VISVANGOORD

NOOITGEDACHT-FORELLODGE

Forel net waar jy kyk

Jy kry plekke waar die visse heeldag byt... en dan kry jy ’n plek soos die Nooitgedacht- forellodge waar jy jou kamp reg langs ’n vistelery opslaan.

Dié telery is net anderkant Lydenburg en bestaan al langer as ’n halwe eeu. Nooitgedacht se kampplek is ’n entjie van die broeiplaas af, teen die Spekboomrivier.

Die enigste voorwaarde om Nooitgedacht te besoek is ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte: Die laaste 16 km tot by die kantoor is grondpad, en in die 1,5 km van hier tot by die kampplek moet jy oor drie waterhindernisse kan kom.

Die kampplek self is ’n netjiese grasperk. Die rivier met sy skoon water vorm die een grens, en tussen jou en die veld is ’n klompie bome rondom die grasperk. ’n Gemesselde braaiplek is omtrent in die middel van die grasperk gebou, en langsaan staan die ronde vuurput van klip as julle ná ete oor die dag se vangs wil spog.

As meer as twee gesinne bespreek, hou die eienaars die plek uit vir jou en jou mense. Hier is plek vir tot 30 gaste.

Jy moet selfversorgend wees, want hier is geen krag nie en ook nie selfoonontvangs nie. Jy hoef darem nie koud te stort nie, want in die badkamer sorg ’n gasgeiser vir warm water.

As jy vlieghengel geniet, gaan jy in die sewende hemel wees. Jy kan teen die rivier kamp opslaan en omtrent uit jou kampstoel hengel. Diegene wat wil lyn natmaak, moet wel ’n eenmalige hengeltarief van R350 betaal. Die vang-en-laat-gaan-reël geld, en as die vis per ongeluk seergekry het, moet jy hom neem en daarvoor betaal.

Die kamp is langs die Nooitgedachtdam, een van die twee groot damme op die plaas. Ook hier kan jy lyn natmaak – en as jy dan nóg nie genoeg gehad het nie, is daar nóg drie kleiner damme.

Kortliks | Nooitgedacht-forellodge

Vis: Bruin- en reënboogforel.

Kampplek: 1 groot grasperk teen ’n rivier met plek vir tot 30 mense.

Ablusiegeriewe: 1 badkamergebou met warm water.

Prys: R200 p.p.p.n. (R150 vir kinders; gratis vir o.2’s).

Aankoms- en vertrektyd: Geen vasgestelde tye nie.

Kontak: 071 088 0606 of 063 002 2355; nooitgedachttroutlodge.co.za; enquiries@nooitgedachttroutlodge.co.za

Naaste dorp: Lydenburg 22km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 17,5km is grondpad, en jy moet deur 3 waterhindernisse ry om by die kampplek uit te kom.

GPS: S25.067153 E30.574511

Ry & Sleep sê: Troeteldiere is welkom, maar reël vooraf.

VISGEREG

MAKRIEL MET LEMOEN

Klein aan die hoek, groot in die mond

Klein heel vissies soos makriel, harder en sardyn is meer as net aas aan die hoek.

Jy benodig

(genoeg vir 2)

  • 2 vars makriele
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 lemoen, in halfmaanskyfies gesny
  • 1 nartjie of lemoen, middeldeur gesny

Só maak jy

1. Sny die vissies se maag oop en krap die binnegoed uit. Spoel die vis goed af. As jy fyn sny, kan jy ook die ruggrate verwyder en die visse vlek met die kop nog aan. Sny nou met ’n skerp mes sorgvuldig aan albei kante 5 diagonale kepe deur die vel, al langs die lyf af.

2. Vryf die visse oraloor met die olyfolie en geur dit met sout en peper. Stop die lemoenskyfies binne-in die maagholte en vou die vissies weer toe. (Jy kan gekapte rooiui, knoffel en selfs vinkel bysit as jy wil.)

3. Braai die visse en ekstra sitrushalwes oor matige warm kole. Die grootte van die visse bepaal die braaityd – dit behoort rondom 10 minute te wees. Jy wil ’n bros velletjie en gaar vleis hê. Die olie aan die buitekant is vir geur en om te keer dat die vis aan die rooster vassit. Eet die gebraaide vis dadelik met roosterkoek en botter, of geelrys. Onthou om die sap van die gebraaide nartjie of lemoen oor te drup.

Ry & Sleep : Belê in ’n rooster wat spesiaal vir jou seekos gebruik word, en hou hom silwerskoon.

HENGELTOERUSTING

Makliker met dié harder

Die harder is omtrent ’n wêreldburger as ’n mens kyk hoe wyd hulle verspreiding is. Wêreldwyd is daar nie minder nie as 70 spesies, waarvan ’n goeie 16 in ons waters voorkom – en al wat roofvis is, is lief vir hom. Dit is dus nét die ding as jy ’n kunsaas oorweeg om byvoorbeeld leervis of kabeljou te probeer vang.

LiveTarget se Commotion Mullet is ’n namaaksel van ’n jong harder. Die aas se grootste deel (die lyf) bestaan uit ’n voubare sintetiese materiaal waardeur die dubbele hoek loop. Elk van die weerhake krom teen en weerskante van die lyf uit. Dit beteken hy gaan nie sommer aan seegras of ander strukture onder die water vashaak nie.

Wanneer die roofvis toeslaan, gee die lyf mee om die hoek in sy bek te haak. Die stertdeel van die aas is ’n Colorado- lepel wat ’n borrelspoor agterlaat soos jy hom nader katrol. Nader aan die ware Jakob kan dit dus beswaarlik. En omdat die aas ’n loodgewiggie in die onderkant van sy lyf het, “swem” die aas regop.

Harders verkies sand-, slyk- en modderbodems. Maak dus gerus ’n draai by die naaste riviermonding of dokke om te sien wat in die Commotion Mullet steek.

Prys: Die aas is in twee groottes beskikbaar en kos dieselfde: 90 mm (18 g) en 100 mm (21 g).

Vanaf R225 elk in hengelwinkels landwyd en in Namibië.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders); 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za