Skets: Fred Mouton

My goeie vriend J.P., ’n sielkundige van Grahamstad, bel my een aand. “Ek en ’n kollega het op ’n smoke break gesels en besluit om weer die Alexandria-staproete te gaan stap. Dit sal ek en drie kollegas wees – wil jy saamkom? Maar...” 

Nog voordat J.P. sy sin kon klaarmaak, stem ek gretig in. Die 36 km lange tweedag-Alexandriastaproete in die Woody Cape-deel van die Addo- nasionale park is lekker. Ek het al die roete gestap, maar doen dit graag weer. 

Die plan was dat ons groepie twee dae lank saam stap en nie ’n woord met mekaar praat nie.

Maar J.P. moes eers sy sin klaarmaak: “... dit gaan wel ’n silent hike wees.” ’n Wát? Ja, ’n stil staptog... 

Die plan was dat ons groepie twee dae lank saam stap en nie ’n woord met mekaar praat nie. Jy is ook nie veronderstel om hardop met jouself te praat nie, of om enigsins met een van jou medestappers te kommunikeer nie. Nie eens oogkontak maak nie.

Die idee is om groter bewustheid te hê terwyl jy stap en meer aandag aan jou onmiddellike omgewing te gee. Jy laat dus nie toe dat woorde en gesprekke te veel in jou pad kom nie. Dus ’n soort stiltetyd, al stappend én in die teenwoordigheid van ander. Die aand voor die staptog begin, het ons vir oulaas om ’n kampvuur kajuitraad gehou. Ek, J.P., Scott, Mark en Heinrich. 

Filosofiese vrae het opgeduik: Het iets meer betekenis as jy dit alleen ervaar, of wanneer jy dit met iemand deel? Gaan ’n staptog nie juis daaroor om ervaringe in die oomblik met goeie vriende te deel nie, of is daar ook waarde daarin om so iets steeds saam te doen, maar in stilte? En, dalk meer belangrik: Wat gebeur as ’n slang jou pik of jy jou enkel stuit? Bly jy steeds stil?

J.P. het aan ons uitgewys al hierdie vrae wys hoe ongemaklik ’n mens met die idee van stilte is. Ons is almal die hele tyd op soek na uitsonderings, reëls en maniere om dalk die stilte te breek. Ons wil selfs beperkings op iets soos stilte plaas.

Maar eintlik is al hierdie vrae ’n goeie ding, het hy gemeen, want op ’n manier maak dit ons reeds bewus van ons eie gedagtes. Ons het wel besluit om ’n boodskap in my notaboekie neer te pen om vir ander groepies stappers te wys wat ons dalk sou teëkom. ’n Mens wil darem nie ongeskik voorkom en soos vreemde siele wat met stomheid geslaan is by die hut ronddwaal nie. Toe het ons maar geskryf: “Hello! We’re on a Silent Hike. We’re not rude or mute or vegetarian or from Joburg, just silent. Enjoy!”

Ons staptog begin die volgende oggend. Selfone afgeskakel, monde gesnoer. Ons het van meet af aan vir mekaar ruimte gegee en omtrent 100 m van mekaar af gestap. Aanvanklik was dit moeilik. My gedagtes was soos ’n wegholveldbrand. Hoekom doen ons dit?

Ek het oor allerhande goed begin dink: Ek was die vorige dae grieperig en het begin stres of ek dalk weer koors gaan kry... dan gaan draai ek by my destydse gefaalde poging om Kilimandjaro tot heelbo uit te klim. Om een of ander rede het ek vasgehaak by herinneringe aan 2010 se Wêreldbekersokkerreeks, spesifiek Shakira se temaliedjie en ’n meisie waarop ek toe verlief was... en dan spring my gedagtes weer na die lirieke van ’n onbekende Leonard Cohen-liedjie: “Coming back to you.” Maar stadig, tree vir tree, het ek begin ervaar hoe my gedagtes minder maal en deel.

Ek het bewus begin raak van klein goedjies wat ’n mens as vanselfsprekend ervaar en skaars oplet: die klank van my voetval en takkies wat kraak as ek stap, my eie asemhaling, die gekwetter van voëls en wind wat liggies waai... al hierdie sintuiglike waarnemings het my stadig en subtiel ingetrek. Ek het opnuut besef hoe nodig dit is. En hoe maklik selfone en ’n gepratery keer op keer jou aandag aftrek. Die agtermiddag sou ons (en ons stilte) egter geweldig toets. ’n Hengse sandstorm, iets wat J.P. in byna tien staptogte hier nog nooit ervaar het nie, het ons met mening getref. Ek kon nie ’n halwe meter voor my sien nie.

My hoed het teen my gesig vasgewaai – dit was nie eens nodig dat ek dit vashou nie. Die sand was óral: in my ore, oë, neus, mond... elke tree was ’n hengse uitdaging, ’n desperate gebeur teen ’n stormsterk wind, waarskynlik 5 km ver. En die beste (en slegste) van alles? Niemand het ’n woord gesê nie. En dit het ook beteken dat niemand hardop gekla het nie.

Toe ons in ’n stadium handeviervoet teen ’n tamaai duin opklouter soos skipbreukelinge langs die Skedelkus wat nou maar vrede gemaak het met hulle afspraak met die dood, het J.P. se hoed van sy kop afgewaai.

Hy het ’n stotterende, half gedempte kragwoord losgelaat, waarvoor ek hom nie kwalik neem nie. Soos ’n skaaphond wat ’n frisbee vang, het ek na links geduik, my arm uitgestrek en sy hoed van ’n gewisse sandgraf gered, tot by hom gehandeviervoet, die hoed langs hom neergesit en voortgesukkel.

Laatmiddag het ons die hut bereik. Elkeen het vir hom ’n bunk bed gekies en vir homself in die kombuis aandete gemaak. Later het ’n ander groep van ses stappers opgedaag, ons jolig gegroet, en voordat dinge te ongemaklik kon raak, het hulle die boodskap in my notaboekie gelees.

Ek weet nie of hulle gesigsuitdrukkings verras was en of iemand sy of haar oë gerol het nie, want ek het met niemand oogkontak gemaak nie. Gelukkig was hulle nie ’n klomp partytjiediere nie, en ons wat onsself die swye opgelê het, kon vroeg gaan slaap sonder ’n lawaai in die agtergrond.

Gandhi het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het: “Speak only if it improves on the silence.”

Die volgende oggend het ons die enorme duine aangedurf. Jy kon nie anders as om baie klein en nederig te voel nie, veral wanneer jy ook stil is. Later was ons weer in die woud en teen halfeen die middag het almal by die eindpunt ontmoet. Ons het nie vir mekaar high fives gegee en begin babbel nie. Almal was heel gemaklik met die stilte.

“That’s it then,” het ek iemand hoor sê.

’n Stilte het gevolg. Een-een het ons weer begin praat. Die algemene konsensus was ons sou almal nog lank so kon aanhou stap sonder om ’n woord te sê. As ek nou terugdink aan ons stil staptog, was daar enkele kere wat ons ’n bietjie van die reëls afgewyk het. Soos toe J.P. se hoed afgewaai het. Of wanneer iemand ’n koffie neersit vir die stapper langs hom, en “hier is vir jou koffie” woordeloos kommunikeer.

Heinrich het vir my ’n skilpad gewys wat ek misgekyk het. En J.P. het naby die eindpunt met sy stapstok beduie na waar ’n rooikat in die lang gras sluip – ’n besonderse oomblik. Maar die res van die tyd was elkeen oorgelaat aan sy eie gedagtes.

En soms, net soms, het ek vir ’n paar oomblikke skoon vergeet om te dink, en kon ek net teenwoordig wees, in die oomblik in die natuur. En dit was genoeg. Dit was die begin van ’n nuwe reis waar ek stilte meer begin koester het. Gandhi het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het: “Speak only if it improves on the silence.”