FOTO’S: BRONWYN BRUCE 

Stap, hardloop, trap ’n fat bike... Bring die kinders. Bring die hond. Die 6 km strandlangs tussen die kusdorpe Umhlanga en Umdloti noord van Durban kan op verskeie maniere verken word. Wandel rustig of laat die hartspoedmeter werk en draf soontoe en terug (12 km).

Of maak ’n oggenduitstappie daarvan: Las ’n voetpaadjie deur die Umhlanga Lagoon-natuurreservaat én ’n welverdiende ontbyt by Caffé Java op Umdloti by (hoe klink rogbrood met geposjeerde eiers, roomkaas en avokadopeer?).

Stap in die Umhlanga Lagoon- natuurreservaat en wees op die uitkyk vir vleilandvoëls.

Sodra jy deur die hek van die reservaat stap, kronkel ’n plankiespad voor jou uit. Dié 26 ha- reservaat is ’n belangrike bewaringsgebied vir vleiland- en kuswoudspesies soos reusereiers, blouduikers en mambas.

Die plankiespad slinger tussendeur matjiesgoed en riete. uMhlanga beteken glo “plek van riete”, maar dié arme riete staan gebukkend; hulle nekke gebreek deur ’n kraaines van ’n trompettertjierankplant.

Jy stap dan deur ’n koel kuswoud en ’n tonnel katoenbome. ’n Paar dwase het graffiti gekerf op die bas van sommige bome. Die appelkooskleur blomme sidder bo jou kop wanneer die blouape tussen die bome se takke spring.

reservaat
Jy kan ook die 2 km lange sirkelroete deur die reservaat by jou staproete las.

Van die bome het bordjies: In die Zoeloetradisie word gevegstokke tradisioneel uit die Natalneutboom gesny en daar word geglo die groot blinkblaar-wag-’n-bietjie-boom se takke neem die geeste na hulle laaste rusplek toe.

Luister vir die kenmerkende “willie!” van die gewone willie en die deurdringende “kwit-kwit-kwit” van die groenrugkwêkwêvoël terwyl jy stap verby basterwitpeerbome waarin boomslange wag op voëls. Hier’s ook ’n 200 jaar oue witstinkhout, die oudste boom in die reservaat.

Die woud gee later bes vir die Ohlangarivier se strandmeer, wat jy oorsteek op ’n lang, smal plankiespad. Aan die oorkant styg die voetpaadjie al langs die rug van ’n beboste duin tot by ’n uitkykpunt en dan uiteindelik tot op die strand – die strandmeer en riviermonding lê nou wes van jou.

Dit hang van die gety af, maar dié rivier kan voor jou verby kronkel op pad see toe. As die honger nog nie knaag nie, gaan kyk of julle die skulphoop uit die Steentydperk in die duine hierlangs kan opspoor.

Op ’n sonnige dag vang jou oog dalk een van Umhlanga se “red-chested meerkats”. Die kol is ook Umhlanga se nieamptelike nudistestrand – Naaklopers lê graag en bak tussen die klein duine rondom die strandmeer.

Varkie en Wagter sal ook die strand geniet.

Van hier af stap jy nog sowat 5 km tot by Umdloti. Wees halfpad, ’n entjie ná die riviermonding, op die uitkyk vir die Peace Cottage. Die kothuis staan in die kuswoud by ’n draai op die strand met ’n rotsrif wat see-in lê. Dié geskiedkundige baken dateer uit 1874. Dit het behoort aan een van KwaZulu-Natal se eerste suikerboere, William Campbell.

Julle is nou sowat halfpad. Van hier af raak dinge (nog) rustiger – en die honde-eienaars en vissermanne skaarser. Ja-nee, op dié roete kry jy sommer bos aan die een kant en branders aan die ander.

Weet voor jy waai

Waar? Die Umhlanga Lagoon-natuurreservaat lê aan die noordelike punt van Lagoon- rylaan in Umhlanga, langs Breakers Resort. Hier is twee ingange: By die parkeerterrein van die oord, óf stap seelangs op die promenade voor die oord verby tot by die reservaat. Toegang is gratis.

Hoe ver stap ek? Dis 6 km van die natuurreservaat tot by Caffé Java ( 031 568 2664) op Umdloti. Dis ’n maklike stappie en behoort net sowat ’n uur te neem.

Goeie idee: Los vooraf ’n voertuig by dié koffiewinkel sodat julle ná die tyd huis toe kan ry, of kry ’n uber huis toe.

Is Pote welkom? Nie in die reservaat nie, maar al die strande noord van Bronze-strand (dis die strand by die natuurreservaat) in Umhlanga tot by 6de Laan op Umdloti, is hondevriendelik.

Beste tyd? Kyk vooraf na ’n getytafel en mik om die Ohlanga-riviermonding teen laaggety te kruis.

Veiligheid? Hier is sekerheidswagte by die natuurreservaat, maar stap liefs in ’n groep.

Kry ’n gids. ’n Begeleide staptog deur die reservaat kos R30 p.p. en R15 per kind. Die uitstappies vertrek op weeksdae om 9 vm. en 11 vm. Bespreek by Breakers Resort se ontvangs. 031 561 2271