Elke dorp het ’n geheime koffieplek of doending waarvan net inwoners weet. Op Makhanda (voorheen Grahamstad) is die Provost-kafee in die ou tronk daai plek, én die Oldenburgia-staproete is só ’n doending.

Die Oldenburgia-stapklub het die 17 km lange sirkelroete – met twee korter sirkelroetes – sowat 4 jaar gelede opgeknap en elke roete is duidelik gemerk.

Van die parkeerterrein af stap jy oos op ’n grondpad, verby fynbos en klosse kooigoed, tot by ’n toposkoop.

By dié baken het jy ’n panoramiese uitsig oor die hele gebied. Links sien jy die drie Hogs-heuwels van Hogsback en regs die pynappellanderye en wildplase tussen Bathurst en Port Alfred. Waainek, Grahamstad se windplaas, lê agter jou. Die wit torings dien deurentyd as rigtingwyser.

Ná die toposkoop daal ’n voetpaadjie af in die Featherstone-kloof. Die kloof se oostelike hange is besaai met aalwyne en plate wildedaggaplante wat in die herfs oranje blom. Kyk op pad af teen dié hange uit vir die Oldenburgia grandis-boom wat net hier voorkom en waarna die staproete genoem is.

Die boom, ook bekend as die Suurbergkussingbos of dikblaarlepelboom, het ’n ongewone voorkoms met dik, harige blare en grys distels wat soos oorgroot blosserborseltjies lyk. Die Oldenburgia het die grootste blomme van al die madeliefieplante (met ’n deursnee van 10-13 cm!).

Hou deurgaans jou oë en ore oop. Ons was gelukkig om rooiribbokke op die roete te sien en hier is ook grysbokkies en vaalribbokke.

Die kloof se oostelike hange is besaai met aalwyne en plate wildedaggaplante wat in die herfs oranje blom

Hier is ’n verskeidenheid voëls te sien – van kroonarende en rooiborsjakkalsvoëls wat hoog in die lugruim swewe tot knysnaloeries wat in die woude se blaredak skuil.

Ná sowat 5 km swenk die voetpaadjie na links in ’n kloof deur ’n inheemse woud. Dis vol mooi geelhoutbome, gewone taaibos, assegaaibome en oranje en geel boslelies. Ná nog sowat ’n kilometer kom jy by ’n poeletjie. Span hier uit: ’n steil opdraande wag.

Net anderkant dié woud lê ’n T-aansluiting. Na links lê die 17 km-roete (sien die kassie hiernaas). As jy nie kans sien vir dié bulletjie nie, draai regs op die geel 14 km-roete deur die Featherstone-kloof. By ’n ou eikeboom kan julle weer rus. Van hier af vertak die rooi 9 km-roete. Moenie geflous word nie: Dis dalk korter, maar jy stap met ’n steil helling – met die gepaste naam Heartbreak Hill – tot by die beginpunt. Hier is geen skadu en geen water nie; wees dus voorbereid.

Die 14 km-roete is my gunsteling. Dis beslis die maklikste van die lot. Jy stap al langs die Kowierivier wat uiteindelik uitmond by Port Alfred – hier is dit nog net ’n stroompie. Die paadjie lei jou tot by nog ’n inheemse woud by die Dassies Krantz-kranswand waar jy weer met ’n steil helling uit die kloof klim tot by Mountain-rylaan. Jy is nou by die hoogste deel van die roete – sowat 770 m bo seespieël. Jy kyk verby die windplaas in die rigting van Port Elizabeth. Op ’n mooi dag sien jy Woody Cape se wit sandduine net buite die dorpie Alexandria.

Dis waarskynlik kroek, maar los ’n voertuig as julle nie lus het om die 3 km van hier af tot by die beginpunt te stap nie.

’n Nóg beter alternatief is om verby die kranswand te stap, oor die nek, na die Featherstone Brewery. Volg die klipstapels wat gemerk is met “FB” vir sowat 1 km tot by die brouery. Die Golden Mole IPA is ’n verfrissende ligte bier met daai kenmerkende hopssmaak.

Geniet hom! Jy verdien dit. 

Weet voor jy waai

Hoe ver stap ek? Hier’s drie opsies: 9 km, 14 km of 17 km. Die 17 km-roete is net vir hardebaarde. Dit daal af in die kloof en loop deur grasveld verby ’n ou murasie tot op die berg oorkant Mountain-rylaan. Ná ongeveer 10 km kan julle middagete eet by ’n stroompie in ’n woud. Daarna loop dit al langs ’n rug tot weer by die Mountain-rylaan.

Vat ’n kortpad: ’n Plaaslike prokureur, John Haydock, het ’n paar kortpaadjies gemaak wat uit die 14 km-roete draai. Wees op die uitkyk vir sy mooi geskilderde loerie-padaanwysers.

Hoe fiks moet ek wees? Jy moet vir al drie fiks wees, want daar is lang, steil opdraandes waar die son jou gaan jou piets. Neem dus genoeg water, ’n hoed en ’n stapstok saam.

Hoe kom ek daar? Die roetes is geleë net suid van die dorp. Enige plaaslike inwoner kan vir jou verduidelik waar Mountain-rylaan is. Neem dié grondpad verby die munisipale woonwapark en ry dan verby die Greydam tot bo-op die heuwel (sowat 5 km) na die beginpunt. Hier kan jy met gemoedsrus jou motor los.

Koste: Gratis Kontak Soek “Oldenburgia Hiking Club” op Facebook. Daar is ’n netjiese kaart van die roetes.

Kontak hulle op oldenburgia hikingclub@gmail.com

Knak ’n bier Featherstone Brewery is oop van 12 vm. op naweke en 3 nm. op weeksdae 078 040 0982; featherstonebrewer.co.za

The rock garden, Featherstone Kloof
Foto: Verskaf