Die Internasionale Ruimtestasie doen vandeesmaand weer ’n paar oorvlugte oor Suid-Afrika wat dit die moeite werd maak om jou lyf satellietjagter te hou.

Terwyl jy dit geluidloos sien oorvlieg, dink daaraan dat daar ses mense in daai ligkolletjie is. Dié span help met navorsing en instandhouding van die ruimtestasie. Hulle vlieg teen ’n spoed van byna 28 000 km/h – dit beteken hulle vlieg elke 90 minute reg om die Aarde en beleef elke dag 15 sonsondergange en 15 sonsopkomste!

Die tye en sigbaarheid verskil nogal baie van waar in die land jy jou bevind. Soos dit enige goeie satellietjagter betaam, sal jy dus jou eie voorspellings moet doen van waar en wanneer dit oor jou dorp of stad gaan vlieg. Moet jou egter nie laat afskrik nie; deesdae is dit maklik om te doen.

Volg dié stappe: Gaan na die webblad heavens-above.com en kies eerstens jou ligging (klik op “Change your observing location”). Klik dan op “ISS” om ’n lys van tye en rigtings vir voorspelde oorvlugte te sien. As jy op die tyd klik, sien jy ’n sterrekaart van die oorvlug. Jy kan ook ’n 3D-voorstelling van die ISS se posisie (soos op die grafika hierbo) sien.

Daar is ook ’n paar slimfoon-apps beskikbaar wat jou posisie outomaties bepaal met behulp van die foon se GPS-funksie en jou selfs vooraf met ’n alarm kan waarsku voor ’n oorvlug. Twee van die bestes is ISS Detector (Android) en Sputnik! (iOS). Laai dit af in jou appwinkel. Lekker jag