Foto’s: Piet van Heerde

Sommer met die wegtrekslag van LA Sport se hoofkantoor in Gezina op pad na die N4-snelweg in die rigting van Middelburg is dit duidelik hierdie is nie enige avontuur nie.

Die konvooi van 25 spesiaal aangepaste veldryers en die yslike rooi vragmotor is al klaar iets om te sien, net so op hulle eie, maar nou word dit boonop met die loeiende sirenes van die Tshwane-metropolisie begelei.

Die beamptes op hulle BMW-ysterperde trek by elke kruising voor die konvooi in en keer die aankomende verkeer sodat die Rocking Crawlers onverstoord deur die stad kan beweeg. ’n Mens het lanklaas só belangrik gevoel.

Die konvooi hardebaard veldryers staan by LA Sport se terrein gereed vir die volgende klompie dae se avontuur. Buiten die organiseerders weet niemand waarheen hulle op pad is of wat daar op hulle wag nie. Een ding is wel seker... die deelnemers én hulle karre gaan tot op die uiterste beproef word. En dit is sommer by die eerste hindernis al duidelik.
LA Sport

Avontuurlustig

Ons almal ken die gewone 4x4-entoesias. Jy weet, daardie ouens wat naweek ná naweek op ’n ander plek gaan kamp en dan die nabygeleë 4x4-roete die Saterdag aandurf.

Dan kry jy ’n ander soort veldrygeesdriftige – mense wat hulle rygoed inrig om lang afstande te kan ry en gereeld selfversorgend deur plekke soos Kaokoland en Damaraland toer.

Maar dan kry dié klipkruipers... ’n unieke spesie wat floreer in die subkultuur met die naam “Rock crawlers” wat van Amerika af hierheen oorgespoel het. Die doelwit van die Rocking Crawlers, soos hulle plaaslik bekend staan, is om hulle rygoed só aan te pas dat dit letterlik loodreg boontoe kan ry.

Die voertuie kry groter bande, sterker asse, ewenaarslotte, blaasaanjaers (of superchargers, soos die Engelse dit noem) en, die belangrikste, natuurlik, daardie opgegradeerde vering wat die wiele tot doer onder kan uitstoot. En die hoogtepunt van hulle jaar is die Ultimate 4x4 Adventure – ’n hardebaard reis na ’n onbekende bestemming waarom deelnemers moet aansoek doen.

Die kriteria hiervoor is eenvoudig: groot tekkies, ewenaarslotte en genoeg krag en entoesiasme van elke mens wat die avontuur meemaak. 

Dag 1

Meld aan

Al die deelnemers meld die Dinsdagaand al by LA Sport se hoofkantoor in Pretoria aan om te registreer vir die reis en sommer ook saam te braai en kamp. Die organiseerders rep geen woord oor die bestemming nie, maar terwyl deelnemers vrywaringsvorms invul, word al die voertuie noukeurig nagegaan om seker te maak dit voldoen aan die vereistes.

Die kampterrein is op LA Sport se grond geleë, tussen die hindernisbaan en die treinspoor... ’n goeie voorsmakie van die “uithou en aanhou” wat oor die volgende klompie dae op deelnemers wag. LA Sport en Cooper-bande is die hoofborge.

Gereed vir aksie

Dag 2

Ry só

Die bestuurders word vroegoggend byeengeroep en hoor hulle gaan oos ry met die N4, in Middelburg se rigting. Die karre tree in konvooi aan, met LA Sport se helderrooi vragmotor heel voor.

Die eienaar, Lionel Lewis, bestuur self dié gevaarte en sy hoofdoel is om ekstra brandstof en toerusting na die oornagpunte te karwei. Vir die dele waar die lorrie nie die mas gaan opkom nie, het Lionel sy aangepaste dubbelwiel-Land Cruiser-bakkie op sy sleepwa agterna.

Hier is ’n verskeidenheid Jeeps in die konvooi asook ’n Land Cruiser 80-reeks en Henk de Klerk se baie spesiale Pajero. Corrie Botha, ’n gekwalifiseerde paramedikus, is in beheer van die noodhulpspan in sy Expat Rescue Jeep en is reg vir enige ongeluk.

Dan volg Corné van der Merwe en sy span van Zone wat meganiese bystand bied met spaaronderdele, kennis en die regte gereedskap.

Die mediavoertuig voltooi die konvooi, gereed om die hele petalje met hulle kameras en notaboeke vas te vang. Die string veldryers vorder fluks, sonder enige noemenswaardige ongerief vir die gewone padgebruikers, maar laat nie die geleentheid verbygaan om by ’n vulstasie stil te hou nie.

Hulle vorder verby Witbank, waar hulle van die snelweg afdraai en deur Middelburg in die rigting van Loskopdam mik. Hulle draai af en bou ’n tentedorp by die Hôkaai-pub-en-bistro waar hulle die aand oornag.

Dis egter nog lank voor slapenstyd en die veldryers word van enige oortollige gewig gestroop voor almal weer na die buurplaas vertrek. Dis die Waterval Safari-lodge, deel van die Forever-groep, en hier wag Hans Strydom en Wollie Wolmarans en sy span om die groep te begelei.

Bande word tot hoogstens 0,8 bar afgeblaas – die manne met spanrandsluitringe (of bead lockers) gaan selfs tot 0,3 bar. Die konvooi is skaars deur die sekerheidshek toe Nicholas Harris oor die radio vra die voertuie moet in laestrek gesit word. Skielik begin hulle klim.

Dit voel of hulle bergop ry, maar die organiseerders waarsku niemand moet nou al te opgewonde te raak nie. Dié is glo niks nie.

Kort voor lank moet hulle stilhou. Corné se veldryer haak vas in laestrek. Daar word gekarring en gekap en ’n bietjie gestres, maar ’n rukkie later is alles reg en hulle kan weer in die pad val. Die manne wat weet, sê die besigheid was net effens stram omdat dit te min gebruik word.

Volgende draai hulle van die uitgetrapte paadjie af en Wollie beduie waarheen hulle volgende mik – reguit op teen die rantjie. ’n Paar manne begin hulle staal vir die graad 5-roete wat met skerp draaie teen die rantjie uitkronkel, maar Wollie steek ’n stokkie voor daardie planne: Julle ry nie óm die klippe nie; julle ry óór hulle.

Dis ’n warm dag – die kwik raak al aan 37 ºC en die sweet tap die manne af wat die pad oor die klippe moet wys terwyl die voertuie boontoe kreun. Dis een ding wat ’n mens van dié groep opmerk: Hulle kruip oor die klippe en los die wieltol en geweld vir ander manne.

Hulle beweeg letterlik duim vir duim en los skaars ’n merk. Hulle vorder stuksgewys oor die roete en wanneer hulle klaar is, besluit die manne terstond om in ’n klofie af te ry en ’n groot rots die stryd aan te sê.

Dis verstommend hoe hierdie mense dink. As daar ’n gaping is waarin die kar kan pas, sal hulle daar probeer ry. En die vering en onderstel doen eenvoudig wat van hulle verlang word.

Die manne en vroue is taamlik skrikkerig, want een klein foutjie en jy tuimel teen die afgrond af.

Daar is egter oomblikke wat dit lyk of dit broekskeur gaan. Veral wanneer ’n 40”-linkervoorband teen die modderskerm vasdruk terwyl die regteragterwiel besig is om vastrapplek te kry teen ’n klip. ’n Mens is dan nie seker of die uitdrukking op die bestuurder se gesig een van lekkerte of benoudheid is nie.

Die groep bereik die waterval. Dis aansienlik koeler hier en elkeen gryp die kans aan om sy kop onder die straal yskoue water te druk, waterbottels vol te tap en asem te skep. Die rustigheid word deur Nicholas se Jeep versteur. Hy kom sonder veel seremonie in die rivierbedding opgery, in die rigting van die waterval. Dis die verste wat iemand nog in die rivierbedding opgery het.

Uiteindelik stuit die laaste klompie groot klippe hom, maar Nicholas hou vol hy sou hulle baasgeraak het as hy meer tyd gehad het. Daar kleef nog ’n taai hitte toe die groep terugkeer na die kampterrein, maar kort voor lank – en ná ’n welverdiende stort – ontspan almal met ’n koue drankie in die hand om die braaivuur.

Nicholas Harris maak aanvanklik korte mette van die rivierbedding... tot ’n groepie groot rotse hom stuit.

Dag 3

’n Dag op die pad

Die groep word vroegoggend meegedeel dat hulle vandag net op die hoofpaaie gaan ry na hulle volgende bestemming: die Drakensberg in die omgewing van Harrismith in die Vrystaat.

Hulle val in die pad en trek suidwaards – met die gebruiklike besoeke aan al wat ’n vulstasie is. Hier staan die personeel bont – nie net by die pompe nie, maar ook in die winkel. Daar is mos allerhande lekkernytjies waarvoor ’n mens kamstig skielik lus het.

Aan die einde van die dag trek hulle in by Dirk van Reenen. Dié voormalige tydrenjaer is deesdae ’n veldrygids in die berge. Hy is ’n direkte afstammeling van die Van Reenen na wie die pas hier anderkant op die N3 op pad na Durban genoem is.

Elkeen kry ’n plekkie om sy tent op te slaan. Die skraal windjie is in sterk teenstelling met gister se versengende hitte en die deelnemers krap in hulle sakke vir al wat ’n warm ding is. Die aand word die bestuurders bymekaargeroep. Die volgende dag se program word bespreek en hulle word behoorlik die Leviete voorgelees: Hierdie is nie ’n speelparkie nie. Jy is in lewensgevaar omdat een klein foutjie daartoe kan lei dat ’n kar teen die berg afrol.

Dirk vertel hoe dit al met hom gebeur het en sê hy is gelukkig dat hy hier is om die storie te vertel. “Van hier af is dit rof, manne. Hier is geen amptelike kampterrein of geriewe nie. Net die skoon bergwater. En maak julle sommer by voorbaat reg vir enige denkbare weerstoestand,” waarsku hy.

Ná die braai verdwyn almal so stuk-stuk na hulle lêplek toe. Dit is duidelik belangrik om uitgerus te wees vir môre se avontuur. Die sprake van skuins hellings en turfmodder beïnvloed meer as een deelnemer se nagrus.

Dag 4

Erosieslote... en teëspoed!

Sommer kort ná die wegtrekslag is Dirk op die radio en sê hy het probleme. Sy Jeep sukkel om aan die gang te kom. Maar die oomblik toe hy die grondpad vat, ondergaan die Jeep ’n gedaanteverwisseling en hy loop soos stroop. “Seker maar teerpadsindroom,” sê hy.

’n Rukkie later bereik die groep Enoch Saba se plaas, Humewood. Hier is ’n magdom erosieslote en Enoch glo nie ’n mens kan met ’n voertuig hier hond haaraf maak nie. Maar voor hy nog kan keer, is die eerste Jeep in ’n sloot.

Dirk lei die groep sommer so op gevoel, maar skielik is daar ’n “klunk”-geluid onder sy kar. ’n Hele strook van sy regtervoorwiel se velling, blyk dit, het teen ’n klip gestamp en eenvoudig afgebreek. ’n Fratsongeluk as jy al ooit een gesien het. Dit vat nie lank om te herstel nie, maar dit kos nogal ’n geswoeg en sweet om ’n noodwiel in die sloot te kry.

Die groep speel ’n rukkie langer in die slote en vertrek dan na die volgende boer se plaas. Phineas Kele is 95 jaar oud en boer nog voltyds op sy plaas, Roodebloem. Omdat die groep oor sy grond ry, moet hulle eers gaan groet. Sy seun Samson het by hom kom braai vir die dag.

Op pad berg toe

Die konvooi het net weer begin ry toe iemand ’n slang teëkom. Almal wil gaan kyk, maar die slang is klaar weg. Seker ’n rinkhals, sê Dirk. Dis net rinkhals en pofadder wat in dié geweste voorkom.

Die groep vertek weer op ’n streep, en ’n kilometer of drie verder is dit die Pajero se beurt om die vordering te stuit. Hy staan in die hek met sy linkervoorwiel plat onder hom. Die onderste bolgewrig is morsaf. “Gee ons so 45 minute,” kom die versoek. ’n Driekwartier later is die bolgewrig vervang en die Pajero draf weer.

Oomblikke later verrys die eerste groot hindernis voor die groep. Dit lyk onmoontlik om teen dié tamaai sandsteenrots op te ry en Dirk beveel aan dat die tweedeur-Jeeps eerder die makliker roete vat. Hier gaan dit net oor die regte lyn en om op die regte oomblik die regte hoeveelheid poeier op die wiele te sit om die steil klip uit te klouter.

Jou momentum moet rég wees, en as jou wiele begin tol, moet jy jou voet lig om vastrap te herwin. Doen dit alles reg en jy klim moeiteloos tot bo.

Kort hierna word die groep gelei na die helling wat Monkey Puzzle genoem word. Dis ’n helling van ongeveer 120 m met vaste rots, maar bestuurders moet versigtig ry en van die gras af bly... dis seepglad. Hierna moet jy die pad soek wat jou anderkant uitneem, net soos ’n legkaart.

Dis nie lank voor die Pajero moei­likheid kry nie. Die onderste bolgewrig is morsaf gebreek, maar die werktuigkundiges is vinnig op die toneel en doen die herstelwerk binne minder as ’n uur.

Die manne en vroue is taamlik skrikkerig, want een klein foutjie en jy tuimel teen die afgrond af. Alles gaan goed tot die agterkant van Lourens Rautenbach, wat reeds sy vrou en kind laat uitklim het, se ryding skielik gly. Hy hou egter kop en stuur na die afgrond se kant waar vaste rots is en hy sy ewewig kan herwin.

Dit is ’n noue ontkoming, maar Lourens se ondervinding het ingeskop en hy het die regte ding gedoen. Die res van die voertuie durf die helling met groter ontsag aan en maak dit veilig deur.

Die konvooi word deurgaans omring deur die skouspelagtigste natuurtonele – dit is veral ’n reguit lyn wat in die gras gebrand is wat die oog tref. Dirk verduidelik dit gebeur as die berg brand en die mis kom in. Dis die mis wat die vuur so in ’n reguit lyn blus.

Laatmiddag begin die groep vir ’n plat stukkie aarde soek om kamp op te slaan. Hulle kry ’n plekkie tussen graspolle en die nag verloop sonder voorval verder.

Dag 5

Groot berge en donderstorms

Vroegoggend al lei Dirk die groep oor elke denkbare klip of hopie waar ’n standaardveldryer nie die pyp sal rook nie. Oor klippe, af in slote en deur water.

Hulle ry met die pyplyn langs tot reg onder die Swartwaterdam se wal. Hier besluit die ouens om in die rivierloop af te ry en te kyk hoe ver hulle kan kom. Dit gaan heel goed en die voertuie klim en klouter teen die klippe uit.

’n Paar honderd meter stroomaf is die eerste groterige watergat, maar ’n mens kan sien die water is vlakker. “Ry aan die linkerkant tot daar by die klippe wat daar uitsteek, dan swaai jy na die regterkant,” is Nicholas se raad voor hy eerste deur die gat probeer kom.

Hy swaai egter te laat regs en beland in die dieper water. Hy probeer om self weer daar uit te kom, maar dan hoor hy die klapgeluid onder sy Jeep. Die regterdryfas het die gees gegee. Soos nou al die gebruik is op hierdie avontuur, is dit nie ’n groot probleem nie en die spaaronderdele staan gereed.

foto’s Piet van HeerdeDie werktuigkundiges spring aan die werk en kort voor lank is die stukkende onderdele uitgehaal. Daar is egter net een probleem: Hulle kort ’n seël en hulle kort hom nóú. Een word van lap pasgemaak. Hopelik hou hy tot tyd en wyl. Terwyl hulle met Nicholas se Jeep spook, ry Hansie Coetzee deur... en begaan presies dieselfde fout.

Al wat anders is, is dat hy sy kar se linkerdryfas breek. Gelukkig is die werktuigkundiges voorbereid en handel die takie in ’n oogwink af.

Die Ultimate 4x4 Adventure neem die deelnemers deur die skouspelagtigste natuurskoon in die Drakensberg, maar hulle kan nie bekostig om vir een oomblik hulle konsentrasie te verloor nie. Soos Dirk van Reenen waarsku, kan een foutjie noodlottig wees. Dit is egter presies hoe hulle daarvan hou, en hoekom hulle jaar ná jaar hierdie epiese reis aandurf.

Hierna ry die groep na nog een hindernis. Die rivierloop bestaan hoofsaaklik uit sandsteen, maar die ryvlak is taamlik glad en eenvormig. Hier moet jy die regte lyn en die regte hoeveelheid krag vind.

Dirk kry die kombinasie egter verkeerd en sy dryfas se kruiskoppeling (universal joint) groet. Weer eens blyk dit geen teëspoed is te veel vir hierdie groep klipkruipers nie. Hulle sleep drie batterye nader en sweis die stukke sorgvuldig aan mekaar en versterk die besigheid met U-boute. Nou werk dié gelapte onderdeel amper beter as die oorspronklike.

Vir die laaste stukkie van die dag ry die groep gly-gly teen ’n steil helling af om doer onder vanaand se kamp op te slaan. Die weervoorspelling sê dit gaan in die nag kom reën en die manne maak haastig vuur sodat hulle kan braai. Dis ook nie lank nie voor die donderstorm opsteek en die gietende reën uitsak.

Die volgende oggend is alles nat: tente, slaapsakke, klere... alles! Maar ’n mens sou niks minder verwag nie, want dit is die immers die Ultimate 4x4 Adventure dié.

Dag 6

Huiswaarts

Dirk is vroegoggend al uit met sy Jeep. Wanneer hy terugkom, het hy slegte nuus: “Nee, boys, ons gaan nie daar kan uit nie, die reën het hom te glad gemaak.”

Dis tyd om huis toe te mik. Sommige trek af vir iets te ete, álmal hou stil vir brandstof, maar die lyn terug Gauteng toe loop reguit. Die avontuur is verby en almal het oorleef. Tot volgende jaar.