 Oktober; 7.30 vm. tot 7 nm. van 1 November tot 31 Maart.

Kontak 021 866 1560; capenature.com