Foto's: Shelley Christians

Daar bestaan ’n dwaalbegrip dat jy op ’n staproete móét sweet en blaas om by die mooiste uitsigte of watervalle uit te kom. Jy moet dit “verdien”.

Dié dat mense nie wil glo dat jy op die Kromrivier-roete met min stapmoeite beloon word met een van die grootste poele in die Wes-Kaap én ’n hoë waterval nie. Maar dit ís so, ek belowe.

Dié roete in die Limietberg-natuurreservaat begin anderkant die Hugenotetonnel langs die N1 op pad na die dorpie Rawsonville. Hier is ’n parkeerterrein langs die snelweg. Die Krom- en Elandsrivierroete begin albei hier. Stap deur die hekkie, volg die grondpad en stap oor die laagwaterbrug.

Die afdraai na die Elandsrivierstaproete is net voor die brug, maar hou verby. Die bordjie na die Kromrivierroete is net ’n entjie af in die pad aan jou linkerkant.

Eers stap jy op ’n enkelspoorpaadjie al langs die hange van die Du Toitskloofberg met die Molenaarsrivier wat langs jou verbyvloei. Al wat knor, is dat jy onderdeur die N1 stap en vir die eerste kilometer of twee hoor jy die motors en lorries bolangs verby dreun.

Ná sowat ’n halfuur draai jy regs. Voor jou vou die hange van die berg oop in ’n groen kloof waar fynbos dig staan. Die verkeer is vergete. Grasvoëls en Kaapse wewers kwetter in die bome en die rivier kabbel oor die klippe. Elke nou en dan skarrel ’n swart skurwejantjie oor ’n rots.

Nou begin die pret, want die paadjie loop kruis en dwars oor die Kromrivier. Jy klouter en spring telkens oor groot klippe oor die rivier.

Wenk
In die somer raak dit goed warm in die Du Toitskloofberg – sorg dat jy vroeg begin stap. Die laaste deel van die roete stap ’n mens in die volson. (Dankie tog vir die rivier!)

Ná sowat ’n uur word die grond om jou natter en klammer. Die lug koeler. Jy’s omsingel deur berge, maar fokus – dit kan modderig wees. Hier’s boomstompe gepak, maar maak vrede met die feit dat jou stapstewels ’n modderbehandeling gaan kry.

Tot dusver was die roete taamlik maklik met enkele opdraandes, maar dieper in die kloof raak dinge “tegnies”. Jy moet oor ’n paar yslike rotse klouter met behulp van kettings tot by die eerste waterval – rustyd!

Span uit op ’n rots, smul aan ’n energiestafie en skop jou hart weer aan die gang in die yskoue poel! Wees ook tussen Desember en Maart op die uitkyk vir rooi disas teen die kranse langs die waterval.

Van hier af klim jy met nog ’n stel kettings nóg hoër op in die kloof. Die klippe is glad; wees versigtig. Gedink die eerste waterval is mooi? Watwo, ’n tweede waterval stroom teen ’n sowat 50 m hoë krans af in ’n enorme swart poel! Dis so hoog soos ’n vyfverdiepinggebou – jou nek pyn skoon van opkyk. Avontuurlustiges kan van die kranse af in die poel spring. Of swem en bak op die warm rotse.

’n Paar uur later, op pad terug na ons voertuig, kry ons ’n groepie afgetredenes wat tot by die eerste waterval gestap het. Sien, ek sê mos, énigiemand kan dié roete stap.

Weet voor jy waai

Hoe ver stap ek? Die roete is sowat 7 km uit en tuis, maar sit minstens ses uur opsy – hier’s talle poele en uitspankolle.

Water? Vat genoeg water saam. Daar ís water in die rivier, maar onthou: Mense swem bo in die poele.

Waar? Die roete is in die Du Toitskloofberg in die Limietberg-natuurreservaat. Die parkeerplek is oos van die Hugenotetonnel, nes jy uitry aan jou linkerkant. Onthou die tolgeld van R35,50 per voertuig.

Kaart? Die roete is gemerk met geverfde voetjies en klipstapels. Laai ’n kaart af by capenature.co.za by Limietberg-natuurreservaat onder die hofie “Hiking and Walking”.

Oop Elke dag van 7 vm.-5 nm.

Permit Reël ’n permit (R44 p.p.) by info@capenature.co.za of koop een by die Du Toit’s Kloof Lodge op pad na die beginpunt toe.