foto’s Cyril Klopper

Agri-toerisme is ’n heel nuwe ding, maar die eertydse boere Tot en Isabel Fourie het besluit om hulle bees- en blom- boerdery opsy te skuif en op hulle lappie grond langs die Walvisroete eerder op suiwer toerisme te fokus.

By Strandskloofpark se hoofhek en ontvangskantoor word jy vriendelik deur Anjé Badenhorst ontvang. Sy oorhandig ’n kaart van die oord wat jou staanplek aandui. Jy kry ook ’n elektroniese skyfie waarmee jy die hoofhek oopmaak as jy die oord wil verlaat om gou dorp toe te ry.

As dit jou eerste besoek is, sal Anjé beduie waar die swembaddens, ablusiegeriewe en speelplek vir die kinders is. Jy kan ook ’n blou woonwatipe kragsok by haar huur.

Só kamp ’n mens

Wanneer jy deur die hek ry, word jy begroet deur ’n 400 m lange teerpad deur ’n netjiese tuin. Aan die regterkant is daar perdekampies en links is ’n beboste deel waar troues in ’n skoongemaakte deel onder die bome gehou word.

Staanplek nr. A, B, C en D is in dieselfde bos. Hulle is die rustigste van al die staanplekke in die oord omdat hulle die verste van die kinderspeelplek is. Hoewel jy by hierdie staanplekke die meeste privaatheid het, is hulle ook die verste van die ablusiegeriewe af, tensy jy die onthaalsaal se toilette gebruik. Die onthaalsaal is oorkant die pad, voor jy die hoofkampplek binnery.

Indien jy reg oor dié saal kamp en ’n draai wil loop, moet jy seker maak daar’s nie ’n troue of 50ste verjaardag aan die gang nie, want dan gaan jy in jou kortbroek en plakkies verby die deftiggeklede gaste toilette toe moet stap.

SPEELPLAAS. Luan Fourie bestuur die kindertrein (hooffoto) terwyl Anika Lombard en Miri Klopper (foto bo) die perde streel. Begeleide perderitte word oor langnaweke en vakansies aangebied. As jy nie jou eie blou woonwatipe kragsok het nie, kan jy een by die oord se ontvangskantoor huur.

Die volgende staanplek is nr. 1, die grootste staanplek in die kampterrein. Dié word omring deur ’n hoë klipmuur wat die wind afkeer. Die staanplek is ruim genoeg vir vier tente én motors, en as jy staanplek nr. 2 (wat amper so groot is as nr. 1) saam bespreek, het jy kampplek vir ’n rugbyspan.

Die teerpad vorm ’n U, en die staanplekke lê aan weerskante daarvan. Elke staanplek het óf ’n klipmuur óf ’n houtheining wat jou en jou buurman van mekaar skei. Staanplek nr. 51-62 staan met hulle rug teen ’n bos en het uitstekende beskerming teen die wind en middagson.

Staanplek nr. 14, 15 en 16 is dalk klein, maar hulle is só privaat dat jy dikwels nie eens bewus is daarvan dat daar mense kamp nie. Nr. 28 is die meeste beskut van al die kampplekke en is die een vir jou as jy koelte hoog op prys stel.

Staanplek nr. E, F en G is direk langs die kinders se speelplek. Tensy jy self kinders het en ’n wakende oog oor hulle wil hou, moet jy hierdie staanplekke soos die pes vermy.

Al Strandskloofpark se staanplekke het elektrisiteit, water en braaigeriewe, en amper almal het ’n dik grastapyt (tensy dit só boomryk is dat die gras sukkel om in die skaduwee te groei). Elke staanplek het ook sy eie vullisdrom én daar is straatligte by gemeenskaplike dele soos die ablusieblokke en kinderspeelplekke.

Die hoofkampplek het twee ablusieblokke. Die grootste een lê tussen staanplek nr. 22 en 23, en ’n kleiner een tussen nr. 30 en 31. Albei is ruim, skoon en netjies, en voorsiening word gemaak vir gestremdes. Agter die grootste van die twee ablusieblokke is daar wasmasjiene, wasbakke en wasgoedlyne.

Gô-uit op die gras

Die grootste attraksie by Strandskloofpark is die aktiwiteite vir kinders. Hier is ’n grasperk so groot soos twee of drie rugbyvelde waarop hulle van vroegoggend tot laatnag rondhardloop. Dan is dit touchies, dan aan-aan, dán frisbee of sokker.

Tieners drom in groepies saam en sit kruisbeen en gesels oor koeitjies en kalfies. In Desember en oor langnaweke is daar al om die ander dag begeleide perderitte. In die een hoek van die enorme grasperk is twee omheinde swembaddens: ’n grote waarin ousus lengtes kan oefen, en ’n kleintjie met vlak water waarin die kleuters kan baljaar.

SWEM, JANNIE. Jou kinders sal glad nie die televisie mis nie, want daar is oorgenoeg doendinge om hulle besig te hou. Saans sukkel jy selfs om hulle terug in die tent te kry.

Die water is nie verhit nie en is in die somervakansies ’n welkome lafenis. In die oorkantse hoek van die grasperk is ’n kiosk wat beman word deur Gustav Holtz (nee, nie Holst, soos die komponis nie!). Gustav verkoop basiese proviand en lekkergoed én verhuur stokke vir die minigholfbaan.

Langs die kiosk is ’n klimraam met swaaie en ’n glyplank asook ’n springkasteel wat soggens aangeskakel word. Jy kan ook braaihout by Gustav bestel en dan reël hy dat Tot en Isabel se jongste seun, Johan, dit met ’n trekker en sleepwa by jou staanplek aflewer.

Maar die onbetwiste hoogtepunt van Strandskloofpark is die treintjie. Tot en Isabel se oudste seun, Luan, bring laatmiddag sy quadfiets na die grasperk. Agteraan haak hy agt waentjies en die jong klomp raak gek van opgewondenheid wanneer die treintjie sy verskyning maak. Dit kos R10 per kind per rit en die ritte duur sowat 15 minute.

Die treintjie vleg deur die oord sodat elke passasier sy kampplek kan sien en vir Mamma en Pappa in die verbyry waai. Ook na die behoeftes van grootmense word omgesien.

Wanneer belangrike sportwedstryde op die kassie uitgesaai word, is die onthaalsaal oop en kan jy ’n drankie bestel by die kroeg (Luan is jou kroegman). ’n Kort entjie van die saal af is ’n warmwaterswembad langs ’n gemeenskaplike braaiplek, ’n gewilde bymekaarkomplek vir grootmense én kinders. Die water is dag en nag warm – die ou wat vanaand laaste uitklim, moet die seiltjie toetrek sodat die swembad nie onnodig hitte verloor nie.

Strandskloofpark het ook sy eie 4x4-roete – vind by Anjé uit of jy dit mag ry.  Dit is gewoonlik gratis vir gaste, maar daar word soms 4x4-klub-byeenkomste aangebied, en dan moet jy inskrywingsgeld betaal as jy wil deelneem.

Die treintjie vleg deur die oord sodat elke passasier sy kampplek kan sien en vir Mamma en Pappa in die verbyry waai.

Silwerkruin

As ’n pensioentrekker is jy uiteraard lief vir jou kleinkinders, maar jy’t nie aldag lus vir die jong klomp van vreemdelinge nie. Met ’n begrip vir die ouer garde se unieke behoeftes het Tot en Isabel ’n paar staanplekke ’n entjie weg van die hoofkampplek af, duskant ’n boomlaning, afgebaken. Hier kan afgetredenes vir R2 000 per maand uitspan, weg van die lawaai, met hulle eie ablusieblok.

Dié staanplekke is nog nie so boomryk en bedek met grasperke as die hoofkampplek nie, want dis eers taamlik onlangs uitgelê en die plante moet nog behoorlik gevestig raak. Maar hier heers ’n dieper soort vriendskap wat verskil van die vlugtige samesyn in die hoofkampplek.

’n Paar van die staanplekke het betonblaaie vir woonwaens en die ablusiegeriewe het ’n spesiale drein waarin jy ’n kassettoilet kan leegmaak. Tot is ook besig om twee selfsorghuisies te laat bou – wat die lewe vir afgetredenes net nóg makliker gaan maak.

MAMMA, EK WIL PIEPS. Die ablusiegeriewe is skoon en netjies. Daar is selfs ’n bad waarin jy die kleintjies kan afspoel.
Dis wat dit kos (2 volwassenes en 1 kind)

Brandstof 50 ppm-diesel @ 9,0 l/100 km en R12,85/l en 340 km (heen en weer) R393,21

Tolhek (heen en weer) R72

Verblyf (3 nagte) R900

Kos R1 862,85

Groottotaal R3 228,06

Doendinge in die omgewing

Platbos- inheemse woud

Platbos is deur die botanis prof. Eugene Moll beskryf as “ ’n unieke Suid-Afrikaanse woudjuweel”. Die woud lê aan die voet van die Baviaanspoortheuwels, sowat 5 km noord van Strandskloofpark. Die wêreld hier rond word gekenmerk deur fynbos en canolalande.

Die natuurlike woud is dus ’n onverwagse onreëlmatigheid. Los jou ryding in die parkeerterrein (S33.63861 E19.19646), los ’n skenking by die besoekershut, neem ’n roetekaart en vaar die bosse in. Daar is ’n netwerk van staproetes deur die woud, en as jy die tyd het, kan jy ure verwyl in die skadu van oeroue witmelkhout- en wildeperskebome.

Ontmoet ’n haai

By Kleinbaai, 12 km suidwes van Strandskloofpark, is tientalle witdoodshaaitoeroperateurs wat jou per boot na Dyereiland sal neem en met ’n staalhok in die water laat sak sodat jy tot by die haaie kan gaan kuier.

Op Dyereiland leef nagenoeg 50 000 robbe – dít is natuurlik hoekom die waters so krioel van die haaie. ’n Haai verkies om sy prooi naby die wateroppervlak te vang; jy hoef dus nie in die hok te klim as jy skrikkerig is nie. Maar as jou bynaam Dapper Danie is, kan jy in grillerige detail sien hoe ’n haai ’n rob opvreet.

Strandveld-museum

Hierdie oulike – en ietwat vreemde – museum lê teenaan die see in Franskraal, sowat 7 km van Strandskloofpark af. Dit is ’n private museum wat deur die egpaar Jan en S.D. Fourie besit word.

Hier is ’n uitgebreide versameling oorblyfsels van die HMS Birkenhead wat in 1852 by die nabygeleë Danger Point op die rotse geloop het. Jan en S.D. sal boeiende stories met jou deel – van Dalene Matthee se laaste dae voor haar dood – terwyl sy aan Die uitgespoeldes geskryf het – tot “die spookhandjie” wat Jan met oorgawe aan kinders vertel totdat hulle hulle ore toedruk en agter Ma se rok wegkruip.


Hiermee het ons gekamp

Ford Ranger Fx4

Die Fx4 is een van die gerieflikste bakkies op die pad, veral met ’n outomatiese ratkas soos in ons toetsmodel. Die EPAS- elektroniese stuurstelsel maak die draaiwerk maklik en die bakrolbeheerstelsel help om die rit aansienlik gemakliker te maak. Onder die enjinkap grom dieselfde betroubare 3,2 l-turbodiesel as in die gewone Ranger.

Die outomatiese ratkas “leer” jou bestuurstyl aan, en teen die einde van die langnaweek op Standskloofpark het die bakkie diep in ons hart ingekruip.

Krag 147 kW @ 3 000 r.p.m.

Wringkrag 470 Nm @ 1 500 r.p.m.

Prys R626 300


Kortliks | Strandskloofpark

Kampplek 69 staanplekke van verskillende groottes, almal op gras.

Ablusiegeriewe 2 silwerskoon badkamergeboue en toilette by die kiosk en onthaalsaal.

Prys Buite seisoen R300 p.n. per staanplek (vir 4 mense en 1 voertuig) en daarna R40 p.p. (maksimum 6 per staanplek). Oor langnaweke en vakansietye kos dit R450 per staanplek. ’n Ekstra voertuig kos R20 (maksimum 2 per staanplek). Pensioentrekkers betaal R2 000 per maand.

Aankoms- en vertrektyd 1 nm. en 11 vm.

Besprekings 082 721 4381; info@strandskloofpark.co.za; strandskloofpark.co.za

Hoe lyk die pad? Die kortste roete uit Kaapstad is met die N2 tot by Botrivier. Ry dan suidwaarts met die R43 deur Hermanus en Stanford. Dis heelpad teerpad, maar as jy nie omgee vir ’n stukkie grondpad nie, kan jy kortpad vat deur die pragtige Grootbos-natuurreservaat (S34.541811 E19.403635). Omdat dit ’n servituutpad is, hoef jy nie te betaal om deur die reservaat te ry nie.

Naaste dorp Gansbaai, 10 km.

GPS S34.577825 E19.443161

Weg Ry & Sleep Dis ’n gesinsoord dié, en oor naweke en vakansiedae geniet kinders prioriteit. As jy rus en vrede soek, moet jy eerder buite seisoen kom kamp