Skoorsteenberg-plaas

Jy herken reeds die Skoorsteenbergkop van die R355 af – dis die berg met die klein vierkantige piek as jy van Ceres se kant af kom. Dis aan die voet van dáái kop wat die twee huisies staan asof dit die laaste blyplek op aarde is. 

Waar bly ek? Hier’s twee luukse ten volle toegeruste kliphuisies met slaapplek vir 6 mense in drie kamers. Ná die lang rit voel die koel vertrekke met teëlvloere en klipafwerkings soos ’n oase in die Gobi. Sonpanele sorg vir elektrisiteit en gas vir warm water.

Wat pla? Die huisies is in ’n grootse landskap, maar die uitsigte van die stoep af is beperk. Jy moet ’n entjie agter die huisies op stap as jy wyd wil tuur. 

Hoe kom ek daar? Nana Stallbom, die eienaar, stuur vir jou deeglike aanwysings. Daar is ook 'n kaart op hulle webwerf. 

Goed om te weet: Maak jou motor vol op Worcester of Ceres. Jou selfoon verloor sein sodra jy afdraai van die R46-teerpad op die grondpad. Jy kan die plaashuis skakel op 023 004 0264 net voor jy van die teerpad afdraai, dan weet die eienaars hoe ver jy nog is. 

GPS: S32.60612 E19.95117

Koste: Vanaf R900 p.n. vir 2 mense oor naweke. (vanaf R800 in die week).

Kontak: karoo-accommodation.co.za; 023 004 0264 (plaashuis).



Tankwa-gasteplaas

Esma Marnewick

Ongeag uit watter rigting jy kom, jy gaan vir ’n hele paar uur deur ’n stowwerig landskap ry voordat jy by dié gasteplaas se hek indraai. Heel eerste sien jy ’n groot sementdam vol silwerskoon water. Pasop, die kinders gaan nie help afpak nie... Stap jy om die huis, is hier ’n stoep groot genoeg vir ’n danspaartie, met ’n putbraai in die middel. 

Maar wag, waar is die uitsig oor die vlaktes dan, wonder jy. Die jaart is omring deur bloekombome... Stap wéér om die huis – aan die westekant is ’n stel houttrappies na ’n houtdek van waar ’n mens kan kyk hoe die son oor die landskap voortsnel en uiteindelik agter die koppe verdwyn.

Geriewe: Hier is slaapplek vir 15 mense in 4 kamers en op 3 slaapbanke. Dis ten volle toegerus met sonkrag en gasgeisers en twee kaggels. Hier is twee kombuise; niemand sal in enigeen se slaai hoef te krap nie. En troeteldiere is welkom.

Wat pla? ’n Uitsig van die kuierstoep af sou gaaf wees, maar ’n mens kan seker nie te veel vra nie. 

Hoe kom ek daar? Dis sowat 120 km noordwes van Matjiesfontein of 160 km noordoos van Ceres.

GPS: S32.40639 E20.05832

Koste: R300 p.p.p.n. Pryse kan verander.

Kontak: 023 004 0163; tankwaguestfarm.co.za


Tankwa River Lodge

Esma Marnewick

Sommer met die intrapslag weet jy hier word gelééf. Die eienaar Peter van Wyk het die wildsplaas gekoop en stuk vir stuk ’n kuierhuis vir hom en sy vriende gebou. Sedert 2014 is dit ook beskikbaar vir gaste. Dankie, Peter!   

Die dekor is byderwets, tog bly dit pure plaashuis met sementvloere en ’n vuurherd in die kombuis.

Hier’s sommer ’n klomp kuierplekke: Gesels ou stukke rondom die vuurput op die stoep (dêps vroegdag die dagbed), speel 30 Seconds rondom die eetkamertafel by die kaggel of beplan die dag oor ontbyt om die tafel op die agterstoep terwyl die perde om die huis wei.

Geriewe: Die huis het slaapplek vir 12 mense in 6 kamers. Hier’s net elektrisiteit (sonkrag) in die leefvertrekkke en kombuis, maar oorgenoeg kerse en olielampe. Omdat Peter self hier vakansie hou, word geen moeite ontsien nie – hier’s selfs ysbakke, koffiedompelpotte, ’n hele rakkie speserye, leesboeke, bordspeletjies... En, bonus, Trompie, die Jack Russell, is welkom.

Wat pla? Op die kuierstoep kyk jy uit oor ’n stoortjie. Dis eers as ’n mens ’n entjie deur die droë loop van die Tankwarivier stap, dat jy die omvang van die 26 km²-wildsplaas besef. Pak stapskoene en fietse in en gaan soek ’n paar springbokke, rooiduikers en ’n blesbok of twee.

Hoe kom ek daar? Dis sowat 100 km noordwes van Matjiesfontein op die P2252 – wees op die uitkyk vir die plaas Blaauheuvel.

GPS: S32.50374 E20.23923

Koste: R4 400 – R6 050 vir die hele huis. 

Kontak: www.perfecthideaways.co.za/accommodation/tankwa-river-lodge/


Tankwa-tentkamp

Cyril Klopper

Die Tankwa-tentkamp is ’n kuierplek waar jy en jou maats tot laatnag langs die vuur kan kuier.

Dié kampplek is die tuiste van verskeie jolige feeste onder meer die jaarlikse Fly-inn vir mikroligtevliegtuig-entoesiaste, die BikeBurn vir avontuurmotorfiets-entoesiaste en AfricaBurn vir vrygeeste. Oral op die werf staan vreemde kunsuitstallings, die meeste is deur deelnemers aan AfricaBurn agtergelaat. Hier is outydse telefoonhokkies en Mad Max-agtige pypkarre tot ’n tamaai seilskip en verskeie klipstandbeelde.

Waar bly ek? Hier’s ’n kampplek (hulle kan ook een van hulle tente vir jou opslaan) en luukse permanente tent met beddegoed. Hier is ook 5 selfsorghuisies.

Wat pla? Bel eers vooruit om te hoor of daar nie dalk ’n fees aan die gang is nie. Dit kan ongemaklik wees om tussen ’n horde motorfietsryers of ’n busvrag overlanders te kamp, mits jy ’n bok vir sports is.

Koste Kamp: R100 p.p.n. Permanente tent: R260 p.p.n. wat deel. Selforghuisies: R340 p.p.n wat deel. 

Waar? Die Tankwa-tentkamp is in die Stonehenge-natuurreservaat, sowat 155 km noord van Ceres. 

GPS: S32.33723 E19.71524

Kontak: tankwa.net/tankwafiles/en.tankwa-home.html

Wenke

* Sorg dat jy ’n noodwiel en domkrag inpak; die kans vir ’n pap wiel is goed en hier’s nie ’n werktuigkundige of petrolstasie naby nie. 

* As die teëspoed jou tref, kan jy brandstof en bandhersteltoerusting by die Tankwa-padstal koop. ’n Lid van die Lange-familie, wat die plekkie besit, staan altyd gereed om koffie en beskuit te bedien, en selfs ietsie sterker daarin as die R355 se klippe jou omgekrap het.