Ons gewaar ’n sebra, ’n rooipensskilpad, ’n bontebok en ’n rooiborsjakkalsvoël skaars 3 km binne die Kaap van Goeie Hoop-deel van die Tafelberg- nasionale park. Dis nou nie die Groot Vyf nie, maar die park grens aan een van Suid-Afrika se grootste stede en dié deel (Kaappunt genoem in die volksmond) beslaan net 77 km².

Ek en my twee dogters, Emilie (8) en Bella (5), is op pad na die Olifantsbosstrand langs die westelike kus van die Skiereiland om die Skeepswrakroete te stap.

bontebok
Het jy geweet ’n bontebok kan nie eens oor ’n gewone veeheining spring nie? Foeitog.
Ander name vir koningskandelare (Brunsvigia orientalis) is perdespookbossie, Maartblom en seeroogblom.

Kaappunt is ’n verbasend “wilde” plek en ons voel gou soos skipbreukelinge langs ’n vreemde kus. Dít is om twee redes. Eerstens lyk die stuk kuslyn waarlik ongerep: Die blou Atlantiese Oseaan grens aan leë strande, wat jy met ’n paar bobbejane en hadidas deel, en ’n landskap oortrek met kusfynbos en klipperige koppies.

Daarby het ek my heeltemal misgis met die aanwysings van die staproete...

Die plan is om die Skeepswrakroete te stap en dan met die Sirkelsvleiroete terug te stap na ons voertuig.

Dit klink mos eenvoudig, nè?

wrakke
Hou strandlangs as jy net na die wrakke wil gaan kyk.

Hoewel die bordjie by die Olifantsbosparkeerterrein duidelik sê “Direct route: Along sea shore and return 1.5 hours” kyk ek dit heeltemal mis. Die troppie volstruise en mak bontebokke het my aandag afgelei. Trouens, die bontebokke is só volop (en mak) soos hoenders op ’n plaaswerf; elke nou en dan dop een agter ’n bos uit.

Van die bordjie af loop die paadjie in die rigting van die see. In die somermaande staan koningskandelare soos helderrooi wawiele in die veld.

Teen die see lê klipplate en groot rotse. Vóór die klipplate draai nog ’n paadjie na links.

Aangesien ek saam met my twee kinders stap, kies ek die “road more travelled by;” dus die netjiese paadjie eerder as om seelangs oor die rotse te sukkel.

Die wrak van die MS Nolloth rus al sedert 1965 op die strand. Dis die tweede wrak op die Skeepswrakroete.

Ons stap ’n halwe kilometer tussen kusfynbos deur. Ek sien geen bordjie of klipstapel nie... ’n Mens verwag mos om in ’n stadium nader aan die strand te beweeg. ’n Keer of wat vat ek ’n afdraaipaadjie tot op die klipplate, maar sien geen verdere tekens van ’n roete oor die rotse nie.

Ná nog sowat 500 m kry ons wel ’n netjiese paadjie oor die klippe tot op ’n sandstrand.

Links van ons, versteek agter ’n paar bosse, staan die Olifantsbos-gastehuis. Ek het al hoeveel keer verlangend na dié blyplek gekyk op Sanparke se webwerf, maar dis vrekduur (vanaf R3 850 p.n. vir 4 mense!). Maar as jy hier oornag, het jy die strand – trouens die ganse reservaat – vir jouself sodra die son sak.

Buiten ’n paar strandvlooie en droë stukke seebamboes, is dit net ons drie wat oor die sand aanstryk.

Ek bespied die duine in die verte vir ’n bordjie, ’n klipstapeltjie, ’n geel voetspoor... maar helaas. Ons klouter oor die duine en sukkel tussen die bossies deur tot ons weer die paadjie sien wat ágter die duine verbyloop. Dít was ’n gróót oordeelsfout, sou ek later agterkom. Maar nou is ek net dankbaar vir ‘n paadjie.

Bo-op die plato stap jy oor ’n moerasvlakte vol riete net voor jy by Sirkelsvlei uitkom

Van hier af swoeg ons weer sowat 500 m op die sanderige paadjie sonder om enige bordjies te gewaar... (Goed, 500 m klink nie na veel nie, maar as twee honger kinders saam met jou stap én jy nie weet of jy op die regte pad is nie, is dit ’n ander storie).

Sekerlik moet ons weer strand se kant toe. Dis al 2 km verder en ons het dan nog nie ’n wrak van ’n dag oud gesien nie.

Ek besluit om weer deur die veld tot by die strand te loop. Doer staan ’n bontebok en kyk my veroordelend aan. By die strand gekom, sien ons dadelik die wrak van die SS Thomas T. Tucker (of so dink ek). Ek sou eers later by die huis besef dat ons dié bekende wrak misgestap het omdat ons oor die duine terug na die paadjie gesukkel het, pleks van om strandlangs te hou. Indien jy dus ’n selfie by die SS Thomas T. Tucker wil neem, moet jy strandlangs hou.

Dié Amerikaanse skip met wapentuig aan boord was in die Tweede Wêreldoorlog in November 1942 onderweg van die stad New Orleans in Louisiana, Amerika, na Suez in Egipte om die Britse magte te ondersteun.

Hulle wou die vyand se duikbote langs die Suid-Afrikaanse kus vermy en het te na aan dié gevaarlike kuslyn gevaar en by Olifantsbospunt op die rotse geloop. Die stomme kaptein het eers gedink hulle het op Robbeneiland gestrand. Ná die tyd is bevind dat die skip se kompas met 37° van koers af was. Die bemanning was genadiglik ongedeerd.

Inderwaarheid staan ons by die MS Nolloth wat soos ’n eensame rob alleen en weerloos op strand lê. Dié vragskip – gelaai met drank – het in April 1965 gestrand.

Op die randjie van die strand tussen die fynbos is ’n bordjie wat “Sirkelsvlei” aandui. Die paadjie hang soos ’n stukkie tandevlos van die krans af – die paadjie waarvan ons netnou afgewyk het, sluit by dié paadjie bergop aan. Stadig en stelselmatig klim ons die rand uit.

Sirkelsvleiroete
Bring ’n dag in die park deur en stap ’n kombinasie van die Skeepswrak- én die Sirkelsvleiroete (sowat 9,5 km).

By die bopunt lê ’n plat rots wat lyk asof dit hier neergesit is as ’n bankie by ’n uitsigpunt. Ons drink water, kou ’n paar jellielekkers en kyk na vragskepe wat doer ver vaar op daai lyn net voor die see en die lugruim een word.

Bo-op die plato is die landskap klipperig en oortrek met grysgroen fynbos met polle sewejaartjies tussenin. Plek-plek stap jy tussendeur ’n ruigte kreupelbome of verby ’n rotsformasie wat soos die enigste oorblywende standbeeld van ’n ou beskawing op die landskap staan.

Ná sowat 5 km kom ons by ’n moerasvlakte. Die paadjie lê plat en reguit tussendeur die riete. Aan die ander kant van die moeras klouter ons oor ’n rantjie en daar lê Sirkelsvlei. Ek slaak ’n sug van verligting.

Die vlei is die grootste varswaterliggaam in die reservaat (sowat 6 ha en 1,4 m diep op sy volste).

Ongelukkig het die varswaterbronne hier min voedingstowwe; dus hoor ’n mens nie die kakofonie van waadvoëls wat jy gewoonlik by varswaterkolle in die streek sou verwag nie. Boonop is die vlei kurkdroog.

Ek maak ’n knoop in my oor om in die winter te kom stap wanneer die blou watermassa ’n verrassing sal wees in die grougroen landskap. Én wanneer oranjeborssuikerbekkies en Kaapse suikervoëls tussen die geel, oranje en rooi heide baljaar op soek na ’n maat. Hier is ook al wilde-makoue, swarteende en kleindobbertjies gewaar.

Sodra jy bo-op die plato is, staan jy by die mooiste uitsigpunt op dié roete
Wees op die uitkyk vir fyn herfspypies op die klipperige landskap.

Die paadjie hou langs die oewer van die vlei en swenk dan links oor die plaat riete terug op die klipperige vlaktes tot by die Koggelman-rotsboog, sowat ’n kilometer later.

Teen dié tyd voel ek goed moedeloos – die “6 km-” roete raak darem nou báie lank en ons het nog net elkeen ’n sluk water oor. Tog sit ons ’n rukkie by die rotsboog. Ek tuur oor die landskap terwyl die kinders ’n rotskoggelmander dophou. Doer wei ’n troppie bontebokke en ’n paar lammers, en hier neffens my tekkie staan ’n fyn pienk herfspypie regop tussen die klippe.

Die paadjie kronkel vir sowat 300 m oor die Mimetes-rantjie tot by die bopunt van ’n kloof genaamd Die Kloof. Ons stap tussen groot wit rotse deur al langs die rand tot die paadjie na links swenk.

“Kyk, Mamma, daar’s die kar,” roep Emilie.

Oor nog ’n rots of twee begin daal die paadjie teen die berg af tot by die teerpad. ’n Paar toeriste drentel rond en neem foto’s. Dit voel asof ons weke lank in die wildernis deurgebring het. Ek voel verlig en dankbaar dat ons oorleef het. En dalk is dit juis hoe ’n mens ná ’n staptog móét voel!

WEET VOOR JY WAAI

Hoe ver stap ek?

Drie roetes begin by die Olifantsbosparkeerterrein. Dié sirkelroete wat ons gestap het, is ’n kombinasie van die Skeepswrak- en Sirkelsvleiroete – dis sowat 9,5 km. Jy kan ook die korter SS Thomas T. Tucker-roete stap deur reguit strand toe te mik en heeltyd strandlangs te hou tot by die wrak – dis sowat 3 km uit en tuis.

Die Skeepswrakroete loop ook strandlangs verby die SS Thomas T. Tucker en die Nolloth op tot by die plato en terug na die parkeerterrein (6,5 km uit en tuis). Die Sirkelsvleiroete (7 km) begin by die valhek net voor jy afdraai na die Olifantsbosstrand.

Kaarte? Kry Peter Slingsby se puik Kaappunt-kaart (vanaf R107 op slingsby-maps.myshopify.com). Dis propvol inligting oor die omgewing en dui allerlei mooi name en dinge aan wat jy nie elders gaan opspoor nie. En dit sal sorg dat jy nie verdwaal nie!

Hoe fiks moet ek wees? Die roete is meestal gelyk. Jy klim wel vir ’n kilometer lank geleidelik tot bo-op die plato. En stap ook die eerste twee kilometer op sand.

Water? Bring jou eie. Oop Elke dag van 7 vm.-5 nm. in die winter en 6 vm.-6 nm. in die somer.

Koste? Dagtarief: R80 p.p. en R40 per kind (Gratis met ’n Wild Card).

Kontak: 021 780 9100; sanparks.org

Bronne:

capepoint.co.za; Birds of the Cape of Good Hope Nature Reserve deur Mike Fraser; Sea Ports and Sea Power: African Maritime Cultural Landscapes deur Lynn Harris