Dit voel asof jy jou eie wildernis betree met geen geboue, ligte of verkeer naby nie.... Dalk net ’n Boeing wat oorkom.

Die reservaat in die Waterberg-biosfeer se grasveld, kranse en diep klowe sorg vir uiteenlopende plantegroei en is ’n tuiste vir vlaktewild. Meer as 100 boomspesies is al aangeteken en bykans net soveel soorte voëls en skoenlappers!

Die reservaat se tien staproetes is uiteenlopend en goed gemerk; dus het stappers heelwat te kus en te keur. Ons het die Platoroete (Escarpment Trail) van sowat 9 km vir taamlik fikse stappers gekies.

Toegerus met ’n stappermit en roetekaart ry ons van die ontvangskantoor vir nog sowat 2 km tot by die Stamvrug-basiskamp.

Soos jy kan raai, is die kamp genoem na die stamvrugboom (Englerophytum magalismontanum) waarvan die helderrooi vruggies ná goeie reën direk op die stam groei. Die boom dra in die hoogsomer en die sappige vrugte is eetbaar en het genoeg sap om jou dors te les.

Die Platoroete se beginpunt word langs die murasie van ’n ou stoor met ’n geel seskantige merker aangedui. Van hier af volg ’n mens groen-en-wit voetspoortjies wat met die letter “E” (vir Escarpment) gemerk is noordwaarts verby ’n hoë waterbessieboom.

Kloof
’n Rotspoel naby die Kloof-basiskamp
Stamvrug-basiskamp
Stamvrug-basiskamp

Sekretarisvoëls hou dikwels in die grasveld. In Oktober kan stappers ook op die uitkyk wees vir die elegante bloukraanvoël, en die gompou is ’n algemene gesig. Ander inwoners sluit in: kameelperd, sebra, vlakvark, eland, swartwitpens en ander wildbokspesies. Hou maar net op ’n afstand verby sodat hulle nie vir die tweebeendiere skrik nie.

Sowat ’n kilometer van Stamvrug af swenk die voetpad wes, en jy klim met ’n klimhek oor ’n wildheining.

Kyk terug wanneer jy bo-op die trappie staan na die vaalbome se kruine in die laagte en hoe die rotsriwwe ’n laer om alles trek. Hou ook in die grasveld jou oë oop vir skoenlappers.

Hier hou twee kolonies van die kritiek bedreigde waterberg-kopervlerkies in die reservaat – dié oranje skoenlappers kom net in hierdie omgewing voor. Kenners het drie dekades lank gedink dat hierdie skoenlappertjie uitgesterf het totdat dit weer in 2013 hier ontdek is.

Suikerbekkie
’n Suikerbekkie in ’n koraalboom
kopervlerkies
Die inheemse waterberg-kopervlerkies
naamplaatjies
Die meeste bome langs die staproete het naamplaatjies

Anderkant die wildheining daal die voetpad in ’n beboste kloof af en draai suid saam met die kontoer. ’n Mens kry nou ’n mooi uitsig oor die digbegroeide Waterberg in die verte.

Jy stap verby ’n paar indrukwekkende bergaalwyne en kort-kort krul die paadjie weer deur ’n stukkie bos waar ’n swetterjoel voëlroepe jou laat opkyk. Teen sommige van die inheemse bome is naamplaatjies aangebring: bergboegoe, transvaal-boekenhout, koraalboom en bergkaree. Kyk ook af grond toe: Sien jy die eienaardige wit spoelklippe in die sandsteen?

Die roete verlaat die kontoer, draai oos en terug wildheining waar ’n tweede klimhek jou bo-oor help. Jy hou nou vir sowat 80 m teen die heining langs voordat die paadjie oos kink om jou by die Kaalgatdam uit te bring. Die Stamvrug-basiskamp is nou net ’n klipgooi weg. Spring gerus in en bak dan in die sonnetjie voordat julle die pad huis toe aandurf. 

’n Transvaal-boekenhout
’n Transvaal-boekenhout

Weet voor jy waai

Afstand

Die Platosirkelroete (9 km) begin by die Stamvrug-basiskamp, en verg matige inspanning – begroot ten minste drie tot vier uur.

Jy kry saam met jou permit ’n kaart van die roete by die ontvangskantoor, sowat 4 km van die reservaat se ingangshek af. Die terrein is klipperig en bebos – stapstewels en ’n langbroek is jou beste opsie.

Daar is nie water langs die roete nie, neem dus ten minste 2 liter per stapper saam. Selfoonontvangs is skraps. Om veiligheidshalwe moet stappers die ontvangskantoor laat weet hoe laat hulle wegspring, en ook weer aanmeld voordat hulle die reservaat verlaat.

083 677 6999 of 072 565 7070.

Nog opsies?

Die reservaat se stap- en bergfietsroetes strek oor ’n netwerk van 90 km en stappers kan kies tussen afstande van 6 km tot 12 km. ’n Mens kan ook twee of meer van die roetes saamsnoer.

Net soos die Kaalgatdam by Stamvrug, is daar ook naby die Kloof-kamp rotspoele waar jy ná die tyd kan uitspan.

Beste tyd

Somersdae is warm, met die moontlikheid van ’n donderstorm in die namiddag.

In die winter is die dae matig, maar vroegoggend en snags is daar ’n byt in die lug. Augustus kan winderig wees – wees bedag op veldbrande.

Verblyf

As Bateleur te ver is vir ’n daguitstappie, oornag by een van die basiskampe – Stamvrug of Kloof – (R150 p.p.). Dit is eenvoudig maar gerieflik met groot buitebraaiplekke en skoon ablusieblokke.

Albei kampe het drie slaapkamers met elk slaapplek vir agt. Die reservaat het ook ses bekostigbare selfsorghuisies vanaf R230 p.p.

Waar?

Die Bateleur-natuurreservaat is net noord van Bela-Bela, sowat 190 km van Johannesburg en 135 km van Pretoria af met die N1 en R101.

Koste: Dagbesoekers betaal R125 p.p.

Kontak: 072 565 7070; bateleurnaturereserve.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook