Daar was net een manier hoe die boesemvriende David Griesel en Frans Grotepass hulle gradeplegtigheid aan onderskeidelik die Universiteit van Kaapstad en Stellenbosch wou vier. Hulle wou Suider-Afrika ses weke lank verken – op ’n epiese reis van 14 000 km.

Die dag ná die gradeplegtighede val hulle met David se ou Land Rover 300 Tdi (met meer as 460 000 km op die klok) in die pad na die noorde van die land – met ’n vinnige stop by Kimberley se Groot Gat en Orania. Hulle oornag by David se ouers op Tzaneen en vertrek die volgende oggend na die Krugerwildtuin waar hulle ’n nag deurbring voor hulle die grens na Zimbabwe oorsteek vir die eerste deel van hulle reis. Frans vertel...

Gonarezhou, Zimbabwe

Dit is ons albei se eerste besoek aan Zimbabwe en nodeloos om te sê is ons baie opgewonde oor die vooruitsig. Ons eerste bestemming is Gonarezhou, wat ons ná ’n lang dag op die pad bereik. Ons verken die reservaat die volgende oggend en sien aan die suidekant verskeie diere. Dit is opvallend hoe bang en verskrik hulle is.

Ons eet middagete by ’n piekniekplek en kry koers noord in die rigting van die reservaat se bekende rooi berge. Ons kom net voor sononder daar aan en word bederf met ’n natuurtoneel waarvan ’n mens net kan droom. Die berge skitter rooi en bo dit verskyn die donkergrys wolke van ’n naderende donderstorm.

Ons sien ook leeus naby die kamp en ’n trop olifante wat die rivier oorsteek met die weerkaatsing van die rooi berge in die water. Ons steek ’n vuur aan om te braai, maar word onderbreek deur ’n donderstorm met weerlig wat die wêreld om ons verlig. ’n Ongelooflike ervaring.

Ons verlaat Gonarezhou die volgende oggend en mik na Chimanimani. Die padtoestand versleg by die kilometer en ons skud omtrent in die Landie, maar gelukkig vergoed die reusekremetartbome langs die pad daarvoor. Kort voor lank bereik ons die voet van die berg en ry met ’n smal kronkelpaadjie na Chimanimani.

Ons bereik laatmiddag ’n klein nedersetting waar ons hoor die boom wat ons eintlik wou sien, is 5 uur se ry terug in die rigting waaruit ons gekom het. Ons slaan ons kamp in ’n klein kampterrein op, maak aandete en gesels tot laatnag oor die ervaring in Zimbabwe.

Gorengosa, Mosambiek

Mosambiek is die land waar ons die meeste van ons tyd gaan deurbring. Hier is twee hoofbestemmings waarheen ons mik: Mount Mabu en Pemba.

Mount Mabu is eerste op die lys. David het gelees oor dié misterieuse berg, een van die plekke ter wêreld wat onlangs eers ontdek is, en is ywerig om dit te besoek en meer daaroor te leer. Ons het gedog dit sou ons twee dae neem om tot by die berg te ry, maar ons was verkeerd. Sommer heeltemal verkeerd.

In dié stadium kan ons net ons kop in die reën skud oor die paadjie wat dié dag, toevallig Kersdag, met ons gestap het.

Nadat ons op die eerste dag vir die een slaggat ná die ander moes koes en vir groot dele langs die pad moes ry om onverskillige vragmotorbestuurders te ontduik, is ons pootuit. Ons kom die afdraai na Gorengosa teë, en omdat David al voorheen hier was, besluit ons om af te draai.

By die hek verduidelik die sekerheidswag hy het malaria en die reservaat is gesluit. Ons pleit by hom en hy laat ons uiteindelik toe om hier te oornag.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere vir ’n wildrit en word bederf met lalapalms, koorsbome en waterbokke so ver as wat die oog kan sien.

Mount Mabu, Mosambiek

Mount Mabu se reënwoud.

Ons is hartseer om Gorengosa agter te laat, maar ons val in die pad.

Die volgende 10 uur is presies dieselfde as gister: slaggate. Ons kom selfs van die plaaslike mense teë wat hulle klere net daar in die slaggate was. Ons ry tot sononder en soek vir ons ’n plekkie langs die pad waar ons kan rus tot ons môre die laaste stuk tot by die magiese Mount Mabu aandurf.

Ons vertrek om 5 vm., en teen middagete sien ons die eerste keer die berg. Maar aan die voet daarvan wag ’n lelike verrassing op ons… die brug oor die rivier het verspoel. Ons is teleursgesteld en gefrustreerd, maar ons besluit om die berg van die ander kant af te benader. Laatmiddag bereik ons die berg van die ooste af en kry twee plaaslike inwoners om ons te help om die pad berg-op te vind.

Maar aan die voet daarvan wag ’n lelike verrassing op ons… die brug oor die rivier het verspoel.

Ná ’n uur se stap bereik ons die huis van die plaaslike stamhoof… waar ons hoor ons word nie toegelaat om verder te stap nie. Ons kon uiteindelik met die stamhoof vergader en dit vat ons ’n uur om met hom te onderhandel. In ruil vir geld en ’n bottel jenewer stem hy in dat ons môre die berg mag uitklim.

Vroeg die volgende oggend begin ons klim – hoër en hoër, tot ons uiteindelik ’n woud bereik wat jou asem wegslaan. Die platkroonbome staan 60 m hoog; selfs Tarzan sou jaloers wees op dié besonderse stukkie aarde. Ons is dankbaar om uiteindelik hier te wees en neem foto’s van elke boom, rankplant en insek wat ons sien.

Pemba, Mosambiek

Ná die gesukkel om by Mount Mabu uit te kom wonder ons hoe lank dit ons gaan neem om Pemba te haal. Tot ons verbasing ry ons net ’n dag tot hier en maak ons tuis by ’n kampplek met die naam Russel’s Place.

Die volgende dag verken ons die omgewing en die plaaslike strande. Die uitsigte is ongelooflik, die water kristalhelder en warm, en die plaaslike vissermanne verkoop kreef teen R7,50 elk.

Die volgende oggend vaar ons uit na die Quirimbas-eilande om in die koraalriwwe te snorkelduik. Dit is die lekkerste lekker om so baie verskillende riwwe op een plek te ervaar en ’n mens is verstom oor al die kleure onder die water.

Ibo-eiland, Mosambiek

Ons is ywerig om die Quirimbas-eilande verder te verken en wil graag ook Ibo-eiland besoek. Dinge werk egter nie altyd uit soos ’n mens dit beplan nie, soos ons in ’n dag van teëspoed leer. Ons bespreek by ene Captain Moosa ’n bootrit na die eiland, maar sy bootjie is nie opgewasse vir die taak nie en ons is kort voor lank in die moeilikheid toe ’n storm ons op die water tref – soveel so dat ’n ander boot ons moet kom red.

Terug op droë land, met ons adrenalienvlak hemelhoog, spring ons in die Landie en begin die reis Pemba toe. Maar die storm oor die see het ons ingehaal en ons ry in die reën op ’n gladde modderpad.

Skielik sê David “daar gaan hy!” en die Landie gly van die pad af en sit langs die wal vas. Die kar sak só ver weg dat die modder tot by David se deurknip opstoot en hy moet deur die ruit uitklim. In dié stadium kan ons net ons kop in die reën skud oor die paadjie wat dié dag, toevallig Kersdag, met ons gestap het.

Maar gelukkig kom ’n barmhartige Samaritaan op ’n trekker tot ons redding, en ná ’n hengse gespook het hy ons uit die moddermoeras.

Liwonde, Malawi

Ná die uitdagende betowering van Mosambiek is Malawi volgende op ons reis.

’n Skilpad in die Liwonde-natuurresevaat.

Ons ry twee dae lank oor die provinsies Cabo del Gado en Niasse – die slaggate en poele in die pad sorg dat ons nie te vinnig tot by die grenspos vorder nie. Ons kom laataand by die Liwonde- nasionale park aan en klim dadelik in die bed. Die volgende oggend ry ons deur die park, maar weens die onlangse reën en ’n oorvloed weiding sien ons nie regtig iets noemenswaardigs nie.

Kaap Maclear, Malawi

Van Liwonde af mik ons noord in die rigting van die Malawimeer. Hier ontmoet ons twee Spanjaarde, ’n Sweedse paartjie en ’n Suid-Afrikaanse gesin.

Die Suid-Afrikaners herken ons van ons internetveldtog oor ons welsynsprojek om op die reis boeke aan plaaslike nedersettings te skenk. Die Malawimeer is nét soos Livingstone dit beskryf het… ’n meer van sterre. Jy moet dit één keer in jou leeftyd ervaar. Die volgende oggend gaan snorkelduik ons saam met die Swede, en so wrintiewaar begin ons boot sink.

Nie al weer nie! Ons kon net lag oor die toeval.

Victoriawaterval, Zambië

Ons ry wes in die rigting van die Victoriawaterval. Ons is op soek na opwinding en wil op die Laer-Zambesi gaan witwaterroei.

Ons kom laataand hier aan en boek in by die Zambesi-waterfront. Die volgende oggend besoek ons die waterval op ons eie, en ons staan verstom oor die grootsheid daarvan. Die oggend daarna is ons vroeg op vir ons avontuur op die water. Sommer by die eerste stroomversnelling kry ons rubberboot ’n gat. Ons kyk na mekaar en begin lag. Dit is die derde boot waarop ons is, en elkeen van hulle het begin sink.

Dit is die derde boot waarop ons is, en elkeen van hulle het begin sink.

Ons het egter met dié boot gevorder tot met middagete langs die rivier, voor ons op ’n ander een moes klim vir die res van die vaart. Dit was een van die opwindenste dinge wat ons nóg gedoen het, en die adrenalieninspuiting laat ’n mens amper lighoofdig voel. ’n Mens is regtig hartseer wanneer alles uiteindelik verby is.

Namibië

Met die onvergeetlike Victoriawaterval agter ons is dit tyd om terug te gaan bos toe. Dié slag mik ons vir Namibië se Zambesistreek, voorheen die Caprivi. Ons het effens gedraai en te laat weggekom, met die gevolg dat ons te laat by die grenspos kom. Die doeanebeamptes wil ons nie deurlaat nie. Ons kamp naby die grenspos en die volgende oggend word die papierwerk afgehandel.

Ons is op pad na die Mudumu- en Mamili- nasionale park. Ons is verheug om uiteindelik hier aan te kom, want in die reservate is daar natuurlik nie heinings nie en die wild loop vry rond. Ons kom twee Duitse paartjies teë wat vertel hoe hulle die vorige dag deur olifante gejaag is. Kort hierna sien ons die olifante en lag vir die Duitsers wat so verskrik in hulle huurmotor verby jaag. 

Die volgende dag deel ons nog boeke uit aan van die plaaslike mense wat ons teëkom. David was baie opgewonde hieroor, maar omdat dit so baie gereën het in Mosambiek, kon ons dit nog nie regtig doen nie. Nou is dit sy kans en hy geniet elke oomblik daarvan.

Ons volgende bestemming is die Nkasa Rupara- nasionale park wat aan die Chobe in Botswana grens. Hier sien ons nie veel nie, behalwe ’n vlakvark hier en daar.

Moremi, Botswana

David was as kind in Botswana en hy wil graag met die sandpad ry wat oor drie groot reservate – die Chobe, Savuti en Moremi – strek. Ons blaas die Landie se bande af en val weg. In Savuti sien ons hoe meer as 200 olifante ’n modderbad geniet, en van daar af druk ons deur tot ons laatmiddag by Moremi aankom en langs die Khwairivier gaan ry.

In Savuti sien ons hoe meer as 200 olifante ’n modderbad geniet...

Op dié rit sit die son teen die volmaakte hoek en dit lyk of die hele veld lewe. Dit is ’n belewenis tussen die verskeie watermassas en bome in die gebied. Op pad terug kamp toe steek ons die nuwe Mopanibrug oor die rivier oor, en hier word ons bederf met ’n luidrugtige vergadering van ’n klomp seekoeie in die water.

Makgadikgadipan, Botswana

Die laaste stop op ons reis van die Okavango terug na die werklikheid toe is die soutpan.

Ons vertrek die oggend vroeg uit Moremi en druk hard tot in Maun. Ons eet ’n welverdiende burger en val weer in die pad na die Makgadikgadipan. Van Gweta af is daar ’n legio grondpaaie wat in elke denkbare rigting strek, maar danksy ons betroubare Veronica Roodt-padkaart bly ons op koers, en kort voor lank is die enigste ding wat ons voor ons kan sien, ’n dor wit landskap.

Ons haal ons kampstoele uit die Landie en plak ons net daar neer om die sonsondergang te geniet. Ons besef meteens ons reis van ses weke is op sy laaste bene en ons herleef elke ervaring hier in die stilte van die soutpan.

Die volgende oggend pak ons ons kampstoele terug in die Landie. Daar is nog een bestemming voor ons huis toe gaan: Kubu-eiland. Die laaste stuk pad tot hier moet my oor die pan kry. Hoe verder ons ry, hoe dieper sak die Landie.

Die gedagte om hier vas te sit is nie vir een van ons ’n opsie nie, maar gelukkig kry ons getroue ryding ons daar. Met die uitklimslag sien ons die Landie is spierwit van die dak tot by die wiele – net so wit soos die soutpan.

Ons stap op die eiland en verkyk ons aan die kremetartbome en granietrotse. Wat ’n plek! Wat ’n reis!