Die Tankwa-tentkamp is ’n kuierplek waar jy en jou maats tot laatnag langs die vuur kan kuier.


Dié kampplek is die tuiste van verskeie jolige feeste onder meer die jaarlikse Fly-inn vir mikroligtevliegtuig-entoesiaste, die BikeBurn vir avontuurmotorfiets-entoesiaste en AfricaBurn vir vrygeeste. Oral op die werf staan vreemde kunsuitstallings, die meeste is deur deelnemers aan AfricaBurn agtergelaat. Hier is outydse telefoonhokkies en Mad Max-agtige pypkarre tot ’n tamaai seilskip en verskeie klipstandbeelde.

Die eienaar Henk van Niekerk is ’n gesellige man wat sy gaste laatmiddag met ’n vragmotor teen ’n nabye koppie uitry om die son te groet met ’n glasie wyn of iets dergliks. Henk het net een reël tydens die uitstappie: Almal dra ’n das en ’n hoed. Gelukkig lê daar sommer baie in die kroeg rond. Moet ook nie verbaas wees as Rina Hugo se “Jerusalem” skuins voor twaalf snags uit luidsprekers oor die Karoovlaktes blêr nie. 


Waar bly ek? Hier’s ’n kampplek (hulle kan ook een van hulle tente vir jou opslaan) en luukse permanente tent met beddegoed.

Wat pla? Bel eers vooruit om te hoor of daar nie dalk ’n fees aan die gang is nie. Dit kan ongemaklik wees om tussen ’n horde motorfietsryers of ’n busvrag overlanders te kamp, mits jy ’n bok vir sports is.

Pryse Kamp: R100 p.p. Permanente tent: R250 p.p. Kinders onder 12 bly gratis.

Waar? Die Tankwa-tentkamp is in die Stonehenge-natuurreservaat, sowat 155 km noord van Ceres. 

GPS S32.33723 E19.71524

Klik hier vir meer inligting