Ons bly in Italië in ’n klein dorpie in die Dolomiete, die mooiste deel van die Alpe. Ons het 15 jaar gelede die eerste keer in Suid-Afrika getoer en is gaande oor die land. Sedertdien het ons wyd gereis, ook na Namibië, Botswana en Zambië. Baie van ons reise is gereël deur Suid-Afrikaanse vriende of toeroperateurs.

Op die meeste van die toere was ons die enigste Italianers, asook die enigste vreemdelinge, maar ons het gou gewoond geraak aan dié lekker manier van reis: Om jou tent op te slaan aan die voet van ’n duin in die Namibwoestyn of op ’n rivieroewer in die Bosveld en tot laatnag saam met mense om ’n vuur te kuier.

’n Mens voel gou tuis saam met jou medereisigers met wie jy ’n liefde vir die natuur en avontuur deel. Die toere verloop meestal seepglad en ’n mens voel sommer rustig.

Toe ons dus besluit om Mongolië te besoek, was ’n Suid-Afrikaanse operateur – Live the Journey – ons eerste keuse. ’n Selfrytoer in ’n land met byna geen infrastruktuur nie kan gou in ’n nagmerrie ontaard.

’n Toeroperateur moet goed beplan en ’n positiewe en aanpasbare houding hê. Ons toer van Italië na Mongolië – via Suid-Afrika – was ’n onvergeetlike reis!

- ENZO en SUSY LOMBARDI, Falcade, Italië