Daar is min dinge wat ’n kollektiewe sug onder die niggies en nefies in die familiestrandhuis op Stilbaai kon meebring soos “raait, ons spring môreoggend halfsewe weg”.

Dit was tradisie om elke Desembervakansie op Welwillendheidsdag kuslangs van Stilbaai tot Jongensfontein te stap.

As kind was dit ’n pyniging, maar nou as volwassene kan ek nie aan ’n beter manier dink om ’n sonnige somersdag deur te bring nie!

Boonop is die roete meestal gelyk met rotspoele om in af te koel. Branders breek aan die een kant, en in die kusfynbos tjirp en fluit witkeelkanaries, gewone willies en Kaapse tiptolle vir ’n vale.

’n Mens kan die roete van enige kant af stap, maar begin liefs by Skulpiesbaai op Stilbaai. Die son sit dan agter jou en jy stap die lang ente op die sand vroegoggend terwyl jy nog vars is.

Glo my, as jy ná 6 km se stap Skulpiesbaai se lang sandstrand voor jou sien uitstrek, het jou tienjarige gemoed tot in jou sanderige North Stars gesak.

Die roete begin “amptelik” op die strand by Morris-punt in die Skulpiesbaai-natuurreservaat. Maar jy kan sowat twee derdes se strandstap misloop en by die parkeerterrein begin naby die Roland Rudd-voëlskuiling by die Stilbaai-wateraanleg. Moenie jou neus optrek nie. Trouens, ruim ’n ekstra halfuur in en drink koffie by die skuiling. Hier’s ’n eilandjie vol riete in die middel van ’n dam waar vinke baljaar én ’n strategies geplaasde tak waarop ’n witborsduiker of slanghalsvoël dikwels sit en vere kam. Verder patrolleer onder meer geelbekeende, kleindobbertjies en bleshoenders die watervlak.

Stap van die skuiling af oor die pad see se kant toe. Voor jou op die strand lê groot, ronde viskrale gebou uit rotse en rooi duine omvou die baai.

Dié visvywers is in Februarie vanjaar tot nasionale erfenis verklaar. Die Khoisan het met die viskrale en die gety vis vasgekeer. Toe die eerste Europeërs hier aankom, het hulle die visvangtegnieke verder uitgebrei tot wat ’n mens vandag hier sien. Dié krale – met name soos Grootvywer, Trekplek en Niksvanger – word deur ’n groep vrywilligers in stand gehou.

Met laagwater is die viskrale ’n lekker plek om saam met die kinders te soek na klipvisse, krappe en ander seediertjies.

Van hier af loop die roete strandlangs om Noorkapperpunt. Bo teen die rooi duine staan die groot rietdakhuise in die Bosbokduin- private natuurreservaat. Jy stap nou op ’n klipperige paadjie al langs die duine tot by nog ’n verlate strandjie (ná sowat 2 km) en ’n kilometer later nóg een. Goed, die strande is nie heeltemal verlate nie: Plek-plek staan ’n visserman met sy lyn in die water en ’n strandhuis of twee – hier’s baie plasies wat teen die strand grens. Gelukkige mense, ja. Ná sowat 5 km kom jy by twee houthuise aan in die Jongensgat-natuurreservaat. Sjoe, verbeel jou jy kan ’n hele vakansie hier deurbring. Wel, jy kan – die huise (Bosbok en Grysbok) is te huur vanaf R1 000 p.n. by agrisell.co.za.

Voor die huise – see se kant toe – is ’n grot onder die rotse – dis nie vol rotstekeninge nie, maar wel dassie-mis. Dassies is georganiseerde diere – troppe mis vir generasies op dieselfde plek.

Sien jy daai punt in die verte?

Jongensfontein en ’n draairoomys lê net om die draai van Levenpunt – paai só die kinders as hulle begin moed verloor.

Die paadjie kronkel oor en langs rotse verby. Plek-plek is ’n pad oopgekap tussen die kusfynbos. Oor rotse, deur bosse, oor rotse stap jy tot jy Jongens se strandhuise sien in die volgende baaitjie. Van hier af is dit nog net ’n kilometer se stap tot by die klein parkeerterrein by Koppiesbaai. Sjoe, was ons destyds dankbaar om ons ma’s en die tannies daar te sien!

Maar deesdae voel ’n mens lus vir aanstap, verby Jongensfontein, Blombos, Vermaaklikheid, Witsand... ag, sover as wat jou voete jou kan dra.

PAMPOENTJIE
ROTSKOGGELMANDER

Afstand: Dis sowat 11 km van Skulpiesbaai af tot op Jongensfontein, maar reël dat iemand julle kom haal by die klein parkeerterrein by Koppiesbaai – dis net 7½ km. Kyk ook vooraf na die getytafel en stap met laagwater.

Hoe fiks moet ek wees? Behalwe vir twee lang strande is die roete meestal gelyk.

Wees voorbereid: Hier is nie skaduwee of water langs die roete nie. Dra ’n hoed en bring genoeg drinkwater en sonskerm.

Waar? Volg die hoofstraat deur Stilbaai-Wes tot by die hawe en draai regs op ’n grondpad tot by Morrispunt.

Vir die voëlskuiling (GPS S34.39215 E21.41348): Draai regs uit die hoofstraat in Wegestraat – jy sal die wateraanleg aan jou regterkant sien.

Toegang: Gratis


Bron: suidkaapforum.com