Foto's: Ronel Steyn

Ons kruip handeviervoet oor ’n duineveld in die Kouga-streek. Kouga beteken “plek van oorvloed” in die Khoi-taal en is die naam van die streek wat rofweg strek van die Baviaanskloof tot by die kusdorpie Kaap St. Francis.

Op Google Maps se satellite view sien jy die wit duineveld tussen Oesterbaai en St. Francisbaai midde die groenigheid. Fyn paadjies loop soontoe en jy kan net met jou voete hier uitkom.

Met die eerste oogopslag is hier niks oorvloedigs aan die see van duine waaroor ons die afgelope drie uur op en af klouter nie. Jy kan jou maklik verbeel jy’s in die verlate Sahara. Maar ons groepie van agt stappers sit gehurk in die droë loop van die Sandrivier juis omdat hier so baie lewe is!

’n Groot sebraslak (Cochlitoma zebra) het eerste ons aandag getrek en almal bespied die sand vir nog aksie. Hy seil statig verby die verbleikte doppe van sy voorouers.

Kyk, dáár loop die spoor van ’n ratel wat vanoggend oor die klam sand kortpad gekies het bos toe. Duskant teen die wand van ’n duin sien jy tientalle fyner spore, blouapies wat skel-skel in ’n trop teruggeskarrel het na die melk- en kershoutwoude wat aan die duineveld grens.

Reg onder ons neus lê beentjies, skulpe, kleipotskerwe en klipbeiteltjies: ’n Khoi-ashopie wat eeue lank onder die verskuiwende sand begrawe gelê het tot westewinde dit verlede week oopgewaai het. Ons bekyk die vonds, staan op, stof af en stap verder. Binnekort waai die sand dit weer toe, en lê dit versteek tot die volgende groepie stappers oor 10, 20 of 100 jaar dit weer ontdek.

Jy kan nie help om te dink dat mense reeds duisende jare deur dié geweste loop nie, van een kos- en slaapplek na die ander. Nes ons op die vier dae lange Chokka-slenterstaproete. 

Op Dag 1 op die Chokka-slenterroete stap ’n mens by tye op ’n smal voetpad deur velde vol fynbos en boegoe kuslangs tot by Thyspunt en dan terug na Oesterbaai

Dag 1 (18 km)

Teen jou eie pas

Die roete strek oor 62 km tussen die kusdorpies Oesterbaai en Kaap St. Francis. Ons staptog het eintlik gister “nieamptelik” begin. Esti Stewart en haar man, Eric, die mense aan die stuur van die staproete, het my en my vrou, Ronel, en ses ander stappers op ’n sonnige herfsoggend by die Kaap St. Francis-vakansieoord ontmoet. Ons motors bly hier vir die volgende vier dae.

Ons het ons bagasie in ’n Ventertjie gelaai en in ’n bussie geklim vir die 45 minute lange rit na Oesterbaai sowat 20 km wes van hier. “Is julle reg vir die groot stap vanmiddag? Ek hoop julle is fiks,” sê Eric. ’n Paar mense kyk bekommerd na mekaar.

“Ek dog jy sê dis ’n slenterstap,” fluister Ronel.

“Toemaar. Ek terg net. Dag 1 gaan rustig wees,” sê Eric laggend.

Op dag 2 stap jy binneland langs deur die Sandrivier-duineveld na die Dune Ridge Country House naby St. Francisbaai. Op die derde dag stap julle terug kus toe en seelangs tot by Kaap St. Francis. En op die laaste oggend stap jy al om die skiereiland tot op St. Francisbaai. Esti gaan ons gids wees vir die drie dae.

Kophou met al die St. Francisse, nè: Hier is die kusdorpies Kaap St. Francis en St. Francisbaai én die hawe Port St. Francis! ’n Portugese skeepsvaarder, Manuel de Perestrelo, het die baai in 1575 genoem na St. Francis van Paola, die beskermheilige van matrose.

Saans stort jy warm en slaap onder wit linne in ’n gastehuis of lodge nadat jy gesmul het aan die streek se vis, wildsvleis en calamari. Jou bagasie word aangery, jy stap net met jou dagrugsak met water en middagete wat vír jou gepak word. Dís mos hoe ’n mens wil stap!

Op Dag 2 sal jy tientalle van dié sebraslakke in die Sandrivierduineveld sien, veral as ’n motreëntjie vroegoggend die sand klam gemaak het

Ons ry stamp-stamp deur grasvelde met die kleur van Creme Soda, waar melkkoeie wei en windplase se turbines tol. Teen 12 nm. se kant saal ons af by die gesellige Oyster Kaya (oysterkaya.co.za) op Oesterbaai.

Vanmiddag se stap is net om jou litte los te kry. Jy kan die hele 9 km tot by Thyspunt en terug stap of bloot stap so ver as wat jy lus het en die res van die middag ontspan op die Oyster Kaya se houtdek.

“Probeer om teen 5 nm. terug te wees vir vanaand se potjie,” sê Esti terwyl sy kospakkies (toebroodjies, vrugte, suiglekkers en ’n Energade) oorhandig.

Tien minute later is ons op die strand, en twintig minute later lê die laaste van Oesterbaai se strandhuise agter jou. Hier en daar groet jy ’n hengelaar en sien see-in ’n paar tjokkabote dobber (tjokka, oftewel inkvis of calamari, is die grootste uitvoerproduk van die streek, meestal na Italië en Spanje).

Jy stap later van die strand af teen ’n krans op en dan meestal op ’n enkelspoorpaadjie langs deur fynbos: slangriet, besemriet en erika. Hier haal jy diep asem; longe vol soutlug en seebamboes. Én boegoe wat ruik na suurlemoen en knoffel.

Regs van jou raas die branders teen die rotse, maar spits ook jou ore vir die kenmerkende getjie-tjie van groot- en kleinrooibandsuikerbekkies.

Ons eet toebroodjies in ’n beskutte baai en kyk hoe swarttobies en kleinstrandlopers die sand bo die laagwatermerk fynkam vir iets te ete. Dis moeilik om te glo die regering wou tot onlangs toe ’n kernkragsentrale by Thyspunt bou. Daar is gelukkig afgesien van die projek, onder meer omdat omgewingsbewustes sterk kapsie daarteen gemaak het.

Die stappers daag laatmiddag twee-twee weer op by die Oyster Kaya. Ná ’n warm stort om die sand en sout af te was kuier ons onder ’n melkhoutboom met ’n kaasbord, olywe en ingelegde vye terwyl die potjie stadig prut.


Hier en daar vleg jy jou pad deur kuswoud, en ’n gids soos Esti Stewart (hier agter Aimee Friederich) is onontbeerlik

Dag 2 (16 km)

Vaar die duine in

Ons stap deur Oesterbaai se strate tot by ’n hek wat Esti vir ons oopsluit. ’n Tweespoorpad lei ons tot by die duineveld. Vandag het ons dié hele “woestyn” vir onsself. Baie van die grond in die omgewing behoort aan Eskom (danksy die kernkragplanne by Thyspunt) en het dus jare lank ongerep gelê.

“Toe ek die Chokka-roete in 2013 begin het, het ek spesiale toestemming by Eskom gekry om stappers deur die duineveld te lei,” vertel Esti. “Hier’s nie ’n vaste roete nie omdat die duine na gelang van die winde en ondergrondse water skuif en verander. Dis een van my gunstelingplekke in die wêreld.”

Hoewel jy nooit ver van die kus af stap nie, sien jy nie vandag die oseaan nie. Net ’n golwende sandsee wat jou omtrent ses uur gaan neem om oor te steek, met báie op en af stap.

Bo-op die kruin van die hoogste duine kan jy doer na die noorde die Baviaanskloofberg sien, en soms hoor jy wraggies die gewoep van windturbines wat teen die duineveld grens.

Die weste- en oostewinde wat hier waai, asook ondergrondse riviere, veroorsaak dat die duinelandskap gedurig verander.

Dankie tog vir vanoggend se motreëntjie – die klam sand is effens fermer – anders sou Ronel my die res van die roete moes abba!

Die weer bly dreigend en die donker wolke, geel sand en groen kuswoud wat aan die duineveld grens, skep ’n dramatiese landskap. Ná vyf uur se stap sien ons die einde van die duineveld, en die rietdakke van St. Francisbaai se huise in die verte.

Amper daar! Die Dune Ridge Country House (duneridgestfrancis.co.za) waar ons vanaand slaap, is ’n luukse lodge gebou in die Britse Setlaar-styl in die Eskom-bewaringsreservaat aan die buitewyke van St. Francisbaai. Ná die dag se stap is jy so bly om by die herehuis met sy diep stoep, kothuise in ’n welige inheemse tuin en swembad aan te kom jy voel skoon lus om die ontvangsdame te soen!

Ná ’n warm stort sit ons aan vir sampioensop, volstruissteak en malvapoeding... Wie het gesê stappers eet net sojamaalvleis en tweeminuutnoedels?


Dag 3 (15 km)

Die kus is wild

Ná ’n Engelse ontbyt (hoe dan anders?) mik ons terug kus toe.

Ons stap vir ’n kwartier op ’n smal voetpaadjie deur ’n donker inheemse woud. Doudruppels hang aan die spinnerakke, en elke nou en dan koes jy vir ’n kershoutboomtak wat gesighoogte hang. Daarna stap ons vir ’n uur weer in die oopte oor nóg ’n paar sandduine tot by ’n tweespoorpaadjie see toe, na die gehuggie Mostertshoek.

As jy droom van ’n huisie by die see, droom jy eintlik van Mostertshoek. Hier is net ’n hand vol eenvoudige huisies aan die voet van ’n krans, ver van die beskawing en sy dinge. Hier kan jy stoepsit, lees en diep dinge dink. Jy vang self jou aandete, braai dit en gaan slaap vroeg. Môre doen jy dieselfde. En die dag daarna.

Terwyl ons verby Mostertshoek stap, maak elkeen van ons planne (Lotto, bankroof, piramideskema, enigiets!) om ’n huisie hier te bekom.

Stapskoene is die eerste ding wat waai as jy ná ’n lang dag deur die duineveld by die Dune Ridge Country House opdaag!

Die voetpaadjie deur die fynbos en oor die rotse is nou gelyk, maar die kus is besaai met groot rotse, met branders wat hulle met geweld daarteen uitwoed. Tientalle skepe het oor die eeue heen aan die kus op rotse en riwwe beland. Die geroeste stoomketel van die Britse oorlogskip die Osprey, wat op 29 Mei 1867 hier op die rotse geloop het, lê langs die voetpad op die sand. Slegs een van die 83 matrose aan boord het verdrink.

Die kus eis steeds sy tol: Met Sealpunt se vuurtoring net-net sigbaar in die verte, stap ons verby ’n handgemaakte kruis omring met stapeltjies klippe en skulpe. Dis ’n gedenkteken vir een van die nege vissermanne wat in 2017 verdrink het toe hulle tjokkaboot, die Maredon, in stormweer omgeslaan het.

Die vuurtoring en die gewilde vakansiedorp Kaap St. Francis met sy mooi swemstrand kom nou vinnig nader. Dié vuurtoring doen al diens sedert 1878 en is die hoogste klipmesseltoring langs Suid-Afrika se kus. Ons loer gou in by die Sanccob-sentrum langs die vuurtoring waar vrywilligers brilpikkewyne, malgasse en ander seevoëls rehabiliteer, voor ons die laaste twee kilometer strandlangs na die Kaap St. Francis-vakansieoord (capestfrancis.co.za) takel – ons blyplek vir die aand.

Dis ’n Saterdagaand en ons kuier saam met die plaaslike mense by die gesellige Joe Fish Restaurant. ’n Bord vol calamari, met ’n Wildside IPA gebrou deur die St. Francis Bay Brewing Company, is op die spyskaart.

Van die kus af kan ’n mens baiekeer tjokkabote gewaar.

Dag 4 (13 km)

Totsiens, St. Francis

Ons eindig die staproete vandag soos ons hom begin het, met ’n rustige wandeling seelangs. Eers op die sand tot by die skiereiland van Kaap St. Francis, en dan volg ons die voetpad tot by die bedrywige Port St. Francis-hawe. Dis hier waar die tjokkabote geanker lê in ’n moderne hawetjie omring deur luukse woonstelle en restaurante, waar jy vis en calamari vars van die boot af bestel.

By Chokka Block, een van die gewildste restaurante, bied die eienaar en seekoskenner Clive Canter ’n calamari-proe aan. Hy wys hoe om die gedierte skoon te maak, verduidelik die beste manier om dit gaar te maak (vars, in repe gesny, gedoop in meel en vinnig in olie gebraai) en oortuig ons dat Oos-Kaap se calamari die beste ter wêreld is.

Daar is nou net ’n uur se stap oor tot by die middedorp van St. Francisbaai, ons eindpunt. Ons drentel stadig kuslangs waar branderplankryers die een ná die ander van Bruce’s Beauties vang en lang ente aaneen tot by die strand ry. Bruce Brown was ’n Amerikaanse filmvervaardiger wat in die 1960’s die eerste keer dié branders verfilm het vir die klassieke Endless Summer.

Ons staptog kom by die St. Frances Brewing Company in die middedorp tot ’n einde, waar ons ’n emmer vol koue Beach Blondes bestel en vir oulaas ’n glas lig op die Kouga se gulhartigheid en die nederige inkvis.

Die strand by St. Francisbaai is een van die mooiste swemstrande in die ganse Oos-Kaap, en besonder gewild onder branderplankryers. Maar hy’s net so lekker as jy ’n ent met Buks wil gaan stap
Weet voor jy waai

Koste Dit kos R4 770 p.p. (dis goedkoper as jou groep uit meer as ses mense bestaan) vir vier dae en drie nagte. Dit sluit jou verblyf, maaltye, en die vervoer van jou bagasie in.

Die calamari-proe, die besoek aan Sanccob en ’n plesiervaart op die kanale by St. Francisbaai is ook ingesluit. Jy betaal wel vir jou eie drankies. Die tariewe word elke Januarie aangepas.

Waar los ek my motor? Veilige parkeerplek word gereël by die Kaap St. Francis-vakansieoord. Jy ontmoet hier jou gidse, wat jou na die beginpunt vervoer, en hulle laai jou weer hier af na die stap.

Wat nog? Julle moet ten minste vier stappers wees, en maksimum 16 stappers. Jy kan jou eie groep saamstel, of jy kan aansluit by ’n bestaande groep.

Die roete is gesluit tussen 16 Desember en 7 Januarie.

Kontak 073 825 0835 (Esti); 082 394 7363 (Eric); chokkatrail.co.za

Lees Weg #144 en gaan na stfrancistourism.co.za vir inligting oor Kaap St. Francis en St. Francisbaai.