Video: Evan Naudé. Teken in op ons YouTube-kanaal om ons nuutste video's eerste te sien.

Die laaste keer toe ek só na die agterkant van my pa se pers rugsak gestaar het, was voor-verlede jaar op die Camino-pelgrimstog in Spanje. En toe – nes nou – het ek geswets oor die gewig van my rugsak.

Ek kon die tent gelos het en in die oopte slaap, maar die lug was koel toe ek gisteraand gepak het. En op die ou einde is die tent in; saam met ’n slaapsak, oprolmatras, gasstofie, warm baadjie, drie bottels water én ’n driepoot.

Ek trek die rugsak se bande stywer vas, vee die sweet van my voorkop af en volg die klipperige paadjie met my oë teen die rantjie uit. Doer bo sien ek hoe die dag se eerste sonstrale oor die silhoeët van die Wolfbergskeure breek.

Die smal en breë weg

Ek en my pa, Stefan, kon ligter gedra het as ons nie in die berg wou slaap nie. ’n Dagsak met ’n bottel water, ’n toebroodjie en ’n energiestafie sou genoeg wees om die Wolfbergskeure aan te pak; selfs tot by die Wolfbergboog en terug. Ons kon egter nie die kans laat verbygaan om onder die sterrehemel langs dié ikoniese boog te slaap nie. En boonop was dit net ’n dag ná nuwemaan!

Dis net sowat 1,8 km se stap van die beginpunt by die Sanddrif-vakansieoord tot by die ingang van die skeure, maar jy klim ’n stewige 480 m. Ons trek teen ’n goeie pas weg, maar teen die tyd dat ons die skeure bereik, voel my bene soos mieliepap en ek roep halt om asem te skep.

Hier is drie skeure: ’n Wye skeur met een of twee plekke waar jy oor ’n rots moet klim, ’n smal skeur met gangetjies, donker gaatjies en ingewikkelde klouterplekke, en ’n derde skeur vir ervare stappers. Ons volg die tradisionele roete in die smal skeur op, na die boog toe en môre weer terug in die wye skeur af.

Drie jong bobbejane hardloop moeiteloos teen ’n krans aan ons linkerkant uit. Hulle boggoms weergalm in die wye skeur af.

’n Tou hoog teen ’n rotslysie dui die ingang na die smal skeur aan. Onder die tou is die eerste hindernis waarvoor dié skeur berug is. Om by die rotslysie uit te kom moet jy sowat 3 m teen ’n rotswand opklim óf jouself deur ’n donker skoorsteenagtige gat optrek.

“Dié vashouplekke is beslis nie vir kortgatte soos ons nie,” sê my pa terwyl hy tevergeefs vatplek op die rotswand probeer kry. Ons mik dus vir die skoorsteen waar ons die eerste keer (maar beslis nie die laaste nie!) ons rugsakke moet afhaal en deur ’n gat aangee.

Bokant die lysie klouter ons deur ’n enorme portaal van rots. Die lugruim is net ’n dun blou strokie doer bo tussen die rotsmure wat alkant van ons uittroon. Voor my wys drie wit pyle na ’n gleuf tussen die rotse en wanneer ek inloer, sluk die stikdonker gangetjie alle ligstrale van buite in.

Moet ons hiér in?

Steil opdraande, smal gangetjies, rotslysies en skoorsteenagtige tonnels wag voordat ’n mens die Wolfbergboog bereik.

’n Katedraal, ’n rotsboog en Adderleystraat

Moes jy al ooit oor ’n besige dansvloer stap of teen halftyd by Nuweland se kroeg probeer uitkom? Dan ken jy daardie sywaartse skoffel soos jy van voor en agter deur ’n gros mense vasgedruk word. Dié tegniek neem my deur die donker gangetjie, maar pleks van mense, is dit klipmure wat teen my bors en rug druk. Wanneer ek anderkant uitdop, val my mond oop.

In die smal skeur op die roete moet ’n mens plek-plek oor rotse klouter om ’n groot kamer met ’n rotsboog te bereik.
Dié tegniek neem my deur die donker gangetjie, maar pleks van mense, is dit klipmure wat teen my bors en rug druk. Wanneer ek anderkant uitdop, val my mond oop.

Ek staar na bo in die massiewe rotskamer voor my. ’n Rotsboog buig soos ’n reuse-stutbalk bo ons koppe. Langsaan is nog ’n boog, plat soos ’n laagwaterbrug. Van bo af sypel ligstrale deur die skeure en verf die rotswande in skakerings van rooi, oranje en goud. In dié klipkatedraal kan jy nie anders as om in eerbied stil te staan nie.

Die skeur lei jou met ’n geleidelike opwaartse helling verder. Aanvanklik is dit so wyd soos ’n skoolgang, maar later só smal dat my rugsak alkant teen die rotswande skuur.

Naby die bopunt moet ons weer ons rugsakke afhaal en oor ’n groot rots klim. Voor ons is ’n opening so groot soos ’n karvenster tussen die rotse. My pa klouter eerste deur. Ek kan net die sole van sy stewels sien toe ek hoor: “Ek hoop die dokter het alles ordentlik vasgeskroef ná my rugoperasie verlede jaar!”

Kort daarna spoeg die skeure ons uit in die oopte. Ek knip-knip my oë teen die skerp lig. Ek smeer sonroom aan en grawe my donkerbril uit vir die sowat 4 km se stap deur die veld tot by die rotsboog. Dis die Sederberg op sy mooiste: ’n Ligte bries waai die reuk van fynbos tussen die kenmerkende klipstapels deur, die paadjie lê spierwit voor jou, en doer ver staan ’n klipspringer, gereed om te laat spaander...

Maar dis ook goed warm; dus handhaaf ons ’n stewige pas om so gou moontlik by die skaduwee van die boog uit te kom.

By die boog skop ek my tekkies uit en soek ’n skadukol vir ’n middagslapie.

Later pak ek al daai swaar goed uit my rugsak en slaan my tent op. Skuins ná skemer steek ek die gasstofie aan en kyk oor my skouer hoe die Melkweg agter die boog opkom. Later wanneer ek in die tent lê, kom haal daardie skeur se stilte my en voer my weg.

Stap weer terug deur Adderleystraat – die wyer skeur – of pak ’n tent as jy by die rotsboog wil oorslaap.

Die volgende oggend hardloop ’n haas onderdeur die boog terwyl ons oppak. Op pad terug na die skeure lê rooikatspore bo-oor ons s’n van gister. Ons vorder flink in die koel oggendlug en stap dié keer deur die wyer rotsskeur, die sogenaamde Adderleystraat.

Net soos die bekende straat in Kaapstad is dié skeur breed en die kranse staan soos wolkekrabbers alkant van die paadjie. Kort voor lank is ons anderkant uit en stap af na die parkeerplek.

Terug by die kar haal ons die swaar rugsakke die laaste keer af. Ek grawe ’n vars bottel water agter ’n sitplek uit en kyk terug na die skeure teen die bergrand.

“Jong, só ’n stappie maak ’n mens net lus vir nog,” sê my pa. “Wanneer het jy tyd vir die Amatola?”

WEET VOOR JY WAAI

Afstand: Skeure toe en terug is sowat 5 km, wat jou 3 tot 4 uur sal neem. Die rotsboog is nog 3,7 km (dus 7,5 km uit en tuis) se stap. Jy kan in ’n dag na die rotsboog en terug stap – begroot sowat 8 uur vir die avontuur.

Hoe kom ek daar? Ry noord met die N7 en draai 28 km ná Citrusdal af na regs vir die Algeria-ruskamp. Hou reguit op dié grondpad vir 46 km tot by Dwarsrivier en die Sanddrif-vakansieoord.

Beste tyd om te stap? Heeljaar – selfs al raak dit bloedig warm in die somer, bly dit koel in die skeure. Spring vroeg weg terwyl daai steil opdraande na die skeure nog in die skaduwee is. Pak ’n hoed en sonroom.

Waar los ek my kar? Daar is parkeerplek by die beginpunt. Jy kry ’n kode vir die ingangshek.

Waar kan ek oorslaap? Die Sanddrif-vakansieoord is naby die Wolfbergskeure. Daar is 40 kampplekke langs die Matjiesrivier: vanaf R320 p.n. vir 4 mense, R80 per ekstra persoon, 8 mense maks.

Selfsorgkothuise: vanaf R1 360 p.n. vir 4 mense, R340 per ekstra persoon, slaapplek vir 4-8 mense.

Hoe fiks moet ek wees? Redelik. Die eerste 1,8 km is steil, maar nie uitermate uitdagend nie. In die wye skeur sal jy hier en daar oor rotse moet klouter waarvoor jy krag in die arms nodig het. Stap eerder deur die wye skeur as engtes jou benoud maak.

Water? Daar is geen water langs die roete nie. Dra minstens 1 liter p.p. as jy vir die dag kom, en 3 liter p.p. as jy oorslaap.

Koste: Dagpermit vir die Wolfberg-skeure: R70 p.p. en R40 per kind jonger as 14. Dagpermit vir die Wolfbergskeure én -boog: R100 p.p. en R60 per kind. Dié permitte kry jy by Sanddrif.

Indien jy by die rotsboog wil slaap, moet jy ook ’n oornagpermit (R140 p.p.) en ’n bewaringstarief (R60 p.p.) by Kaapse Natuurbewaring se kantoor by Algeria kry – of aanlyn by capenature.co.za.

Kontak: Sanddrif 027 482 2825, sanddrif.com; Kaapse Natuurbewaring 087 087 8250, capenature.co.za


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook